Mar 1, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kom ons gesels verder oor die komediant, sanger, akteur, omroeper, komponis, draaiboekskrywer, goëlkunstenaar en buikspreker Piet Pompies. Vandag se tema: die oorsprong van die onderskatte vermaaklikheidskunstenaar se naam … ene wat nogal vir moedswillige misverstand vatbaar is.
Op die beste gesag het ek dit waaraan die amper legendariese grapjas – wat op 30 Desember 1992 op 70 in ‘n motorongeluk naby Grabouw gedood is – sy ongewone verhoognaam te danke gehad het: natuurlik aan die outydse pompie-toeters op sy bors. Hy het altyd daarmee op die verhoog lawaai gemaak. Toet-toet.
Kyk na die foto hierby: so ‘n toeter-affêring hang om sy nek. Kyk ook na die voorblad van sy dogter, Elsa, se boek oor hom by gister se plasing: ditto. Klink dus logies.
My bron vir hierdie verklaring is SAUK-TV. Kry die inligting op sy webblad. SAUK-TV bedank op sy beurt Marius de Vos van IFM 102.2 daarvoor.
Hierbo verwys ek na die moontlikheid van misverstand. Laat my dan aanknoop by ‘n mooi storie in Elsa se boek, “Piet wat Pompies was”.
Sy vertel van ‘n KKNK ‘n paar jaar gelede waar kondome met “stout” Afrikaanse name bemark is. Een van die produkte is die naam gegee Piet Pompies.
Die Van der Byl-kinders was opgeruk en wou met alle geweld prosedeer. Ma Betsie, ‘n wyse en verstandige vrou, het hulle gekalmeer. Die naam Piet Pompies het volksbesit geword, het sy geredeneer.
Buitendien: Pa Piet (Pieter) sou waarskynlik gevlei gevoel het dat sy naam op die manier verewig is!
(Op die SAUK-TV-webblad lees ek Piet (Pieter), aanvanklik ‘n klerk en later stasiemeester by die Spoorweë, in sy lewe ook eienaar van ‘n troeteldierwinkel en perdeslagter was. Amanda Botha het laat weet dat hy op skool op Jan van Riebeeck vir die eerste span rugby gespeel het. Waarlik ‘n man van vele ambagte en talente.)
Feb 29, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Piet Pompies: Baie mense, veral van die nuwer generasies, reken waarskynlik dis sommer ‘n duimsuig-naam soos Jan Salie, Jan Rap, Piet Snot of die Daantjie van die kalwerhok wat in uitdrukkings en idiome in die volksmond voorkom.
My generasie se mense weet darem “mnr. Pompies” was ‘n mens van vlees en bloed: ‘n grapjas wat ook kon liedjies skryf en sing; ‘n voorste vermaaklikheidskunstenaar wat selfs ook radioprogramme gemaak en draaiboeke geskryf het. Ons onthou liedjies soos “Haar pa wou nie gaan slaap”, “Antjies die rooibruin hen”, “Kaboemielies” en “Sousboontjies”.
Maar slaan die meeste dood oor wie Piet Pompies werklik was. Trouens, tot verlede week was ek ook oor sy identiteit totaal in die duister. Toe gee Jakkie Groenewald, akteur en oud-joernalis, vir my ‘n boekie present met die titel “Piet wat Pompies was” (Malan-media, 2018) deur Piet se dogter, Elsa (Dixon) van der Byl.
Nou weet ek (dalk die eerste keer?) wie die man agter die alias Piet Pompies was: Pieter Carel Nicolaas van der Byl, ‘n spoorwegman wat tot stasiemeester gevorder het voor die verhoog-gogga hom gebyt het.
Piet is in 1922 gebore en het in die Depressiejare grootgeword. In die laat 1940’s het hy in Koffiehuiskonserte begin optree wat deur die destydse SAUK uitgesaai is – dit was vermaaklikheidsprogramme onder die titel “Vrolikheid in die Koffiehuis”.
Van 1950 tot 1962 het hy 12 jaar lank vir die destydse Springbokradio ‘n weeklikse halfuurlange program geskryf vir “Caltex Kaskenades”, waarin hy saam met Pip Freedman (onthou jy nog?) opgetree het. Hy was ook verantwoordelik vir die rolprent “Next Stop Makouvlei”.
Piet was vaardig met die pen. Afgesien van gereelde artikels in tydskrifte en koerante, het hy ook draaiboeke geskryf en selfs van die musiek daarvoor gekomponeer. In die jare toe hy radioprogramme geskryf en konserte gehou het, het hy ongeveer 280 liedjies gekomponeer en in 1952 het hy 14 plate gemaak. Hy is in 1992 oorlede.
(Toe ek die woorde van die vermaaklike “Haar pa wou nie gaan slaap” begin lees, kom alles meteens terug. Toets gerus jou geheue (effens verkort):
Die dogter van Tant Hessie was maar lank en skraal,
haar hare hang in lokkies en die kleur is vaal.
As ek vir haar gaan kuier en dis donkermaan
Dan gaan haal sy gou ‘n kersie en steek dit aan.
Haar pa wou nie gaan slaap …
Ons sit toe op ‘n bankie by die agterdeur,
sy vat toe aan my handjie om my op te beur.
Ons kyk toe na die sterretjies wat helder skyn,
toe sien ek ‘n beweging by die wasgoedlyn.
Ons sit toe by die hekkie in die groentetuin.
Ek druk toe sag ‘n soentjie op haar lippies fyn.
EK sien haar in my drome in ‘n mooi trourok.
Toe sien ek ook iets anders in die hoenderhok.
Ons dink toe aan ‘n plekkie in die vrugteboord,
Na ons lank gesels het, vra ek die ja-woord;
Sy glimlag toe vir my en ek was ingenoom.
Toe sien ons roer die blare in die perskeboom.
Die liewe tante nooi ons toe na die kombuis.
Sy sê toe: Nefie, goeienag en maak jou tuis
En toe ek later opstaan en my hoedjie vat …
Toe sien ek daar loer iemand deur die sleutelgat!)