‘N MAN VIR O-DAG



FOTO EEN: ‘n Glasie op ons eerste ponie. Die span agter die poging: HvD, Herman le Roux, assistent-redakteur, Nols Nieman, hoofsubredakteur, en Chris Karsten (ja die skrywer), nuusredakteur.

Middag uit Melkbos

Niks wat jou so energiek in ou foto’s laat indolwe as die heengaan van mense met wie jy ‘n paar sakke sout saam opgeëet het nie. So ‘n mens is vanoggend oorlede: Nols Nieman, wat as hoofsubredakteur een van my regterhande by Die Volksblad (nou Volksblad) in die jare 80 was.

Ek het die kreatiewe Nols uit Port Elizabeth laat terughaal omdat ek uit alle oorde gehoor het hoe ‘n voorslag hy was. Die Volksblad het juis daardie tyd behoefte gehad aan ‘n kookwater-hoofsub (die man in die voorste linie wat die koerant aanmekaarsit). Ons had die beeld van “die vaal Boertjie” wat ek as nuwe redakteur vasbeslote was om af te skud.

Saam het ek en Nols in ‘n goue dekade heelparty goue dae gedeel: o.m. die eerste Volksblad in volkleur in 1983, die eerste Saterdagponie in 1985 en die grote, die eerste oggend-Volksblad op Maandag 4 Maart 1991…

FOTO 2: O-dag! HvD, Nols Nieman en Philip van Rensburg, nuusredakteur.

Laasgenoemde was ná ‘n aanloop van maande se beplanning en weke van reklame waarby Nols ook sterk betrokke was. Nadat sowat 40 000 lisensieplakkers, 5 000 sonpette, T-hemde, nuwe voertuig- en kafeeplakkers, 23 000 reklameplakkate, 83 radio-reklameflitse, berig op berig, foto op foto, banier op banier en advertensie op avertensie die voordele van ‘n oggendkoerant aan lesers uitgespel het, het D-dag – eintlik O-dag – aangebreek; uit die staanspoor ‘n uiters geslaagde sprong in die duister.

Aan die Van Deventer-Nieman-kombinasie dink ek ook in ander opsigte met welbehae. Ons het skouer aan skouer gewerk in vele groot en gedenkwaardige nuusgebeure wat spesiale hantering op die voorblad geverg het. Daardie era het o.m. opgelewer die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Vrystaatse vloedramp van 1988, die Westdene-busramp, die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van Rooyen, die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1990.

Al hierdie stories het hulle tot sterk aanbieding geleen. Die meeste van daardie voorblaaie het deur die meesterhand van Nols Nieman gegaan Hulle was treffers. Ek was tevrede dat Die Volksblad die beeldjie van “vaal Boertjie” vir goed afgeskud het.

Laat my erkentlik wees: Die vervanging van die rolpers met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë in 1983 was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor. Daarvoor durf ‘n redakteur nie eer opeis nie (hy het darem deeglik gekerm!). Maar die aanstelling van Nols het ook ‘n vername rol gespeel. Dit was my troefkaart.

Aanbieding het onder Nols vinnig ingrypend verander. Met enkele uitsonderings kon ons koerant gou op tipografiese gebied met die grotes saamgesels. Hy kon nuus hard slaan. Daarom dat ek hom vanoggend op Facebook beskryf het as DIE hoofsub van sy era. Geen kwessie daaroor nie.

Ek skryf verder: “Sy treffer-ontwerpe was passievol, sterk visueel en verbeeldingryk. Geen koerant was vir hom maar net nog ‘n uitgawe of sommer ‘n roetine-joppie nie. Elkeen was ‘n nuwe uitdaging wat hy met kenmerkende Nols-deeglikheid aangedurf het.

“Aansteeklik was sy entoesiasme en sy kinderlike opgewondenheid oor ‘n kloppie op die skouer – waarvan hy baie gekry het, geeneen onverdiend nie.

“Nols se lojaliteit was vir my persoonlik waardevol en ons (te ongereelde) kontak oor die laaste 20 jaar nadat ek uit Bloemfontein weg is, altyd verfrissend.

Nols was nog nie eens sestig nie, as ek reg onthou. Die Byl is die laaste ruk helaas erg bedrywig in ons bos. En daardie bos is vandag sommer heelwat kaler nadat hierdie boom in Bloemfontein gevel is.

(Naskrif: Philip van Rensburg wat nuusredakteur was met die oorskakeling na die oggendgleuf (foto 2), en sy vrou, Nance, se dogter Helen trou Saterdag op Brittaniabaai. Terwyl ek treur oor Nols, deel ek hierdie naweek ook in Philip – oud-kollega en al geruime tyd boonop Sabieparkmaat – se vreugde.)

(hvd)

MELKBOS-MAKIETIE

More uit Melkbos

Die drinklied uit La Traviata, die drinklied uit The Student Prince, Eitemal se Drinklied – weet nie hoe dit is nie, maar die lied en die vers wat die vreugde van ‘n glasie besing, vind nog altyd by die uwe aanklank.

Saterdagaad het Eitemal (die oud-Kollegeman W.J. du P. Erlank) se Drinklied in my kop gedraai: Nog ‘n skuinse grappie, kêrels/nog ‘n glasie wyn/en die gore werklikhede/sal in mis verdwyn. Vonkelwyn en skaterlaggies/ sprinkel oor ons leed/ tot ons al die muf miserie/om ons heen vergeet. Styf gearm huis toe slinger/onder singlawaai, wyl die dronk ou wêreld om ons/ rondomotalie draai.

Skuinse grappies was volop toe ‘n 30-stuks oud-redaksielede van die dagblad Die Volksblad ‘n Kaapse makietie hier op Melkbos hou. Glasies wyn is van vroeg middag geklink – ook vonkelwyn (Villieria Blanc de Blancs se Cap Classique nogal, het ek agterna op die etiket gesien). Skaterlag het opgeklink. Telkemale, Veral van een tafeltjie in die hoek waar bekende grapjasse saamgebondel was.

“Gore werklikhede” het inderdaad in mis verdwyn voor die oorheersing van sentimentele onthou-jy-nogs uit die jare 60, 70 en 80 in Bloemfontein en elders waar die manne en vroue om den brode vir DV geswoeg het … van die grootste uitgelatenheid was oor Pieter Cronjé se briljante personifikasies van Piet Koornhof, ook al lank onder die langboompies.

Huidige vreugdes was o.a. die teenwoordigheid van Henriette Loubser, nuwe redakteur van Huisgenoot, dag en datum presies 25 jaar nadat sy, toe nog Henriette Anderson, as groentjie by Die Volksblad ingestap het. Een van die “amptelike foto’s” was van haar tussen haar eerste nuusredakteur, Philip van Rensburg, en eerste redakteur, die uwe. ‘n Getekende botteltjie Hanepoot het sy weg na haar gevind.

Op ons eie André J. Brink (Brinkie) is ‘n heildronk geklink. Hy het die vorige dag sy assistent-redakteursdeur by Huisgenoot finaal toegestoot. Vanoggend kon hy laat slaap.

Johan van Wyk, geliefde skrywer van die rubriek Stop van Myne, se eerste boek, So was dit, is op pad – ook daaroor is die glasies gevul. (Terloops, twee deurlugtige skrywerslede van die groepie kon nie teenwoordig wees nie … niemand minder nie as Deon Meyer en Chris Karsten!)

Jan en Nancy Oosthuysen vier oormore hul 53ste troudag – “ja, skink maar nog enetjie, asseblief”.

Nie aan alle “gore werklikhede” kon ontsnap word nie., Een van die Volksbladders het in die VanD’s se gasteboek geskryf: “‘n Laaste voorreg. Lief vir julle almal.” Sy bewoënheid was tasbaar. Hy is ‘n baie siek man.

Die fees is gereël deur die sogenaamde “Omgeegroepie” van oud-Volksbladders wat spontaan gegroepeer het en vier keer ‘n jaar saam kuier. Die naam kom van een van hulle wat soms ‘n botsing van datums met sy “Omgegroepie” ondervind het. Toe doop hulle hulle self terstond ook “Omgeegroepie”. Nou moet hy kies watter “Omgeegroepie” hy wil bywoon!

Om die okkasie des te meer luisterryk te maak, is van die beskikbare “ou mense” ook genooi. ‘n Spesiale verassing vir die meeste was dat daardie groepie 70-plussers ingesluit het die klassieke, pyprokende Boesmanlander Jan Scholtz en sy vrou, Marlene, uit Bloemfontein. Hulle kuier tot more by kinders in Durbanville.

Van 15:00 af het alle paaie na Melkbos begin lei, en is die aangename reuke van lam op die spit deur die windjie aangedra. Toe die weste verkleur in een van die skouspelagtigste sonsondergange in ‘n lang tyd en die wind wat die hele week woes geruk het, soos op ‘n teken ophou waai, was dit of dit spesiaal se gereël is: skitterende choreografie.

In een vername opsig is van Eitemal se Drinklied afgewyk. Niemand het, na my wete, styf gearm huis toe “geslinger” onder “singlawaai” nie. Almal is vol lewensvreugde, maar tog stemmig (en stewig) hier weg. Philip van Rensburg is sonder komplikasie deur ‘n padblokkade. Johan van Wyk het wel op die R300 ‘n hond getref. Dit was die hond se skuld. Blerrie hond. (hvd)

KYKIE DEUR ‘N EK-BRIL

Middag uit Melkbos

Op Woensdag 2 Januarie 1963 het ek as groentjieverslaggewer by Die Volksblad ingestap. By die 50ste “herdenking” van die begin van my formele Persloopbaan (net twee maande ver) het ek oor my loopbaan uitgewei in ‘n dokument van amper 35 bladsye wat ek ‘n kykie deur ‘n ek-bril noem.

Die ek-bril voorveronderstel vooroordeel en dalk oordrewe simpatie vir my onderwerp! Ander sal dinge dalk heel anders onthou – in Volksblad se eeufeesboek, “‘n Lewe van sy eie”, was ‘n nogal pynlike voorsmakie daarvan!

Geen spesifieke teikengehoor was in gedagte nie. Eintlik was dit ‘n oefening vir eie vermaak, maar darem ook met die HvD-versameling by Ineg (PV 677) in die agterkop.

Ek deel dit ná nadenke graag met blogvriende. Die pad daarheen is via my webblad www.hennievandeventer.com Op die tuisblad is ‘n skakel vyftig jaar.

Ek het nerens doelbewus oneerlik probeer wees nie. Ek draai ook nie doekies om nie.
Ek aanvaar dat nie elke aspek oral guns sal vind nie.

Die relaas sal natuurlik nie vir almal ewe relevant, ter sake of boeiend wees nie. Om dit te lees, is harde werk. Die maklike uitweg as dit te lank, te vervelig of te onhoudbaar raak, is om die wysvinger vinnig in te span om daaraan te ontsnap.

Wees gegroet. (hvd)

MAG MAAR SKRYF

Johan van Wyk

More uit Melkbos

GESOEK: Die beste skrywer in Afrikaans van wie geen boek op die rak pryk nie. Sou so ‘n ambisieuse soektog wel geloods word, het ek ’n kandidaat wat kwalik as wenner getroef sal kan word.

Ek stel bekend: my oud-kollega Johan van Wyk, jarelange skrywer van die rubriek Stop van Myne in ons ou koerant, Die Volksblad, en deesdae, in sy aftreedae op die Strand, ‘n energieke bydraer tot veral Weg en Landbouweekblad, wat vir hom ‘n lojale gevolg opgebou het met sy heerlike humor en meesleurende nostalgie oor tye wat verby is.

‘n Ander oud-kollega, Herman le Roux, het met sy kenmerkende deeglikheid ‘n lys saamgestel van die ryke oes skrywers wat Die Volksblad deur die jare opgelewer het. Amper sestig Voksbladmense het saam byna 600 boeke geskryf, het Herman bevind.

Onder hierdie skrywers is die sukses-stoomroller Deon Meyer en kroonprins op die terrein van spanning, Chris Karsten. Van die Volksblatters is met die hoogste pryse bekroon, soos C.M. van den Heever, Jaap Steyn, Pieter W. Grobbelaar en die nimlike tweeling Meyer en Karsten. Gaan krap gerus by Volksblad.com.

As ‘n ontbrekende ding soos ‘n seer vinger met ‘n dik verband kan uitstaan, is dit Johan van Wyk se naam. Ondanks skitter-bydraes oor enige onderwerp onder die son het niemand ooit die blinkste juwele gaan uitpik vir bundeling nie. Ek het dit ‘n slag in my Volksblad-dae by Tafelberg aanbeveel en Danie van Niekerk het saamgestem. Iemand moes egter die rug buig en die werk doen. Daardie iemand het nooit na vore gekom nie.

Ek is vieserig vir myself dat ek nie die een of ander tyd self die taak onderneem het om Johan se beste werk in boekvorm te verewig nie – hoewel ek darem in van my boekies flertsies van veral sy kostelike humor-stukke opgeneem het: onder andere die hoofstukke Stop van Syne en Hef ‘n Bedpan in my eerste boekie Scoops en Skandes. Dis egter maar skrapse erkenning vir so ‘n ster. Ohopoho!

Johan is in die 90’s met die FAK-prys vir Afrikaanse joernalistiek bekroon. Daarvoor eis ek darem vir myself ook krediet op, want ek het die boer van “Kafferrivier” (soos dit destyds geheet het) by Henno Cronje opgevysel. Maar “die Oom” het meer pryse verdien, soos Naspers se Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit – dalk selfs die eksklusiewe Markus Viljoen-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Zandra van Wyk

Ek weet sy elegante vrou, Zandra, het ‘n plakboek gemaak van sekere van Johan se rubrieke, onder meer briewe aan sy kinders wat hy in Stop geskryf het. (Hy het aan vele mense “briewe” geskryf soos aan ‘n bloedjong Anneline Kriel se Tukkie-kêrel, Jacques Malan, vir wie hy mooi beduie het hoe om so ‘n mooi meisie te vry – maar tevergeefs!)

Van dié plakboek het ek te hore gekom toe ek nou die dag een van sy roerende Stoppe – een oor ‘n plaasbegrafnis – raak-Google. (Tik net in: plaasbegrafnis, die volksblad, johan van wyk). Hy het dit in Oktober 2001 geskryf toe ek in my laaste skof as redakteur was – mintag maar ek is ingenome met so ‘n mooi stuk wat in my koerant verskyn het.

Dit begin so: “Van al die mooi dinge in hierdie gebroke, maar tog mooi wêreld waarin ons leef, is ‘n mooi plaasbegrafnis op ‘n mooi lentedag ná vroeë reën vir my een van die mooiste.

“ Hartseer ook ja, natuurlik, maar dis ‘n mooi soort hartseer. Amper half lekker.”

Ek gaan nie verder aanhaal nie, want dan sal ek nooit kan ophou nie. Ek beveel egter aan dat iemand daardie plakboek gaan bedel/steel en as boek publiseer. Toe, uitgewers, hier’s ‘n geleentheid. Carpe diem!

Ewenwel, ek het die betrokke Stop vir Johan gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?” Ek het bygevoeg dat in ‘n kompetisie om sy mooiste skryfwerk te vind die traantrek-mooi plaasbegrafnis-rubriek voor sal hardloop saam met ‘n stuk oor sy verswakte 85-jarige pa se afskeid van sy vervreemde geboortgerond by Calvinia, wat onlangs in Landbouweekblad was.

Daardie stuk het ek onlangs na vriende geblits met die opmerking: “Dit moet van Johan van Wyk se mooiste skryfwerk wees.”

Sy meesterlike atmosfeerskepping blyk onder meer uit hierdie paar paragrafies:

“By sy vader, my oupa, oorlede in 1921, se eenvoudige graf, nou net ‘n hopie uitgewaste grond, omring deur n stukkende heining met n skewe hekkie tusssen gannabosse, het hy sy hoed afgehaal, met sy een hand bewend op die verweerde tuisgebeitelde kopklip van ruwe sandsteen moeisaam op ‘n knie neergesak en ‘n handvol grond opgetel. Trane het oor sy wange gerol.

“Ruimte en tyd het skielik stilgestaan, die ewigheid ‘n vlietende werklikheid. Dit was een van die roerendste, hartseerste, en tegelyk mooiste, mees deernisvolle oomblikke van my lewe.

“Toe gooi ek vir ons n Mellowoodjie vir versterking en toe eet ons die koue skaapnek daar langs die ou voorvader.”

Hierdie wellewende ex-Calvinianer, ex-Vrystater mag maar skryf. Iemand wat nie saamstem nie?

SOLIED SOOS GRANIET

Sarel Venter (70) met sy “koerant” waarin jy alles vir soet-(verjaardag)-koek kon opeet!

More uit ‘n bibber-Bloem

Toe Oom Blackie Swart 80 word, het die SAUK ‘n verslaggeefstertjie na De Aap gestuur. “Hoe voel u nou op 80?” wou die blonde dingetjie weet. “Baie sterker as 80 jaar gelede,” was sy spitsvondige antwoord.

Dié storie het ek gisteraand by die viering van my kollega Sarel Venter se 70ste in ‘n bitterkoue Bloemfontein vertel om die punt te maak dat iemand van 80 – des te meer iemand van 70 – in die algemeen gesproke, veel meer mens as iemand van 0! Sy glipsies is ook minder katastrofies, tensy dit glipsies van dieselfde aard as ‘n baba s’n is!

Tog is 70 klaarblyklik die een of ander grens wat jy oorsteek. Die oomblik dat jy 70 word, raak jy die teiken van grapjastery oor oud word, waarvan die neerbuigende hovaardigheid van sommige ‘n nogal irriterende element is. Party windbolle glo 70 beteken jy is versukkeld, finish en klaar. Wel, Sarel is allesbehalwe versukkeld op 70. Hy is nog die man wat hy altyd was, iemand na wie op 70 opgesien, watwou van bejammer word.

In my heildronk het ek ook ‘n storie vertel oor my oud-onderwyser Johan Theodorus Claassen wat een van die slotte was in Avril Malan se seëvierende Springbokspan in die Britse eiland in 1960. Vir hom het die afrigter, Boy Louw, op daardie toer gesê: “Clasie, as jy in die span is, voel ons veilig. Daar is vastigheid.”

Dit is ‘n pluimpie wat Sarel ook deur en deur verdien, het ek die teenwoordige vriende meegedeel. Waar Sarel Venter in die span is, was nog altyd vastigheid; daar is dit solied soos graniet; dinge sal nie sommer net lostorring nie. Jy voel altyd veilig in die wete dat hy is waar hy is.

Soliede Sarel, wou ek hom noem omdat dit so mooi allitereer. Maar dit laat nie aan Sarel reg geskied nie. Rotsvaste Sarel pas beter.

In sy hoofartikelkommentaar as assistent- en adjunk-redakteur was sy oop kop en stewige hand ‘n kernelement. Sarel kon ‘n beginselstandpunt waterdig stel en helder formuleer. Oor kerklike sake was hy ‘n top-kommentator in die Afrikaanse joernalistiek. Veral een hoofartikel uit die tsoenamitye van die 80’s onthou ek goed. Dit was oor die getuienis van die sogenaamde Silverton-193, ‘n klompie reaksionêre NG-leraars, ná ‘n saamtrek in Silverton om mekaar teen die “liberaliste”, ook in die media, op te klits. Dié hoofartikel (natuurlik anoniem uit Sarel se pen) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse N.G. Sendingkerk, in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge.”

Sarel was inderdaad as meningsvormer ‘n pilaar in ‘n dekade van Afrikaner-verwarring en -verskeurdheid. Ongelukkig kry sulke bydraes van formaat deesdae skaars erkenning. Hierdie hulde tel ongelukkig nie meer so vreeslik nie. Ek is ook ‘n “has-been”. Ek bied dit nogtans met ‘n lekker hart aan. (HvD)