My geliefde koerant, Die Volksblad, se verdwyning uit die hoofstroom van gedrukte koerante was vir my vanjaar ‘n diepe hartseersaak. In my verjaardagboekie “Koerant” / 80 wei ek daaroor uit. In Volksblad vandag verskyn my “Ode aan die rolpers”, wat ‘n hoofstuk in daardie boek is.   

Oor ‘n rolpers kan ‘n woordkunstenaar ‘n gedig skryf. Oor hoe massief hy is, hoe verbysterend vinnig hy loop, hoe hoor en sien vergaan terwyl hy dreunende die duisende klaar koerante in ‘n kits netjies voor jou uitspoeg.

By Volksblad was ons bevoorreg om fabriek en redaksie onder een dak te hê. By koerante soos Die Burger en Beeld is hulle in geboue ver van mekaar. Die afronding van ons produk kon ek en ander redaksielede dus telkemale in verwondering aanskou.

Ons het die indrukwekkende Goss-pers ook graag vir gaste gaan wys. Om hul meevoering te beleef as die koerante so snel en kant en klaar van die pers kom, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.

Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.

Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. Ek het stil staan en luister na die egalige musiek van ‘n rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.

Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.

Opwindende dae was daar gelukkig te veel om op te noem. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek in die drukkery – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant – op 24 Maart 1983 met die inwyding van die nuwe Goss. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.

Ons profetiese opskrif daardie dag was: “Swart verpleegsters in wit hospitale”. Nie almal was ingenome met die vooruitsig nie! Ook nie met die keuse van hoofberig nie. Dit is op my rekening, en soos Winston Churchill mag ek seker maar sê: “I have not always been wrong.”

Nog ‘n dag vir die geskiedenisboek was 4 Maart 1991. Ons koerant het die dag van gleuwe verwissel. Hy het, soos sy susters, ‘n oggendkoerant geword. Ek het ‘n foto waar ek, Philip van Rensburg, nuusredakteur, en Nols Nieman, hoofsub-redakteur, gretig die eerste oggend-Volksblad by die rolpers opraap. Ou Nols – ‘n ware pionier met elke modernisering – is helaas jonk dood.

Sal ek die dag vergeet toe ek en Naas du Preez, nuusredakteur, by die rolpers afgeneem is – tamaai breëbors oor ons “wêreld-scoop”: “Zola bly”? Ons had die eksklusiewe mededeling in haar eie handskrif. Maar toe ons ons oë uitvee, hôl sy al weer in Londen. La donna e mobilè…

My hele eerste skof van 20 jaar in Bloemfontein en ‘n hele paar jaar van die tweede skof was die settery net onder die redaksie: ‘n see van yslike linotipe-setmasjiene met hul onophoudelike klik-klik-klik-geluid. Dit was soos die setters die berigte wat op die boonste verdieping op tikmasjiene geskep is met vuurwarm lood in kolomwydte stafies herskep. Wanneer jy by die voordeur instap, was die besige settery jou eerste visuele indruk.

Opskrifte is uit ‘n kas vol verskillende letters van elke grootte in stawe gepak en in loodvorm gegiet. Vir werklik groot stories – soos die moord op dr. Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 – is houtletters gebruik – die heel grootste in ons besit. “Dr. Verwoerd vermoor” was die reuse-banier.

Dan moet die drukkersduiwel net nie met die naam kom lol nie. Opskrifte is in spesiale vormpies uitgepak. Soms is dit agterstevoor gedoen. Wat op aarde beteken “Erg skitter Dicky Brob”? Ruil die twee stukke lood om. A-a-a, “Dicky Broberg (bekende atleet) skitter”!

Saam met die berigte is die opskrifte op die sogenaamde “steen” – ‘n soliede sementblad – volgens die subredakteur se bladplanne ingepak. By die vernaamste laaste bladsye het subs bygestaan om hier en daar te verstel. By die voorblad was dit die hoofsub se taak. Ek het die takie in my hoofsubdae baie geniet, buiten die dag toe my trui in ‘n roller beland wat dit toe halfpad van my lyf af in ‘n drom swart ink intrek. Dit was permanent onbruikbaar.

Wanneer die blad van die steen af gaan, was hy uit die redaksie se hande. Nadat dit geproeflees is (‘n span spesiale proeflesers met arendsoë) is dit na die stereo-afdeling. Hier is eers ‘n karton-flong of -matrys van die blad gemaak. Die matrys/flong wat hittebestand was, is in ‘n silindervormige gietmasjien geplaas. Gesmelte lood is dan daarop gegiet. By ‘n sogenaamde “router” is die silindriese lood-“bladsy” wat so gemaak is, se hoër oppervlakke weggesny voordat dit rolpers toe gaan.

Ai, waar is daardie dae en daardie wonderlike tegniese kollegas? Baie is natuurlik lank voor die papierkoerant op 7 Augustus langboompies toe is, al lank vooruit. Die laaste ongetwyfeld TD (Oom Pottie) Potgieter op ouderdom 93 op 18 Mei. Hy het in 1945 as setter by Die Volksblad begin.

Die nag van 6 Augustus toe die gedenkuitgawe – die laaste breëbladuitgawe – gedruk is, het die enigste twee van die ou garde wat nog oor is, Mossie Mostert en André van der Nest, die Goss gaan beman. Albei is nou in bestuursposte by Novus Print, maar het as vakleerlinge by die rolpers begin toe dit nog deel van Volksblad as filiaal was. Sou meer as ‘n pennie vir hul gedagtes betaal het!

Deel dit: