PERSPOëSIE EN JOERNALISTEGEDIGTE

’n Mooi meisie en ’n moord. Dis die resep vir ’n geslaagde koerant volgens ’n digterlike siening van buite. Boesem vrees in by die lesers, dan koop hulle koerante. Dis ’n poëtiese insig van binne.

My onderwerp is perspoësie. Die twee digters hier bo ter sprake is Dirk Opperman en Pirow Bekker.

Opperman – die stem van buite – het in Joernaal van Jorik soos volg gedig:

Gee ontspanning, hou die massas dop;
gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
en stoot die sirkulasiesyfers op.

Pirow Bekker, oudhoofsubredakteur van Volksblad, dig soos volg in “Peins oor die plakkaat”:

Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.

Dan egter ná al die pynlike gepeins om ’n goeie plakkaat te kraam, die ontnugterende besef:

Maar die plakkaat se groot ekstase
Kom nooit op afgeleë plase.

In die Afrikaanse perspoësie kom nie net verse oor koerante voor nie, maar ook oor gedigte oor joernaliste. In “Gebed van ’n leerlingjoernalis” – geskryf op versoek en onder die vaderlike oog van Piet Cillié by die stigting van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek – noem die digter-dominee Izak de Villiers (later redakteur van Rapport) onder meer die volgende smekinge van die aspirante:

Bewaar my van die diens aan die leuen …
Keer my weg van die kortpad, die maklike pad …
Lei my uit die versoekings van sinisme, vooroordeel …
Bo alles: verleen my die genade van te glimlag, vir myself ook
Wanneer ander my feite raakvat soos ek hulle syne …
Laat my nie met baie woorde beduie wat met min te sê is nie
… en dat ek die Bose sal beveg
Deur met die woord te help bou
Aan ’n wêreld waarin geregtigheid woon.

Die vers is seker elders ook gepubliseer. Ek kry dit in “’n Boekie vir Piet”, ’n huldigingsbundel aangebied aan Piet Cillié by die voltooiing van 50 jaar in diens van Nasionale Pers op 1 Desember 1985.

Oor spesifieke joernaliste bestaan gedigte soos “By die dood van ’n joernalis” deur Dirk Opperman (met die dood van sy Franskraalse kuier- en geselsmaat Schalk Pienaar) – wat volledig aangehaal sal moet word om sin te maak. Gaan slaan dit liewer na in Opperman se voorwoord tot Pienaar se outobiografie, Getuie van groot tye.

Met Pienaar se aftrede by Beeld in Januarie 1975 is Opperman gevra om iets oor hom vir die naweekbylaag van Nasionale Pers se dagblaaie, Die Byvoegsel, te skryf. So het hy daarin gedig:

Toe hy byna Die Burger was, het “die luie donner”
Hom glo alte graag op Franskraal afgesonder,
Maar in JB (Johannesburg – HvD) toe hy op sy eie is, verrig
Hy met Die Beeld ons grootste wonder.

Volgens Opperman is die kwatryn “om die een of ander rede nie geplaas nie”. Die redes is vir my taamlik klaarblyklik. Die verwysing na “luie donner” en sy liefde vir Franskraal was immers ’n interne grappie van Piet Cillié. Hy sou nie die gevaar wou geloop het dat iemand dit ernstig opneem nie.

’n Vrolike feesversie is deur “versieman” (sy eie beskrywing)  Philip de Vos by die Kaapse viering van Volksblad se-eeufees in 2004 bygedra:

Maar – Volksblad
klim die hoogtes
deur storms en deur droogtes
deur oorloë, griep en Runderpes,
bied hy ’n les vir al die res
en so gaan hy steeds aan en aan
en hoop om lank nog te bestaan!

Die wens vir lank nog te bestaan is helaas nie verwesenlik nie. Die gedrukte koerant het verdwyn. Die blad verskyn nou net in digitale vorm.

Ook oor Volksblad (toe nog Die Volksblad) het ek (wat geen digter is nie) in 1966 met die moord op HF Verwoerd my hand gewaag aan ’n versie wat nog al die jare in ’n lessenaarlaai was:

My hartstog-koerant,
Blad van land en volk,
Bring blitsgou die nuus
Van Tsafendas se dolk,
Geskokte lesers in rou
Ruk, verslae en kwaad,
In hul derduisende op
Na Voortrekkerstraat.

Die verwysing was na die groot skare wat op 6 September 1966 by die koerant se gebou kom saamdrom het om te wag vir ’n spesiale later uitgawe met varser nuus oor die skokkende gebeure.

Vergun my ten slotte nog ’n eie versie oor koerante nav Die Burger se slagspreuk:

Lees die koerant en gesels saam
of weet niks – en kry skaam.

Litnet: 10 Februarie

VERWOERD GESKIET: SPESIALE UITGAWE

Terwyl koerante vandag moet kopkrap hoe om na hul sluimerslaap van die Kersnaweek hul agterstand met die dekking van Desmond Tutu se dood te probeer inhaal, dink ek onwillekeurig aan die dae van spesiale uitgawes om groot nuus so gou moontlik by die lesers te besorg.
Een voorbeeld: Saterdagmiddag 9 April 1960 toe dr. Hendrik Verwoerd op die Johannesburgse Paasskou deur David Pratt in die gesig geskiet is. Die SAUK het ‘n flitsberig uitgesaai. Koerantmense van Die Volksblad in Bloemfontein – redaksie, fabriek, bemarking, almal – het dit gehoor en hulle instinktief kantoor toe gehaas. Een het van Dewetsdorp gekom; party was in die klere waarmee hulle in die tuin gewerk het.
Die twee gewone Saterdag-uitgawes was lank voor die skietery op straat. Hulle is toe gevolg met twee spesiale uitgawes van vier bladsy elk. Die verskyning van die koerante met die vuurwarm nuus is met luidsprekers deur Bloemfontein se strate aangekondig.
In ‘n ommesientjie het ‘n geskokte skare by Die Volksblad in Voortrekkerstraat saamgedrom. Angstige koerantlesers het die uitgawes opgeraap.
Dit is sulke geleenthede wat adranalien deur die are met drukkersink laat pomp het. Moeg maar hoogs tevrede dat hulle hul werk goed gedoen het, het die Volksbladders later die aand by die Fontein-hotel op uitnodiging van die redakteur-bestuurder Hugo Dreyer ‘n drankie gaan drink.
Weer eens was het koerant sy plig gedoen om sy gemeenskap op die hoogte te hou – ook in sulke uitdagende omstandighede. Dit was ander tye. Hoe dankbaar is ek nie dat sulke opwinding kon beleef het.

DRUKKERSDUIWEL SE DEBAKEL

Dit klink soos ‘n bose nagmerrie: dat iemand ‘n boek – ‘n yslike koffietafelboek – van 608 bladsye oor jare toegewyd kan navors en skryf, maar sy naam verskyn nie op die buiteblad nie weens ‘n gruwelike drukfout.
So ‘n ramp der rampe het my kollega Frikkie van Rensburg, veteraan-sportskrywer en gesiene oud-sportredakteur van Die Volksblad, pas oorgekom.
Die naam van die boek is Cheetahland125 jaar van lief en leed. 1895-2020. Dit is eintlik ‘n soort ensiklopedie. Soek ‘n feit oor Vrystaat-rugby en jy sal dit in hierdie gedenkwaardige magnum opus aantref.
Die boek is na sy beskeie mening ‘n meesterstuk en enig in sy soort, sê die Vrystaatse Rugby-unie. Ongelukkig geld die laaste beskrywing ook die raaiselagtige afwesigheid van die outeur se naam, moet ‘n mens byvoeg.
In die laaste proewe was dit daar. Toe die die glans-buiteblad van die pers kom, was dit nêrens. Iewers tussen die hand en die mond het die pap op die grond geval.
Selfs iemand wat in sy lewe ‘n paar potjies met die sogenaamde drukkersduiwel geloop het, kan moeilik die debakel begryp. Oranjedrukkers, moet seker skarlakenrooi bloos.
Ook die Vrystaatse Rugby-unie is natuurlik in diepe verleentheid. Dié het ‘n apologie op sy webblad geplaas onder die opskrif “JAMMER, FRIKKIE”. ‘n Klompie spesiale uitgawes is ook gedruk met Frikkie se naam in goud. Een is by die bekendstelling aan hom oorhandig.
In die apologie verklaar die VRU voorts: “Vrystaat Rugby is verheug en uiters trots op die eerste eksemplare van die nuwe boek Cheetahland – 125 jaar se lief en leed, 1895-2020 wat pas verskyn het.
“Ongelukkig het ‘n fout in die laaste oomblikke van die proses ingeglip. Die skrywer van die boek, Frikkie Janse van Rensburg, wat ‘n leeftyd se werk en energie in die boek gestort het, se naam het op ‘n onverklaarbare manier van die voorblad “verdwyn”: dit nadat sy naam nog op die voorlaaste proewe verskyn het.
“Sy naam verskyn wel op die binneblad, talle kere in die boek en ook op die agterblad van die publikasie. Hy word voorts in ‘n volle hoofstuk erkenning gegee vir sy monumentale werk en die statistiek wat hy oor meer as vyftig jaar versamel het.
“Dit klaar gesê, bly dit ‘n groot jammerte dat sy naam nie groot op die voorblad pryk nie. Ons vra opreg om verskoning daarvoor.
“ Ons dank hom vir al sy werk oor baie jare. Die boek is na ons mening ‘n reuse-sukses danksy Frikkie en sy medewerkers, onder wie Tom Ferreira, wat die redigering behartig het”.
Iemand anders sou dalk op- en afgespring het. Die beskeie Frikkie se reaksie is filosofies: Naam of nie naam nie was dit “baie spesiaal” om ná al die harde werk en laataande se skryf die boek in sy hande vas te hou. Dit is ‘n boek danksy die spelers en ondersteuners; ook ‘n boek vir die spelers en ondersteuners. Daarmee basta.
Frikkie swaai ook sy vrou, Elsie, lof toe. Sonder haar sou hy dit nooit kon vermag nie.
Oor Frikkie het ek o.m. in my gedenkboek by my 80ste, Koerant, die volgende kwytgeraak: “As die Vrystaat ‘n Meneer Sport moet kies – iemand wat oor die langste tydperk sport in die wydste sin gedien het – is die beskeie Frikkie van Rensburg, oud-sportredakteur van Die Volksblad, ‘n uitgeknipte kandidaat.
“Die getal sportsoorte waarvan hy op nasionale en internasionale vlak verslag gedoen het, is werklik meer as wat jy op die vingers van twee hande kan tel. Dit sluit in rugby, krieket, swem, boks, stoei, fietsry, modern vyfkamp, grootkaliber-skiet, tennis, polo, gimnastiek en rolbal.
“As sportstatiskus strek sy roem tot in die buiteland. Hy het die belangrike afdeling van beriggewing ‘byna vervolmaak’, aldus Herman le Roux, veteraan-sportredakteur onder wie Frikkie sy loopbaan as sportskrywer begin het. In 1999 is hy dan ook amptelik deur die Vrystaatse Rugby-unie as sy statistikus/historikus aangestel. Oor Vrystaat- en Griekwarugby weet hy uit ‘n statistiekehoek so plus-minus alles.”
Geluk, “Mnr. Sport”. Jy verdien elke woord van lof wat jy vir hierdie grootse werk – jou derde oor Vrystaatrugby – gaan kry. Wat jy werklik nie verdien het nie, is dat jy van alle mense die slagoffer moes wees van wat nie anders nie as die drukbedryf se grootste “ligte mistykie” in 2021 bestempel moet word.
(Foto’s: Frikkie en sy boek, Frikkie en Elsie met die spesiale uitgawe met sy naam in goud voorop. Dank daarvoor aan Netwerk24.)

BUIGINGS OOR TAALGRENS

‘n Uitsonderlike stukkie koerantgeskiedenis wat ek onlangs weer in Jaap Steyn se biografie “Sonkyker” raaklees, kom uit 1959, die jaar van die “Wonder van Afrikaans”-vierings met landwye taalfeeste wat deur die FAK gereël is op versoek van die Akademie wat daardie jaar 50 jaar oud geword het.
Ook Engelssprekendes het deelgeneem. Op 29 Mei het die plakkaat van die ontslape “Rand Daily Mail” – van alle koerante – gelui: “ Vandag praat ons Afrikaans”. In ‘n berig onder aan sy voorblad het die koerant geskryf: “ Vandag lewer ons bewys dat in hierdie ou jingo-nessie in Mainstraat se wệreld is ons ook Boere.” Die “RDM” se hoofartikel was in Afrikaans, met ‘n Engelse vertaling onderaan. Nou toe nou.
Sulke taal-welwillendheid het darem nie net van een kant gekom nie. Met die sluiting in 1985 van “The Friend”, Engelstalige oggendblad met diep wortels wat deur die Argus Printing and Publishing Company in Bloemfontein uitgegee is, het Die Volksblad hom in ‘n Engelse sub-hoofartikel gegroet.
Na die Engelse gemeenskap is ook uitgereik in ‘n advertensie wat in die laaste uitgawe geplaas is met die boodskap “You still have friends”. Spesiale pogings is aangewend om die Engelse gemeenskap daarna met hul eie blokkiesraaisel, eie strokies en Engelse advertensies te bedien – ‘n uniekheid in Suid-Afrika. Dit is wyd raakgesien en gewaardeer.
Verskoon my dat ek dit onbeskeie hier oprakel, maar ek is nogal trots daarop, soos die “Mail” op sy Afrikaanse buiging trots kon wees.

VUURWARM SCOOP OOR FW

Met die dood van FW de Klerk is een van die helder herinneringe wat by my opkom, daardie dramatiese dag 2 Februarie 1989 toe hy uit die bloute leier van die NP geword het.

Die hoofberig in Die Volksblad met die kraakvars nuus oor sy verkiesing tot hoofleier in die plek van die siek PW Botha was ‘n scoop soos elke joernalis van droom.   Die Volksblad was toe nog ‘n middagblad.  Geen ander middagblad in die land kon daardie middag by hom kers vashou nie.

P.W. Botha bedank skielik. F.W. klop Barend du Plessis, Chris Heunis en Pik Botha om die leierskap. Dit was die sleutelelemente van die berig.  FW nuwe leier, was die banier.  Wen teen Barend met 69 -61 was die tweede opskrif.

Alf Ries, gesoute politieke beriggewer van Die Burger en oud-Volksblad-man, het voor 11:00 die eerste keer opgewonde gebel om te waarsku dat iets groots klaarblyklik aan die gebeur is. Soos so dikwels in sy uitsonderlike loopbaan was Ries op presies die regte tyd op presies die regte plek. (‘n Ander Ries-scoop vir Die Volksblad was Samora Machel se dood in ‘n vliegtuigongeluk in 1986. Geen ander middagkoerant het dieselfde dag nog daardie berig gehad nie.)

Die oggend van die historiese NP-koukus het Ries  ‘n vreemde aktiwiteit bespeur, wat sy sensors geaktiveer het. Hy het dadelik gedink aan Die Volksblad, wat toe nog ‘n middagblad was. Geen ander joernalis het in daardie stadium eens snuf in die neus gehad van die drama wat hom in die koukus afspeel nie.

Teen 12:20 het Die Volksblad se Francois Lötter (later van Die Burger) gebel met die nuus dat die koukus vir ‘n nuwe hoofleier stem. Om 12:40 was daar weer ‘n oproep van hom om te sệ: Die nuwe leier is F.W. de Klerk.

Die redaksionele wiele het volstoom begin draai. Foto’s is geselekteer vir ‘n fotoblad en ‘n lewenskets is vinnig afgerond. In die subkantoor is koorsagtig bladsye verander — en die produk was ‘n treffer, met ‘n Alf Ries-hoofberig wat lesers soos ‘n elektriese stroom regop laat sit het.

Daardie middag bel Piet Steyn, LV vir Winburg, sy vriend prof. Kallie Strydom in Bloemfontein oor die groot dinge wat die oggend gebeur het. Hy kon op sy rug val toe Strydom hom meedeel: “Ek het dit nou net alles in Die Volksblad gelees.”

Die storie eindig ongelukkig op ‘n pynlike noot. ‘n Kis KWV-Roodeberg  bestem vir kollega Alf het op die Bloemfonteinse lughawe (toe nog JBM Hertzog) van die waentjie getuimel. Net ses bottels van die dankie-geskenk het heel in die Kaap aangekom!

Foto: Buiteblad van my loopbaanboek “Kroniek van ‘n Koerantman” (Tarlehoet. 1998). ‘n Dowwe relief van daardie gedenkwaardige voorblad is vir die ontwerp ingespan.

  • Later deel ek nog FW de Klerk-herinneringe.