SELDSAAM SOOS ‘N DRIEPONDNOOT

Die twee gryses klink 'n heildronk op 'n lang vriendskap langs die Sabie in Sabiepark.

Die twee gryses klink ‘n heildronk op ‘n lang vriendskap langs die Sabie in Sabiepark.

More uit Melkbos

My woonstelmaat, kollega, vriend en vertroueling met baie geheimpies, Ben van Rensburg (83), is vanoggend om 06:30 in die Mediclinic Vergelegen, Somerset-Wes, oorlede. Sy vrou, Rina, met wie hy in Maart 2011 getroud is, was aan sy sy. Het Maandagaand nog saam met Ben ‘n wyntjie of twee geniet op Beeld se 40ste verjaardag op die jaarlikse Beeld-geselligheid by Salie en Lisa de Swardt, buite Stellenbosch.

Sou ook nog gister saam met Ben en Rina gekuier het. HUlle sou Melkbos toe kom om saam met ‘n spannetjie Volksbklad-kollegas Piet en Petro Theron van Bloemfontein se Goue Bruilof te vier. Gisteroggend het Rina laat weet: ‘n Klomp toetse moet op Ben gedoen word. Hulle sal dit nie maak nie. Dat dit so naby aan die einde was, het niemand besef nie.

As huldeblyk herpubliseer ek graag hier ‘n hoofstuk oor Ben by sy 80ste in 2011 in my boek Lewensgroot en GROTER. ‘n Geweldige tekortkoming van daardie hoofstuk is dat Ben se studentebynaam , Bennie Driepond, nie daarin vermeld is nie. Die wellewende, sjarmante Ben was inderdaad so seldsaam soos ‘n driepondnoot.

WIELETJIE-MAN VAN (S)TAAL

DIE bekroonde motorskrywer Ben van Rensburg, ‘n gewese woonstelmaat in Bloemfontein, word ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.

Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder. Van ons ander het met die jare minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.

Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk op met hul slordige taal; ook met onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemeen voorkom.

Ben het vele passies. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap ook ‘n passie vir motors. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, het nie uit die lug geval nie. Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.

Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Van dag een af het het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie. La-a-a-ng ente skrik hom nie af nie. Doerie tyd het hy maklik op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy “Kewer” weggespring om in die Kaap te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.

Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende … Die man se passies hou eenvoudig nie op nie.

Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben. Hy het hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van “Wilgenhoffers” saam te stel.

Praat hy van Namibië, kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.

Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, (met wie hy in 2011 getroud is) het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in “Villa Cortona”, Durbanville, getrek. Dit is ‘n maand later en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, bied nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang! (‘n Latere trek was na Stellenboch.)

As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hierdie 80-jarige is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.

In “La Gratitude” in Bloemfontein – waar ons 1965 rond woonstelmaats was – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van “Stukvat” in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.

Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwesdae, SAUK-dae, koerantdae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. By sy geskenkie het ek geskryf dit is my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit. Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans!

Naskrif: Ben ry ook ‘n Honda CR-V. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige kenner gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.

6 Mei 2011 (hvd)

OHOPOHO – HIER KOM “OOM”!

IMG-001

Op die regte tyd, op die regte plek, omring deur die regte mense. Die Volksblad se redaksie circa 1990.

More uit Melkbos

Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies. Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.

Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders. Die era van die “Oom” was ook ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.

Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie. As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd. Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys. Net terloops.

Hoekom die “Oom”? Johan het vertel: “Ek het een keer net nadat Anneline Kriel Mej. Wêreld geword het op ‘n onthaal van die Troskies met haar gedans. Daarna sê sy toe: ‘Dankie, Oom. Dit was lekker.’ Terselfdertyd het die ‘Óom’ sommer gehelp om die ‘ek’ in die rubriek te systap.”

Johan het al in 1974 begin Stop skryf. Daarna was hy ‘n tyd lank redakteur in Suidwes waar hy o.m. gemoedere beroer het met ‘n vermaning aan boere om van hul “vet wit gatte” op te staan. Na ‘n kort(!) loopbaan as redakteur het hy as Stopskrywer teruggekeer. Uiteindelik het hy in meer as 20 jaar by die 6 000 Stoppe geskryf – byna 19 miljoen woorde.

So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners. Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende. Soek graag mekaar se geselskap op.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom, die Oom.

Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk. (P.W. Botha, was nie een van sy “fens” nie. Hy het hom ‘n “skarmonkel” genoem.)

Sy tuiste, die “Republiek van Kafferrivier” was nie sommer uit die duim gesuig nie. Hy was inderdaad naby die destydse Kafferrivier ‘n melkboer, en het baie tyd (ook in “kantoorure”) op sy plaas deurgebring. Hy was bitter lief vir sy beeste en die grond maar het minder liefde gehad vir die “volkies” as hulle naweke “suip” en nie in hul babelaas-kondisie in staat was om die koeie te melk nie.

So was dit-001

Johan van Wyk, die uwe, en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Van Wyk se boek, So was dit.

Wel denkbeeldig, was al sy reise saam met Pik Botha, Nelson Mandela en wie nog die wêreld vol. Nadat hy oor só ‘n reis kamtig saam met Pik Botha na die Verenigde Nasies toe geskryf het, keer oom Christo Groenewald, oud-burgemeester van Bloemfontein, hom voor. “Man, ek’s bly om te sien jy’s terug. Dit was seker taai gewees.” Johan het hom nie reggehelp nie..

Van sy uitdrukkings het so vasgeslaan dat hulle dadelik uitpop as ek aan hom dink. Elana Meyer, skraal Springbokatleet, het hy as die “tinktinkie met die groen boudjies” beskryf. Perfekte beeld. Onthou helder hoe hy altyd “vermom as ‘n potplant” uit die binnekamers kon skryf. En natuurlik sy beroemde “ohopoho”. Nou die dag weer self “ohopoho” uitgeroep oor ‘n ligte mistykie wat ek begaan het.

In 1984 of so had die eksaminators Transvaalse matrieks aan’t skarrel oor die betekenis van dié befaamde Stop-woord. Wat suggereer dit vir hulle, was die vraag in ‘n Afrikaans-vraestel. Skreeunaakse verduidelikings is skoorvoetend gewaag.

JvW se verduideliking: Ohopoho, het ‘n blinkners administrateur van Suidwes, A.J. Werth, moedeloos uitgeroep toe sy kar die soveelste keer in ‘n slaggat beland dat sy po……(dinges) deurstamp. Toe word sy bestemming sommer Ohopoho … of Opuwa soos dit vandag heet.

Johan se vrye sê het hom by meer as sy redakteur in warm water beland. ‘n Keer het hy ‘n vername arts en KP-politikus aangeraai: “Hef ‘n bedpan”. Dié het dit gelees as bedoelende dat hy ‘n liggaamsfunksie moet gaan uitvoer, en het diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelsspreekende regter O. Galgut te oortuig dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel soos “Hef a ding-dong day” of “hef ‘n siegret”. Aikona. Regter Galgut wou nie byt nie.

Oor Johan van Wyk is ek nie uitgeskryf nie. Maar die blog raak lank. In ‘n sekere sin is die langasem-buiging gelukkig ‘n beskerming om my nie te waag op die glibberige veld van name uitsonder nie. Karakters was egter volop. Ek onthou elkeen met behae.

Soos ek my hele span met behae onthou, Sidwell en sy spannetjies bodes inkluis. Ook Grace wat so getrou die tee gemaak het.

vbd1

Vir Jan Scholtz, ons skrynwerker-joernalis, ‘n pluimpie dat hy my kantoor so deftig gemaak het met sy stinkhout en Birmese kiaat. Kyk net die foto. Ander kollegas sal my die spesiale vermelding sekerlik vergun.

Dan, vir heel oulaas, ‘n stukkie spog oor ons indrukwekkende galery boekskrywers van daardie era, van wie Johan een was. Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg, voorste spanningstrio in Afrikaans, was gelyktydig kollegas. Dis merkwaardig. Chris Moolman, ook uiters aktief in daardie genre, is weg net voordat ek in 1980 by die voordeur van Voortrekkerstraat 79 ingestap het. Darem nie “omdat” nie!

Iets was in die water wat die mense in Bloemfontein ingekry het, of in die drukkersink wat hulle in Voortrekkerstraat ingeadem het. Ek dink persoonlik die ink-selletjies het hul bloed binnegedring en duisendvoudig vermenigvuldig. As daardie kollegas hulle raakskeer, moet ‘n mens koes soos die ink in alle rigtings spat! (hvD)

AAN DIE DIEP KANT

Desktop6

Eerste skof by Die Volksblad: In die swembad is Herman le Roux, Wiets Beukes en ekselwers; aan die subtafel is Jaap Steyn in die hoofstubstoel met HvD neffens hom (ou met die koerant); die driemanskap besig om stuitig te wees, is HvD, Paul Marais en Ollie Olwagen.

Middag uit Melkbos

As studentewerker by Die Volksblad is die 20-jarige Hennie van Deventer in 1961 aan die diep kant ingegooi. Ek moes swem dat die water om my ore spat. Die Goudveldse verteenwoordiger, wyle Willie Coetzee, is met langverlof en die uwe moes waarneem. Stoksielalleen.

‘n Storie wat in daardie “leerkurwe” uitstaan, is van ‘n stoker op die treine wat sy broer in die voordeur van hul huis met ‘n pistool gepot het oor onbehoorlike attensies aan sy vrou wanneer die stoker nagdiens doen om die pot aan die kook te hou. ‘n Doodskoot in die rug.

Onervare, doodbenoud, het ek aan die ouerhuis se voordeur langs die treinspoor gaan klop. Die treurende moeder het my binnegenooi en koek en tee aangebied. Toe sy die doel van my besoek meegedeel is, het sy ‘n klomp foto-albums uitgehaal en vir my carte blanche gegee. “Vat wat jy wil”. Wens ek het ‘n foto gehad van my plat op die vloer, omring deur foto-albums en met ‘n stuk sjokoladekoek in die hand!

Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.

Kollega Herman le Roux vertel die storie wat my dadelik “op die map gesit het”, is deur hom aangedra. Hy het by sy haarkapper gehoor van twee lyke wat omgeruil is. Die vergissing is kort voor die onderskeie begrafnisse 100 kilometer uit mekaar ontdek. Drama. Lykwaens moes met die oorskotte na hul regte bestemmings jaag terwyl begrafnisgangers die wagtyd somber verwyl.

Die ouers en familie het soos sfinkse geswyg. Maar ek het die storie in Brandfort se kroeg losgewoel. Die kroegman was ‘n begrafnisganger en had die vermoë om ‘n storie in kleur en geur te vertel.

As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

Maar ek moes weer aan die diep kant leer swem. My eerste dag in daardie stoel onthou ek as my swartste dag in die joernalistiek. Die hoofsub het daardie tyd ‘n uur of twee voor sy kollegas kom inval om solank die kopie vir bepaalde blaaie te sorteer. (DV was ‘n middagblad.) Ná ‘n eensame uur het ek besef ek weet nie wat ek doen nie. Toe my voorganger, Jaap Steyn, twee uur later opdaag, was ek in ‘n staat van paniek. “Jaap, neem oor,” het ek vurig gepleit. Hy wou nie.

Toe ek wurgend uitkry: “Jaap, vat oor of Die Volksblad verskyn nie vandag nie, het hy die omvang van die krisis besef. Hy het oorgevat. Gebukkend gewerk. Nooit opgekyk nie. Die koerant betyds op straat gehad. Die volgende oggend was ek terug in die warm stoel. Sonder hik het die eerste Volksblad met ‘n HvD-stempel betyds verskyn.

As nuusredakteur van 1967 af kon ek my ses vervullende jare as joernalis ten volle begin slyp. Die aardbewing in die Boland; die eerste maanlanding en Neil Armstrong se onsterflike woorde: “That’s one small step for a man, one giant leap for mankind”; die jintelman-kommunis Bram Fischer se hofsaak en vonnis; Jackie Kennedy se huwelik met Aristoteles Onassis; die Rosenkowitz-sesling; die Groesbeek-moord — dit is groot stories soos dié wat die nuusredakteur moet regvat en raakvat om nie deur mededingers onder die stof geloop te word nie.

In 1974 is ek na die nuwe dagblad Beeld toe as eerste nuusredakteur. Daardie koerant se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen. Tog was daar donker oomblikke soos die dag toe ‘n meisie op die voorblad pryk met ‘n skamele kostuumpie, as jy dit so kan noem, waarmee sy by ‘n winkel skaamteloos die prys losgeslaan het vir die klant wat met die minste klere aan haar lyf opgedaag het. By Beeld was algemene ongelukkigheid. Ek moes mooi verduidelik die foto was nie die nuusredakteur se keuse nie. Wie se keuse dit wel was, het nooit uitgekom nie.

Ek het daardie dag reikhalsend terugverlang Volksblad toe – ook weer die dag toe ek ‘n verslaggefster, Petra Pietesre, gestuur het om die Argentynse bokser Victor Galindez, bekend as “Die Dier” te gaan soen voor sy geveg teen SA se Pierre Fourie. Skitterende foto gewees. Maar die vroue in die redaksie was in opstand – diep in hul feministiese siele gekneus. Arme HvD had dit bra hotagter om gemoedere te kalmeer.

In 1976 is ek as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Die wonderlike ervaring het sy eie eise gebring, ook vir my gesin. Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys. Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop. Ek moes bontstaan in ‘n vyandige, liberale omgewing. Ook daardeur is ek enormlik vir latere verantwoordelikhede geslyp.

‘n Jammerte uit ‘n persoonlike en loopbaanhoek is dat ‘n skof in die Londense kantoor weens gesinsomstandighede verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was klaar bespreek toe ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer word. Pediaters het ons aangeraai om liefs nie in die uitdagende nuwe situasie die vreemde aan te durf nie. Ook in latere fases van my loopbaan het ek gesinsomstandighede voorrang gegee in my besluite. Ek is nie spyt nie.

Ns. Later skryf ek oor my terugkeer na Bloemfontein in 1980 – nou as redakteur van daardie gerespekteerde dagblad in die hartland. (hvd)

OP PAD MET DIE PERS

!cid_image002_jpg@01CFFF5A

Naspers100 – ‘n baie spesiale uitnodiging.

Middag uit Melkbos

Op 18 Desember 1914, in ‘n Victoriaanse huis genaamd Heemstede in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, het sestien baanbrekers die Nasionale Pers gevorm.

Wat ‘n vooreg om presies een honderd jaar later by die einste plek deel te kan wees van ‘n viering van die trotse maatskappy se ontstaan. As daar een Desemberuitnodiging is wat ek waarlik troetel, is dit na daardie historiese middagete op Stellenbosch. Wonder watter das ek sal aansit – in elk geval een van die Pers.

My eie amper 74 jaar – ek betree op 3 Januarie my 75 ste jaar – is intiem met Naspers verweef. Dis een van die hoekstene van my lewe, soos my vrou, Tokkie; die kinders, Johan en Marisa; my kerk, die NG Kerk; my alma maters, Volkies en Tukkies; my politieke tuiste, die Nasionale Party (tot sy ontbinding); my bank, Volkskas (wat later deur Absa opgeslurp is); my geliefde bosplek, Sabiepark; my stad vir 24 jaar, Bloemfontein, en die Automobiel-Assosiasie (het ‘n 55-jaar-veteraanplakker in die BMW se ruit).

Die foto’s teen my studeerkamermure is bewys daarvan. Dit is Persfoto’s wat oorheers. My formele loopbaan van 36 jaar by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede –is agter glas heel volledig gedokumenteer.

Waar het dit begin? Wel, begin Januarie 1963 – meer as 50 jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap. Eintlik kom die verbintenis al langer.

As beurshouer dra ek van 1958 af ‘n Naspers-hoed. Maar in werklikheid was al ‘n Volksbladman voordat ek in 1947 sub A toe is – het die koerant plat op my maag voor my oupa se leunstoel in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, gretig deurgeblaai. Met die eeste verskyning van die vrouetydskrif Sarie Marais (nou net Sarie), op 6 Julie 1949, het ek op ‘n doktersbesoek saam met familie een vir ses pennies op straat in Bloemfontein vir my ma gekoop. Dit is een van ‘n hoop ou koerante en tydskrifte wat ek bewaar.

In die 36 jaar as amptenaar van die Pers het ek heelparty historiese momente beleef. Toe die knoppie gedruk word vir die eerste uitgawe van Beeld was ek, die eerste nuusredakteur van daardie koerant, by die rolpers in Doornfontein. Toe die eerste Die Beeld (Sondagblad voor Rapport) verskyn, was ek een van die Bloemfonteinse subsredakteurs wat Saterdagaande uitgehelp het. By Die Volksblad was ek as redakteur betrokke by die oorskakeling na volkleur en na ‘n oggendkoerant. Gemeenskapskoerante soos Ons Stad is deur my gestig. Met die koop van City Press en die vervanging van Oosterlig met Die Burger (Oos-Kaap) was ek uitvoerende hoof: koerante van Naspers (nie van Media24, soos soms verkeerdelik beweer word nie – Media24 het toe nog nie bestaan nie!)

Die verbintenis strek ook al ver verby die einde van my formele loopbaan. Einde 1997 het ek my kantoordeur as Uitvoerende hoof: koerante van Naspers vir oulaas in die Perssentrum aan die Heerengracht agter my toegetrek. In my aftrede, van einde 1997 af tot nou, het ek egter steeds Nasperser in my bloed gebly. Ek lees Media24-publikasies sewe dae van die week, skryf af en toe ‘n resensie of ‘n briefie vir publikasie en stuur nog soms ‘n nuuswenkie na die koerante of tydskrifte toe.

Ons praat van ‘n persoonlike verbintenis met die Pers van heelwat meer as die helfte van sy eerste eeu

Onder meer in twee boeke met ‘n outobiografiese strekking, Kroniek van ‘n Koerantman – ‘n persoonlike perspektief op die jare ná 80 (Tarlehoet, 1998) en In Kamera (Protea, 2003), asook in my Ineg-dokumenteversameling (PV 677) en in die eeufeesboek ‘n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad is ‘n hoop van my eie biografiese besonderhede opgeteken. Dit is ‘n pad wat ek nie weer hier wil bewandel nie.

‘n Boel herinneringe wel egter op. Daaraan sal ek kwaai moet sif want ek is hoegenaamd nie van plan om weer my hand aan ‘n boek te waag nie. Lesers van HvD se blog sal die skrywer egter vergewe as hy in nostalgiese oomblikke ‘n paar van die herinneringe lukraak gaan ophaal in die volgende paar blogs wat in hierdie ruimte opduik. (hvd)

VOLKSBLAD-SAGE

More uit Melkbos

Vandag is die eerste dag van die res van Volksblad se lewe. ‘n Tikkie uitgelatenheid is seker veroorloof dat die geliefde dagblad nie vir die Afrikaanse leefwêreld verlore is nie. Gaudeamus igitur.

Tyd vir ‘n nugtere bestekopname oor die krisis van die afgelope tien dae behoort egter ook ingeruim te word. Die brandstapel het immers ongemaklik naby gekom. Niemand vir wie Volksblad iets beteken, wil ooit ‘n herhaling beleef nie.

In die konteks van so ‘n bestekopname is twee kernfaktore konstant. Die dinamiek van die gedrukte koerante het nie oornag verander nie. Die drywers van die radikale plan het ook nie oornag verdwyn nie. Wanneer hulle opnuut by Media24 die pionne begin rondskuif op soek na formules om hul boeke beter te laat lyk, moet ons nie verwag dat hulle dit dadelik met nuutgebore insigte en verfrissende ander gesindhede gaan doen nie.

Om nou rustig in ons onderskeie gemaksones agteroor te gaan sit en mekaar op die skouer te klop omdat die gevaar vir Volksblad afgeweer is, gaan niemand dus ver bring nie. Aan verskeie fronte wag uitdagings en werk.

Volksblad self het al ver gebou aan die model van ‘n geslaagde streekblad wat die karakter en behoeftes van sy spesiale nismark deeglik verreken. Ongetwyfeld sal hy hom verder daarop wil toespits om selfs nog nader aan sy lesersgemeenskappe te leef.

Mag ‘n mens egter ook hoop dat die skrik van amperse verlies ‘n nuwe stroom energie by lesers en adverteerders sal ontketen om hul koerant se hande te sterk in sy strewe om in sy lesersgebied die beste diens te lewer? Die lang, gelukkige en onbekommerde voortbestaan van hul koerant is immers primêr in die twee belangegroepe se hande.

As hierdie mense en instansies so sterk oor hul koerant voel, soos uit briewekolomme, verklarings en op sosiale media blyk, was die tyd nooit ryper nie dat hul liefde en lojaliteit nou van die simboliese na die prakyk beweeg. Kortom, hulle sal op groot skaal moet begin inteken en adverteer Slegs so sal hulle hul koerant op die langeduur kan red en verhinder dat hulle, tot die enorme verarming van die ganse gemeenskap, van ‘n kosbare, onmisbare vennoot beroof word.

AfriForum is een instansie wat in die Volksblad-sage gewys dat sy hart reg klop vir koerante deur sy veldtog om openbare steun te werf vir die voortbestaan van die koerant in sy huidige formaat. Hopelik is hy oorgehaal om daardie veldtog te omskep tot ‘n nuwe veldtog om op elke terrein sterker vitaliteit vir die koerant te ontgin. Ander belangegroepe sou daarby kon inval sodat dit ‘n magtige aksie word waarin kultuur, kerk, sakelui en andere hande vat.

Die kollig van kwesbaarheid was die laaste paar dae fel op Volksblad. Nie net by hierdie oudste Afrikaanse koerant in die land met sy trotse geskiedenis van 110 jaar nie, maar by elke ander titel is kwesbaarhede in mindere of meerdere mate teenwoordig – by van die ander selfs meer so as by Volksblad.

Media24 sal dit seker ten enemale ontken, maar by vele bestaan ongelukkig die persepsie dat die snoeiskêr die wapen is waarna sekere kern-rolpelers telkens byna refleksief gryp om die kwesbaarhede te verminder. Hoe meer jy snipper, des te meer bind jy egter koerante se hande agter hul rûe vas vir die taai stryd wat hulle moet voer. Des te kwesbaarder word hulle in die proses.

Die pad van verdere inkortings lyk vir hierdie waarnemer werklik nie na die pad om te loop om die geweldige eise te probeer ontmoet nie. Minder skadelike alternatiewe sal eenvoudig steeds met kreatiwiteit en ywer gesoek moet word.

Vir geen oomblik dink ek dat die huidige generasie besluitnemers ‘n pad sonder duwweltjies bewandel nie. Hopelik kry hulle egter so met stampe en stote tog maar die regte insigte en formules. ‘n Persoonlik versugting, ten slotte, is net dat ons asseblief tog gespaar bly dat die bloudruk vir die sluiting van ‘n trotse dagblad weer uitgebroei word by ‘n spruit van die idealistiese Nasionale Pers wat ek 36 jaar lank geken, gedien en liefgehad het. Ek kan in my verbeelding die voorgeslagte gepynig hoor uitroep. (hvd)