STORIE WAT DIE TERT VAT

IMGWanneer Volksblad-veterane van vorige dekades die naweek in Bloemfontein saamtrek, gaan sekerlik goed nostalgies geraak word. ‘n Traantjie of twee sal dalk op ‘n wang verskyn. Die klomp gaan ook lekker lag – dis gewis.

As ek moet raai, sou ek reken van die luimigste anekdotes in tafelgesprekke in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum waarskynlik sal handel oor al die kleurryke karakters wat deur die jare op die koerant se betaalstaat was: salaries eccentrics, het Lord Thomson of Fleet joernaliste mos so ietwat neerbuigend genoem.

Een van die “salaried eccentrics” in my dae was fotograaf Willem van der Walt.  Mooi Willem, het sommige hom genoem; Lelike Willem ander. Hoe ookal, Willem (Mooi of Lelik) of  sou jy nooit kon beskuldig dat hy die toonbeeld van afgerondheid was nie.

Ek en hy was op ‘n keer op ‘n sending na Sasol.  Verveeld deur my  gesprek met ‘n paar Sasol-hoës, onderbreek hy uit die bloute met: “Haai, lyk hy nie vir julle ook nes ou sir De Villiers Graaff nie? ” Hy was nie die eerste wat ‘n beweerde ooreenkoms in voorkoms raakgesien het nie.  In die parlementêre krieketspan in 1965 was sir Div bekend as Big Div en ek as Small Div.

‘n Asder keer het ons die Kovssie-tamboernnooientjies gaan afneem.  Die voorste ry sit kruisbene. Dan sien jy tot doer. Willem waarsku: “Pas op, ons sien julle almal se broeke.”

Die Willem-storie vat die koek vat, is ‘n storie oor terte.

Hy en ‘n kollega is in die Suid-Vrystaat en die kollega voer ‘n onderhoud met die plaaslike leraar oor die een of ander fondsinsameling.  Weer boei die gesprek Willem hoegenaamd nie.

“Dominee,” val hy sommer met die deur in die huis, “waar’s die terte?”

Die leraar was momenteel uit die veld geslaan. Toe antwoord hy, terwyl hy bloedrooi begin bloos: “Ag broertjie, hier is ‘n paar onderwyseressies maar hulle is nou met vakansie!

(Uit: Scoops en Skandes, Tafelberg 1993)

“FELISITASIES”

Kleurryke koor.

Kleurryke koor.

Jannie Zaaiman, sy vrou, Marina en twee van hul kinders was vroeg in die nuwe millennium in ‘n kapingsdrama.  Hulle het wonder bo wonder skotvry daarvan afgekom.  Die egpaar doen toe ‘n lofwaardige ding – verhard nie hul harte in veroordeling nie, maar besluit om iets vir die gemeenskap te doen. Hul ideaal word om jongmense van die strate af te hou sodat hulle nie in misdaad verval nie.

Op 24 Julie 2003 stig hulle ‘n koor, die Mzansi-jeugkoor; en veertien jaar later kry daardie koor –  ná ‘n triomfantlike Britse toer begin April vanjaar in Londen by die gehoor van 3 500 in die beroemde Royal Albert Hall ‘n spontane staande ovasie.

Dit is ‘n riem-onder-die-hart-storie wat in enige omstandighede ‘n mens se aandag sou trek.  Vir my is daar ‘n bykomende faktor: die van Zaaiman. Jannie Zaaiman is die seun van mnr. Stephanus Fortunatus (Bart) Zaaiman wat aan die begin van my joernalistieke loopbaan by Die Volksblad in die jare 60 ‘n mentor was.

Die latere redakteur was daardie tyd assistent-redakteur en het ‘n sleutelrol ook in nuushantering gespeel.  Met sy gevreesde rooi pen kon hy vrot skryfsels behoorlik aan flarde skeur.  Van hom het ek enkele “bloutjies” van minder voortreflike berigte teruggekry wat soos klein Bloedriviertjies gelyk het. Het dan maar oes gevoel. (Al ons berigte is op deurslagpapier getik.  Die een kopie is na die nuusredakteur en die ander na die strenge assistent met die hoë standaarde.)

Enige goedkeuring uit sy kantoor was, daarenteen, salf vir die gemoed.  Een pluimpie wat ek tot vandag onthou was vir ‘n berig – sterk op die voorblad aangebied – van die eerste dag van die skooljaar in 1963 of 1964.  Ek loop my daardie oggend vas in ‘n sub-A’tjie wat skool net een kyk gegee en besluit het: dit is nie vir my nie, dankie.  Sy boetie in standerd een, met die opdrag uit die ouerhuis om ‘n wakende oog oor die jongste te hou, wou sy vlugtende broer in alleryl agternasit.  Toe keer ‘n onderwyser hom by die hek voor. Snot en trane.

Oom Bart se “bloutjie” is deur ‘n bode op my tikmasjien neergesit. “Felisitasies – uitstekende storie”, was in mnr. Z se kenmerkende handskrif met sy rooi pen bo-aan geskryf.

Jannie was daardie tyd in die hoërskool. Ek het hom en die ander Zaaimankinders nie juis goed leer ken nie. Weet net dat hy as student ‘n stapper van faam was op die atletiekbaan en ‘n akademiese loopbaan gevolg het wat tot ‘n vise-rektorskap by die Universiteit van Venda gevorder het. Groot lof is aan hom toegeswaai toe hy onlangs aftree.  Sy pa sou trots gewees het op so ‘n voortreflike loopbaan van Zaaiman junior.

Vandag se “felisitasies” uit Melkbos het niks met sy atletiekprestasies of akademiese loopbaan te doen nie; alles met die formidabele voetspoor van die Mzansi-koor, danksy die Zaaimans se se idealisme en toewyding.

Die beginjare was ontsettend moeilik, vertel Jannie. Hulle moes kinders tot drie-uur in die oggend by hul huise in Soweto en elders gaan aflaai – soms in die pikdonker (weens beurtkrag) en in gietende reën.  Jannie se motor was soos ‘n voorloper van die hedendaagse taxi – meermale propvol gelaai met tot nege pssasiers op ‘n slag!

Heerlike vrugte op hul arbeid het nie uitgebly nie – soos die bruisende hoogtepunt in die Royal Albert Hall-konsert en die optrede einde verlede jaar in Moskou en St Petersburg –   maar ook in die welslae van hul opheffingswerk in vele individuele gevalle.

Een koorlid, ‘n weeskind, sing bv. nou heeltyds in Duitsland.  Hy het met ‘n musiekbeurs aan die Noordwes-Universiteit musiek studeer. Daarna is ‘n beurs aan hom toegeken vir twee jaar se opera-studie in Duitsland. ‘n Mens kan dink watter emosionele reünie dit was toe hy en die koor ‘n keer saam by die RMB Starlights Classics op de Vergelegen-wynlandgoed opgetree het.

Van die koorlede kom uit die haglikste omstandighede, soos Annie Lishaba, oorspronklik van Limpopo,  wat in die uiterste armoede saam met haar broer in ‘n plakkershut in Soweto gewoon het ná haar moeder se dood.  Geld vir kos – of selfs vir ‘n kers om by te studeer – was daar kwalik.  Haar skoolwerk het daaronder gely.

Jannie en Marina het haar belofte raakgesien, vir haar beter huisvesting bekom en daarvoor betaal. Hulle het kos op die tafel gesit en haar later ook gehelp om ‘n rybewys te kry. Skielik het haar punte ‘n opwaartse kurwe getoon. Deure het begin oopgaan.  Sy het ‘n diploma in sakebestuur verwerf en begin droom van ‘n graad.

April 1980 - HvD neem by Oom Bart Zaaiman oor.

April 1980 – HvD neem by Oom Bart Zaaiman oor.

Hul reusebydrae om deur hul koor jongmense so te besiel en die beste uit hulle te haal, gaan meesal onbesonge verby. Jannie en Marina soek ook nie lof of publisiteit nie, droom net hul drome om ‘n musieksentrum in Soweto te bou. ‘n Argiteksfirma is besig om vir hulle planne op risiko op te trek en dan gaan hulle wêreldwyd begin geld soek.Saam met Jannie wonder ek tong in die kies: Sal ‘n Naspers-musieksentrum nie goed lyk in Soweto nie!

(Mnr. Zaaiman – Oom Bart, soos ons hom op ‘n bynaam genoem het – was redakteur van Die Volksblad van 1970 tot 1980.  My voorreg gewees om hom op te volg en van 1980 tot 1992 in dieselfde stoel te sit waaraan hy in die vorige dekade soveel waardigheid en gesag verleen het.)

VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN

Die yslike koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure van ons se dogters.

Die yslike koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure van ons se dogters.

Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat dertig jaar gelede, op 2 Mei 1987, by “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” ‘n stukkie vrugtekoek in die mond gesit het. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie!).

Die brandewyn-volume klink dalk ietwat ruim. Onthou, dit was nie sommer ‘n doodgewone koek nie. (Die) Volksblad se Kunsmark in Koningspark langs Loch Logan het sy vyfde verjaardag gevier. Dit moes behoorlik gedoen word.

Die mark was immers ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender: ‘n geleentheid vir oud en jonk, kunstenaar en kunsliefhebber, ‘n dag elke maand wat deur niemand gemis word nie.

Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer besoekers na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion. Besoekers het per bussie van die platteland gekom, Verkeersknope was algemeen. ‘n Gratis pendeldiens is deur die Bloemfonteinse munisipaliteit verskaf.

Die fees van 2 Mei 1987 was nogal iets om oor huis toe te skryf.

Vrolike musiek is verskaf deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en ‘n hand vol ou treffers) en die sangpaar deur Philip en Ella Kotzé. n Sjarmante teetuin is met die hulp van Tafelronde en die O.V.V. onder die groot koeltebome vir eregaste aangebied.

Duiwe is losgelaat. Die feesrede is gelewer deur die Administrateur, Louis Botha, wat sommer sy kunstalent ook uitgeleef het op ‘n reusedoek wat deur die Vrystaatse Technikon vir alle aspirant-kunstenaars opgerig is.

‘n Span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool het mandjies vol koek aan elke besoeker bedien. ‘n Jonger span het met lekkergoed vir die kinders rondgeloop. Almal kon proe. Duime het na bo geskiet. Dankie, het die dankbare ontvangers beduie, dit smaak vorentoe!

Om van so ‘n koek te droom, is natuurlik een ding; om die droom te verwesenlik iets anders. Op my vrou, Tokkie, organiseerder, en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke, Henriette Anderson (nou Loubser, redakteur van Huisgenoot) en wyle Jan le Roux, het allerlei uitdagings gewag.

Die eerste vraag was: Waar kry ons ‘n resep? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) het geesdriftig sommetjies begin maak. Hier is haar volledige resep: 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies, 9 kilogram neuter.

Vraag twee: Waar sou groot genoeg panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein destyds ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle sou hul panne graag vir ons leen.

Wie sou bak en waar? Die Pick ’n Pay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, was dadelik vuur en vlam. Hy sou dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde. Twaalf koeke is gebak.

Wat gaan die hoop bestanddele kos? Die hande het oopgegaan. SA Sugar Corporation het die 15 kilogram suiker gegee. Banana Distributors het die 60 dosyn eiers bygedra. Van Sacca het die 18 kilogram botter gekom en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Skilderye langs die visdam.

Skilderye langs die visdam.

Vervoer kon ‘n turksvy wees. Geen probleem nie, het Oranje Toyota dadelik laat hoor. ‘n Hi-Ace se sitplekke is uitgehaal om vir die twaalf koeke ruimte maak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.

Selfs Sarie was daar.

Selfs Sarie was daar.

In ons kombuis in Genl Van Schoorstraat het Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie porsies gesny totdat hul vingers kramp. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie van Wyk en Annette se Ouma Henna Nel, asook die huishulp Miriam Maarman is ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners”, vertel Tokkie.

“Fantasties! Pragtig! Wonderlik!” het Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, die Saterdag ekstaties uitgeroep. Selfs die vrouetydskrif Sarie het uit die Kaap kom kyk en entoesiasties berig oor die “belewenis” van daardie laatsomeroggend in Koningspark.

* In Tokkie se besit is nog kaartjies wat sy in die 80’s by een van die kraampies gekoop het. Bedink die verrassing wat dit vir Michelle le Roux (nou mev. Marais) was om op haar 50ste in 2015 ‘n gelukwensing te ontvang op ‘n kaartjie wat sy dertig jaar gelede op die Kunsmark aan “Tannie Tokkie” verkoop het!

VERWOERD: 50 JAAR GELEDE

WAARMEE assosieer jy die naam Hendrik Frensch Verwoerd? Nege uit die tien keer sal die antwoord waarskynlik dadelik kom: apartheid. Hy was immers bekend as die Meneer Graniet van apartheid, wat nêrens wou skietgee nie. Ek assosieer die naam ook met iets anders: klipharde werk.

Die deurlugtige Premier is in Afrikaanse koerante in die jare 60 amper woordeliks gerapporteer. Spanne van minstens twee verslaggewers is vir elke toespraak ingespan. Jy het geskryf dat jou arm lam word terwyl hy in sy hoë stem praat en praat.

Op ’n keer is ek, ’n groentjie-verslaggewer, saam met Johannes Grosskopf vir ’n Verwoerd-geleentheid Vryburg toe. Die aand tevore is ’n ete aangebied, waar die Premier ook ’n toespraak sou lewer. Grosskopf besluit om vroeg te gaan slaap en die jong kollega met die ete-toespraak te vertrou.

Maar toe Verwoerd gaan sit, sit dié met nog ’n skoon notaboekie voor hom, en met niks om te rapporteer nie. Grosskopf kon die volgende oggend op sy rug val. “Jy is ’n dapper jong man,” het hy sarkasties opgemerk – dit was nie as ’n kompliment bedoel nie.

Tot vandag toe weet ek nie of ek daardie aand aan die slaap, arrogant, onnosel of dalk net ’n goeie joernalis was nie.

Om die grootste storie van my loopbaan uit te sonder, is nie moeilik nie. Op die middag van 6 September 1966, more presies 50 jaar gelede, het Die Volksblad se banieropskrif dit in groot, swarthout-letters – letters wat gewoonlik vir ’n oorlog gereserveer word – aangekondig: “Dr. Verwoerd vermoor – Bode steek hom met dolk – Aangrypende tonele in Volksraad”.

Alle emosie is uit my getap terwyl ek, self lamgeslaan van skok, die gewone laat uitgawe in krisisomstandighede ingrypend moes oormaak om die ontsettende nuus onder banieropskrifte die wêreld in te stuur. Onmiddellik daarna is begin om ’n spesiale uitgawe uit te bring.

Sal ek ooit vergeet hoe koorsagtig aan daardie spesiale uitgawe gewerk is terwyl ek en my kollegas aan die subtafel self letterlik van emosie bewe? Toe ons uitstap, was Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) ’n miernes. In hul droefheid en verslaenheid het Bloemfonteiners in hul duisende na die koerantgebou gestroom vir die jongste nuus. Ons spannetjie wat die spesiale koerant uitgegee het, was fisiek en emosioneel totaal uitgemergel.

Ek was tot die vorige jaar, 1965, nog parlementêre verslaggewer. Verwoerd was vir die jong Volksblad-man ver verwyder en verhewe. ’n Vriendelike navraag oor my welstand toe ek een middag by die Volksraad onverwags in hom vasloop, het my tot jellie gereduseer. “Meneer Van Deventer!” Het die intellektuele reus my, nederige verslaggewertjie, werklik “Meneer Van Deventer” genoem? Dit was soos ’n eerbetoning.

Vir Dmitrio Tsafendas het ek ook geken. Hy was ’n ruk lank as bode in die persgalery werksaam, waar een van sy pligte was om vir honger of dors persmense iets te ete of te drinke in die kombuis te gaan haal. Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!
NASKRIF: Toe die flitsberig die middag net ná 14:05 kom dat dr. Verwoerd aangeval is, was dit die half-blinde Bennie Lean wat sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor gesteek het, met ’n hees: “Kyk hier!” Bennie was die man wat die dramatiese kopie velletjie vir velletjie van die teleksmasjien geskeur en aan my, die hoofsubredakteur, besorg het. Bennie was toe 34, ek agt jaar jonger. Nou is Bennie ook al weg. Hy is op 26/1/2008 op 76 oorlede. Ek word 76 op 3 Januarie 2017.

DAG VAN DIE GROOT KOEK

1-IMG_0001

Kunsmarkplesier in Koningspark, Bloemfontein.

Middag uit Melkbos

Meer oor daardie enorme vrugtekoek – 15 bottels brandweyn, verbeel jou! – wat vir die vyfde verjaardag van Die Volksblad se Kunsmark op 2 Mei 1987 gebak is.

Waar kry ons ‘n resep vir ‘n koek met 5 000 porsies? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) begin geesdriftig sommetjies maak.

Waar sou die panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle leen dit graag vir ons.

Wie sal bak? Die Pick’nPay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, is dadeik vuur en vlam. Hy sal dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde.

Nou die bestanddele. SA Sugar Corporation gee die 15 kilogram suiker. Banana Distributors dra die 60 dosyn eiers by. Van Sacca kom die 18 kilogram botter en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Vervoer lyk na ‘n moontlike turksvy. Geen probleem nie, se Oranje Toyota. Die verskaf ‘n Hi-Ace. Haal die sitplekke uit om ruimte te maak.

By die huis sny Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie die 12 reusekoek in porsies om die kombuistafel by Van Schoorstraat 1. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie en Annette se Ouma Henna, asook die huishulp, Miriam, word ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners” vertel Tokkie.

Die Saterdag deel ‘n span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool die koek uit. Die duisende wat uit alle oorde op Koningspark toegesak het, proe almal en wys duime na bo.

Tokkie en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke en Henriette Anderson (nou Loubser, huidige redakteur van Huisgenoot), kry van oral net die hoogste lof vir ‘n fees-fees soos min. Selfs die vrouetydskrif Sarie berig entoesiasties oor wat alle daar gesien en beleef is.

Verlang nog na die dae nou reeds lank verby …. (hvd)