SOMMER ‘N SUURPRUIM?

More uit Melkbos

Mooi staaltjie op vanoggend se boekeblad in Die Burger oor dr. Albertus van Rhyn se afwyking van ‘n voorbereide toespraak terwyl hy Hoë Kommissaris (ambassadeur) in Londen was. Naas Steenkamp (oud-“laventelpister”/lid van die diplomatieke diens) vertel daarvan in sy boek “Op ‘n galop na Buckingham-paleis”, wat deur Martie Retief geresenseer word.

In die toespraak, voorberei deur Steenkamp, sou die HK (deesdae ambassadeur) uitwei oor Suid-Afrika se pad vorentoe onder apartheid. Hy steek toe die toespraak in die sak, met dié woorde: “I can’t see what my secretary wrote here”. Hy begin toe die grap vertel van Cleopatra wat in die woestyn is en Marcus Antonius wat aan haar tent kom klop. Cleopatra vra: “Who’s there?” Marcus Antonius antwoord: “Lady, I did not come to make a speech”.

Dieselfde gehoor, toe skaterend, is ingelig oor boererate. “Niks is beter as suurpruim nie as ‘n mens dalk sukkel om ‘n stiff upper lip te hou.” Van Rhyn het aan die einde staande applous gekry.

Darem jammer Martie (en seker dan ook Naas Steenkamp self) noem hierdie joviale Namakwalander net ‘n “eertydse politikus”. Hy was dit inderdaad ook, maar hy was 23 jaar redakteur van my ou koerant, Die Volksblad, in Bloemfontein. Van 1923 tot 1948. Meer joernalistieke bloed in daardie are as politieke bloed, sou ek reken!

Oor wie se skuld dit is dat die arme Volksblad (soos hy al jare heet) nie altyd raakgesien word nie, sal ‘n mens kan debatteer, maar hy word taamlik gereeld misken. Sondag was in Rapport ‘n korreksie oor die verkeerde antwoord op ‘n leidraad in sy Blokkiesraaisel waarin Volksblad ook aan die kortste ent trek. Die antwoord wat verlang word is dat Die Burger die oudste Afrikaanse koerant is. Hy is natuurlik nie. Daardie onderskeiding behoort aan Die Volksblad/Volksblad, wat sy ontstaan as Het Westen op Potchefstroom gehad het. Daar het hy in 1915 Het Volksblad geword. Sy rolpers is in 1916 per ossewa na Bloemfontein gebring op advies van genl. C.R. de Wet – romantiese storie.

Volksblad het dus in 2004 al sy hondertal gehaal; Die Burger (en die Nasionale Pers) se eeufees is eers in 2015. En amper ‘n kwart van daardie eerste 100 jaar was Albertus van Rhyn in die stoel (ek en Bart Zaaiman saam vir ‘n tweede kwart!).

Die 12 jaar dat ek in Bloemfontein redakteur was, van 1980 tot 1992, ag ek nog altyd as goue en gelukkige jare. Daardie koerant het veel om te roem. Sy veelbewoë geskiedenis verdien nie om onder die mat ingevee te word nie. Of is ek nou sommer ‘n “suurpruim”?

Naskrif: ‘n Raaispeletjie vir lesers wat Die Volksblad en sy mense ken: wie’s wie op Charl Marais se eeufees-spotprentjie? (HvD)

VURIGE VINGERS

More uit Melkbos

Wie het raakgesien die naamlyn by drie vergeelde Huisgenoot-artikels oor spoke wat Saterdag in “By” as illustrasie gebruik is by Johannes de Villiers se artikel oor die donker dinge onder Afrikaners in die 1800’s is dieselfde as die naam van ons eerste Staatspresident van die RSA?

Einste, C.R. Swart, die Huisgenoot-bydraer, en Charles Robberts Swart, latere president van Suid-Afrika, is een en dieselfde mens.

Min mense weet dit, maar Swart, wat Minister van Justisie was in Malan en Verwoerd se Kabinette, was in sy jong dae joernalis (ook cowboy in die VSA, maar dis ‘n ander storie).

Touens, ek en Swart was verlangs “kollegas” – hy was in 1936 twee maande lank redakteur van Die Volksblad. Ons deel verder die reputasie van “vurigheid”. Sy “vurigheid” op een bepaalde dag, 16 Januarie 1936, kon ek op my vurigste egter nooit ewenaar nie.

Swart was daardie dag besig met ‘n heftige aanslag op die tikmasjien toe die Volksbladgebou in die latere Voortrekkerstraat (en nog later Nelson Mandelarylaan) skielik begin skud.

Swart het self vertel: “Op ‘n warm somermiddag sit ek en hoofartikel skrywe. Dit was blykbaar ‘n vurige en aggressiewe een, want meteens begin die vensters te ruk en te rammel terwyl die gebou waggel en bewe. Na ‘n vyftal sekondes besef ek eers ‘n vreemde gedoente was aan die gang.

“Toe ek by die kantoordeur uitstorm, sien ek net meisiekinders die gang afhardloop, en al wat gewerk (of gedut) het, storm die gebou uit na die grondverdieping die straat in.

“Dit was ‘n aardbewing wat ons so skrikgemaak het. Dit het mooipraat gekos om almal weer terug op kantoor te kry.”

Die storie van die vurigste hoofartikel in Die Volksblad se geskiedenis is opgeteken in my eerste boekie, “Scoops en skandes” (Tafelberg, 1993).

Swart se kort redakteursloopbaan het nie uit die lug geval nie. Hy het van 1927/28 tot 1933 al ’n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” vir dié koerant behartig. As jong politikus was hy vir ‘n rubriek, “Parlementere Praatjies”, verantwoordelik en het ook Saterdag-hoofartikels geskryf.

Sy plaas buite Brandfort se naam was “De Aap”. Dat die goedige “Oom Blackie” ‘n aap was, kon jy egter nie van hierdie veelsydige man sê nie (HvD)

* Die joernalis Johannes de Villiers het ‘n boek oor spoke, spiritiste, sektes en goëlgeeste geskryf – wonder of dit hom vir die titel “spookskrywer” laat kwalifiseer!