Sep 17, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die Bird Island-histerie het ‘n stille dood gesterf. Die land kan weer asemhaal, dankie tog. Maar wat gebeur t.o.v. al die valse bewerings en gerugte wat as’t ware op die markplein verkondig is? Word die skromelike onreg wat mense aangedoen is, eenvoudig maar begrawe en vergeet?
Enkele vrae verdien beslis antwoorde voordat afsluiting (“closure”) moontlik is, meen ek. Voorheen het ek al twee briewe oor die onderwerp vir koerante geskryf, en ‘n derde sal een te veel wees. As ek tog ‘n derde sou aanbied, sou ek graag ‘n klompie vrae aan die orde wou stel. Hier is net tien, wat tog ‘n goeie toets behoort te wees vir elkeen wat nog die Bird Islandstories glo of half glo:
- Watter ander krieseltjie getuienis verbind die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n pedofielnetwerk buiten dat hy – met die medewete van sy kantoor en gesin, let wel – op ‘n militệre helikopter na Bird Island gevlieg is vir die opening van ‘n ghwanokaai?
- Waarom dan te bang wees om die “derde minister” se naam te noem as jy so seker van jou saak is? Laat hom dan maar kom met ‘n lasteraksie!
- Waar is die “nog onthullings” (ook oor Minnie se selfdood) wat telkemale uit soveel monde belowe is?
- Waar is al die slagoffers van Bird Island heen dat geeneen in drie dekades na vore gekom het nie, selfs nou wanneer hulle so gesmeek en oral gesoek is?
- Waarom is geen saak by die polisie aanhangig gemaak nie en is hierdie verskriklike dade nie by die WVK geopper nie? Is ‘n mens nie moreel en regtens verplig om sulke ernstige misdrywe teen kinders aan te meld nie? Is versuim om dit te doen nie ‘n ernstige misdryf wat strafbaar is nie – vrae wat sekerlik ook geld t.o.v. Minnie se beweerde aanranders (die tweelingbroers wat by name genoem word?
- Watter bewyse/bronne het Chris Steyn vir haar jongste aanspraak dat Mark Minnie “gedwing” is om die weg van selfdood te kies? Wie het hom “gedwing” en hoe?
- Hoekom het Chris Steyn nie in haar 2006-boek, Publish and be damned reeds na die betrokkenheid van Magnus Malan en Barend du Plessis verwys as sy self nou loop en vertel dat sy in die jare 80 al daaroor ingelig is?
- Kan iemand die Babelse verwarring opklaar oor die seuntjie wat na bewering in sy agterlyf geskiet is? Tussen die medeskrywer van die boek, die skrywer van die voorwoord en ‘n kritiese resensent heers oor die nare insident en die identiteit van die slagoffer maar grote onklaarheid. In elk geval: hoe sou selfs Superman so ‘n skoot kon oorleef?
- Hoekom loop ‘n geneesheer wat dan so ‘n ernstige misdryf teenoor ‘n kind sou toegesmeer het, skotvry tussen sy druiweboorde, en word ‘n matrone wat dan omkoopgeld sou ontvang het om haar mond te hou, nie geskraap nie?
- Hoekom stel Chris Steyn haar nie eenvoudig net, soos genl. Johan van der Merwe, beskikbaar vir ‘n leunverklikkertoets ten einde haar geloofwaardigheid te beskerm nie, in plaas daarvan om uittartend te vra dat sy verkeerd bewys moet word?
As ek nie vir myself ‘n plafon gestel het, sou daar beslis ook ‘n vraag of wat aan die adres van die uitgewery Tafelberg en die media gewees het. As die nuwe etiek is om eers gerugte te publiseer en dan getuienis te loop soek, is elke mens mos weerloos.
Ten slotte: omdat in die onheuglike sage soveel naamloses gefigureer het, sou ek my brief onder die skuilnaam “Mnr. Z” wou skryf!
Sep 13, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Foto wat my diep roer, is gister deur matriekmaat Van Aardt du Preez van Potchefstroom op Facebook geplaas.
Johan Claassen, oud-Springbokkaptein, is in ‘n versorgingsoord in Pretoria opgeneem. Van sy ou spanmaats het hom kom ondersteun.
Hennie van Zyl, oud-Springbokvleuel, staan links. Regs langs Claassen is Avril Malan, ook ‘n oud-Bok-kaptein. Dan die ikoniese Frik du Preez. Hennie en Avril hou die ou grote uit Potchefstroom se hande vas. Die oord se katelsteile is duidelik sigbaar; ook die feit dat Johan Claassen pantoffels aan het. .
Claassen was my onderwyser op Volkies: ‘n bloedjong Oom Clasie. By hom het ek pak gekry, tot in matriek. Vir Hennie van Zyl het ek pragdriee sien druk in toetse, o.m. teen die All Blacks op Ellispark. . Avril Malan was ‘n rots. Vir Frik du Preez het ek op Loftus gesien “place, score en drop”.
Teen vanoggend was daar 370 “Likes” op my Facebookblad en kommentaar wat getuig van deernis en bewondering.
Dankie Van Aardt du Preez vir ‘n kosbare foto – al vee ek ‘n traan uit die oog.
Sep 11, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ek het die volgende hekelversie op Facebook geplaas:
Hoop nie ek’s nou
te krassie
maar smaak my
onder Rassie
is ons rugby nie
eens wat dit
onder Snorre
wassie.
Die antwoorde wys: Moenie met rugby spot nie; dis ernstige sake. Die manne het my geantwoord met statistieke en vele insigte oor hoekom Rassie sukkel om sy span aan die wenkant te kry. Daar is gesuggereer: Nou’s jy darem onbillik.
Ek vra toe: “Mense, hoekom so gramstorig, ek voel net ‘n bietjie orig? Dis net ‘n spotversie!” Kon eintlik gvra het: “Mense, hoekom die gramstorigheid oor net ‘n bietjie origheid so tussen al die gorigheid?”
In elk geval, nou weet ek om nie oor rugby ligsinnig te raak nie. Sal my dus weerhou van speelse aanmerkings soos dat die Grafsteensangers dringnd na Wellington ontbied is om die volkslied Saterdag voor die toets “damn sad” te sing!
Sep 9, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wyse woorde van die hoogs bekroonde historikus Herman Giliomee in Sondag se Weekliks in Rapport: “Die belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis (is) om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel.”
Amper 30 jaar gelede, op 5 Julie 1989, het pres, P.W. Botha in sy bastion, Tuynhuis, die ANC-leier, Nelson Mandela – fier en statig in ‘n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik ontvang. Ondanks alle vorige protestasies en kwalifikasies – die ANC-leier se afswering van geweld onder meer – het die Nasionale Party-leier begin praat met die ANC.
Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in Januarie 1981 voorgestel; agt jaar voor die ontmoeting in Tuynhuys, sewe jaar voordat Niël Barnard, hoof van Nasionale Intelligensie, se eerste, aanknopende gesprek met Mandela in Pollsmoor, en amper ‘n dekade voordat die internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 as aanstaande president uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.
Vosloo se baanbrekende kopskuif het Botha destyds met afgryse laat sidder. Hierdie verrassende oproep uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom het my, wat een van sy adjudante was, self ietwat onkant gevang, moet ek bely. Later sou ek telkens weer daaroor wonder: Hoe sou die geskiedenis kon verloop het as vroeër na Vosloo geluister is? Kon ‘n paar vrugbare jare nie daardeur gewen word nie?
Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ‘n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante ontkiem het. Wat die oproep wel was, was ‘n soort waterskeiding. Asof deur ‘n onsigbare krag aangedrewe, het koerante soos Beeld, Die Burger en Die Volksblad daarna al hoe sterker die pas begin aangee in ‘n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.
‘n Gedugte arsenaal ideologiese wette het nog die toekomspad versper. Bewysbaar uit koerant-argiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal – twee van hulle, Die Burger en Die Volksblad, nogal amptelike mondstukke van die NP – egter in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, dit konsekwent en toenemend hul taak gemaak om hierdie ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken te help begrawe.
En gee hom die eer: dr. Wimpie de Klerk, redakteur van Die Transvaler, die noordelike mondstuk van die party, het in hierdie opsig, in selfs dalk nog moeiliker omstandighede as sy kollegas van die Nasionale Pers, ook sy kant gebring.
Al van die tweede helte van die 70’s af, maar veral in die 80’s , is die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, toenemend krities onder die loep geneem.
Skermutselings tussen pers en party het gevolglik taamlik gereeld begin voorkom – soms skerp en bitter. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld, waar hy Ton Vosloo opgevolg het, was veral in die spervuur oor sy rondborstigheid. Oor die Groepssgebiedewet het hy bv. pront verklaar: “Skrap dit”. Ook oor Nelson Mandela het hy nie doekies omgedraai nie: “Die tyd het aangebreek om hom uit die tronk vry te laat.“
Onder sy kollegas het sy waagmoed vir Wepener die naam “Ysterman” verwerf. In Tuynhuys was daar egter met elke nuwe Wepener-sarsie beroering. Dit is hoe die naam “Kruithuis” destyds ontstaan het!
Later moes die damwal bars. Een na die ander hoeksteen-wet van apartheid is geskrap, onder meer ook die gehate Paswette. Toe hulle in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menigte wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is. Ook die hoofartikels daaroor word in argiewe bewaar.
Oor die verbod in 1988 op sir Richard Attenborough se omstrede rolprent “Cry Freedom” (oor die aktivis Steve Biko wat in 1977 in polisie-aanhouding dood is) was die Naspers-dagblaaie almal afkeurend. Premier Botha was erg gesteurd. Sy wens wat hy direk aan Ton Vosloo, toe besturende direkteur, oorgedra het, was: redakteurs moet hom bel en hom waarsku as ons van hom verskil en hom in ons koerante gaan pak. Die antwoord was eenparig: jammer, daarvoor sien ons nie kans nie!
Dit was die jaar waarin Botha later na joernaliste in die algemeen as “lunsrieme” sou verwys.
Koerante het nie net kritiseer nie, maar het ook kreatief en opbouend saamgedink, en dikwels op die voorpunt gedink, oor boustene vir die toekoms. Al verkennende is berge versit. Een pragtige voorbeeld van hoe ‘n koerant met sy skeppende denke as ‘t ware ‘n katalisator in die Groot Mirakel van Suid-Afrika geword het, is deur pres, Nelson Mandela aan sy tafelgenote onthul toe hy op 9 Oktober 1997 ‘n middagete tot sy eer by Naspers in Kaapstad bygewoon het.
Ton Vosloo, voorsitter, Koos Bekker, besturende direkteur, Boetie van Zyl en Niel van Heerden, direkteure, en Conrad Sidego, Khulu Sibiya en Zelda Jongbloed van Naspers is aan tafel vergas op ‘n boeiende relaas oor hoe ‘n Dawie-rubriek oor groepregte in 1989 in die gesprek tussen die NP en die ANC vir ‘n deurbraak gesorg het. Die rubriek is geskryf deur Wiets Beukes, wat toe redakteur was. Hy het Piet Cillié opgevolg.
Dawie se standpunt was dat oor wette soos die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet en die Wet op die Aanwysing van Aparte Geriewe “ingrypend herbesin” moet word, omdat ‘n nuwe Grondwet “kleurblind” moet wees.
Die gedwonge klassifikasie van mense was een van die “onhoudbare erfenisse van die ou apartheid”, het hy betoog. Die “groep-gedagte (sal) in die eerste plek van alle dwang en diskriminasie gestroop moet word”. Groepvorming sou “bevry” moet word om spontaan plaas te vind, en een van die “basiese regte van die mens” sou herstel moes word: “Dat elke mens die reg het om vryelik te assosieer en self te besluit by watter groep hy sy heil wil soek.”
Mandela het, volgens hom, in een van hul eerste ontmoetings F.W. de Klerk se aandag op die rubriek gevestig. De Klerk het onmiddellik positief gereageer: “Nou ja, as Dawie so sȇ, sal ek vir my mense sȇ ons kan dit (daardie groepwette) maar los.” Daardie antwoord het Mandela verheug. Hy het aan sy topstruktuur gaan rapporteer: “Met die man sal ons kan saamwerk.” Daarna het sake begin vlot.
Die partymondstuk-status tot diep in die jare tagtig van Die Burger, Die Volksblad en die heengegane Die Transvaler, was histories verantwoorbaar deur ‘n gemeenskaplike oer-herkoms uit die breë Afrikaans-Nasionale beweging in jare van platgeslaanheid. Dit is na my wete nooit amptelik geformuleer nie. Geen “kontrak”, geen voorskrif, selfs geen verwagting is aan my gestel toe ek redakteur van Die Volksblad geword het nie. Geen dusdanige dokument is, sover ek weet, ooit aan enige ander Naspers-redakteur gegee nie. Maar dat dit tot vandag suspisies voed oor waar die Afrikaanse koerante in die legkaart van die apartheidsera inpas, moet geredelik erken word.
Dalk verstaanbaar, as jy uit ‘n hoek van onbegrip kyk, word koerante verdink dat hulle weens hul partybande, formeel of informeel, soos dit in die geval van Beeld en Rapport was, gevangenes van die Nasionale Party was, en daarom outomaties ook stoere kampvegters vir die status quo.
Toenemend is by koerante besef dat die ongemaklike verbintenis nie kon voortduur nie. In 1988 het Ebbe Dommisse, redakteur van Die Burger, toe die bul by die horings gepak. Op sy inisiatief is by die Kaaplandse kongrs van die NP ‘n besluit geneem om die ou koppeling te laat vaar. In die Vrystaat is geen besluit ooit geneem nie. Die gebruik om jaarliks by die NP-kongres die koerant as party-mondstuk te herbenoem, het eenvoudig in onbruik verval. In Transvaal was geen amptelike mondstuk oor nie nadat Die Transvaler se vlerke in 1983 geknip is en hy in sak en net ‘n Pretoriase koerant moes word.
Met die Dommisse-inisiatief is ‘n proses voltrek wat in die middle van die jare 80 momentum begin kry het namate die gekompliseerdheid van die landspolitiek ou bindinge al hoe meer onder druk geplaas het.
Oor hierdie aspekte van die geskiedenis word om die een of ander rede ‘n sluier getrek asof ‘n onwilligheid bestaan om die verlede onbevange te bekyk en ewewigtig te beoordeel. Dit is ten seerste te betreur omdat wanpersepsies oor die rol van die Afrikaanse koerante, en veral redakteurs, helaas, deur die verspreiende onkunde gedy.
Met die onheuglike Magnus Malan-sage het sulke wanpersepsies weer uitgeborrel. Ou vooroordele is afgestof. In die kaalvuis-debat oor die omstrede Bird-Island-boek het beskuldigings rondgevlieg, soms in heel onelegante fraserings. Die kerksake-kommentator Jean Oosthuizen het bv. in ‘n Facebook-inskrywing die volgende kwytgeraak: dat van ‘n bepaalde Afrikaanse redakteur in die era van Magnus Malan en Barend du Plessis tog bekend is dat hy in die NP “se ali ingekruip” was.
Noodwendig ontbreek die ruimte om in ‘n enkele koerant-artikel op al die dimensies van ‘n gekompliseerde verhouding in ‘n gekompliseerde tyd in te gaan. Die rol van die Afrikaanse koerant in die politieke oorgang is in elk geval eerder ‘n navorsingstaak vir historici. In die gemoed van hierdie oud-redakteur van die jare 1980 tot 1992 leef egter geen skuldgevoelens oor in watter deel van wie se anatomie hy dan ingekruip sou gewees het nie.