Jul 10, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
BEGIN Januarie 1963 – amper sestig jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap. ‘n Leeftyd by en naby koerante is daardie dag ingelui.
My formele loopbaan by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede – het darem nie sestig jaar geduur nie; net 36 jaar. My verbintenis met koerante strek egter veel langer, omdat ek as beurshouer al van 1958 af ‘n Naspers-jas dra, en omdat ek in my aftrede, sedert einde 1997, steeds aktief tot Nasperspublikasies bygedra het.
As studentewerker het ek aan die einde van 1961 as Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad waargeneem – die 20-jarige moes aan die diep kant leer swem. Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.
As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.
As nuusredakteur (Die Volksblad en Beeld) kon ek my amper ‘n dekade lank as joernalis ten volle uitleef en bestuursvaardighede begin slyp.
Tussen 1974 en 1980 is ek na Beeld as eerste nuusredakteur van die nuwe koerant, Later het ek assistent-redakteur geword. Beeld se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen.Met my terugkeer na Bloemfontein in 1980 het ek eers ten volle besef wat dit vir my beteken het.
‘n Jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, het sy eie eise gebring, ook vir my gesin. Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Dit was ook uiters vervullend en leersaam.
Met my aanstelling as redakteur van Die Volksblad in 1980 is ‘n droom vervul. Op ouderdom 39 was ek weer redakteur soos ek op skool was in 1957 (eerste leerlingredakteur van die Volkie-jaarblad) en op Tukkies in 1961 (redakteur van die studenteweekblad Die Perdeby). Die keer was egter die ware Jakob: ‘n dagblad.
Die Volksblad was tot einde Februarie 1991 ‘n middagkoerant. In ‘n stal van oggendkoerante was dit ongerieflik en duur – ‘n komplikasie in ‘n tyd van ekonomiese druk. Ná ernstige besinning is met verrassend goeie gevolge na die oggendmark geskuif. Sirkulasie het lewendig reageer. Die koerant se geldsake het ietwat verbeter.
Dat gemeenskapsdiens ‘n goeie koerant onderskei, was nog altyd een van my credo‘s. Voor my tyd, ná my tyd, maar bepaald ook in my tyd is vele mooi tradisies in Die Volksblad se lesersgebied uit daardie geloof gebore. Meer so as elke ander koerant het D.V. se vaderskap van sulke tradisies hom diep in sy lesers se harte laat inkruip, glo ek.
Op ander plekke is voorbeelde van D.V. se formidabele gemeenskapsbetrokkenheid volledig opgeteken. Ek beperk my hier tot net twee witbroodjie-“kinders” van my era: die Matrieknooiwedstryd en die Kunsmark. Eersgenoemde het in sy nuwe gedaante van Matrikulant-van-die-Jaar-kompetisie in 2010 sy 30ste bestaansjaar gevier. ‘n Boompie wat ons in 1980 geplant het, het geil gegroei.
Een van die koerant se beste geskenke aan die gemeenskap in daardie jare was Die Volksblad-Kunsmark wat in 1982 gestig is. Mense het in groter getalle as rugbyskares op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom om te kyk, geniet en te koop. In ‘n stadium was iets soos 1 600 uitstallers geregistreer. Nasionaal is ons kunsmark as een van die beste, kleurrykste en florerendste gereken.
Anders as die Matrieknooiwedstryd is hierdie boompie wat in die jare 80 geplant is, ongelukkig nie goed versorg nie. Van verwaarlosing het dit gekwyn …
In die tyd het Die Volksblad al hoe meer op die nasionale toneel na vore begin tree. Van die koerant se menings is oral kennis geneem, ook op TV en in Engelstalige koerante.
Toe Ton Vosloo teen die einde van 1982 moes Kaap toe as kroonprins vir Lang David de Villiers, is ek aangekeer om in sy plek terug te kom Johannesburg toe. Aan die een kant was by my ingenomendheid, selfs opgewondenheid. Tog het twyfel geknaag. Nadat ek reeds voorlopig ‘n huis aan die Rand gaan uitsoek het (in Victorypark langs Linden), het die gesinsomstandighede die deurslag gegee. My besluit om in Bloemfontein te bly, is nie oral toegejuig nie. “Die Advokaat” het sy wrewel nie verbloem nie.
Later het die geleentheid twee keer gekom om Rapport se leisels oor te neem. Ek was nooit vreeslik lus vir ‘n terugkeer na Doornfontein nie, hoewel dieselfde tweestryd as destyds met die Beeld-toenadering tog teenwoordig was. Maar ek het bly ekskuse uitdink en koes. Uiteindelik het ek formeel “nee dankie” gesê
Van buite die mediakring het twee toenaderings gekom. Geeneen is ooit ernstig oorweeg nie. Albei was hoogstens vir my interessant.
Eers het ‘n afvaardiging van Bultfontein (Tokkie se tuisdorp) gekom met die versoek dat ek my as die Nasionale Party se kandidaat vir die Volksraad in die kiesafdeling Winburg beskikbaar stel. Die vooruitsig om in die agterbanke te gaan sit en koukus-dissipline te handhaaf, was nie aantreklik nie. Ek het my besoekers ingelig ek verkies die onafhanklikheid van ‘n redakteur. .
Louis Botha, Administrateur, met wie ek ‘n vriendskapsverhouding gehad het, het my daarop vertroulik ‘n pos as L.U.K (lid van die Uitvoerende Komitee) aangebied. Weer wou ek nie byt nie.Ek was 12 jaar lank redakteur. Die dag toe ek, einde Maart 1992, die deur van Die Volksblad se deftige redakteurskantoor met sy swaar ou meubels (stinkhout en Birmaanse kiaat) en donker houtpanele teen die mure vir laas agter my toetrek, was ek diep dankbaar oor die onuitspreeklike voorreg wat my gegun was om by daardie baie spesiale koerant die leisels te hou
Om die redakteur van ‘n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis dag vir dag op ‘n reuse-skerm voor jou verbyrol. In die jare 80 het die tempo en intensiteit van daardie geskiedskrywing ongekende vlakke bereik! Met probleme, teleurstellings, foute en al was dit vir my ‘n fassinerende era.
Al die herinneringe flits helder voor my verby terwyl ek die nuus moeisaam verteer dat Volksblad (wat ná my tyd die voorsetsel “Die” in sy naam afgegooi het) net as digitale produk gaan voorbestaan. Sy d ae as papierkoerant is getel. Sy tenk is leeg, soos sy huidige redakteur dit stel.
Van my oud-kollegas beleef die nuus positiewer as ekself. Van hulle begin al drome droom oor ‘n nuwe toekoms sonder papier. Oor hul gesindheid van doodkry is min, is ek bly en dankbaar. Wat my persoonlik betref, is ek stukkend. Ek probeer dit nie verbloem nie. Die wond sal nie gou genees nie.
Vir my bly papier koning.
Jul 9, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
My hart is nog te stukkend oor die lot van my geliefde Volksblad – wat nou deur die magte en owerhede van die teenswoordige Naspers (of Media24 as u dan wil) op ‘n digitale syspoor gerangeer word – om ‘n blog oor my gewaarwordinge aan te durf. Ek beperk my tot ‘n kort teruglik.
Vier, vyf jaar gelede was daar ‘n soortgelyke inisiatief, gedryf deur dieselfde mnr. Ishmet Davidson wat nou uitvoerende hoof van Media24 is. Koerantmense in murg en been soos Ton Vosloo en Salie de Swardt was toe nog in direksies. Hulle en ander nugterdenkendes kon stem dik maak en walgooi. Dit het egter toenemend duidelik geword dat die gedrukte koeran top geleende tyd leef.
Bob van Dyk, Nederlander wat Naspersbaas geword het, het trouens al gewaag om te voorpel dat koerante dalk vinniger op pad uit is as wat deurtrapte koerantmense soos ekself verwag het. Wat Die Volksblad betref, was mnr. Van Dyk helaas toe reg. My eie insigte is as wensdenkery ontmasker.
Maar die kort terugblik:
Op 18 Oktober 2012, net agt jaar gelede, het ek ‘n taamlik uitvoerige dokument opgestel waarin ek my lewenslange verbintenis met die Pers, soos ons geslag ons maatskappy gemeensaam genoem het, deur ‘n sogenaamde ek-bril in oënskou neem.
By koerante was in daardie stadium opnuut ‘n verkleining van redaksies op die agenda, wat onder meer behels dat veral 60-plussers in die gedrang kom – al hul opgepotte ervaring ten spyt.
My gevolgtrekking het ek toe so geformuleer: “Dit tref hierdie waarnemer dat koerante se hande kwalik gesterk word vir hul uitdagende stryd in ‘n uiters medingende omgewing, waarin die sogenaamde nuwe media, sosiale media en watse media nie nog nie steeds al hoe dieper inkeep. Hul hande word, soos dit vir my lyk, eerder agter die rug vasgeknoop. Dit word ‘n uitmergelende, ongelyke stryd. “
Dit bring my nog ‘n stappie terug: tot ‘n versugting aan die einde van my afskeidstoespraak by my aftrede begin 1998 oor die “bewaring van ‘n goue ewewig, asseblief tog, tussen die nuwe tegnologie en kernpublikasies wat al geslag ná geslag hul gemeenskappe getrou dien, immer waaksaam die sosiale orde in stand help hou en lank die ruggraat van die maatskappy was.” Daardie goue ewewig is helaas nie bewaar nie.
In intrinsieke waarde was dit in 2018 al ‘n geheel ander Pers as wat ek gegroet het. Naspers was toe al ‘n internasionale sakereus. Wyd gereken, op elke terrein op die voorpunt, skitterend suksesvol.
“Vir die geweldige internasionale deurbrake, astronomiese omsette, reuse-winste en vuurpylaangedrewe aandeleprys kan ‘n mens net bewondering uitspreek. Entrepreneurskap, waagmoed, inisiatief en visie is lewendig en gesond in die Heerengracht,” het ek geskryf. “Hoede af vir ‘n nuwe leiersgeslag!”
Maar, het ek gevra, en dit is my eintlike punt, is Naspers dan nie juis nou ryk genoeg om sy so belangrike gedrukte media sommer uit sy agtersak te fortifiseer om hul rol as “moedersmelk” vir die volk te bly speel nie?
Vandag is Naspers selfs nog ryker en daardie agtersak nog dieper. Om ‘n gerekende, eerbare titel in die hoofstroom van koerante soos Volksblad in stand te hou ter erkenning van waar sy eie wortels vandaan kom, behoort vir Naspers ‘n geleentheid te gewees het om aan te gryp. As hy maar net die lewe deur ‘n ander bril as ‘n geldbril wou beskou.
Nov 20, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Mens wens jy kon haar loopbaan statisties in perspektief plaas: deur byvoorbeeld hoeveel voorblaaie met impak uit haar skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld sy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel jonger kollegas sy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het. Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld bied van haar diens aan Volksblad. Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet jy egter maar op aanvoeling staatmaak. Myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van statuur.
Van Nancy – wat vandag op 84 oorlede is – het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas. Jaap was nie verkeerd nie. Hy het net die tydsduur onderskat.
Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, was sy een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om jonk te bly. Haar belangstelling in die koerant en sy mense – haar mense – het nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – selfs enkeles wat nou nog in diens is – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra.
Dit was vir die Van Deventers ‘n vreugde om die laaste klompie jare hier in die Kaap die Bloemfonteinse konneksie voort te sit. Ons het altyd in ‘n gees van kollegialiteit lekker saam met die Oosthuysens gekuier en herinneringe oor die goeie ou dae opgediep. Die leemte sal lank ‘n diep seer wees.
Jun 5, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ollie (links) en HvD (regs) aan Die Volksblad se subtafel in die jare 60 . Wat ‘n staatmaker was hy nie in daardie stoel nie!
O liewe magtig, o allakragtig, die Koning van Kwinkslae is more tagtig! Hartlik geluk, Ollie Olwagen, of Goëthe Olwagen , as ‘n mens nou formeel wil raak.
Olllie bereik more, 6 Junie, die magiese syfer waarvan Die Bybel so ‘n mooi woord spreek as hy die ouderdom onder loep neem.
Ek het Ollie in die 50’s as sub by Die Volksblad leer ken. Hy was verstrooid maar briljant – ‘n kopskrywer (skrywer van opskrifte) soos ek nie weer na hom gesien het nie . Later by Huisgenoot is hy met Naspers se Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit vereer. Hy was waarskynlik die kreatiefste Nasperser van sy era en het daardie prys – ook groter erkenning – deur en deur verdien.
‘n Keer by Die Volksblad was op bladsy een vir absoluut net ‘n kort eenreëlkop plek vir ‘n stoepberiggie op die voorblad oor die prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ‘n opvoering onder die blomme toegegooi is. Ollie se skepping: “‘n Blom-Fonteyn”.
Moshe Dayan, die bekende Israelse politikus met ‘n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ‘n artikel oor daardie voorliefde in Huisgenoot was Ollie se kop: “Moshe het ‘n oog vir oudhede”. Ene L Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.
Niemand kon in sy loopbaan by hom kers vashou as dit kom om met woorde te speel nie. Ollie was inderdaad iemand met ‘n kop vir koppe … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, iemand wat sonder veel kopkrap goeie koppe kon skryf. Niemand kan steeds by hom kers vashou as hy op Facebook sy slimmighede uitstort en sy woordvaardigheid vertoon nie
Hy is die vader van Mieliestronk op CD –Rom – die so onontbeerlike hulp met skooltake wat derduidende kinders (en grootmense!) seker al moes geraadpleeg het. Hy is ook die vader van vele blokraaisels wat in SA publikasies verskyn.
Sy jongste missie is om wikipedias van senior oud-kollegas op die internet te plaas. Gaan kyk gerus na Ton Vosloo se wikipedia. Mooier kan daar nie wees nie.
Want daar is net een Ollie Olwagen. Punt.
Nov 15, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Tokkie en Oom Gert (Foto Herman le Roux)
Toe ons ons geliefde ou stad Bloemfontein op die N1 nader, sak my moed in my skoene. Die vullishoop langs die pad stort soos ‘n klein Vesuvius oor sy rande en die rommel-lawa stoot tot diep in die begraafplaas langsaan. Plastieksakke kleef aan grafstene. Lyk bra troosteloos.
Later sien ek heelwat wat opbeurend is, al is Bloemfonteiners in die algemeen taamlik bedruk oor agteruitgang in hul stad. Ons sien o.m. steeds netjiese, boomryke woonbuurte, ‘n “nuwe”, uitgestrekte Langenhovenpark, deftige nuwe geboue (veral motorhandelaars, kantore en restaurante) en ‘n eersteklas opset op Naval Hill met die reuse-Mandelabeeld en die uitsig-restaurant wat teen die noordelike hang gebou is.
Ja maar, sê die gasvrye Volksblad-vriende by wie ons tuisgaan, Sarel en Liesbeth Venter, praat van ‘n wit olifant! Oor wie die restaurant moet bedryf, is ‘n hele toutrekkery aan die gang. Geen lig in daardie tonnel nie. Intussen staan die plek maar maar leeg – ‘n monument vir lompe wanbestuur.
By Volksblad, die koerant waar ek oor drie dekades twee vervullende skofte van 12 jaar elk agter die rug het, word die veterane wat kom reünie hou, gul ontvang. Teen die mure hang foto’s uit ons almal se eras. Ons klink ‘n glasie vonkelwyn onder o.m. ‘n foto van die voorblad op 6 September 1966, die dag toe dr. HF Verwoerd in die Volksraad vermoor is. Ek was toe die (jong) hoofsubredakteur. Die voorblad was my werk. Die opwinding van koerant-maak bruis sommer weer in die verkalkte are.

Ek en Marlene by “Jan se boom”.
‘n Mens voel jy het tuisgekom in die koerantgebou met al sy herinneringe, al het die tegnologie ook hoe vernuwe en die kantooropset daarmee saam redelik ingrypend verander. Die statige redakteurskantoor met sy donker houtpanele en duursame meubels is ‘n gelukkige uitsondering. Lyk of ek gister daar uitgestap het, al was daar al ses opvolgers sedert ek in 1992 die deur agter my toegetrek het.
Die huidige generasie beur swaar teen die winde van ‘n digitale uitdaging wat in my tyd nie bestaan het nie. Maar die huidige redakteur, Gert Coetzee, en sy span is vol moed en dryfkrag. Jou eie vrese lyk sommer ietwat oordrewe in die lig van soveel positiewe energie.
Die Saterdag hou ons reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum. Die oudste onder die oudstes is die 95-jarige Gert Terblanche. Hy was nuusredakteur toe ek as student in 1958 by die koerant instap. Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel. Kollega Herman le Roux neem Saterdag ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (selwers al 71). Pleks dat ek hom gaan vra het of hy nog dink my keuse was in die kol!
Ai, was dit heerlik om soveel ou kollegas weer van aangesig tot aangesig gesien – die meeste spierwit grys, party met kieries maar almal stralend van vreugde oor die weersiens van tydgenote wat saam in die juk getrek het.
Op ‘n strategiese kolletjie naby die museum staan ‘n fiere jong vaderlandswilg. Dit is “Jan se boom” – daar geplant ter ere van Jan Scholtz, kleurryke Boesmanlander, wat twee jaar gelede oorlede is. Die naald van die Vrouemonument toring ‘n entjie agter toe die blou lug in. Vir my ‘n aandoenlike oomblik toe ek by “Jan se boom” ‘n arm om Marlene kan slaan.
Darem nie net Volksblad-mense gesien in die Volksblad-naweek nie. Die Vrydagmiddag het so twee dosyn ander ou vriende saam met my en Tokkie ‘n koppie koffie geniet: bure, politici, regslui, weduwees, ‘n oud-leraar, die stigter van verskeie goeie Bloemfontein-goeters soos die Friday Club … Party van hulle sien mekaar net as ons kom kuier, hoor ek tot my verbasing. Maar, natuurlik, ons raak almal ouer.

Tokkie en Meshack.
Ons gaan groet ook tuinman Meshack by die Universiteit vir Tegnologie waar hy nou werksaam is: ‘n vreugdevolle herontmoeting. Die dekade van 80 was onder meer vir die Van Deventers die dekade van Meshack. Hy was ‘n ware karakter wat nie net in ons lewe kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens vol lewenvreugde en vrolike humor.
Hy en Tokkie (wat mekaar altyd met ‘n kenmerkende “joe-hoe” geroep het) wil die een breër glimlag as die ander glimlag toe ek hulle laat regstaan vir ‘n foto.
“Ons tuin”, lyk nie goed, waarsku Meshack kopskuddend. En waarlik, die verwaarlosing is nogal ‘n skok – soos daardie “klein Vesuvius” langs die N1, die hartverskeurende swart verbrande historiese stadsaal, en die gemors soos molshope oral in Koningspark, waar die Kunsmark in die 80’s onder Tokkie se hand tot so ‘n sieraad vir die stad gegroei het. Dese en gene hou nou op ‘n Sondagmiddag daar piekniek. Vullisdromme ontbreek blykbaar of word nie juis benut nie.
Gelukkig is die erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal die Sondagoggend ‘n sielsverkwikkende ervaring. Daaroor skryf ek later ‘n aparte blog.