Jun 5, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Nancy (heel links) saam met ‘n groepie oud-kollegas by ‘n saamkuier op Melkbos se stoep.
Middag uit Melkbos
Met die sprake van ‘n “nuwe sakemodel” vir Media24-koerante hou almal wat vir Die Volksblad (soos my generasie hom geken het) of Volksblad (soos die koerant nou bekend is) asem op. Die “hartland” van Suid-Afrika sal in sy hart gewond wees as daardie koerant moet seerkry – gewis die dagblad wat nader aan sy lesers leef as elke ander een in die land.
Hoop maar Media24 se direksie dink diep en deeglik voordat hulle dalk ‘n onbesonnenheid aanvang.
Die kommer oor ons koerant se toekoms is wesenlik, maar dit is nie waaroor ek vandag ‘n woord op die hart het nie. My tema vandag is: Die lojaliteit van Die Volksblad se mense. Dit tref in hierdie dae opnuut hoe een en almal, oor die generasiegapings heen, hulle eendragtig met hul koerant vereenselwig.
Toe ek Nancy Oosthuysen gistermiddag in Proteavallei bel om haar oor verwikkelinge in te lig, hoor ek die skok en ontsteltenis in haar stem. Kan dit waar wees dat die geliefde Volksblad met ‘n sward oor sy kop leef? Dit kan mos nie.
Nancy is een van die Volksblad-veterane. Sy is al amper 20 jaar uit die tuig en word in Julie 79. Maar sy behou ‘n lewende belangstelling in die koerant en kontak met haar oud-kollegas – ook die enkeles wat nog nie afgetree het nie.
Van Nancy het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” vleiend geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas. Ek sou haar nog ‘n paar ander pluimpies wou toevoeg, en ek is dankbaar dat ek dit wel gedoen het in ‘n brief van 2 Mei 1996. Dit is geskryf met haar aftrede. Ek is maar te dankbaar dat die brief my onlangs weer ter hand gekom het.
Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie (sy is maar fyntjies en kleintjies!) in ‘n warm stoel in die subkantoor nie, het ek geskryf. En verder:
“‘n Loopbaan vol onderskeidings lê agter jou en hopelik ‘n heerlike rustige rustyd voor.
“By die wisseling van lewenstyle bring ek graag hulde aan ‘n knap en kordate kollega wat ook vir my ‘n waardevolle steunpilaar was in my tyd by Die Volksblad.
“Ek skryf ook in my huidige Pers-hoedanigheid (ek was toe uitvoerende hoof van koerante), omdat ‘n skof soos joune – oor die dertig jaar van lojale, getroue en sprankelende bydraes tot ‘n handvol produkte – ook in breër Persverband waardering verdien.
“Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot die hoogtes waar hy vandag staan. Daarvoor klink die woord ‘dankie’ bra dun. Weet egter, dit kom uit die hart.
“Ek wens ‘n mens kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het …
“Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens aan Die Volksblad en daardeur ook aan die Nasionale Pers bied. Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet ‘n mens egter maar op jou aanvoeling staatmaak.
“En, glo my, myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van formaat.
“Voorspoed, geluk, gesondheid en alles wat mooi is vir jou en Jan op die pad vorentoe. Laat ek en Tokkie julle asseblief in die Kaap sien. Dit sal ‘n vreugde wees om saam herinneringe oor die goeie ou dae op te diep, miskien oor ‘n vuurtjie langs die see op Melkbosstrand.”
Liewe, Nancy, dit is nou 18 jaar later, maar die brief maak my sommer weer bewoë as ek begin dink aan al die wonderlike kollegas saam met wie ek bevoorreg was om ‘n paar sakke sout op te eet. Ek is darem bly ons het mekaar toe wel in die Kaap gesien, ook op Melkbosstrand – en des te meer dat ons ou Volksbladveterane mekaar nou nog van tyd tot tyd in ‘n gees van kollegialiteit kan opsoek. (hvd)
Aug 22, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Uitskietname in onder meer die Afrikaanse letterkunde, koerant- en radiowese kom voor op ‘n lysie van Volksblad-mense wat al flink-flink by die 80-kerf verby is.
Dot Serfontein, Wiets Beukes, Kobus Hamman, Jan van Zyl, Esmé Mittner, Bienkie Wessels en At van Wyk is o.a. in die geledere van die 80-plussers wat met sy gewone entoesiame en ná BAIE telefoonoproepe deur my kollega en vriend Herman le Roux opgespoor en geboekstaaf is.
Herman, gedugte statistikus, argivaris, feitejagter en plakboekmaker, is deur die uwe aangepor om die taak te onderneem nadat Gert Terblanche, oud-ambassadeur en –Volksraadslid, die eerste was wat 90 geword het. Ná hom volg ‘n goeie klompie 80-jariges.
Herman se “navorsing”” is nog nie voltooi nie, maar hy meen die finale lysie sal nie veel verskil van die volgende een wat hy in die wintervakansie onder die Bosveldsterre by Ingwenya Lodge naby Krokodilbrug in my hand gestop het nie:
Dot Serfontein (88), Kobus Sonnekus (86), Wiets Beukes (85), Berna Maree (85), Kobus Hamman (85), Jan van Zyl (84), Esme Mittner (84), Ben van Rensburg (82), Paul Zietsman (81), Lukas Meyer (81), Bienkie Wessels (81), At van Wyk (81) en André (Slang) du Plessis (81).
Ander oud-Volksbladders wat vat-vat aan 80 is Joe Venter, Mathilda (Lourens) de Kock,, Bettie van Wyk, A,P. (Andreas) du Plessis en die nimlike Lappies Labuschagne.
Hierdie 72-jarige haal sy hoed af vir die eerbiedwaardige seniors. En vir Herman. As jy op sy knoppie druk, kry jy resultate. Altyd. Ek weet Herman haat die woord “legendaries” omdat dit veral in die sportjoernalistiek só misbruik word. Wel, sy optekening van sulke wetenswaardighede is niks minder as legendaries nie. (hvd)
Apr 7, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Om op ou voetspoore terug te loop, is vir my ‘n hartsaak.
Ek is ‘n reünie-man en gaan loer graag op Volkies en Tukkies by my ou klas- en koshuiskamers in. Ek gaan soek my geboortewêreld in Kwazulu-Natal op en trotseer dongas om op die werf van ons plaashuis naby Babanango te kom. Ek gaan kyk hoe lyk die Diagonalstraat 10, Kimberley, Botanic Grove 9, Berea, Durban, en Neeltjiestraat 20, Meiringspark, Klerksdorp van my kinderdae.
As ek in Bloemfontein kom, sal ek nie die geleentheid laat verbygaan om weer by Kmdt. Senekalstraat 33 en Van Schoorstraat 1 in Dan Pienaar ‘n draai te maak nie. As ek op die N1 verby Johannesburg ry, draai ek af Maroelastraat 3 (eers 936), Randparkrif 3 toe.
Sou wat wou gee om verlede week saam met tydgenote Sarel Venter en Piet Theron by Volksblad ‘n vleisie te gaan braai ter ere van ons kollega Nols Nieman wat jonk-jonk op 60 oorlede is. Die twee het nie net lekker saam met die jongklomp gekuier nie; hulle is ook op ‘n begeleide toer deur die gebou geneem. Dit was klaarblyklik ‘n openbaring.
Sarel skryf: “‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek by die motorhek van die parkeerterrein oos van die gebou inry. ‘n Veiligheidswag, duiwelsvurkheinings, parkering waarvan die meeste onderdak is, netjiese plaveisel en beheerde toegang na die gebou. Ek was meer as twaalf jaar laas daar waar ek 36 jaar gewerk het.
“Dadelik het my gedagtes teruggegaan na my eie parkeeromstandighede van lank gelede: eers oorkant die straat (waar ons gewedywer het vir die skaduwee van die Monte Carlo-teater), toe iewers langs strate sonder parkeermeters, toe op Ramblers se terrein onder ‘n afdakkie (waar my motor eendag oopgebreek is), later aan die oostekant van Ramblers onder nette, ‘n paar maande tussen die redakteur en die bestuurder se motors onder die afdak by die Volksblad-gebou, en toe tot my aftrede weer onder die Ramblers se nette, aan die einde van ‘n donker paadjie langs Wes-Burgerstraat.
“”Dit lyk vir my of die meeste van die mense wat vandag by Volksblad werk, op hierdie betreklik nuwe, veilige en gerieflike terrein parkeer wat van straat tot straat strek. Die ingang van die parkeergebied na die gebou is aan die oostekant van die ou binnehof met sy groot boom (karee?) en ‘n grasdaklapa.
“Die rede vir my (en Piet) se besoek na so baie jare was ‘n uitnodiging deur Gert Coetzee om wyle Nols se lewe te kom gedenk met ‘n braai. Dankie aan Gert, Dirk Kok en Pieter Steyn.
“‘n Klompie jong Volksblad-werkers van die vroulike geslag was ook dadelik by om te hoor wie is ons. Die ‘aangename kennis, Sarel!’ en ‘bly te kenne, Piet!’ uit vrolike kele wat al ‘n bier of wat geniet het, het later darem ‘oom Sarel’ en ‘oom Piet’ geword. Meen, hulle is mos maar eintlik kinders teen ons! Een het vertel dat sy by die ontvangstoonbank werk, ‘n ander een kom van sirkulasie af en nog een van advertensies.
“Bekendes daar was ook die tegniese manne Kobus (of Torie) en Jackie – al sterk middeljarig.
“Toe ons later die aand groet was genoemde dametjies en ‘n paar ander nog gesellig aan die kuier in die opleidingslokaal langs die binnehof. En toe een sê sy wil ‘n drukkie hê, het die ander ook ewe vrypostig daarvoor nader gestaan. ‘n Vreemde wêreld, inderdaad!
“Nog voordat ons tjops en wors, broodrolletjies en aartappelslaai – wyn en bier was op die huis, lyk dit vir my – gereed was, het Gert vir my en Piet op ‘n toertjie deur die gebou geneem. Werklik nóg ‘n vreemde wêreld. As ons destyds gedink het die vernuwings en herindeling van ruimtes onder leiding van argitek Fanie van Jaarsveld jare der jare gelede was iets groot, het ons nie kon droom oor wat later en herhaaldelik weer in die gebou gedoen is nie.
“Ek kon min dinge sien wat bekend lyk, en sou heeltemal verdwaal het as Gert nie saam met ons was nie. Die brandkamer se deur is nuut geverf, maar is nog dieselfde. Die traprelings is nog goed versorgde hout; weet nie of dit al vervang is nie. Die ou ‘stuurkas’ wat later die konferensiekamer geword het, met die lang tafel wat destyds in administrasie vir sortering van pos gebruik is, staan nog daar, maar die mure is vol moderne skilderye en selfs ‘n reuse-platskerm waarop foto’s vir keuring tydens nuuskonferensies vertoon word.
“Die redakteursfoto’s wat in ‘n stadium uit die redakteur se kantoor verwyder is omdat dit kwansuis ‘spoke uit die verlede is’ , het teen die straatkantmuur van die konferensiekamer gehang. In Ainsley Moos se tyd is daardie hele muur met glas vervang en is die foto’s na die gang verskuif. Daar, regoor die deur na die redakteur se sekretaresse, is dit myns insiens meer prominent en ‘n waardige galery van foto’s.
“Ook goed om te sien: die talle uitstalkaste met memorabilia. ‘n Blye weersiens vir my was die klein ossewaentjie wat in 1988 deur die FAK aan Die Volksblad toegeken is vir die beste beriggewing oor die 150-jarige herdenking van die Groot Trek. Nog in sy glaskas met ‘n geraamde hoofartikel, ‘Ons hartklop’ , daarop aangebring. Die waentjie was glo lank iewers weggebêre nadat dit dalk om politiek korrek te wees, van ‘n prominente staanplek by die trappe verwyder is.
“Oral is groot oopplanruimtes. In die nagkantoor waar Nelia Grobbelaar steeds hoofsub is, is net ‘n paar vroue saam met haar. Ek verneem die dagsubs onder leiding van Adele Dempers is ook hoofsaaklik vroue.
“Daar is ‘n hele paar klein kombuise. Lank, baie lank nie meer iemand soos ou Grace (tee-vrou) wat swaar skinkborde ronddra nie. (Ek wonder of sy nog leef).
“In die stuurkas sit toe die aand net Annelize Doubell en Mauritz van Wyk. Dit klink vir my of Mauritz elke aand daar werk. Ander stuurmanne is Constant Steyn en soms Christo van Staden.
“Die kantoor wat ek van Herman le Roux ‘geërf’ het (langs die trappies na waar die skakelbord eers was en Charl Marais ‘n tyd lank gewerk het) is nou Van Staden se kantoor. Die kantoor waar Paul Marais gewerk het en toe Jonathan Crowther en daarna ek tot my aftrede (langs die sekretaresse se kantoor), is nou Mauritz se kantoor.
“Dit is byna hartverskeurend om al die moderne geriewe en die gerieflike kantooromgewing, meesal oopplan, maar tog afgeskort, te sien en te hoor daar is net ‘n Gideonsbendetjie oor wat die koerant moet uitgee. Hierdie spannetjie moet te midde van al die gerief en tegnologiese wonderwerke onder groot druk werk om elke dag se koerant die lig te laat sien. Ook ‘n wonderwerk.
“Ons het die nuwe redakteur, Johanna van Eeden, ontmoet en sy het my botteltjie Chateau Libertas met my gedeel. Ons het lekker gesels. Die feit dat sy haar huistoegaantyd uitgestel het om ons ou veterane (‘has beens’) te ontmoet en ‘n rukkie saam te kuier, tel vir punte.
“Vir haar en haar redaksie kan ‘n mens maar net die beste toewens. Mag die magshebbers ons Volksblad – steeds fokuspunt van ons lojaliteit – steeds die son gun wat op hom skyn. Mag ons koerant lank lewe!”
Sarel, dankie vir die herinneringsreis. Die nostalgie het dik geloop by die lees hiervan. Ek sekondeer graag uit Melkbos: Mag ons koerant lank lewe!
(hvd)
Apr 4, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
HvD in sy koeranthemp uit Honolululu met die voorblad van Die Volksblad wat met sy bevordering Kaap toe in 1992 aan hom oorhandig is. Rede vir die ongewone foto is my “kaart en transport” van die WAT vir die woord “koerant”. Marisa Fockema berig hieroor:
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Oudredakteur-nou-koerant-baas-20130403
(Mooi berig, ek is dankbaar … maar die woorde Jan Rap en sy maat is darem nie myne nie! HvD)
Apr 3, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Van koerante gepraat: Uit Volksblad-oord is die nuus dat die fotogalery van oud-redakteurs deur die nuwe redakteur, Jo van Eeden, in ere herstel is nadat hulle in ‘n vorige era as “spoke teen die muur” bestempel en onseremonieel verwyder is.
Vir hierdie ou gryse met ‘n gevoel vir tradisie is dit ‘n heuglike dag. Die gedagte aan daardie foto’s met hul kollektiewe geskiedenis van langer as ‘n eeu wat iewers lê en stof vergaar, was nogal steurend, indien nie pynlik nie.
Toe ek in 1980 as redakteur by Die Volksblad instap, het al die oud-redakteurs se foto’s in die redakteur se kantoor gehang. Toe die gebou in enkele jare later gemoderniseer word en die redakteur na ‘n deftiger kantoor verhuis, is hulle saam. My onmiddellike voorganger, SF. (Oom Bart) Zaaiman, se foto is dadelik vir die doel geraam.
Iewers, Kroniek van ‘n Koerantman of in Kamera, het ek opgeteken watter betekenis daardie foto’s vir my gehad het. Hulle het my laat voel ek behoort; is ‘n skakel in ‘n ketting. Elke oggend as ek daardie mooi kantoor oopsluit en verby my ry voorgangers stap na die groot lessenaar van Birmaanse kiaat waar ook mense soos dr. A.J.R. van Rhyn gesit het, was dit ‘n oomblik van besieling vir die eise van die dag.
In 2004 het Die Volksblad sy eeufees gevier – hy is inderdaad heelwat ouer as Die Burger en die Nasionale Pers. Vyf jaar vroeër was daar ‘n redakteursverwisseling wat in ‘n sekere sin ook ‘n generasieverwisseling was. Die “spoke teen die muur” is afgehaal en na ‘n minder prominente, agter-die-skerms-bestemming verskuif.
Om sout in die wonde te vryf, was dit glo die destydse redakteur se vrou wat hieroor die laaste woord had. Sy wou opsluit iets mooi en moderns – Frans Claerhouts, meen ek – teen haar man se muur hê en biedêm die geskiedenis. Dit is nou “Adding insult to injury”, soos die Engelse op hul raak manier sê.
Skynbaar het daardie eerste verwydering ‘n swerftog ingelui. Sarel Venter, lid van die hoofredaksie in die HvD-era, onthou net die redakteursfoto’s het in die ‘raadskamer’ (pretensieuse beskrywing) gehang nadat dit uit die redakteurskantoor verwyder is. Skybaar is dit later na die gang verskuif, waar dit nou weer hang.
Jo van Eeden rapporteer toe sy enkele maande gelede in Bloemfontein aangekom het, het sy op daardie plek ‘n gróót aansteekbord aangetref. Toe hulle dié oplig, lê die stofmerke nog een-een daar teen die muur waar die vorige redakteursfoto’s gehang het!
Waar die “spoker” in die tussentyd ‘n heenkome gevind het, wil ek liewer nie weet nie. Waarskynlik iewers in ‘n ou weggooi-boks (Party sal seker dink : maar dis mos die regte plek vir sulke klomp oude-doos-bokkers!) .
Nietemin, Jo, wat haarself as “seker outyds” bestempel, het die eervolle ding gedoen om die foto’s na die gangmuur terug te bring – ‘n prominente tuiste. Persoonlik sou ek hulle in die redakteurskantoor verkies, maar nou-ja, ek was maar altyd ietwat ambisieus. Desondanks: Van hierdie ou-redakteur aan die huidige: Baie dankie, kollega. Ek glo ons almal sal die dag ‘n spesiale glimlaggie opsit wanneer dit jou beurt is om jou by ons aan te sluit.
Op die foto hierbo hang hulle nou voltallig. In die boonste ry: Hendrik de Graaf, stigter wat die “koerant”op ‘n ossewa van Potchefstroom af Vrystaat toe gebring het, die legendariese A.J.R, van Rhyn, Otto du Plessis, latere Administrateur van Kaapland, Hubert Coetzee, latere besturende direkteur van die Pers, H.H. Dreyer, S.F. Zaaiman en J.H. van Deventer. In die onderste ry: Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther en Ainsley Moos.
Oor elkeen sou jy heelwat kon skryf: vleiend en onvleiend (hierby sluit ek myself in). Wyk, Satan!
Vir my nogal insiggewend is dat my eie skof van 1980 tot 1992 geduur het: 12 jaar. In die 20 jaar daarna is die huidige redakteur egter reeds die vyfde bekleder. Die onderste ry het in hierdie opsig sy eie dinamiek!
Van geen historiese betekenis nie, maar dalk tog vermeldenswaardig is dat ek met Otto du Plessisrylaan huis toe ry op Melkbos, en dat oral nog die tekens is van die oorheersing van die Dreyer-clan in hierdie geweste in die vorige eeu. Melkbos is ver van Bloemfontein– maar die ketting strek waaragtig tot hier!
(hvd)