May 6, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die winter van 1980 het vinnig toegeslaan. In die Oos-Vrystaatse bergwêreld het die skaduwees vroeg lank geword Toe hy die huiwerige kloppie hoor, het ‘n Zastronse boerseun in die verbygaan ‘n lamp gegryp op pad na die plaasopstal se voordeur.
Hy draai die koper-deurhandvatsel. In die ligkol sien hy ‘n vreemde wese soos hy tevore nooit gesien het nie: ‘n donker gelaat met ‘n lang, styl haredos, netjies ge-Brylcream en agteroor gekam. “Pa, pa,” skreeu hy in die gang af, “kom kyk hier.” Hy beskryf die kombinasie van kleur en haarstyl in woorde wat in die lig van heersende rassesensitiwiteite liefs aan die verbeelding oorgelaat moet word.
Die storie, ‘n ware verhaal, was in kort dat ‘n Indiër op sy pad deur die Vrystaat deur die haastige skemer ingehaal word. Uit vrees dat hy nie teen sononder oor die grens gaan kom nie, sit hy voet in die hoek by die laaste petrolpomp verby … en betaal die prys. Sy motor kom rukkerig tot stilstand, en hy moet, kannetjie in die hand, die langpad te voet aandurf om te gaan petrol soek by ‘n plaashuis wat hy in die verte gewaar.
Vrystaters was dalk konserwatief maar nie onwellewend nie. Ek glo dat die boer, ‘n Van Rensburg, wie se suster aan my bekend was, die man gehelp het. Hopelik was die besoeker dus nie te lank “onwettig” in die provinsie waar Indiërs nie juis welkom was nie. (Ingevolge ou wette van die 1890’s – waarin Indiërs pront nog “Koelies” genoem is – was hulle verbied om hulle in die Vrystaat te vestig, sake te doen of selfs net ná sononder permitloos rond te beweeg.)
Die rolprent Free State oor die verbode liefde tussen ‘n Indiërman en ‘n pragtige predikantsdogter het raakpunte met die penarie van die stomme Indiërman sonder petrol. ‘n Pap band en ‘n verlate grondpad speel in die rolprent ‘n sleutelrol. Net daar loop die twee stories egter uiteen. Waar die rolprent op die hartverskeurende liefde van die jong paartjie fokus, was die trefferreël van die storie oor die Zastron-insident die seun se verbaasde reaksie. Sy beskrywing van die besoeker se voorkoms was die rede dat dit oorvertel is en om vleisbraaivure lekker oor gelag is.
In sy resensie van Free State stel die outeur en rubriekskrywer Herman Lategan dit kort en kragtig: “Hierdie rolprent is een wat internasionaal gaan opspraak maak. Dit gaan ook vir ‘n nuwe geslag wys hoe waansinnig ons eintlik was.”
As ‘n Vrystater van daardie era kan ek nie juis van Herman Lategan se insigte verskil nie. Laat ons maar ruiterlik erken: Dit was uitermate waansinnig om beskaafde mense so argeloos minagtend te behandel, en dan boonop humor in die pynlike gevolge te sien.
Een troos darem: Die skille is uiteindelik nie deur buitestaanders van ons Vrystaters se oë verwyder nie. Ná ‘n amperse eeu van gemaklike saamleef met die ontmenslikende beperkinge is daardie anachronistiese ou Vrystaatse wet van 1980 af toenemend uit eie geledere bevraagteken. Op die voorpunt van ‘n ontwakende nuwe geregtigheidsgevoel in die provinsie was sy dagblad (Die) Volksblad, oudste Afrikaanse koerant in die land.
Indiërs en Chinese kan in die 80’s darem verreweg nie meer met dieselfde juk opgesaal word as in ‘n vergange era toe hul voorsate – ook in (Die) Volksblad) se voorganger, Het Westen – brutaal as die “gele pest” gebrandmerk is nie, het die koerant konsekwent betoog.
Wat dalk eers net ‘n verleentheid en ongemak in beperkte kringe (soos (Die) Volksblad was, het spontaan tot ‘n breër weerstand ontwikkel. Ná stelselmatige bearbeiding in hoofartikels, en heelwat druk agter die skerms, soos destyds in die politiek nogal algemeen was, het Vrystaatse NP-leiers soos dr. Nak van der Merwe en mnr. Kobie Coetsee se oë ook oopgegaan vir die pyn, leed en vernedering waaraan die wetsgehoorsame Asiërbevolking in hul provinsie onderwerp was.
Onthullende berigte oor die haglike omstandighede waarin Indiers moet leef terwyl burokrate kibbel oor waar hulle moet tuisgaan, het veel bygedra om die ou barrikades in 1985 te laat tuimel.
Dit was nogal ‘n bevrydende gevoel om in die fliek vir my vrou te kon fluister: Nog een van Die Volksblad se monumente is die herroeping van daardie simpel wette. (hvd)
Apr 22, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Presies 50 jaar gelede, op 22 April 1966, om 14:25 steek die hoofsubredakteur van Die Volksblad ‘n Van Rijntjie op en kondig tevrede vir sy kollegas by die subtafel aan: Slag is gelewer. Kort nog een storie vir ‘n goeie voorblad.
Volgende oomblik: Hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het. Kom van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.
Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Ollie Olwagen – die voorslag van ‘n eerste sub aan my regterkant. Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.
Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.
Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.
Ollie, ‘n man van vele talente, later ‘n groot gees by Huisgenoot, het oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot …. In ligsinnige oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos diá aangehef.

HvD, Paul Marais en Ollie sing Ollieliedjjies.
Vanoggend in Die Burger se rubriek “50 jaar gelede” het die Hapoorstorie aan die orde gekom. Dit het my gedagtes op daardie olifantstpore teruggelei.
Die Hapoordam in Addo kry natuurlik sy naam by die legendariese bul wat 24 jaar lank in die Addo-olifantpark geheers en met die Ouma-insident sy naam onuitwisbaar in Addo-folklore ingegrif het. Dit is nou my gunsteling-watergat in Addo, ‘n heerlike olifant-verspiedplek in ‘n park waar die olifante wemel.
Op ons laaste besoek, in 2011, het Tokkie het nie minder nie as veertig Grootvoete by die Hapoordam getel. My Canon het natuurlik oortyd gewerk. Die foto’s hierbo is van groepies wat daar gedrink het. Ek kon net so wel ses of sewe ander foto’s gekies het.
Ironies genoeg, het op Hapoor ‘n minder romantiese dood gewag. Nadat hy uiteindelik deur ‘n jonger kroonprins uit die trop gedryf is, het hy ‘n ruk alleen rondgedwaal – nukkerig en aggressief. Toe hy te avontuurlustig raak en oor ‘n heining klouter, is hy deur ‘n veldwagter doodgeskiet. Sy manjifieke kop hang in die eetkamer by Addo.
Die voortreflike bul was ook die hooffiguur in ‘n kinderboekie, Hapoor en Slurpie, wat mense van die ouer generasie dalk sal onthou. Die boek deur Cecilia Olivier en E. Stoffberg het in 1967 by Vooortrekkerpers verskyn. (hvd)
Mar 12, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Die verloofde meisie en die soen – Ben van Rensburg se foto’s.

More uit Melkbos
Aan die nuusfront was 1966 ’n geweldige jaar. Van die grootste koerantstories was die eerste sagte landing op die maan; die val van Kwame Nkrumah van Ghana; die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd; die stranding van die Seafarer by Seepunt, en die noodlottige modderstorting op die dorpie Aberfan, Wallis, wat ’n skool verswelg het.
Die Beatles het ophou toer. Hul laaste konsert in San Francisco was iets ysliks. Selfs groter opslae is gemaak deur John Lennon se onbeskeie aanspraak dat die vier bossiekoppe uit Liverpool met hul welluidende kitare gewilder as Jesus Christus is. Wêreldwyd het verontwaardiging gewoed.
Al hierdie stories is deur my soms bewende hande as Die Volksblad se hoofsubredakteur. Moet bely: met die Beatles het ek aanvanklik misgetas. Het dit op die pen geslaan (letterlik ‘n skerp draadpen) omdat dit in my oë godslasterlik was. Die redakteur was bra stuurs oor my oordrewe sensitiwiteit.
In my persoonlike lewe het ook ’n geweldige ding gebeur. Op 15 het ek en Tokkie Maart 1966 – net mooi 50 jaar (plus-minus 438,300 uur) gelede – van Wyk van Bultfontein, dogter van die weduwee Marietjie en suster van die kampioenatleet Fanie, op haar 20ste verjaardag verloof geraak. Sy het pas begin skoolhou vir ’n standerd-een-klas (nou graad drie) van die Laerskool Wilgehof, en die juffrou was ’n prentjie in haar vrolike somerrokkies.
Ek het die beminde Bultfonteinse Tannie Marietjie met die mank stappie weens polio kort tevore in Tokkie se kamer in die VSA-gebou (Vereniging van Staatsamptenare) om haar dogter se hand gevra – seker met die heimlike wens dat sy net sulke lekker frikadelle soos ma haar sou kon maak. Daardie wens is vervul. Van haar het kollega Johan van Wyk, darem ná jare se oefening, in sy rubriek Stop van Myne geskryf: “Net ’n Van Wyk kan sulke lekker kos maak vir ’n Van Wyk.”
Gelukkig was 15 Maart 1966 ’n stil nuusdag. Ek kon die aand vergeet van werk en ongesteurd die ring aan my geliefde se vinger gaan steek op ’n romantiese ete in die restaurant Franco’s in St. Andrewstraat. Ek vermoed dit was die enigste in Bloemfontein.
Wat ons geëet het, is vergete: waarskynlik ’n garnaalkelkie, ’n stukkie monkey gland steak (lekker sousie) en, vir nagereg, roomys met sjokoladesous. Die kombinasie was gewilde spyse. Die wyn onthou ek goed. Dit was die effens soeterige maar smaaklike Tassheimer Goldtröpfchen.
Die aandjie (wyn en nagereg inbegrepe) het my seker niks meer as R4 tot R5 armer gelaat nie.
Die min ander kere toe ek en Tokkie voor ons troue gaan “uiteet” het, was by die Griek Peter se kafee net oorkant die munisipale swembad in Unielaan – eersteklas – allegaartjies vir iets soos 60c elk.
As die pryse ongeloof klink, hou hiermee rekening:
In 1966 was my salaris R220 en Tokkie s’n R100; ’n Pakkie Rembrandt van Rijn het gelukkig net 20c gekos. ’n Koerant waarmee ek speel-speel kon kaarspeel – was 5c, ’n haarsny 25c en ’n tenk petrol onder R10. Kreef thermidor was die duurste gereg op elke spyskaart teen R1,99 vir ’n boordensvol bord. Nederburg Cabernet en Zonnebloem Cabernet, uitsoek-wyn, was R1,50 per bottel. Vir nederiger Nederburg Stein het jy kleingeld gekry vir jou rand. In Durban kon jy in ’n redelike vakansiehotel oornag teen R3,00 vir bed en (’n allemintige) ontbyt.
Maar moenie dink “uiteet” was eens naastenby so ’n kultuur soos vandag nie. In Bloemfontein het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, woonstelmaats geword, eers in La Gratitude (ook saam met Ben van Rensburg tot sy troue) en later in Giel Conradiehof. In Giel Conradiehof het Tokkie ná ons verlowing dikwels saans kom kuier en kosmaak. Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar pas die mooi, jong vroumensie in nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie”!
Ewenwel, ná die verlowingsete is die stralende paartjie na kollega Ben van Rensburg en sy vrou, Tina, se woonstel in Unielaan om met die ring te gaan spog. Ben, nou saliger, het ’n foto van Tokkie in haar blink aandrokkie geneem en ook een waar ek met ’n kus die verlowing verseël. Vanselfsprekend was ek uitgevat in ’n donker pak; my paisleydas swierig geknoop. Ons het ewe deftig aangetrek as ons gaan fliek. Mans het ook altyd pakke kerk toe gedra, en vroue sykouse en hoede. Langbroeke was vir hulle taboe. Ek het met ’n das gaan werk.
(Terloops: flieks van die jaar was A Man For All Seasons en The Good, The Bad and the Ugly. In Amerika het almal The Ballad of the Green Berets geneurie. In Engeland was ’n populêre liedjie The Sun Ain’t Gonna Shine Anymore.)
’n Glasie van Stukvat in die Paarl se verruklike port is vinnig saam met die Van Rensburgs gesluk. Ben had altyd ’n voorraad. Toe moes ons spore maak – Tokkie natuurlik na haar eie kamertjie in die VSA-gebou. Die hoofsub moes vroeg uit die vere. Elke oggend om 05:00 moes ek in Voortrekkerstraat op my pos wees. Die Volksblad was nog ’n middagkoerant.
Daardie tyd was “sosiale bladsye” ’n groot ding. By elke okkasie is foto’s geneem vir die prestigeblad waarop BBP’s graag wou pryk – veral sommige. Party oorgretiges het ons altyd aan die kant laat staan sodat ons hulle gerieflik kan afsny. Weekliks was daar ook ’n blad met trou- en verlowingsfoto’s. Natuurlik wou die verliefde Hennie met Tokkie op die “verloof-en- getroud”-blad spog. Sy is op my aandrang na die fotograaf Christo’s vir ’n ateljeefoto. Oom Christo Groenewald het later burgemeester geword – nie sleg vir ’n ou wat feitlik sy lewe in ’n donkerkamer geslyt het nie.

Veels geluk – goeie smaak.
Toe daardie foto gepubliseer word, het die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche (nou 92), op ’n skeurblad vir my die volgende boodskap skuins bo-oor geskryf: “Veels geluk. Goeie smaak.” Ek was dit hartroerend met hom eens. Ek is dit vandag, 50 jaar later, steeds – ek bêre ook nog die vergeelde skeurblad.
Om die kroon op 1966 te span, is ek en Tokkie op Oujaarsdag op Bultfontein getroud. Ek was toe 25 en Tokkie 20, wat beteken dat ons vanjaar my 75ste, haar 70ste en die goue bruilof so saam-saam kan vier. My hart het gesing – en die sonbesies beslis ook – op daardie snikhete Saterdag-agtermiddag in die Vrystaat. (hvd)
Mar 3, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Wilhelm (Jorrie) Jordaan staan links agter en Jaap Steyn regs agter. Tussen hulle is Georjane Groenewald. Voor sit Herman le Roux en die uwe.
More uit Melkbos
Pa en seun – twee top-joernaliste.
Ek praat van Willem Jordaan, nuwe redakteur van Die Burger, en sy pa, Wilhelm – prof. Wilhelm. Wilhelm is joerrnalis wat sielkundige geword het. Hy vermeng die twee dissiplines op ‘n skitterende wyse in sy gereelde rubrieke.
Jorrie, soos ek hom in sy jong dae geken het, was ongetwyfeld ook redakteursmateriaal. Hy was ‘n uithaler-verslaggewer van Die Volksblad toe ek nuusredakteur was. Toe stuur ek Jorrie op ‘n dag Brandfort toe waar ‘n ligte in die bome vliegtuig geval het. Hy was wit om die kiewe toe hy terugkom op kantoor. So ‘n ontstellende toneel wou hy in sy dag des lewens nooit weer sien nie.
Ek het vergeefs probeer paai, en verduidelik dat hy by die koerant vir groter dinge as vliegtuigongelukke bestem is. Jorrie het voet by stuk gehou. Hy het gaan verder studeer – doktor en professor in sielkunde geword.
En hierdie ou? Hy sit met die verwyt dat een enkele opdrag van hom die joernalistiek van ‘n blink ster beroof het.
Twee ander tydgenote het sielkundiges geword. Hulle is prof. Charl Vorster en prof. Anda van den Heever. Charl was verslaggewer en Anda sekretarese. Sy kon tik dat die byle huil. Wonder wat sou dit wees dat die joernalistiek en die sielkunde so hand aan hand loop?
Ns. Prof. Jaap Steyn, gerekende taalman en bekroonde skrywer, was ook by Die Volksblad in daardie tyd. Hy was my voorganger as hoofsubredakteur. Het baie by hom geleer. (hvd)
Feb 24, 2016 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Min mense weet dit: C.R. Swart, Suid-Afrika se eerste staatspresident, wie se standbeeld die slagoffer van kampusvandalisme was by Kovsies, was in sy jong dae joernalis (ook cowboy in die VSA, maar dis ’n ander storie).
Trouens, die uwe en Swart was verlangs “kollegas” – hy was in 1936 twee maande lank redakteur van Die Volksblad. Ons deel verder die reputasie van “vurigheid”. Sy “vurigheid” op een bepaalde dag, 16 Januarie 1936, kon ek op my vurigste egter nooit ewenaar nie.
Swart was daardie dag besig met ’n heftige aanslag op die tik- masjien toe die Volksblad-gebou in die latere Voortrekkerstraat (en nog later Nelson Mandelarylaan) skielik begin skud.
Swart het self vertel: “Op ’n warm somermiddag sit ek en hoofartikel skrywe. Dit was glo ’n vurige en aggressiewe een, want meteens begin die vensters ruk en rammel terwyl die gebou waggel en bewe. Na ’n vyftal sekondes besef ek eers ’n vreemde gedoen was aan die gang.
“Toe ek by die kantoordeur uitstorm, sien ek net meisiekinders die gang afhardloop, en al wat gewerk (of gedut) het, storm die gebou uit na die grondverdieping die straat in. Dit was ’n aardbewing wat ons so skrikgemaak het. Dit het mooipraat gekos om almal weer terug op kantoor te kry.”
Swart se kort redakteursloopbaan het nie uit die lug geval nie. Hy het van 1927/28 tot 1933 al ’n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” vir dié koerant behartig. As jong politikus was hy vir ’n rubriek, “Parlementêre Praatjies”, verantwoordelik en het ook Saterdag-hoofartikels geskryf.
Later was hy minister van justisie in D.F. Malan en H.F Verwoerd se kabinette.
Sy plaas buite Brandfort se naam was “De Aap”. Dat die goedige “Oom Blackie” ’n aap was, kon jy egter nie van hierdie veelsydige man sê nie. Natuurlik mag jy dit ook nie van die standbeeld-vandale se nie. Dit sou onhoudbaar politiek inkorrek wees. (hvd)