VOLKSBLAD: ‘N NUWE LEWE

‘n Volksbladkamer by NALN was lank ‘n droom. Nou word dit ‘n werklikheid.

Met die trek uit die ou Volksbladgebou in Nelson Mandelarylaan (voorheen Voortrekkerstraat) in Bloemfontein na ‘n kleiner perseel in Westdene is vir ou en waardevolle stukke van historiese belang vier waardige nuwe tuistes beding.

Een is NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar die stylvolle redakteurskantoor ‘n tuiste vind.  Dit sluit in ‘n statige lessenaar van Birmaanse kiaat wat uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948) dateer.  In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe.

Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad. Die meubels – stoele, bank, tafels en boekrakke – sluit ook sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout in.  Die meeste hiervan is onder Jan met sy hartstog vir hout se toesig of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die gebou in 1986.

Wat ook na NALN gaan, is die oorpronklike Volksbladgebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig.  Sentraal in die ontwerp is ‘n lantern (laat daar lig wees?) en ‘n boekrol met die uitgebeitelde  inskripsie: “Vox populi vox Dei” – “die stem van die volk is die stem van God”.

Met die opgradering het die gebou ‘n keurige siersteenfasade en ‘n ruim ingang met glasdeure van moderne ontwerp gekry.  Die ou deur, ‘n pragstuk van Birmaanse kiaat, het nie meer “ingepas” nie. Jan het gespook om ook die historiese deur te red, en ek het my gewig solied agter hom ingewerp;  helaas ‘n verlore stryd.

Jan was tot sy dood toe bitter oor die mistasting.  Volgens hom is die voordeur vir alle praktiese doeleindes  “weggesmyt”.    Hoe verheug sou hy nie oor die nuwe lewe gewees het nie.

Ander Volksblad-eiendom van historiese belang sal deur die Nasionale Museum, die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en INEG (Instituut vir Eietydse geskiedenis), nou bekend as ARCA, bewaar word. Dit is ook die tuiste van een eie private versameling (die ander is by die Erfenisstigting).

Ons veterane van vorige eras het maar asem opgehou oor wat van ons geliefde koerant – die oudste in Afrikaans  – se sentrale plek in die geskiedenis van die Afrikaane perswese van die land gaan word noudat dit nie meer op papier verskyn nie.  Ons almal slaak ‘n dankbare sug van verligting oor die nuus wat redakteur Gert Coetzee vanoggend bekend gemaak het.

In eie hoedanigheid –  maar ook as oudste oorlewende redakteur (chronologies) –  wil ek graag ‘n buiging maak na Gert en sy span vir toegewyde en vrugbare arbeid om vir Volksblad, naas die voortreflike digitale spruit wat hulle so bekwaam in stand hou, ‘n alternatiewe fisieke voortbestaan te gee met die bewaring van waardevolle historiese stukke by vier waardige tuistes.

Die besluite lyk sinryk en ek sien uit om by afhandeling ‘n besoek aan Bloemfontein te bring om in die goue herinneringe te kom deel.

  • Op die saamgestelde foto is die redakteurskantoor soos hy besig is om in NALN se gebou tereg te kom, soos hy in my tyd was en dolleeg na die trek.
  • Die volledige berig op Netwerk24 is te lese by https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/volksblad-en-sy-geskiedenis-kry-nuwe-tuiste-20211104

VOLKSBLAD-KARAKTERS

Volksblad se bladsy sewe.

Dat staatspresident PW Botha, die “Groot Krokodil”, as jongeling politiek toe is, is op die rekening van ‘n Volksbladman. Die geheimpie word vandag verklap in Volksblad in ‘n artikel oor Volksblad-karakters  Koerantkamerade, my boek.  Die artikel beslaan die hele bladsy sewe van die koerant.

In die 30’s was Botha ‘n bedrywige vryskut-verslaggewer.  Hy het voorbladberigte gelewer oor onder meer politieke vergaderings waar stoelpote geswaai is. Skakel Kriek, nuusredakteur, was desondanks nie oortuig dat Botha vir die joernalistiek uitgeknip is nie. Kyk liewer uit vir iets anders, was sy aanbeveling. Botha het die raad ter harte geneem. Hy word toe, in sy eie woorde, ‘n “politikussie”. Die res is geskiedenis.

Ook pres. CR Swart is by die koerant as ‘t ware geweeg en te lig bevind. Hy is in 1921 deur die uittredende redakteur dr. JG Conradie, as sy opvolger voorgestel. Die aanbeveling is nie deur die direksie aanvaar nie.

Vyftien jaar later, in 1936, het hy twee maande as redakteur waargeneem.  Seker die “vurigste” hoofartikel in die geskiedenis het in daardie tyd uit sy pen verskyn.  Terwyl hy tik , het die vensters begin ruk terwyl die gebou bewe. Redaksielede het uitgestorm. Dit was ‘n aardbewing wat hulle die skrik op die lyf gejaag het.

Dr. AJR (Albertus) van Rhyn het die langste as redakteur uitgehou – van 1925 tot 1948. Hy is daardie jaar agter sy hart aan politiek toe. Hy is sommer dadelik in die kabinet opgeneem. Later was hy Hoë Kommissaris (ambassadeur) in Londen.

Die pedagoog van die Hantam was was seker die onwilligste redakteur tot dusver. Hy moes letterlik gesmeek word.  Nadat hy hom met ‘n aantreklike salaris laat “omkoop” het, het hy die aand vir sy vrou gesệ: . “Mamma, ek het ’n groot fout gemaak.”  Maar, fout of te nie, byt hy toe 23 jaar lank vas, al was dit nie altyd maklik nie.

’n Militante genl JBM Hertzog het in die onstuimige Smelterstyd byvoorbeeld rondborstig verklaar: Hy sou Van Rhyn se  koerant uit die Vrystaat “verdryf”; selfs “doodmaak”. “Die oubaas was baie haatdraend as hy eers persoonlik teen jou raak,” het die redakteur lakoniek opgemerk.

Gert Petrus De La Rosa (Oom Gert) Terblanche het in 1946 by Die Volksblad  ingeval en in ’n loopbaan van 24 jaar veral as kranige nuusredakteur sy spore verdien. In 1970 is hy, soos Van Rhyn,  politiek toe – eers as senator, toe as LV vir Bloemfontein-Noord en later as ambassadeur in Transkei.

Die joernalistiek is die een ding wat jy nooit uit sy bloed kon kry nie. Hy was ’n kampioen-briefskrywer. Dekades lank het honderde koerantbriewe, uit sy geliefde Olympia-tikmasjien gevloei -. totdat sy laaste, onvervangbare, tiklint verslete was. Daarna is hulle met die hand geskryf.

As daar in die hemel nie ’n koerant is nie, sal Oom Gert ongetwyfeld een begin, het die rubriekskrywer Blouwillem Theron ná sy dood geskerts.

Die politiek en die joernalistiek is nie altyd gemaklike bedmaats nie en soms moet een uit laasgenoemde dissipline vir een uit eersgenoemde pront die waarheid vertel.  Een wat nie gehuiwer het om sy keel skoon te maak nie was die misname, pyprokende  Boesmanlander Jan Scholtz – ook ‘n voortreflike meubelmaker wat met hout kon toor –  wat in die 70’s as parlementệre verslaggewer ‘n draai in die persgalery van die volksraad gemaak het.

Hy kry toe opdrag om ’n minister iets te gaan vra, en keer die betrokkene in die wandelgang voor. Dié trap rond, klaarblyklik min lus om iets uit te lap. Toe draai Jan nie doekies om nie: “Buurman” – hy het almal altyd Buurman genoem, “jy weet mos dis ’n pot stront.” Hy het die die sterker variant gebruik. Wel, Jan Scholtz was Jan Scholtz. “Sy edele” was nie onbewus van hoe op die man af hierdie Volksblad-man kan wees nie. Pleks van hom opruk, vermurwe hy toe. Jan het sy storie gekry.

In 1975 moes sy redakteur dr. SF (Oom Bart) Zaaiman in ‘n beroemde relletjie ‘n minister die waarheid vertel – maar darem net minder bru-taal.

’n Verbod op die publikasie van foto’s van gevangenes wat sedert 1958 van krag was, is met ingang Maandag 1 September deur Jimmy Kruger, minister van justisie, opgehef. Oggendkoerante het reg gesit met foto’s van gevangenes wie se gesigte hulle die Maandag vir hul lesers wou wys. Die Vrydag word aangekondig: die minister het die publikasiedatum tot Sondag vervroeg. Geen redes is verstrek nie.

’n Blinde kon met ’n stok voel dat suurlemoensous geloop het. Die skuif was klaarblyklik ’n gunsie vir die Sondagkoerante, waarskynlik nadat Kruger se arm gedraai is met argumente oor groter sirkulasies op Sondae.

Zaaiman vererg hom. Sit in die foto’s, gee hy sy nuusredakteur, Chris Moolman, opdrag. Reeds in Die Volksblad se Vrydaguitgawe verskyn toe foto’s van die bekendste gevangenes: skêrmoordenares Marlene Lehnberg, haar kreupel handlanger, Marthinus Choegoe, en David Protter wat in 1975 die Israelse konsulaat in Johannesburg beset, en wild en wakker geskiet het. Albei hofsake was opsienbarend en die nuus steeds vuurwarm.

Die nuuswaarde van die foto’s was hoog en vir Die Volksblad was eerste publikasie ’n scoop. Zaaiman het sy optrede so gemotiveer: Dat dit duidelik was dat die publikasiedatum vervroeg is om die Sondagkoerante ter wille te wees en dat dit waarskynlik op hulle aandrang geskied het … “Dit is duidelik dat geen beginsel of rede meer in die spel is waarom die foto’s nie dadelik geplaas kan word nie.” Ander koerante het Saterdag gretig die Vrystaatse voorbeeld gevolg. Die Sondagpers kon maar net kwylend toekyk.

Alf Ries, deurwinterde politieke beriggewer, het vir hom PW Botha se gramskap op die hals gehaal nadat hy “op Nuweland ’n kniebesering opgedoen het”, soos  hy graag gespog het. Hy het inderdaad. Maar ná die eindfluitjie. Hy en ‘n kollega het ná ’n WP-wedstryd sommer kortpad oor die veld gevat motor toe. Toe val Ries oor ’n hoekvlag. Hy moes van die veld gedra word en was geruime tyd in die hospitaal.

’n Onvergeetlike beeld ná die val is van hom besig om in rooi pajamas op die televisienuus kabinetskuiwe te voorspel. Die persman Freek Swart was daardie tyd ’n ruk lank TV-joernalis en natuurlik welbekend met Ries se vermoë as politieke profeet. Hy bring toe sy kamera hospitaal toe en vra sy kollega wat hy verwag. Ries se grondige kennis van gebeure in die politieke binnekringe het hom, soos altyd, nie in die steek gelaat nie. Net met twee voorspellings het hy misgetas.

Botha was stomend. “Verbeel jou, ’n man in rooi pajamas kondig jou kabinet uit ’n hospitaalbed aan,” het hy glo gesnork.

Hugo Dreyer, bestuurder/redakteur in die 50’s en 60’s – het in ‘n knyptang- situasie beland met mev. Mabel Jansen, eggenote van die laaste goewerneur-generaal van die Unie, dr. EG Jansen. Die formidabele mev. Jansen had ’n chroniese hekel aan “onbeholpe” koerantfotograwe wat taks om taks daarin slaag om haar met toe oë af te neem. Ná ’n swierige sosiale geleentheid in die GG se ampswoning in Harry Smithstraat beland so ’n gewraakte toe-oë-foto toe weer op die nuusredakteur, wat Dreyer was, se lessenaar. Die stomme man was al moedeloos en ongeneë om onder haar vlymskerpe tong deur te loop. Hy vra toe die fotograaf om die foto met sy retoesjeerkwassies te dokter. Die koerant verskyn en op die foto is mev. Mabel se oë so groot oop “soos dié van ’n lappop”.

Nie lank nie, hier daag ’n statige swart ampsmotor onder motorfietsgeleide op. In die motor sit die veeleisende eerste dame in lewende lywe. Sy wil asseblief ses van daardie pragtige foto’s bestel en sommer die knap fotograaf ook ’n kloppie op die skouer gee. Penarie. Die nuusredakteur het die omvang nie onderskat nie. Hy speel dus vir tyd: “Alte seker, mevrou, laat ek net gou gaan seker maak of die negatief nog beskikbaar is.” Mev. Jansen was verpletterd toe hy skoorvoetend kom rapporteer: “Jammer, mevrou, spyt my regtig, maar daardie negatief is skoonveld”.

Chris Moolman, assistant-redakteur in die 70’s, moes as Rapport-redakteur in 1988 die stang vasbyt om ‘n storie oor hul egskeiding uit ‘n onwillige FW en Marike de Klerk te pers. Op die regte oomblik speel hy sy troefkaart.  Rapport weet ‘n derde party is betrokke en haar naam begin met ‘n E (vir Elita). “Nou is ek geskok,” was FW se reaksie. Maar die koeël was deur die kerk. Verhoudinge het darem oorleef.

Charl Marais wat in vier “jollie” dekades “bokse en bokse” vol spotprente geteken het, is met sy aftrede gevra hoe hy daarin geslaag het om so baie mense so onvleiend te teken sonder dat een ooit in woede teen hom opgeruk of hom met hofsake gedreig het. Dit is jou houding teenoor mense, was sy teorie. “Ek is vriendelik met almal en gee almal ‘n kans. En my kwaad is gou oor.”

Naskrif: Verkopertjies se entrepreneurskap kon ’n mens verstom. In 1948 is op ’n Sap-kermis (VP-kermis) in Windhoek na die nuwe premier, dr. DF Malan, se foto skyfgeskiet. Die storie was op die voorblad en op die plakkaat: “Sappe skiet op dr. Malan se foto”. Toe sny vindingrykes die onderste lyn weg: “Sappe skiet op dr. Malan”. Dadelik groter trefkrag. Koerante het daardie middag soos soetkoek verkoop. ’n Vet lot is aan kommissie losgeslaan.

KOERANTKAMERADE: NOG 15 VRAE

Die lang wag is verby. “Koerantkamerade” – my boek met grafskrifte vir nagenoeg 50 tydgenootlike pers-persoonlikhede – is vandag op Melkbos afgelewer.
‘n Welaangename oomblik vir ‘n derde en laaste raai-raai-riepa rondom die boek. Ons maak dit ‘n spesiale bonus-ene met 15 prikkelvrae.
Julle sal moet opskud. Tot dusver is omtrent net die identiteit van “Quintus van Blouen” raakgeraai – maar hoe anders, daar was dan ‘n foto by, al was dit van Quintus in ‘n WP-trui!
Hiermee die laaste vrae (drie korrekte antwoorde uit 15 word as redelik beskou):
1. Wie het FW de Klerk se wind uit sy seile geneem met die mededeling: “Ons weet dat die derde party se naam met ‘n E begin?”
2. Wie het die gaste by ‘n deftige dinee se asem weggeslaan deur ‘n kollega se vrou en sy skelmpie se name te verwar?
3. Wie het ‘n leraar uitgeboul met die vraag: “Dominee, waar is die terte?”
4. Wie is oor “fopnuus” beboet lank voordat die woord geskep is?
5. Wie moes handeviervoet kruip om by sy kantoor te kom?
6. Op wie se telefoon het ‘n man selfdood gepleeg deur miergif te drink?
7. Wie het altyd die laaste stukkie kameeldoring op ‘n kampvuur gegooi?
8. Wie is met die poedelkaal lyfie van ‘n mooi jong mamma gekonfronteer?
9. Wie was bekend as die “klein generaaltjie”?
10. Wie was die “op-vlieënde Hollander”?
11. Wie het so beeldryk gebid dat van sy tafelgebed gesê is: “Nou het ons sommer die weervoorspelling ook gekry?”
12. Wie is die vader van die uitdrukking “’n ligte mistykie”?
13. Wie se draagbare tikmasjien is vir ‘n bom aangesien?
14. Wie is ligvoets oor ‘n draadheining voor ‘n aanstormende bul?
15. Vir wie was koerantwerk so lekker dat sy nie kon glo jy word daarvoor betaal nie?
“Koerantkamerade” word deur Naledi uitgegee in samewerking met “Nagkantoor” en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust. Die boek beslaan 300 bladsye plus ‘n spesiale fotoseksie van 20 bladsye.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Danksy die subsidie kos die boek net R220.
“Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees. Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.

HIËNAS OM ‘N GEKWESTE BOK

In  ‘n onthutsende hoofstuk in sy e-boek, Kannie is (lankal) dood, lig  kollega Piet Theron, veteraan-joernalis van die Vrystaat, die sluier oor hoe sy seun, Pieta, ná  breinskade weens ‘n onverskillige operasie deur gewetenloses uitgebuit is. Watter skok vir sy ouers toe hulle uit die mond van ‘n prostituut moet verneem dat ‘n “belegging in ‘n meubelfabriek” weens ‘n gekonkel in ‘n bordeel gestort is.

In ‘n skrynende hoofstuk met die veelseggende titel Hiënas om ‘n gekweste bok ontmasker Piet ‘n hele reeks mooiweersvriende en opportuniste se verbysterende wandade jeens die goed vertrouende Pieta.  Erge professionele argeloosheid en agtelosigheid kom aan die lig.

Kannie is (lankal) dood is Piet  se memoires van ‘n veelbewoë lewe. Veral drie hoofelemente kom sterk na vore: die beproewende tog met Pieta, ‘n harde plaaslewe in die Wes-Vrystaat wat die Theron-familie gestaal het – onder meer in ‘n nare potjie met builespes –  en sy kleurryke loopbaan as Volksblad-joernalis met top-stories op sy kerfstok.

‘n Hoofstuk Ongeluksvoëls, vertel van ‘n rits ongelukke, teenspoede en terugslae wat oorkom moes word. Die ergste dal waardeur hulle is, was ongetwyfeld die ontsettende lyding van Pieta nadat n doodgewone blindedermoperasie weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop het. Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom platgetrek.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta, die vader van twee, was skielik weer Piet en Petro se “groot baba” totdat hy op 38 oorlede is.

Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van  hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie. Om die verhaal met al sy kronkelweë te volg, kan nie anders as om die leser ‘n beklemming om die hart te gee maar ook met groot deernis en bewondering te vervul nie.

Piet se loopbaan by Die Volksblad het half terloops begin. Hy – die amper onwaarskynlike joernalis – het tot topposte gevorder en as assistent-redakteur afgetree.  Hy sonder as hoogtepunte uit: die Duiwelspiekramp tydens die Republiekfees in Mei 1971,  die ineenstorting van die woonstelgebou Tempest  in  Welkom in 1976, die terreuraanval op Sasol in 1980 en die sogenaamde Brugberaad op die Zambezi in 1975.

Piet was daar, op die toneel of intens betrokke in die hitte van die stryd.  Sy boeiende vertellings sal die drukkersink in die are van elke joernalis of oud-joernalis opnuut laat tintel.

HvD en Piet Theron, studentemaats, woonstelmaats en kollegas, op Melkbos se stoep.

In Kannie is (lankal) dood is ook verskeie juweeltjies en kamees, soos oor die ongewone blitsromanse met die spogatleet Petro du Plessis wat sy vrou geword het. Plek-plek in die boek lyk Piet soos ‘n bakleier; hy was klaarblyklik ook ‘n bobaas-vryer!

Bestel die e-boek by De Novo Boeke by die volgende skakel:

http://www.denovowebs.co.za/product/kannie-is-lankal-dood/  Dit kos R80.

NIE SOMMER ‘N SKIL OF ‘N BLIKKIE

‘n Ou koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie. As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil,  ‘n sardiensblikkie of ‘n plastieksakkie nie.

Onder koerantpapier kan jy slaap. Jy kan dit vir honger donkies voer. Jy kan jou vis en tjips toedraai. Jy kan die hond se plassies opvee. Jy kan vuur maak en ruite was. Jy kan bevrore vleis koud hou op lang ritte.  Jy kan die papegaai se hok uitvoer.  Die nut is amper onbegrens.

Kollega Johan van Wyk het ‘n keer ‘n nogal uitvoerige studie gedoen oor waarvoor ‘n ou koerant alles deug. HY kom toe tot die insigryke gevolgtrekking dat dit op een plek werklik tot sy reg kom: “In die kleinhuisie met die boerpampoene op die dak. “Nệrens lees jy lekkerder in ‘n ou koerant as daar nie.”

Johan kon bygevoeg het: Nệrens is jy dankbaarder oor die beskikbaarheid nie as wanneer jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek. Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.

Ek hoor graag van ander vindingryke idees. Hier egter drie aanwendings wat vir die uwe nuut en oorspronklik was.

Nommer een is die sogenaamde Paper House in Pigeon Cove, Massachusetts.  Die hele huis en sy inhoud bestaan uit ou koerante, hoofsaaklik uit Boston.  Sowat 100 000 eksemplare is vir die doel gevou of gerol. Die volledige takie het 20 jaar in beslag geneem.

In die woonkamer staan ‘n klavier – ‘n uitnodiging vir iemand wat kan om die klawers met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” te gaan tokkel. Daar is ‘n radio in ‘n outydse kabinet. ‘n Boekrak is gemaak uit buitelandse koerante  en ‘n oupastaanhorlosie uit koerante van die hoofstede van die Amerikaanse deelstate.  ‘n “Nuuswaardige” lessenaar is uit koerante met die nuus van Charles Lindberg se epiese vlug.

‘n Koerantman voel so tuis, jy wil sommer dadelik sak en pak intrek en begin lees!

In die Suid-Tiroolse vakansiestadjie in die Alpe Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit:  ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Die struktuur het HvD verdwerg  – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg!

Die foto’s is bedoel om kreatiewese te prikkel om daardie stukkie Tiroolse vindingrykheid na te aap. Laat dit ‘n uitdaging wees.

Van nader tuis is die pragtige tabberdjies wat vir die Kovsies se joolkoningin en eerste prinses aangetrek is ter viering van Die Volksblad se verskuiwing na die oggendgleuf op 4 Maart 1991. Mooier “uitgawes” was daar gewis nie in my tyd as hierdie aan die mooi lyfies van Liezel le Riche en Almie Cloete nie. By hulle is Die Volksblad se Alta Beetge wie se breinkind die mode-ding was.  (“Haar rokkie het ‘n skeurtjie in en almal kyk daarna …”)