ANDER “DOMINEE TIENIE”

Danksy Dana Snyman se treffer-rolprent is “Dominee Tienie”  sterk in die nuus.

Ek het  ‘n ander “dominee Tienie” (eintlik “doktor Tienie) in lewende lywe geken: – dr. M.T.S.Zeeman, oud-leraar van die NG gemeente Berg-en-Dal, Bloemfontein. Opregte Christenmens gewees; ware herder van sy kudde; sout van die aarde. Sou vir hom deur die vuur loop.

 Dr. Tienie het in Berg-en-Dal een jaar amper sy honderdtal met preke behaal – 98 of so.  Party dominees raak “uitgebrand” as hulle die helfte minder preek.

 Hy was ‘n ware steunpilaar toe ons seun, Johan, op ses maande in die hospitaal beland het met diabetes mellitus; het later ‘n gewaardeerde huisvriend geword wat in 2000 saam met sy sagte vrou, Marie, op Melkbos kom kuier het, en by wie ons altyd by hul aftreehuis op Witbank aangery het op pad Wildtuin toe.

 In ons gasteboek het hy op daardie Melkbos-besoek geskryf geskryf: ” ‘n Dag om vir altyd te onthou.”  Vir my was hy “’n Man om vir altyd te onthou.”

 

 

JAARBRIEF UIT MELKBOS

Houthuiswinter2018(1)23

Liewe vriende

Desember is hier. Tyd vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand vir die jaar 2018.

Dit kon ‘n jaar van sombere nuus geword het met HvD se onverwagte viervat-hartomleiding en die langerige verblyf in die waakeenheid. Ook met George se verskriklike brande wat as’t ware tot by die voorstoepe van Johan-hulle se huis in Glen Barrie en skooltjie in Denneoord gekom het.

Gelukkig is daardie minder gelukkige dae sonder ernstige letsel by ons verby. Laat ons dus in dankbaarheid op die positiewe konsentreer:

Hier op Melkbos, op George en by Marisa-hulle in Welgemoed gaan dit relatief rustig en voorspoedig.  Die foto’s is van gesamentlike kuiers, met die Claassense by Boulders in die Wildtuin en met die Van Deventers by Buffelsjachtrivier, ‘n gerieflike halfweghuis tussen Melkbos en George.

Op George word die uitstekende werk van Mariza se suksesvolle Legacy Centre vir kinders met uitdagings voortreflik deur die gemeenskap ondersteun. Saam met ‘n indrukwekkende lys borge is verskeie ambisieuse projekte geslaagd van stapel laat loop.  Johan se trokwas-bedrywighede is vlot op koers, met goeie ontwikkelinge soos ‘n nuwe terrein vir sy Unitrans-kontrak (namens die skooltjie).  Migael besorg sy ouers verrassings en vreugde met sy vooruitgang.

In die Kaap gooi Brent kragte in by die Hoerskool Stellenberg waar die tweeling in hul eerste jaar as Stellies al, akademies en andersins, spore getrap het.  Hy is ‘n aktiewe lid van die beheerraad. Marisa het ná vele jare tuis ‘n oggendpos losgeslaan wat sy stimulerend vind. Thomas het as leier en skerpskutter-stelskopper ontluik. Hy en Jacob, ‘n gesogte klankman, laat met die bal die paaltjies spat.  Kleinboet Christopher is ‘n uitblinker met voordrag en herwinning.

Ek en Tokkie sien uit na ‘n somerbesoek aan Sabiepark, aanvanklik ‘n paar dae alleen saam met die flukse Christopher. Daarna kom die tweeling op hul eerste alleen-vlug, daarna Brent en Marisa.  Die swembadjie daar is nuut geverf. Lyk spiekeries. Ons gaan hom behoorlik inwy. Ná Sabiepark gaan ons kennis maak met die MSC Musica op ‘n vaart in Mosambiekse waters.  Vaar op die oseane word blykbaar ‘n familieding. Johan en Mariza was pas op die Musica. Die Claassense is geskeduleer vir  April.

Die Julievakansie was buitengewoon gedenkwaardig.  Drie aande in die private kamp Boulders saam met die Claassense was salig verby. Die tradisionele saamtrek van studentemaats uit die Kollegetehuis-era (nou College met ‘n Engelse C) was, presies 60 jaar ná ons eerste jaar in 1958, ook baie besonders hoewel, helaas, dalk die laaste in huidige vorm. Ons word nie jonger nie.

Vir my en Tokkie was dit ‘n voorreg om verskeie goue bruilofte en groot verjaardae van kollegas en vriende te kon bywoon. In die proses kon ons  in Bloemfontein en op haar heimat, Bultfontein, gaan kuier en op my ou Wes-Transvaalse spore terugloop. Welaangename herinneringe.  Onvermydelik gebeur dit ook al hoe meer dat ons vriende moet groet. Die jongste was ons dierbare Bloemfonteinse buurvrou vir baie jare, Annette van Rensburg. Sy en Tokkie was baie na aan mekaar.

“Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”, dalk my laaste boek, dalk ook nie, het nie juis die boekewêreld aan die brand gesteek nie.  Die boek het tog wel vreugdes gebring, soos ‘n uitnodiging na die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT), vriendelike resensies soos deur boeke-ghoeroe Danie Botha op Fine Music Radio en Litnet, ‘n besoek aan NALN in Bloemfontein, en ‘n in-diepte-onderhoud met Herman Lategan.

Wat die uwe  nogal plesier gegee het, is dat ‘n foto wat ek jare gelede van die Van Bredagesin van bylmoord-faam in Sabiepark geneem het, dwarsoor die voorblad van Die Burger geplaas is – die eerste keer in my koerante-verbintenis sedert 1958 dat so iets die ou man te beurt val.

Tokkie het, ná die onderbreking om (met onderskeiding) heeltydse verpleegster te speel vir haar kranke man, teruggekeer tot haar voltydse aktiwiteite van “manager of works” by Penguin Place en Melkbos-biblioteek se kampioen-leser.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense vir een en almal. Laat ons strewe tot die maksimum-kontak in 2019.

Hennie & Tokkie  

 

 

 

 

 

 

‘N VRIENDIN DUISEND

IMG_0001Op haar bereiking van die Bybelse baken van 70 jaar, het ek deur my albums gesif vir ‘n foto van ons gewese Bloemfonteinse buurvrou Annette van Rensburg vir haar verjaardagkaartjie.  Daardie foto wil ek vandag hier herhaal as huldeblyk by haar heengaan ‘n bietjie meer as drie jaar later op Kleinmond.  Die foto illustreer watter jonkheid van gees Annette lewenslank uitgestraal het.

Op die foto (hierbo) vat sy kortpad tussen ons huisies in die Addo-olifantpark op ‘n saamkuier ‘n stuk of nege jaar gelede. Ons was ‘n paar dae lank weer bure in Addo soos ons in die dekade 80 ‘n hele paar jaar lank goeie bure in Bloemfontein was.

Soos Annette op die foto kortpad vat met n ratse sprongetjie van hul stoep na ons s’n, het sy gelewe: altyd vol lewenslus en “sports”.  Sy het nooit gelyk – of gelewe – soos iemand wat 70 somers agter die rug het nie. Trouens, ‘n jeugdiger 70-plusser het ek nog nie raakgeloop nie, totdat haar gesondheid in Februarie begin agteruitgaan het. Dis ‘n jeudigheid wat hom, buiten in haar jong voorkoms, veral in haar avontuurlustigheid gemanifesteer het.

Een voorbeeld: Om die beroemde (berugte?) El Camino te stap. Diep in die sestig al, het sy met borrelende entoesiasme die uitdagende honderde kilometer met dapper en stapper afgelê, en haar vriende met opgewonde daaglikse rapporte kleurryk in die ervaring laat deel. Sy het haar man, Chris, saamgesleep – ‘n vermeldenswaardige prestasie in my oë. Ek haal my hoed af vir buurman Chris vir vele deugde (‘n gedugte braaier van vis, maar ook van enigiets anders – van frikkadelle tot kreef onder meer). Dat hy ‘n kranige stapper is, sou ek nie voor daardie epiese tog aan hom toegedig het nie.

Tokkie en Annette klink 'n glasie.

Tokkie en Annette klink ‘n glasie.

So vlugvoetig soos Annette oor daardie muurtjie op die foto geklouter het, het sy ook graag rondgeklouter in die Kogelberg by Kleinmond waarheen sy en Chris verhuis het na sy aftrede as vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein. In hul woonkamer was op die koffietafel altyd allerlei publikasies met gedugte roetes, wat my op elke besoek benoud laat wonder oor wat sy vir haar kuiergaste in die skild voer.

Maar eintlik was Annette se horisonne wyer. Sy was ‘n wêreldreisiger. Soos Tokkie dit stel: Sy was die enigste mens wat ons geken het, wat sowel die El Camino as Machu Picchu,  die “Verlore Stad van die Inkas”, op haar kerfstok het. Waar sy oral op die aardbol voetspore agtertgelaat het, en op hoeveel kontinente, moet ‘n formidabele bundel beslaan. Oral – soos met die El Camino en Machu Picchu – was  haar reise allesbehalwe doodgewoon.

Noem haar gerus ‘n student van reis, wat vooraf elke roete met die grootste deeglikheid bestudeer het. Dan  het sy haar skedule uitgewerk. Haarfyn. Geen bousel, rotsformasie, klip, boom of plant van betekenis sou sy oorslaan nie. Hoe antieker des te beter. (Sy het ook nie graag ‘n oudhede – of tweedehandse boekwinkel oorgeslaan nie, en het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om waardevolle dinge op stowwerige rakke uit te snuffel.)

Op ‘n tog deur Namibië enkele amper 30 jaar gelede het die uwe met daardie deeglike verkenningsvermoë deeglik kennis gemaak. Sy het my wat nog nie voorheen van ‘n ligeen gehoor het nie, o.m. behoorlik laat bontstaan met haar gretigheid om geen, maar geen, van dié groen, grys of geel organismetjies op geen rots of boomstam oor te slaan nie. Sy het ook nie, glo ek. Dit was nogal veeleisend!

Vir daardie toer het Annette ons reisplan uitgewerk – van Ais-Ais af oor Swakopmund en Khorixas, op Etosha toe en terug via Windhoek – wat waarskynlik selfs vir gebore en getoë Namibiërs talle verrassings sou opgelewer het. Sy het nie net elke afdraaipaadjie se bestemming geken nie, maar tot vooruit geweet waar op Luderitz ons die beste kreef in die hande sou kry. Dié het Chris in tierende wind die aand in die stort van die munisipale rondaweltjie tot perfeksie gebraai.

Perfeksie. Dis ‘n goeie woord om Annette se benadering tot enigiets te beskryf: van reis tot die kombuis. Ook aan laasgenoemde front was sy kranig. Daarvan kan hierdie gretige aansitter aan haar etenstafel (en verskeie sentimeters om sy middellyf) van harte getuig.

Annette was ‘n vriendin duisend. Vir haar twee dogters, Elana en Elindi.  Vir al haar nuwe vriende en al die oues, soos die Van Deventers wat langer as drie dekades die voordeel van haar vriendskap geniet het. Ek wonder hoeveel flessies vonkelwyn ons deur die jare saam geledig het. Ook ‘n biertjie op sy tyd.

Ons groet met diepe hartseer ‘n sprankelende, lewensblye, vonkelende vriendin. Ons doen dit in dankbaarheid vir soveel heerlike herinneringe wat ons altyd sal bybly.

DIE HOND KOM TERUG!

IMG-001‘n Goeie hondestorie is ‘n joernalistieke treffer – ‘n paspoort tot die voorblad. Dit staan in my hondeboekie,”‘n Vriend vir Altyd – Honderde Hondestories” wat in 2000 by H&R verskyn het.

Vandag is weer in Die Burger die storie van Millie wat in drie dae 40 km geloop het. Maar hoe ver kan ‘n hond stap en hoe lank kan hy op sy eie oorleef?

In “Vriend” is die storie van Lekkie, ‘n swart staffie, wat na ‘n motorkaping op Krugersdorp met net die son, maan en sterre as enigste bakens na sy huis in die distrik Cornelia teruggestap het – 700 km ver. Lekkie het 18 maande lank sy huis bly soek.

Daar is ook die storie van die Kroasiese hond Teddy wat tydens Zagreb se blitzkrieg van sy eienaars geskei geraak het. Die hond het hulle opgespoor na ‘n swerftog van sewe maande oor ‘n afstand van 600 km – oor bree riviere met min brue wat nog staan en militere frontlinies.

Ja, dis nie net die kat wat terugkom nie!

DUBBEL-EEUFEES VIR STILLE NAG

Dit is weer daardie tyd van die jaar dat Kersliedere in kerke se Kerssangdienste, by Kersmarkte, in skole-tablo’s, in winkelsentrums en in huise, op private musieksentrums, toenemend begin opklink tot en met 25 Desember.

Die kroonjuweel van Kersliedere bly Joseph Mohr (teks) en Franz Gruber (melodie) se “Stille Nacht” (“Stille Nag”/”Silent Night”). ‘n Mens hoop nie die wetenswaardigheid glip ongesiens verby nie dat die aangrypende gewyde lied vanjaar presies twee eeue oud is.

Die oorsprong is die klein dorpie Obendorf by Salzburg, Oostenryk.   Die eerste uitvoering was op Kersaand 1818 in die St. Nicholas-kerk in Obendorf (om die aand voor Kersfees “Kersaand” te noem en nie “Oukersaand” nie, is in die jare 60 as jong koerantman by my ingeprent).

Mohr was ‘n jong priester wat net die jaar tevore na Obendorf gekom het. Hy het die lirieke van “Stille Nacht” in 1816 geskryf. In 1818 het hy gaan aanklop by Gruber, onderwyser en orrelis in die buurdorpie Arnsdorf, vir ‘n melodie en kitaarbegeleiding met die oog die Kersaand-diens.

Die lied het dadelik inslag gevind, het in al hoe groter kring mense van amper alle nasies se harte verower, en is deur die twee eeue deur dosyne bekende kunstenaars en seker honderde onbekendes in alle genres opgeneem: van Pavarotti en José Carreras tot die Kosakkekoor tot Mimi Coertse ….

Die opname wat die septer swaai, is dié van Bing Croby (wat “White Christmas” beroemd gemaak het). Sy plaatopname (“single”) van “Silent Night” is die plaat wat die derde beste verkoper van alle tye was, lees ek op Google. Ook dat die lied in 2011 deur die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (Unesco) as ‘n “ontasbare kuluurerfenis) verklaar is.

In die Liedboek van die Kerk, daardie pragbundel met ‘n weergalose skat gewyde liedere (wat helaas hoofsaaklik ongebruik in huise stof vergaar), sien ek dat die Afrikaans teks van “Stille Nag” in 1978 deur Izak de Villiers en Attie van der Colff gewyig is. Dit is juis in die Liedboek wat haar na aan die hart lệ dat my vrou, Tokkie, die brokkie oor “Stille Nag” se dubbel-eeufees raakgelees het.

(Die bydrae verskyn vandag op Netwertk24 en in Volksblad se briewekolom.)