HAND IN ‘N EMMER

Dink jy jy is onvervangbaar, heer/ dame? Vanoggend rede gehad om die versie uit my “pampiere” te gaan uitdelf. Dis brutaal reguit en presies in die kol:

Sometime when you’re feeling important,
Sometime when your ego’s in bloom,
Sometime when you take it for granted,
You’re the best qualified man in the room.
Sometime when you think that your passing
Will leave an un-fillable hole,
Just remember this simple example,
And see how it humbles your soul.

Take a bucket and fill it with water,
Put your hand in up to your wrists,
The hole that you make when you leave it,
Is the measure of how much you’ll be missed.
You may thrash all you want when you enter,
You may stir up the waters galore,
But just wait for a moment
And it is still the same as before.

The moral of this is quite simple,
Just do the best that you can.
But please always remember
There is no irreplaceable man

– Saxon N. White Kessinger, 1959

HOEKOM SO STIL OOR BIRD ISLAND?

Twee maande het verstryk sedert die Bird Island-bohaai losgebars het. So eensklaps soos dit op die nasionale agenda verskyn het, het dit in die sand doodgeloop. Is ons wyser as wat ons was?

Klaarblyklik “nee”. Van die “nog onthullings” wat telkemale uit soveel monde belowe is (o.a. deur die uitgewer Tafelberg en die medeskrywer Chris Steyn) het dadels gekom.

Geen maar geen slagoffer van die beweerde wandade is opgespoor nie, ondanks vurige pleidooie en speurtogte (soos dié van wyle Mark Minnie en verslaggeefster Maygene de Wee kort voor sy dood).
Geen krieseltjie getuienis is opgediep wat die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n “pedofielnetwerk” koppel nie, buiten dat hy – met die wete van sy kantoor en gesin! – op ‘n militệre helikopter na Bird Island is vir die opening van ‘n ghwanokaai.
T.o.v. Magnus Malan is geen aks gevorder nie om bewyse te vind vir wat in ‘n kollektiewe reaksie van Weermag-generaals tereg as “kwaadwillige bespiegelings, omstandigheidsgetuienis en verregaande afleidings” afgemaak is.

Sleutelkarakters, die seun wat in die agterlyf geskiet sou gewees het, die dokter agter sy wonderbaarlike herstel en die matrone wat omgekoop sou gewees het om hom in die geheim te versorg, het soos skimme verdamp. Jy hoor van hulle maar jy sien hulle nie.

Sinspelings dat agter Minnie se dood iets meer kon skuil as die klaarblyklike – die wanhoopsdaad van ‘n verwarde siel – het by wilde raaiery gebly. Geen forensiese of ander ondersoek het iets verdags opgelewer nie.

‘n Mens moet dankbaar wees dat die onheuglike sage nou dood soos ‘n mossie is. Dit is egter verontrusend dat die onreg aan onskuldiges skynbaar dan ook maar net begrawe en vergeet word. ‘n Berouvolle apologie vir ‘n kavalieragtige swartsmeerdery is die minste wat van elke betrokene verwag kan word.

 (Ek is dankbaar teenoor Volksblad en Netwerk24 vir die plasing van die briefie vanoggend. Hulle het Barend du Plessis en Maygene de Wee se name verwyder. Ek meen egtr dit is ter sake om dit, soos in die oorspronklike brief, hier te behou.)

‘N STER VERSKIET – ‘N BLINK BOOG

Ter ere van Pik Botha wat vanoggend oorlede is – ‘n uittreksel uit die hoofstuk “Pikante kant van Pik” in my jongste boek, “Laatoes – Kykweer van ‘n Kanniedood-koerantman” wat ook by Naledi aanlyn bestel kan word. 

'n Dinee by Boet Troskie: die uwe, Pik Botha en Boet.

‘n Dinee by Boet Troskie: die uwe, Pik Botha en Boet.

 Die diep spore wat die legendariese minister in sy loopbaan getrap het, is geskiedenis. Hy was ’n beroepsdiplomaat, ambassadeur en die langsdienenende minister van buitelandse sake in die wêreld; iemand wie se plek in die geskiedenis onder meer oopgekerf is deur sy deurslaggewende rol as die dryfkrag in die proses wat tot Namibië se onafhanklikheid gelei het.

Min mense kan, soos hy, daarop aanspraak maak dat sy biografie, insluitend die bronnelys, eindnota’s en register, amper 1 000 bladsye beslaan; ’n ware “magnum opus” waarvoor die geskiedenis die biograaf, Theresa Papenfus, volgens een resensent, “’n guns verskuldig is”.

My gesprek as koerantman met sy eerste vrou,  Helena, in die jare 70 was meer oor die mens Pik, die man wat sy liefhet: die terggees met die aansteeklike humorsin, die geesdriftige veerpyltjiespeler, die musiekliefhebber, die romantikus, die harde werker.

Die Pik met die klein hartjie wat homself amper verongeluk het om ’n verkleurmannetjie te red; wat in die middel van die nag sou opstaan om hom na die sterfbed van ’n mindere amptenaar te haas; die vrolike een wat die gesin soggens lewenslustig wakker sing met “Opstaan, opstaan, dis ’n lieflike dag …”

Sy gaan haal toe  ’n plakboek uit ’n donker eikehoutkas: ’n onbekende literêre skat. Haar eiesoortige man se eiesoortige kortverhale. Oor dié pikante kant van Pik kon jy die koerantman met ’n veertjie omtik. Dit blyk by die deurblaai dat 21 kortverhale uit sy pen in die gesinstydskrif Huisgenoot en die destydse Die Byvoegsel (gewilde naweekbylae tot Nasionale Pers se dagblaaie) verskyn het; gemiddeld amper een per maand. Vir die Perskor-publikasie Avontuur en Liefde het hy vier bydraes gelewer en vir die koerant Die Nataller een. In die plakboek is verskeie briewe van verhaleredakteurs. Hulle pleit vir meer stories van die talentvolle jong skrywer.

Op 14 Julie 1955 skryf WA Boozaaier van Huisgenoot namens die redakteur: “Hoekom was u so lank stil? Ons betaal deesdae beter vir goeie kortverhale en hoop om somaar binnekort weer van u te hoor.”

Net een Pik Botha-storie het nooit verskyn nie, sy heel eerste. Daarin het hy die Russiese leier Joseph Stalin ’n hartoorplanting laat ondergaan. Dit was in 1954. Eers dertien jaar later, in 1967, het daardie verbeeldingvlug ’n werklikheid geword. Prof. Chris Barnard het in die Groote Schuurhospitaal, Kaapstad, die sterwende Louis Washkansky se siek, ou hart uitgeslag en met die springlewendige hart van ’n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall, vervang.

“Darem te fantasties en onwerklik,” was Die Byvoegsel se oordeel oor die verhaal, “Die waarde van ’n hart”. As troos is darem bygevoeg: “U het ’n lekker styl … kan net ’n bietjie meer ter sake wees.” Wonder wat die redakteur se kommentaar in 1967 sou wees. Of hy toe nog met ons was, weet ek nie.

Die kadet-diplomaat los toe maar die wetenskapfiksie en wend sy “lekker styl” aan vir smeulende liefdesverhale, oorlogstories en moordrillers; almal uit te ken aan sy kort, kragtige verteltrant en die verrassende kinkels. Pik hou nie van “happy” of onrealistiese eindes nie, het mev. Botha opgemerk.

Een verhaal wat treurig eindig, is “La Golondrina” (Die Byvoegsel, 9 Oktober 1954) oor ’n terugkerende soldaat wie se gedagtes deur daardie mooi lied teruggevoer word na sy ontmoeting met ’n Italiaanse sangeres, Sideritta Pella, wat kort daarna in ’n bomaanval sterf.

Die verhaal wat die skrywer self, volgens mev. Botha, uit ’n taaloogpunt as sy beste beskou het, is “Oorsaak en Gevolg” (Huisgenoot, 5 Maart 1956). Dit is die storie van ’n prokureur wat ’n boemelaar word nadat sy jong vrou met haar baas ’n verhouding aangeknoop het. Aan die einde sterf die boemelaar, en die jong Pik beskryf dit byna tasbaar soos volg:

“Dan verdof sy denke stadig. Die pyn word minder. ’n Magtige iets het hom beet en voer hom weg, verder en verder … ’n Ster verskiet – ‘n blink boog. Dan is alles verby. ‘n Wens is vervul.”

Verreweg sy langste storie, “Loftus Versfeld en Daarna” (Huisgenoot, 14 November 1955), is ’n speurverhaal oor ’n Tukkiedosent se betrokkenheid by ’n sinistere uraanprojek en die dood van ’n knap jong student wat daarby ingesleep word.

Die pragtige studentenooi wat in die verhaal sterf, Madelein Hechter, vriendin van die skurk, lok die speurder uit totdat hy op haar verlief raak. ’n Romantiese oomblik tussen haar en die speurder word soos volg beskryf:

“Sy het op my skouer geleun. Haar liggaam was warm tussen my hande, en ek het verlore gevoel toe ek in haar oë die sterre sien wat nog altyd vir my onbereikbare spikkels was, ver teen die donker, vreemde ewigheid van die nag, en toe was haar lippe voor my, vol diep geheimenisse, soos ’n verre see wat al die leemtes in my lewe, al die verlange vir ewig sou stilmaak.”

“Vintage” Pik Botha.

YSKASTE VIR ESKIMO’S

Johann Kriegler se verwyt teen Ton Vosloo kom daarop neer dat Naspers nie yskaste aan Eskimo’s probeer verkoop het nie. Hy verwag dat ons super-verligte koerante moes uitgee  in ‘n tydperk toe super-verligtheid tot ‘n baie klein puntjie van die leserspiramide beperk was. Noem sy resensie in vanoggend se Rapport dus spitsvondig, indringend, deeglik, slim, enigiets; dis ongelukkig net te onrealisties om deur my geslag koerantmense ernstig opgeneem te word.

Selfs die Engelstalige mark van die turbulente 80’s bewys my punt oor die uitdagende politieke klimaat waarin koerante hul werk moes doen.  Die Rand Daily Mail, vlagskip van politieke super-verligtheid, het in 1985 met reuse-verliese soos ‘n klip gesink. Nie Naspers met sy beweerde hansie-my-kneg-gesindheid jeens die Nasionale Party nie, maar die giftige anti-regerings-persgroep SAAN (SA Associated Newspapers) kon, ondanks top-joernaliste, professionaliteit van die produk, internasionale status en geldelike rugsteun deur mynreuse soos Anglo American, nie die Mail langer laat werk nie.

By sy heengaan het die bekende politieke kommentator Patrick Laurence die RDM in Amerika so besing: “For the past 25 years the Mail has opposed apartheid and championed the right of South Africa’s subordinate blacks to participation in the lawmaking process, to social and economic justice, and to equality of opportunity.” Inderdaad. Niemand kan fout vind met mnr. Laurence se grafskrif nie.  Maar toe was juis daardie super-verligte “opposition to apartheid” en “championing of rights of subordinate blacks” in die finale instansie sy ondergang – dit was eenvoudig net te prematuur.  Selfs die Engelse mark was nie vir sy soort voorpos-politiek ryp nie.

Kom ons kyk nou na die Afrikaanse mark.  Hier maak Vrye Weekblad in 1988, drie jaar nadat die RDM daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad. Hy doen plek-plek uitstekende werk met deurvorsende ondersoekende joernalistiek, soos die onthulling van Vlakplaas (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe politieke aanslag verower verreweg nie die mark nie. In 1993, na  net vyf stormagtige jare, word ook sy hortjies gegrendel  – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie ingesteldheid se dag nou aangebreek het.

Hoekom? Natuurlik was daar duur hofsake en ander struikelblokke. Maar die een harde waarheid staan soos ‘n paal bo water: dat Vrye Weekblad net te ver verwyder van die gewone Afrikaanse leser was om volhoubaar te wees.  Idealisme het dalk polsend in sy are gepomp; maar nooit die lewensbloed van elke koerant nie, naamlik lesers en adverteerders.  Sy sirkulasie het by iets soos 11 000 vasgeval, dalk 13 000.  Te min, te min.

Vrye Weekblad het ons hoofstroomkoerante graag gekoggel.  Maar wat doen Naspers toe (en nogal op my advies)?  In sy finale oorlewingstryd word ‘n senior oud-amptenaar, wyle Jan Prins, na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt met raad en daad te gaan ondersteun.  Die Pers het al die koste gedra en Jan hom boonop ‘n salaris betaal. Selfs sy pogings kon die finale gordyn egter nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad noodgedwonge 1993 sy deure sluit.Te prematuur vir sy mark, soos die RDM agt jaar tevore vir sy mark te prematuur was.

Die Jan- Prins-geskiedenis is nie wyd bekend nie.  Max du Preez, vader van Vrye Weekblad, hou ook niks daarvan dat dit op die lappe kom nie. Toe ek die Pers se diskrete hulp enkele jare gelede in ‘n brief in “By” onthul, was Du Preez so gesteurd dat hy my in ‘n volblad-artikel in dieselfde publikasie van ‘n kant af geloop het. Ondanks sy beskuldigings oor hoe ‘n vrot redakteur ek dan was, het Die Volksblad in my redakteurskap nie ondergegaan soos Vrye Weekblad in syne nie. Maar dit daar gelaat.

‘n Werklikheid van daardie tyd wat kritici van Afrikaanse koerante gerieflik vergeet, is die opkoms van sterk regse weerstand teen politieke hervorming in deursnee-Afrikaner-geledere.  Kom ons neem die goeie ou Vrystaat as voorbeeld waar die politieke ewewig in ‘n stadium op ‘n mespunt was.

“Swart Woensdag”. So het ‘n politieke rubriekskrywer 6 September 1989  gedoop.  Dit was die dag toe die Konserwatiewe Party ampertjies die Vrystaat ingepalm het. In ‘n ontnugterende swaai van ses persent  na regs het die KP ses uit 14 setels verower. ‘n Sewende was in die weegskaal weens ‘n dispuut. Iemand, wie weet ek nie, het na die uitslag met galgehumor verklaar die Vrystaatse parlementere koukus van die NP kon daarna, baie gerieflik, sommer in ‘n telefoonhokkie vergader!

Teen 1991 het dit nog slegter gegaan.   In daardie jaar is in Ladybrand en Virginia in tussenverkiesings verpletterende nederlae gely. Die KP het ook in munisipale tussenverkiesings suksesse ingeryg.

Wat was dan aan die gang? In my oë was dit ‘n klaarblyklike ‘n vingerwysing dat weerstand teen die FW-de Klerk-koers (en amper des te meer die koers van Die Volksblad) in die Vrystaat dieper gewortel was as wat vriend of vyand ooit besef het.  Hoe iemand hierdie verharding in gesindhede kan rym met hul versugting vir heroïeser hervormingspolitiek is vir hierdie oud-redakteur raaiselagtig. Tensy ons die pad van die RDM en die Vrye Weeblad wou gaan.

Ek sou nog kon vertel van nagtelike doodsdreigemente, viktimiserings en selfs fisieke aanrandings uit regse oorde op koerantmense, net omdat hulle hul werk doen.  Dalk is dit die stof vir ‘n volgende blog.

Ten slotte dan:

Die volle waarheid oor Naspers se totale rol in die politieke omwentelinge van die 90’s moet nog geboekstaaf word. Ons koerante het hulle onderskei met beriggewing en rigtinggewende  kommentaar, meen ek. Ook op bestuursvlak is uit ons pad gegaan om na nuwe leidsliede uit te reik. Welwillende kontak is met die here Mandela, Mbeki en andere bewerkstellig.

Teen die vroeë 90’s al is ingesien dat op die mediatoneel veranderinge sou moes kom. Hoe groter die verskeidenheid stemme, des te beter sou dit wees vir die nuwe demokrasie. Met dié insig is City Press (met sy sterk ANC-oriëntasie) uitgebou tot winsgewendheid en het die Pers teen groot koste ‘n reeks koerante gemik op die agtergeblewe gemeenskappe tot volwaardige onderneminkies help uitbou.

‘n Reeks gemeenskapskoerante is op die been gebring, plek-plek ook met swart mede-eienaarskap. Alternatiewe koerante (soos South in Kaapstad) is teen tegmoetkomende tariewe gedruk en versprei. Ruim hulp is verleen aan die Independent Media Diversity Trust om opkomende onafhanklike blaaie te finansier. Daar is nie gevra wie gehelp word en watter standpunte hulle bevorder nie. Steun is toegesê aan Allister Sparks se Institute for the Advancement of Journalism om ‘n nuwe generasie joernaliste vir ‘n nuwe generasie media op te lei.

In hierdie konteks, feit vir feit naspeurbaar in betroubare bronne, dink ek werklik nie Naspers verdien sulke verwyte soos dié van Johann Kriegler nie.

LEKKER STUKKIE LUISTER

Gerekende boekeman Danie Botha, oud-uitgewer by Tafelberg, het my die eer aangedoen om “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in die program “Boekkeuse” op Fine Music Radio te resenseer. Werklik ‘n warm, gesellige resensie, en boonop perfek voorgedra. Dankie, Danie, vir ‘n lekker stukkie luister.  Hierby Danie se vriendelike woorde:  

Laatoes-1000-500x778

Ek vind Hennie van Deventer se Laatoes ’n wonderlik meevoerende werk. Die subtitel lui: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman. Dit bestaan uit 57 kort tekste; elkeen iets tussen 3 en 7 bladsye lank. Louis Esterhuizen het gehelp met die samestelling van die bundel.

Die boek is ideaal vir ’n gewag van allerlei aard of om te lees waar jy ook al mag reis. Die prosa en meestal speelse verse is deurgaans maklik verstaanbaar. Hennie laat jou lag, maak jou nostalgies of aangedaan. Dit is hoofsaaklik tekste om iets te herdenk of hulde aan mense te bring. Die jongste tekste is van 2017 en daarna gaan ons verder en verder die verlede in tot by Hennie van Deventer se aftrede by Naspers op 15 Desember 1997 en die afskeidsgeleentheid op 19 Februarie 1998.

Ons beleef sy studentejare by Tukkies in Pretoria. Hoe ’n man regkom met die dames en by ’n aanstaande skoonpa. By hom en die digter en later regsgeleerde Toon van den Heever “pomp dieselfde koshuisbloed: Ou Kollege”. Toon het inspirasie gekry vir sy grootse gedig “Beeld van Oom Paul” toe hy op ’n aand te laat uit was vir die laaste trem terug kampus toe. Hy moes voetslaan, verby Prinsespark en die begraafplaas waar die standbeeld destyds gestaan het. Toon se woorde: “Grou in die maanlig rys die swaar kolos.”

Van  Deventer vertel baie oor sy jare by Die Volksblad in Bloemfontein. Hier het hy onder meer gehelp om die nuus van twee van die groot gebeurtenisse in ons geskiedenis uit te dra.

Danie Botha

Danie Botha

Die eerste: 6 September 1966. Dr. H.F. Verwoerd word vermoor in die parlement. Van Deventer is hoofsubredakteur. Hy vertel: “ʻStop alles!’ het ek skielik deur dun lippe geskreeu, en my sigaret sommer agterstevoor in my mond gestop, die kooltjie op my tong. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.”  Van Deventer vertel van ’n vroeëre ontmoeting met Verwoerd toe Van Deventer parlementêre verslaggewer was. Ook hoe Tsafendas altyd vir hulle as verslaggewers iets te ete van die kombuis gebring het. “Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!”

Die tweede gebeurtenis: prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Van Deventer gee kleiner besonderhede wat ’n mens dalk destyds nooit van gehoor of gelees het. Hoe die skenker Denise Darvall en haar moeder in Hoofweg, Observatory deur ’n jaagduiwel omgery is toe hulle die straat wou oorsteek om “by ’n geliefkoosde bakkery ’n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.”

In die boek is daar vele vermaaklike gedeeltes. Rubriekskrywer Johan van Wyk se “Stop van Myne” het ’n kwarteeu lank in Die Volksblad verskyn. Hoekom het hy homself “Oom” genoem? “Van Wyk het ’n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: ‘Dankie, oom. Dit was lekker.’”

Teen die einde van sy loopbaan word Hennie hoof van koerante in Kaapstad. Hy erken dat finansies ’n gedugte taak vir hom as oudredakteur was, hy “wat tot vandag toe nie ’n balansstaat behoorlik kan lees nie”. Maar toe kom Naspers se “prins van syfermense” tot sy redding:  finansiële direkteur Eric Wiese. Eric Wiese is op 4 Augustus 2017 vermoor. Hennie huldig hom en beeld Eric ook as gesinsmens uit en gee voorbeelde van Eric se wyse mensekennis en sy spitsvondigheid.

Hennie vertel: “Een aand, in sy jongmansdae, maar reeds getroud, kuier Eric en ’n klomp ouens iewers, aan die kaart speel tot vroeg in die oggend. Toe hy die oggend vyfuur by die huis kom en saggies by die kamer probeer insluip, word Sannie, sy vrou, wakker en vra: ‘En waar kom jy nou vandaan?’ Waarop hy antwoord: ‘Nee, ek is op pad werk toe. Ek het vreeslik baie om te doen.’ En so is hy reguit terug kantoor toe, nog in die vorige dag se klere.”

Hennie van Deventer skrywe oor sport, bv. oor die verskil tussen ou Gerrie Seerhandjies Coetzee en Kallie Knoetze die Bek van Boomstraat; oor motors en veral oor ervarings in sy geliefde Sabie-wildtuin. Kyk hoe gee Hennie ’n beskrywing van ’n  ratel. Hy is lief om enumerasies te gebruik; dit skep iets dramaties en versnel die verteltempo. Jy moet ‘n ratel nie net taai noem nie, maar in alfbetiese volgorde: “aggressief, dapper, humeurig, manhaftig, meedoënloos, onvoorspelbaar, strydlustig, vasbeslote, verbeeldingryk, vreesloos en volhardend. ’n Ware ‘doodkry is min’ van die diereryk.”

En toe kom ek ’n gedeelte teë wat my bewoë gemaak het. Hy beskryf die NG Kerk op Philadelphia, hoe hy en sy vrou Tokkie ’n geestelike tuiste daar vind. Hulle ry vanaf hulle huis in Melkbos daarheen.

“Die kerk is ’n waardige huis van die Here. Dit het ’n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en ’n outydse preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop — ongeskend deur allerlei ‘orkesverhoë’ en ander nuwerwetsighede. Jy voel die gewydheid aan as jy instap. Dis die soort kerk waar ek tuis voel.” ( Ek sekondeer.)

Laatoes: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman deur Hennie van Deventer word uitgegee deur Naledi.