Feb 10, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Ek op my geliefde stoel. By my is Jan Scholtz, die aand van my afskeid by Die Volksblad in 1992.
Middag uit Melkbos
My stoel is terug. Ek sit in my studeerkamer op Melkbos voor die rekenaar en swaai en draai op ‘n meneer van bruin leer met soliede armleunings van Birmaanse kiaat. Na twee manade op ‘n harde, regop kombuisstoeltjie is dit hemels. Ek voel soos ‘n koning op sy troon.
Die stoel is deel van van een van wyle kollega Jan Scholtz se monumente by Die Volksblad: die stylvolle redakteurskantoor met sy meubels van stinkhout en Birmaanse kiaat. Die meeste meubels is deur die meester-vakman Jan persoonlik gerestoureer met die opgradering van die gebou in 1986.
Die stoel is volgens Jan se opdragte deur Bloemfontein se Republiek Meubels vervaardig – deur Lappies Labuschagne se mense, wat hul storie geken het. My voorreg gewees om op daardie stoel te sit en in daardie deftige kantoor my dagtaak te verrig tot 1992.
(Dr. AJR van Rhijn het, terloops, in die 40’s by dieselfde lessenaar gesit. Die uwe was toe ‘n skoolseuntjie in Kimberley – sonder die vaagste benul dat dit my ook beskore sal wees. Die huidige redakteur, Gert Coetzee, sit na my wete steeds by die lessenaar).
Die kantoor is ná al die jare feitlik onveranderd. Natuurlik is die rekenaar in die plek van die tikmasjien. Dan het ‘n vorige redakteur die stoel uitgegooi. My geliefde stoel. Het nie met sy rug ge-akkordeer nie.
Maar stoel in Bloemfontein, stoel op Melkbos. Klink seker verwarrend. Laat ek die kloutjie by die oor bring. Nee, dis nie dieselfde stoel nie. Die Melkbos-stoel is ‘n replika. Die twee is vinkel en koljander.
Die replika is in my besit sedert 1992. Was my afskeidsgeskenk toe ek by Die Volksblad weg is Kaap toe – ‘n gewaardeerde geskenk wat seker deur Jan geïnspireer is. Hy het geweet hoe lief ek vir die meubels in my mooi kantoor is. (Het ook ‘n replika van die boekrak in ‘n gangetjie wat na ons eetkamer lei. Maar dié het ek self laat maak.)
Ewenwel, in Desember verlede jaar gee die stoel se meganisme skielik mee. Sewentien jaar se sit het sy tol geëis. My gewig is boonop nie iets wat ‘n mens sommer uitblaker nie.
Ek soek en ek soek, en kom uiteindelik by die firma Office Concepts uit. Gaan laai my stoel daar af. Wag en wag. Toe kom die nuus: Jammer, daardie soort imeganisme is uit die mode. Kry dit nergens.
My stoel, my stoel. Ek praat mooi. Hulle moet eenvoudig ‘n plan maak. Goed, laat ons kyk, sê Nathan.
Vanoggend ná my soveelste navraag bel Nathan: Sit jy of staan jy? Jou stoel is reg. Ek kon die man soen.
Die Proteas het ‘n slag weer gewen, ‘n salige koel seebriesie stoot by die woonkamer se skuifdeur in, en ek sit weer die sit wat my boude al so lank so goed ken. Die Kaap is weer so Hollands soos kan kom. (hvd)
Dec 3, 2015 | Hennie van Deventer se Blog
Seun Johan, Miriam, redaksielid Marinda Delport en Tokkie by die kospotte.
More uit Melkbos
Wanneer die redaksie en hul gades kom kuier, het Van Schoorstraat die aand omtrent op sy kop gestaan.
In die groot plaaskombuis in Dan Pienaar, Bloemfontein, het Tokkie en haar mede-Bultfonteiner die voorslag Miriam Maarman sy aan sy gewerk om die hoenderpasteie, bredies, bobotie, geelrys en rosyntjies, soetpatats, pampoenkoekies, aartappelslaai en wat nog reg te kry vir die feesmaal later. Die kinders het gehelp en die redakteur self het sy kant gebring waar hy kan (oordeel hy) – veral met die sirkulasie van drank.
Een keer had my gade waterblommetjies uit ‘n blik. Lekkerste afval wat hy nog geëet het, was ‘n kollega se bevinding. Kon nie glo dat dit nie afval is nie.
Buite, versprei oor die voor- en agtertuin, het die 80-plus gaste in groepies gebondel, bier of wyntjie in die hand. Die Volksbladders was mense wat kon hard werk en hard speel. Hulle kon lag – Jan Scholtz die hardste van almal – en lawwighede aanvang soos om onderstebo ‘n wyntjie te drink.
Vir hierdie akrobatiese toertjie het die manne beurt gemaak om hulleself kop eerste deur ‘n luggat in ‘n ruwe buitekroegie – “rustic” sou die eiendomsagente dit noem – te wurm, soos Charl van Rooyen op die foto illustreer.

Akrobatiese wyntjie
Miriam het nooit veel gepraat nie. Net rug gebuig en gewerk, -werk, – werk. Een aand toe sy van die oond opkyk, sien sy iets wat haar laat verstyf. Deur geklemde kake vra sy vir Tokkie: Wie is daardie “seuntjie”?
Tokkie hou haar dom. Watter seuntjie, Miriam? Daardie een, en sy krap met haar wysvinger teen die wang – “die een wat so bruinerig is.”
Dit was die eerste keer dat Clarence Henney, verslaggewer van die Ekstraredaksie, teenwoordig was. Ekstra was spesiale blaaie vir die Kleurlinglesers. Ons het selfs ‘n Mej. Ekstramooi gekies. Clarence het later LUK geword, maar my “meneer” bly noem en ek vir hom “Clarence”, lang slap ampsmotor of te nie.
Daardie kuiers het ‘n aardige lot bladsye ingesluk. Die kollegas het getrou ingeskryf, sien ek. Plek-plek nogal uitdagend om ná al die jare sekere name in die boek by gesigte in jou geheuebank te plaas.
Van al die mense wat deur die poorte van Tarlehoet (naam van ons huis en nou naam van ons huis in Sabiepark) gekom het, was verreweg die grootste gros koerantmense. Die Volksblad-personeel (ook die joviale bestuurder Jan Meintjes en andere nie-redaksioneles) oorheers natuurlik. Ander, onder wie groot geeste by Naspers, het in Bloemfontein en op Melkbos in ons boek geskryf.

Ons het koffie ook gedrink.
Net vinnig: o.a. Ton Vosloo, Johannes Grosskopf, Salie de Swardt, Wiets Beukes, en Johan van Wyk was by albei adresse. Piet Cillié was hier (met tipiese kommentaar dat die Pers sy mense te veel betaal as hulle so langs die see kan bly). Ook Chris Moolman van Rapport. ‘n Semi-historiese okkasie was toe die drie redakteur van die dekades 80 en 90 saam na die branders sit en kyk het: die uwe, Johan de Wet en Paul Marais.
Die grootste etes by Van Schoorstraat was nie die redaksie-etes nie. So een keer per jaar is die haai-polfaai genooi – administrateur, burgemeester, edelagbares, die lot. Vir die doel is die groot motorhuis (plek vir drie groot motors) in ‘n eetsaal omskep. By die kerk is tafels en stoele geleen.
Minister Kobie Coetzee was ‘n gas, ook Bloemfonteinse pilare soos prof. Wynand Mouton, voorste sakeman Barnie Human, filmmagnaat Boet Troskie, NG moderator Pieter Potgieter, rugbyman Steve Strydom, musiekman Dirkie de Villiers en regter-president Frank Smuts. Beeldhouster Laura Rautenbach, die Bloemfonteinse Kinderkoor se Huibrie Verster, skrywer Hans du Plessis en taalman Jacques van der Elst se name duik ook op.
(Beskuldig my nou gerus maar van naamspoggery (names dropping). Die name is in die boek. So was die Bloemfonteinse sosiale struktuur nou een maal. Weet nie hoe om oor die boek te skryf as ek uit beskeidenheid die name moet verswyg nie. En staal jou maar – daar kom nog meer.)
Op Melkbos was al groot kuiers, maar nie so groot in getalle soos in Bloemfontein nie. Op 31 Desember 1999 het 28 van ons potjie gemaak terwyl ons op die nuwe millennium wag. Laat in die nag, voordat hulle kon huis toe gaan, moes elkeen eers skryf. Die jaar 2000 het sonder ramp aangebreek.
Op die Melkbosblaaie tref ek o.a. aan: spioenbaas Niël Barnard, letterkundige Daniel Hugo, skrywer-ambassadeur Willie Kotzé en Akademiehoof Dione Prinsloo. Boet Troskie en Steve Strydom (wat later ook van Bloemfontein Kaap toe verskuif het) het weer kom drade optel.
Lyk of die herders die Van Deventers deeglik dophou, hoe ouer ons word des te meer. In Bloemfontein was hoof-indoena Pieter Potgieter op die gastelys. Op Melkbos se stoep was o.a. die Wes-Kaapse moderator Kobus van der der Westuizen (Groote Kerk). Ds. Johan Lombaard (Vrystaatse moderator) het uit Bloemfontein gekom om Marisa te trou. Tienie Zeeman, herder in Berg-en-dal, Bloemfontein, het kom seelug soek. Skukuza-herder Carl Louwrens loer van tyd tot tyd in – sy kinders is Kapenaars. Die bekende veteraan ds. Okkie Raubenheimer (voorheen Londen) het kom saameet.
Onder die dosynstuks matriekmaats wat oor die jare in ons boek geskryf het, is twee wat regters geword het, Willie Hartzenberg en Ferdie Preller. Wil hulle graag uitlig omdat ek die vrymoedigheid gehad om soms stil-stil private advies in te win oor ‘n juridiese neteligheid – selfs ‘n burerusie. Ek mag maar seker die geheimpie verklap. Albei is tog al afgetree.
Die twee bokkers is nie Tukkies nie. Hulle het Maties en Wilgenhof verkies. Name van Tukkies – veral Kollegemanne – duik gelukkig ook kort-kort op. Saam met hulle kom salige herinneringe en soete nostalgie – die twee oorheersende temas van seker elke besoekersboek. (hvd)
May 31, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Die lojale en pligsgetroue Thomas Mangaelane (65) het pas ná 44 jaar diens as bode by Volksblad afgetree. Een van my allerbeste aanstellings in al my jare by die koerant gewees! In ‘n onderhoud roep hy daardie dag in herinnering:
“Op 2 Februarie 1971 het ek aanvanklik as skoonmaker hier begin en kort daarna amptelik as bode toe daar ’n behoefte was.Iemand het my kom vra of ek ’n liksensie het, toe het meneer Hennie van Deventer, toe nog nuusredakteur, ’n boodskap gestuur dat ek sewe-uur die volgende oggend hier moes wees. Ek was toe daardie oggend hier en hy vra my of ek Thomas is. Ek het gesê ‘ja, ek ís Thomas’. Hy het gesê ‘gaan daar na die ander bodes sodat hulle jou touwys maak’ en van toe af was ek hierso gewees.
‘Die Volksblad was toe nog ‘n middagkoerant. “Die dae van die middagkoerant, sjoe, dit was ’n stresvolle tyd,” onthou Thomas kopskuddend. “Spertye was belangrik en ek mag nooit gedraai het nie. Ek moes reguit poskantoor toe en terug. Meneer van Deventer het altyd gesê ons moet nie tyd mors met die foto’s nie. Hy was baie stiptelik.
“Die foto’s is oorkant Volksblad by die drukkery Bloemfontein Process van Frank Budd, pa van die atleet Zola, as plate gegiet. Tipies meneer Van Deventer het hy vir jou ’n opdrag gegee: ‘Gou!’ Dan het hy altyd so deur die venster vir my geloer of ek wel gou maak. Alles moes teen 12:30 klaar wees.”
Ek is geroer dat Thomas my na al die jare so onthou. My herinneringe oor hom is ewe glashelder en met wederkerige waardering. (hvd)
Feb 11, 2015 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos

Rus sag, Sapa. Hanlie Malan se treffende grafika in vanoggend se Volksblad by my blog wat as middelblad-artikel aangebied is.
Vir joernaliste van die 50’s, 60’s 70’s, selfs nog die 80’s, was die telekskantoor met sy horde kletterende masjiene die hart van die koerant. Die dinamiek van koerante was in daardie geluid vasgevang.
Sapa en die teleks was sinoniem. Sapa was dus deel van daardie dinamiek. Miljuisende woorde wat op ‘n verre teleksmasjien uitgetik is, het onder Sapa se naam by die koerant ingestroom. Berigte van oral; jong bergies kopie wat gesif, vertaal en hanteer moes word. In elke uitgawe het Sapa gesorg vir ‘n soliede kern van nuus.
Die teleks is lankal deur die superstil rekenaar verdring. Die nuus dat die laaste kluitklap op Sapa se kis oor net iets meer as ‘n maand gaan val, roep egter onwillekeurig die teleks-era by jou op. Ek kon my ore nie glo nie toe ek verneem: soos die teleks stil geword, gaan Sapa ook nou swyg – ná een laaste stuiptrekking as die laaste punt presies om middernag op 31 Maart agter die laaste woord van die laaste berig geplaas is.
Ná meer as 75 jaar op die Suid-Afrikaanse koeranttoneel is sy rol uitgedien. Sy tyd is verby. Soos koerante al geruime tyd sonder ‘n netwerk van plattelandse korrespondente (korries) klaarkom, gaan hulle sonder Sapa klaarkom. Hoe, weet hierdie veteraan nie. Miskien onderskat hy die vermoë van allerlei paddastoel-agentskappe en die sosiale media as nuusbronne.
Hoe ook al, die son sak op ‘n gewigtige era. Die Ewige Verandering duur voort.
‘n Groot gros joernalistieke loopbane het in die jare her ‘n eerste beskeie skrede gegee met ‘n Sapaberiggie wat vertaal moes word, onthou ek. Ook my eie.

HvD in die hoofsubstoel. Die luik na die telekskantoor is agter my. Die kerse? Wel in 1966 was ook kragonderbrekings – net minder en minder uitgerek.
My eerste kennismaking met die koerant was in Desember 1958. Wiets Beukes, ‘n assistent-redakteur en later redakteur van Die Burger, het hierdie beurshouer van Die Volksblad op die vooraand van sy eerste skof vakansiewerk gaan rondwys.
Die bysiende Bennie Lean het in die hiperaktiewe telekskantoor diens gedoen. Hy was besig om bladsy vir bladsy flink af te skeur soos Sapa en sy bronne (Associated Press en Reuter), asook susterskoerante en eie verteenwoordigers, die nuus van die dag in die tempo van geweervuur uitspoeg. Die volgende dag was die eerste beriggie wat ek gretiglik vertaal het, een van daardie. Dit is iewers op ‘n binneblad versteek. Maar was ek trots!
Op Vrydagaand 22 November 1963 het ek, nog relatief groen, danksy Sapa een van my eerste groot koerant-oomblikke beleef. Vroegaand het ek ‘n berig op kantoor kom tik. Toe roep Bennie (of was dit dalk sy adjudant, die getroue Smittie?). Uit Dallas, Texas, het die skokstorie uit Assoaciated Press se kantore begin rol oor die sluipmoord op pres. J.F. Kennedy by Dealy Plaza. Die een Sapa-“snap’ (flitsberig) op die ander.
Die ontvouende drama op die teleksmasjiene was intens boeiend. Gelukkig het die jongeling die teenwoordigheid van gees gehad om die senior assistent-redakteur, Bart Zaaiman, te bel. “O, gatta, ou Hendrik,” het hy gesê (hy het nie juis sterker taal gebruik nie),en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend.
Die uwe was in die vertaalspan. Ek het die AP-kopie vertaal: Jackie Kennedy was “met bloed bespat”. Oom Bart het afkeurend gefrons. Met bloed bekoek,” was sy voorstel. Dit is soos dit in die koerant gestaan het.
Op 6 September 1966 was ek hoofsubredakteur toe Bennie die middag kort na 14:15 sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor druk, bewend met ‘n Sapa-“snap” in sy hand: “Dr. Verwoerd stabbed by knife in Assembly”.
“Stop alles,” het ek deur dun lippe geskreeu en my sigaret (‘n Rembrandt van Rijn) sommer verkeerd-om in my mond geprop. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui. Die gewone laat uitgawe, pas klaar, is onmiddellik ingrypend oorgemaak. Ons het koorsagtig aan ‘n nuwe gewerk. Die Verwoerd-drama is onder groot houtletters – wat gewoonlik vir ‘n oorlog gereserveer word – op die voorblad aangekondig: “Dr. Verwoerd vermoor”.
Dadelik daarna is met dieselfde verbetenheid ‘n spesiale uitgawe uitgegee. Toe dit van die pers kom, was Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) gepak met lesers wat die koerant kom soek.
Soos die moorde op Kennedy en Verwoerd was vele ander moorde natuurlik “snap”-materiaal – ook ruimte-deurbrake en –rampe; die neerstorting van vliegtuie; vloede; staatsgrepe; rooftogte; politieke intriges; hartoorplantings; opspraakwekkende hofsake; menslike dwaashede en manewales; spitse op die sportveld.
Sapa was meesal die boodskapper en altyd ‘n betroubare dienaar – by geleentheid selfs met nuus oor die periodieke rekord-pampoen in ‘n plattelandse groetentuin!

Spoedvraat Georjane van Zyl tussen twee latere groot geeste, Wilhelm Jordaan en Jaap Steyn, wat albei professore geword het. Voor is Herman le Roux en Hennie van Deventer, wat albei joernaliste gebly het.
Soos die Sapa-herinneringe vloei, kom die name en gesigte van groot geeste op. Eerbiedwaardige Sapa-joernaliste soos ‘n Arthur Classen, ‘n Robert Postma, ‘n Gordon van der Merwe en ‘n Bossie (naam vergeet). Almal Afrikaans, let wel. By hulle kon ek in my tyd as parlementêre verslaggewer (1963 en 1964) altyd gaan kontroleer as ek onseker was oor wat ‘n agbare lid presies kwytgeraak het.
Later het ek en Sapa se blymoedige Josh Brauer mekaar in die Vrystaat gedurig aan die een of ander perstafel raakgeloop – hy met sy een been en krukke; ek dalk te jonk en voortvarend om die ouer man altyd ondersteuning te gee. Toe het die bekwame Enid Rhodes in sy plek gekom. Met haar verbysterende snelskrif het sy tot die dag van haar dood haar ding gedoen
Gesoute teleksmanne met bltsige tikvingers, soos Fingers (sic) van der Merwe en Willem Tenner, kon die klawers hamer dat die masjien rittel en bewe soos ‘n hond wat gif gekry het (Kollega Johan van Wyk se uitdrukking).
Daar was, as jy aan die spoedvrate hulde wil bring, bowenal Georjane van Zyl (later Groenewald, later Oberholzer) van Die Volksblad, wat soos ‘n sneltrein deur ‘n pak Sapa-kopie kon sif en ‘n berig op spertyd in minder as ‘n japtrap kon lewer. Nooit iemand teëgekom wat vinniger as Georjane kon produseer nie.
‘n Mens kan te haastig raak. Die nimlike Georjane op volspoed het op ‘n dag “Durban City’s goalkeeper” as “Durban se stadstronkbewaarder” vertaal. In ‘n tyd toe onsedelikheid taamlik in die nuus was, het ‘n jong redaksielid die “vice grip” in ‘n Sapaberig sonder weifeling ‘n “onsedelike greep” gemaak. Eina!
Ander ligte mistykies het so met Sapa saam opgeduik. Die oggend van ‘n toets op ‘n Springboktoer in Nieu-Seeland was Die Burger in ‘n wedloop teen tyd om ‘n spesiale uitgawe op straat te kry. Toe raak hul eie man – nogal die nimlike Phil Weber – se verslag en dié van Sapa op ‘n duistere manier hopeloos vervleg.
Eers toe die rolpers begin draai – 10 triomfantlike minute voor die Cape Times – is die onleesbare deurmekaarspul ontdek. Die rolpers is terstond tot stilstand gebring vir ‘n tydrowende uitsortering van die gemors. Die Cape Times was lank voor Die Burger op straat.
Eers heelwat later kon in Keeromstraat stroef geglimlag word oor die naamlyn by die berig: “Van ons spesiale Springwoordiger by die Verteenbokspan”! (hvd)
Dec 22, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Volkbladmense by Heemstede. Van links is Tobie Wiese, Gert Coetzee, Henriette Loubser, Hennie van Deventer, Johan van Wyk en Chris Moolman . Wiets Beukes, Willie Kühn en Andreij Horn was ongelukkig te laat vir die foto.
Middag uit Melkbos
Ouma Marietjie is ter ruste skuins voor 99 en Bianca Lucas, buurdogter, het vanjaar matriek geskryf. Ek onthou hoe Bianca as 5-jarige in ‘n vlinderagtige partytjierok vroeg opgedaag het vir Ouma se 90ste verjaardag. “Dit is my eerste 90ste verjaardag,” het sy vrolik verklaar.
Donderdag was ek een van die eerstes by Heemstede op Stellenbosch vir die stylvolle herdenking van die Pers en die Burger se stigting 100 jaar gelede. Die okkasie het vir my dieselfde fassinering ingehou as Ouma se gevorderde verjaardag vir die vyfjarige Bianca, skat ek.
Opgewondenheid om na 18 jaar se aftrede weer soveel ou gesigte te sien, het plek gemaak vir oorstelptenis. Soos kollegas aankom, het ‘n loopbaan van 35 jaar in taferele verbygeflits. Dit was ek, ‘n jonger Hennie van Deventer, daar in die voorste ry van die fliek terwyl half-vergete tonele hulle afspeel.
Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het toe ek einde 1958 met my koffertjie in Bloemfontein aangeryloop kom vir vakansiewerk. Hy het my die aand die redaksiekantoor gaan wys … en die teleksmasjiene – die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom. Sjoe.
Ek was in ‘n buitekamer in Sewende Laan waar Wiets ook tuisgegaan het. Een van my vroegste herinneringe is die kennismaking op sy draaitafel met die Largo-gedeelte van Antonin Dvorak se Nuwe Wêreldsimfonie in 1958. Die simboliek het my eers na jare getref. Met daardie eerste wankelende tree in die werklike joernalistiek is inderdaad vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit .
En wat ‘n wêreld. Watter voorreg was dit nie om daardie wêreld stuk vir stuk te ontdek, om intens daarin te leef en my ten volle daarin uit te leef nie — al het dit soms met stampe en stote en met skades en skandes gepaard gegaan.
Toe ek permanent inval in 1963, het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, gou woonstelmaats geword. In Giel Conradiehof het Tokkie saans kom kuier en kosmaak. Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar pas die mooi, jong vroumensie in nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie!”
Een aand in die kombuis konfronteer die “vriendinnetjie” Willie met die vraag: “Wat is ‘n ballas?”
“Ekskuus?”
Sy herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. ‘n Seuntjie in haar klas het kom kla ‘n maatjie sê sy ballas. Omdat sy – o soete onskuld! – nie geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte mette gemaak met ‘n besliste: “Ag nee, man, gaan sit.”
Willie het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord: “Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud is!”

Beeldmense by Heemstede. Salie de Swardt is links.
By Beeld, van 1974 af, was ek en Salie de Swardt gou vriende wat saamgery het kantoor toe. Ons het hard gewerk maar darem nie dag en nag nie – hoewel dit soms so gevoel het. Die moeder van alle partytjies van Beeld se eerste jare het begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton Vosloo sy sekretaresse aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.
Feitlik die hele hoofredaksie – Ton, ek, Salie de Swardt en ander wat reeds dood is – ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis) en die twee sekretaresses, Gerda Pienaar en wyle Ina le Roux, het gaan aansit.
Daarna het ons gaan “koffie” drink by Ina se woonstel in Bedfordview, waar dit laat begin word het. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was ná ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank geduur …
Die immergroen Danie Krynauw was hoof van Naspers se tydskrifte toe ek in 1992 by die Nasperssentrum instap as hoof van koerante. Ons was bure in ‘n kantoor-suite. Ons het een buitedeur na die gang gedeel en het ons onderskeie domeine betree deur die gemeenskaplike kwartiere van ons twee P.A.’s, Willa (Danie) en Lizette (HvD).
Op die eerste dag, 1 April 1992 (Gekkedag!), was hy my gasheer op my eerste besoek aan die kafeteria Van Alle Kante met die prentjiemooi uitsig na alle kante. Danie het vir die groentjie ‘n broodnodige blitskursus in hoofkantoor-kultuur gegee. Hy het my nogal verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede. Ja, hy kon nogal brutaal eerlik wees, dié saggeaarde Danie. Mettertyd het ek agtergekom hy was selde verkeerd in sy oordeel oor mense.
Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen M.B.A. was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.
Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur, Boetie van Zyl, se gesig. Ook die skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien, was Donderdag daar.
Voorreg vir my gewees, pionierskollegas, om elkeen van julle – en soveel ander – weer te sien. Grys of krom, in weersiens vergeet jy mos die ouderdom. Lekker om 100 te wees. Klink ‘n glasie!