SUMMA CUM LAUDE VIR SAREL

As ek vir Sarel Venter, oud-adjunk-redakteur van Die Volksblad, by sy 80ste Woensdag (9 Junie) ‘n rapport moet gee vir vakke soos Ordentlikheid, Onkreukbaarheid, Beginselvastheid, Voorbeeldigheid, Christelike waardes, Koers hou en Gesonde insigte slaag my rotsvaste kollega summa cum laude.
Sarel was ‘n soliede steunpilaar in my eerste hoofredaksie in die 80’s – een van die Aärons en Hurs wat ‘n jong, idealistiese redakteur se arms in uitdagende tye omhoog help hou het. Ek eer hom vir sy onskatbare bydrae tot ons soms wroegende besinning en met sy gevleuelde “pen” in hoofartikels en rubrieke in ‘n moeilike en veelbewoë dekade wat ons saamgestap het.
Ons koerant se politieke standpunte het ons in die hoofredakie gedurig aan die geregtigheidsbeginsel getoets. Ons het geglo om geregtigheid te laat geskied, is ‘n Bybelse opdrag. ‘n Ware staatmaker in hierdie eerlike strewe tot geregtigheid was Sarel, wat soos so baie ander joernaliste, eers predikant wou word. Hy is ‘n Gereformeerde wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO gestudeer het.
Weens sy fyn aanvoeling en ewewigtigheid het ek hom ingespan om ons meeste hoofartikels oor kerksake te skryf. Ek kon telkens aan Sarel gaan oordra met watter waardering sy bydraes ontvang is in kerklike kringe wat vir ons saak gemaak het. Ene oor ‘n regse predikante-aksie uit Silverton (die sogenaamde Silverton-193) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse NG Sendingkerk in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge”.
‘n Hegte vriendskapsband bestaan tot vandag, en ook op persoonlike vlak is ek aan Sarel hope dank verskuldig vir bankvaste lojaliteit en ondersteuning. ‘n Mens hoef maar net op Google die name van Hennie van Deventer en Sarel Venter saam in te tik om te sien wat ek bedoel. In welwillende resensies en ander geskrifte het hy oor jare telkens my hart warm laat klop.
Oor een ding is ek spyt: dat ek en Tokkie nooit die voorreg gehad het om saam met Sarel en Liesbeth ‘n bootvaart te onderneem nie. So ‘n kundige entoesias soos Sarel kry jy nie elke dag nie. My en Tokkie se vaart op die Queen Mary II na Sydney het hy byvoorbeeld op sy rekenaar seemyl vir seemyl saam meegemaak. Sy intense meelewing op hierdie salige ontdekkingstog was ‘n belewenis. Ek is seker ons sou genotvolle ure saam ter see kon deurbring as omstandighede daarna
was.
Die Venters het onlangs hul gewilde gastehuis, “Kom weer” in Fichardtpark, Bloemfontein, se hortjies gegrendel en na ‘n kleiner oord in Universitas verhuis. Mag hulle daar ‘n ryke nuwe skof beleef, mag die vreugdes by hul voordeur opstapel en mag nog talryke heerlike nuwe herinneringe vir hulle geskep word.
(Die saamgestelde foto wys Sarel op sy 70ste verjaardag, regs onder, saam met my en Herman le Roux in my kantoor by Die Volksblad, ontspanne saam met sy medelede van die hoofredaksie in die 80’s, en by ‘n Volksblad-saamtrek in 2016 in Sabiepark en Balule. )

SY WAS ‘N ROTS

Sy/haar onderhoude met spesiale mense is deel van elke joernalis se memoires. Gedenkwaardige eie onderhoude wat vinnig by my opkom, was met  uiteenlopende karakters soos Thabo Mbeki, Harry Oppenheimer, Tretchikoff,  Gerhard (Spiekeries) Viviers, Francesco, die witgesig-nar, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jamie Uys, Anneline Kriel, Sonja Herholdt,  Ampie Roux, vader van ons eie  “bom”, Buurman van Zyl, legendariese Bloubul-afrigter, Thys Lourens en Paul Nash, een van ons grootste atlete.

Een onderhoud wat onuitwisbare indrukke gelaat het, was met mev, Tini Vorster, minder as 20 uur nadat premier (en later staatpresident) John Vorster weens die Inligtingskandaal skielik as premier moes bedank.  Die onderhoud van anderhalfuur in die premierswoning Libertas in Bryntirion, Pretoria, het my aangegryp. Dit het gelei tot die treffende plakkaat op die foto met die foto van die Vorster-egpaar en die volgende bewoording: My man John – mev Tini Vorster.  Dit  is nie elke onderhoud wat met so ‘n plakkaat bekroon word nie.

By haar was in daardie bittere uur geen bitterheid, verydeling of teleurstelling oor haar man se premierskap  wat so dramaties gestuit is nie. Inteendeel. In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid, liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit nou nog.

Geen wonder nie dat die naam van hierdie rots aan John Vorster se sy dadelik by my opgekom het toe die tydskrif Sarie in 1989 by my en ‘n paar ander mense wou weet watter vroue ons die meeste bewonder.

Sy was teenwoordig toe mev. Betsie Verwoerd haar man, dr. HF Verwoerd, aan die dood afgestaan het, het sy my daardie oggend oor ‘n koppie tee en keurige fyngebak rustig meegedeel.  Dit het haar diep getref.   Toe haar man as opvolger gekies word en dit hul beurt word om by Libertas in te trek, was dit met die gebed in haar hart dat hulle by die dag van afskeid saam oor die drumpel sal kan stap.  Daardie gebed is verhoor. Daarom verlaat sy Libertas met ‘n dankbare hart.

In 1993 met die verskyning van my debuutboek, Flaters en kraters, het ek uit die aftree-oord Serenitas in die Strand van haar ‘n handgeskrewe briefie op blou Croxleypapier gekry om my geluk te wens. Mert verwysing na my stukkie in Sarie het sy bygevoeg: “Wat u op skrif gestel het, is steeds en sal altyd vir my ‘n kosbare kleinood bly – veral in hierdie dae dat ek op die lewenspad terugloop en graag die mooi na vore bring om te onthou.”

Natuurlik is dit vir my ‘n kosbare briefie. Dit word steeds met sorg bewaar.  Koerantmense kan ook sentimenteel raak!

(Mev. Vorster het in 1978 ontvang ‘n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang vir haar maatskaplike  diens  – sy was Suid-Afrika se eerste geregistreerde maatskaplike werkster – en haar geskiedenisnavorsing oor die presidentslandgoed Groote Schuur in Kaapstad. In 1990 ontvang sy die D.F. Malan-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bevordering van die Afrikaanse kultuur.  Sy was ook ‘n ereburger van  Kareedouw waar die egpaar ná hul aftrede gewoon het. In 1987 het oud-president PW Botha die Orde vir Voortreflike Diens aan haar toegeken. ‘n Britse koerant het by geleentheid geskryf dat, as sy in ‘n later geslag gebore was, sy self die eerste minister sou kon wees. Sy verdien waarlik ‘n buiging van diepe bewondering.)

‘N MUSEUM VIR KOERANTE

Vir almal wat drukkersink in die are het, ook almal wat nuuskierig is oor wat agter die papiergordyn gebeur het of steeds gebeur, en in die mense wat dit laat gebeur het of steeds laat gebeur, is die digitale mediamuseum mediamense.com die ideale inloerplek.

Gaan kyk gerus wat die skepper en kurator, prof. Johannes Froneman, en sy helper, James Kemp, reeds in die kort tyd vermag het. Dit is reeds ‘n skatkis van gesaghebbende inigting oor joernaliste, koerante, tydskrifte en die uitsaaiwese.

Nou reeds is daar al genoeg stof sodat die gedrukte media se enorme bydrae nie vergeet word nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media.

Die versameling koerantvoorblaaie is verstommend. Die geskiedenis van (Die) Volksbad word treffend en kernagtig weergegee. Vir lekkerlees is die afdeling By Nabaat sterk aan te beveel.

In By Nabaat is ‘n stuk uit pen van prof. Johannes Froneman oor my eie loopbaan. Dit is nie sonder kritiek nie.  Ek beskou dit egter as besonder ewewigtig. Gaan lees dit gerus by https://mediamense.com/hennie-van-deventer-koerantman/

Dat hy my een van die “mees energieke joernaliste” noem, sal vele kollegas seker beaam – nie almal sonder ‘n wrange herinnering of twee oor hul eie ervarings in daardie verband nie.

In Nabaat is ook ‘n grafskrif uit my pen vir Sapa wat in Maart 2016 in die Afrikaanse koerante verskyn het.

Besoek hierdie museum en beveel dit wyd by mense met harte vir die media aan.  Dis ‘n juweel wat hier tot stand kom.

 

VLOERMOER OOR ‘N VOORBLADFOTO

Tokkie in 1966

‘n Voorbladfoto wat toe nie ‘n voorbladfoto was nie, was die voorloper vir ‘n vloermoer waarop die uwe nie trots is nie, maar wat ongelukkig nie weggewens kan word nie.
Die suurderige herinnering dateer uit 1966. HvD neem die eerste keer waar as nuusredakteur van Die Volksblad, en is – nodeloos om te probeer ontken – heel bewus van die belangrikheid van die amp en ipso facto dan ook van die 25-jarige tydelike bekleder daarvan.
Lappies Labuschagne, hooffotograaf, word gestuur om ‘n voorbladfoto te gaan neem. Die onderwerp is drie of vier mooi onderwyseresse wat nog met punte en rapporte doenig is nadat die kinders reeds vort is met vakansie.

Tokkie 75 op 15 Maart 2021

Op nommer 99 kom sit Lappies die foto voor my neer – tegnies so onbesproke soos al sy foto’s, waarvan letterlik duisende oor die jare die koerant versier het. Net daar sink my hart egter deur die vloer. Want in die middel van die foto is die dierbare gesiggie van my verloofde, Tokkie van Wyk, die ene soet glimlaggie.

My oordeel was dat my kollegas my sou verdink van ‘n erge graad van nepotisme en onsensitiwiteit op die vooraand van my huwelik met Tokkie op 31 Desember daardie jaar op Bultfontein. Ná al die jare dink ek nog die gebruik van die foto was om daardie rede nie aan te raai nie. Maar ‘n grote krisis was dit. Tyd was daar nie. Enigste alternatief vir die voorblad was ‘n foto van twee Duitse meisies in sjoebroekies wat op ‘n leer staan en ‘n olifant in Berlyn se dieretuin met besems was. Dié het al dae lank in my mandjie gelê. Die redakteur was nie geamuseer nie.
Vir die tweede uitgawe was Lappies terug met drie ander onderwyseresse. Nie een naastenby so mooi soos Tokkie van Wyk nie. Maar gelukkig almal aan die waarnemende nuusredakteur geheel onbekend. Agterna het ek vir Tokkie die dood voor die oë gesweer as sy ooit weer op ‘n Volksblad-foto sou verskyn. As jy ‘n kamera sien, dra jou mooi beentjies, gehoor!
Maandag is Tokkie 75. Sy het mooi vir haar aanstaande geluister. Was nooit weer ‘n kandidaat vir die voorblad nie.

DEUR EN DEUR ‘N GROOT VERLIES

Op ‘n wynrak teen ‘n muur in ons woonkamer op Melkbos staan ‘n bottel Claret wat in die jare 80 vir Die Volksblad gebottel is (foto 1). Op die etiket is ‘n afbeelding van die ou-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig.  Sentraal in die ontwerp is ‘n lantern (laat daar lig wees?) en ‘n boekrol met die uitgebeitelde  inskripsie: “Vox populi vox Dei” – “die stem van die volk is die stem van God”.

Met die omvattende opgradering in 1986 het die gebou ‘n keurige siersteenfasade en ‘n ruim ingang met glasdeure van moderne ontwerp gekry (foto 2).  Die ou deur, ‘n pragstuk van Birmaanse kiaat, het nie meer “ingepas” nie. Hoofredaksielid Jan Scholtz, ‘n meester-vakman met ‘n diepe hartstog vir hout, het al die sierade van inheemse houte in die redakteur se kantoor gerestoureer of laat restoureer – lessenaar, stoele, bank, tafels en boekrakke. Hy het gespook om ook die historiese deur te red;  helaas ‘n verlore stryd.

Kom ons bou die ou deur  in tussen die redakteur en sy sekretaresse se kantore, het hy gepleit.  Die redakteur, wat toe die uwe  was, het sy (aansienlike) gewig solied agter kollega Jan ingewerp. Maar die argitek was nie vir ons ouderwetse gedagte te vinde nie, en die bestuur was aan sy kant. Die houding was dat die redaksie nie moet kom neus insteek in sake buite sy jurisdiksie is –  “bemoei julle met die inhoud van die koerant en laat ons toe om die gebou ordentlik te moderniseer.”

Jan was tot sy dood toe bitter oor die mistasting.  Volgens hom is die voordeur vir alle praktiese doeleindes  “weggesmyt”.    Sy bitterheid het hy betuig in ‘n spesiale bylae toe Die Volksblad in 2004 eeufees gevier het.  Hy noem daarin dat die statige ou lessenaar, ook van Birmaanse kiaat, in die redakteur se kantoor ook weggesmyt sou gewees het as dit nie vir sy “aandrang” en my “beslistheid” was nie.  Pynlike gedagte.

Vandag wonder ek of ons nie harder kon baklei het nie. Iewers moes tog iemand met ‘n sin vir waardes gewees het by wie ons ‘n saadjie in vrugbare aarde kon plant.  Maar nou-ja, met die waters wat verby is …

Die Volksbladwyn staan darem so dat as ek van my vaste sitplek opkyk my oog op die etiket met die besonderse voordeur val. Daardie wyn het destyds geskenke vir kliënte en soeweniers vir die personeel geword. Die etiket was ‘n kunswerk uit eie reg. Die wyn kon, ten minste in voorkoms, sy man staan tussen enige spogwyn van ‘n landgoed in die Wynland. Die etiket is steeds treffend.

Naskrif: Die 79 is nie die oesjaar nie. Dis die straatnommer.  Die Volksblad was al die jare by Voortrekkerstraat 79.  Nou is dit Nelson Mandelarylaan 79.  Gelukkig nie Jacob Zuma- of Ace Magashulerylaan nie.