Apr 15, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ek glimlag van oor tot oor. Reken ek moet maar een van my laaste botteltjies wyn oopmaak en ‘n glasie klink om die mooie resensie deur Louise Viljoen op Maroelamedia van my reisverhaal “Na verre hawens” te vier.
Verlede week sou die bekendstelling gewees het op die MSC Orchestra op pad terug Kaap toe van Walvisbaai af. Raai wat het daarvan geword!
Ewenwel, ek sit nog so en peins oor die streep wat Korona ons getrek het met die ingrendeling en al sy tentakels toe ek die Facebook-boodskappie kry om by https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boekresensie-na-verre-hawens/ te gaan loer.
Daar is die resensie toe.
Vir Louise ek het laat weet ek is oorstelp en oorweldig. Dis werklik ‘n pragtige resensie.
Sy noem dit o.m. “256 bladsye tjokenblok vol heerlike vertellings van ons skeepsreise oor 50 jaar heen.”
Wat my getref het, is dat sy die Bybelversie voor in die boek spesiaal vermeld: “Sommige mense het met skepe op die see gevaar, en op die groot oseane handel gedryf. Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee … Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees.”
So dikwels kyk mense daardie kapstokkie voor in ‘n boek mis, en so dikwels bevat dit ‘n besonderse stukkie pitkos.
Toe ek die versie in Psalm 107 (Nuwe Lewende Vertaling) raaklees, het ek dadelik geweet: dis nommerpas vir “Na verre hawens” bedoel.
My boek is ‘n uitnodiging om saam te reis. Hierdie blog is ‘n uitnoding om die Van Deventers se reise deur die oë van so ‘n fyn waarnemer soos Louise Viljoen te geniet. As die skakel om die een of die ander rede nie werk nie, tik net twee of drie van volgende die soekwoorde in: Maroela, Hennie van Deventer, Na verre hawens, Louise Viljoen.
Dankie, Louise,
Apr 12, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die ganse wêreld is in Tamatiestraat soos nog nie in my lewe van 79 jaar nie. My idioom is eintlik ‘n volkome eufemisme. Korona keil die wêreld op met ‘n venyn wat ons ergste nagmerries kwalik sou kon optower. Dit saai ontwrigting, ekonomiese ellende, siekte, hongersnood, dood …. op sy minste angs, stres en eensaamheid.
Half ironies dat juis in hierdie ernstige Tamatiestraat-dae my humorboekie Praat-praat in Tamatiestraat ‘n tweede lewe gaan kry. Die boek-boek (op papirus) is tien jaar gelede deur die ontslape uitgewer Griffel uitgegee. Kort daarna het Griffel gevou – darem nie weens my boek nie, hoop ek! Nou het De Novoboeke ‘n e-boek daarvan gemaak. Hierdie week maak hy sy buiging met ‘n voorblad wat my nogal plesier gee. Ek glo julle sal verstaan waarom.
In Tamatiestraat is’ n seleksie van (hopelik) humoristiese blogs/stories uit die HvD-stal, wat in die laaste jaar of drie hier, op my eie webwerf, www.hennievandeventer.co.za, op Litnet of in allerlei Media24-publikasies verskyn het.
In die boek is ‘n 70-stuks hoofstukke. Elkeen is bedoel om die lagspiere te prikkel. En moenie bekommerd wees nie: om te lag is ‘n “lewensnoodsaaklikheid”. Kraai maar dat die trane rol daar in jou geslote ruimtetjie – geen regulasie word oortree nie. Trouens, as jy my vra wat my wens vir die boek is, sal ek antwoord: dat hy in die mond van lesers ‘n nuwe titel kry – Lag, lag in Tamatiestraat.
Van die temas wat ontgin word, is die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laat liefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.
De Novo noem dit ‘n “plesierige storiebundel” wat allerlei verleenthede, skades en skandes weerspieël wat die uwe in sy omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het. ‘n Voorbeeld van die self-oorgekom-soort, is o.m. die Huisgenoot-storie van die buurtwag wat my en Tokkie, kaalbas in die bad, met sy priemende lig deur die badkamer verras. Dalk is daar mense wat nou nog daaroor tjie-tjie-tjie. Of oor Ouma se rooi nagrok wat so geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies verdwyn het.
Ander se skades en skandes sluit in ‘n arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy “sterfbed” onder hom uit gekaap. n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.
Vir diegene wat in die grendeltyd lus voel vir ‘n paar opgeruimde oomblikkies verwys ek graag na De Novo se Boekeblad. Laasi gerus Tamatiestraat af. Die adres is http://www.denovowebs.co.za/product/praat-praat-in-tamatiestraat/ Die boekie is spotgoedkoop, skaars ‘n middelslag bottel wyn se prys, en dié mag julle in elk geval nie nou koop nie.
Apr 2, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Masker of nie masker nie – dit is die vraag. In Die Burger se meningskolom gister blyk verwarring, teenstrydigheid en frustrasie oor onsekerheid.
Met die lewenservaring van amper 80 jaar wil ek voorspel ons gaan hieroor bly stry en mekaar oor en weer begluur, oor ons maskers of daarsonder.
Ekself dra nie masker nie. Gaan ook nie, tensy ek, al niesende en proesende, strydige strenge mediese opdrag ontvang. Volgens my leke-insigte kan ‘n masker, veral die self-geprakseerdes, ongemaklik, jeukerig, sweterig en selfs teenproduktief wees.
Vir my anti-masker-standpunt – terwyl ek, toegegee, genadiglik nog spekvet en gesond is – kan ek dankbaar op die uitsprake steun van minstens drie gesaghebbendes, internasionaal en nasionaal.
Kenner een: Die Wêreldgesondheidsorganisasie. Dié draai nie doekies om nie: “WHO officials do not recommend mask wearing for healthy members of the general population. Masks should be worn by those with the disease or those in close contact with those infected.” As iemand my nie wil glo nie, lees hier: https://www.weforum.org/agenda/2020/03/who-should-wear-a-face-mask-30-march-who-briefing/
Kenner twee: Die Wes-kaapse department van gesondheid. “Die departement waarsku mense dat hulle juis met die koronavirus besmet kan word eerder as om dit te keer as hulle die gesigsmaskers verkeerd dra … Indien jy nie siek is nie en nie nabye kontak het met iemand wat die koronavirus het nie, is dit nie nodig om ‘n masker of handskoene te dra nie,” volgens dr. Beth Engelbrecht, hoof van die Wes-Kaapse department van gesondheid. (DB, Maandag 30 Maart, p.2).
Kenner drie: Die Gautengse eweknie. “Beskermende drag soos maskers, handskoene en skermbrille moet nie onnodig gebruik word nie. Die departement sê baie mense plaas hulself eerder in ‘n groter gevaar om die korononavirus op te doen deur bogenoemde op die verkeerde manier te dra.” (DB. Woensdag 1 April, p. 8).
Hiermee, soos ons geleerde vriende in die hof hul sake met ‘n swierige handgebaar sluit: “I rest my case”. Nie dat ek veel hoop het dat sulke gesaghebbende getuies verbete maskerdraers tot ander insigte gaan bring nie. Die masker-mite gaan hom nie sommer laat ontmasker nie.
(Die brief van my was vanoggend op Netwerk24 en in Volksblad)
Mar 24, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Lekker om jou rekenaar na twee dae in ‘n werkwinkel oop te maak en so ‘n ruiker op jou Facebookblad raak te loop. Dankie, Louise Viljoen. Ek brand om die volledige resensie op Maroela Media te lees.
“Hennie van Deventer, voorheen redakteur van Volksblad en ook die uitvoerende hoof van koerante van Naspers, se Na verre hawens is een van daardie boeke wat jy lees as jy noodgedwonge met Jan Tuisbly se karretjie moet ry. Die boek beslaan 256 bladsye propvol onvergeetlike vertellinge van Hennie en Tokkie – albei gesoute wêreldreisigers – se bootvaarte oor ’n halfeeu heen. Dit bevat ook interessante navorsing oor die vaartuie waarop hulle gevaar het asook die plekke waar hulle aangedoen het. Ek het heerlik hieraan gelees! My resensie oor Na Verre Hawens verskyn weldra op Maroela Media. Bestel gerus die boek direk by tertiaswart@naledi.online.”
Na verre hawens (Hennie Van Deventer) #LouiseBoeke #EkLeesNaledi
Mar 21, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die Costa Pacifica.
Die Prediker het, verstandiglik, al gewaarsku dat daar ‘n tyd is om te omhels en ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af. Die kneukelgroet en die elmboog-groet is waarskynlik die beste moontlike voorbeelde van wat hy bedoel het. Natuurlik ook die een-meter-reël, hoewel ‘n mens wonder hoeveel jonges hulle aan hierdie dinge gaan steur. Dit daarby gelaat.
In aansluiting by die Prediker se motto dat elke ding sy vaste tyd het, wil ek graag ‘n eie straaltjie byvoeg. Dit is: daar is ‘n tyd om “na verre hawens” te vaar. Daar is ook ‘n tyd om ver van “verre hawens” weg bly. Nou is klaarblyklik so ‘n tyd.
Meen: In watter hawe waar kan ‘n mens met vrymoedigheid aankom met net jou paspoort en, indien nodig, visum in jou sak, dan’s alles piekfyn. Deesdae is op feitlik elke hawe ‘n kennisgewing opgesit: “Gesluit vir die Covid-19-seisoen”.
‘n Matriekmaat van Tokkie van Bultfontein se dae, Carien Weyers, bevind haar op die oomblik in so ‘n oral-onwelkom-penarie op die Middellandse see. Haar klasmaats word per whatsapp deel van die drama. Carien en haar man, prof. Almero Weyers, afgetrede hoogleraar in sielkunde aan die Vrystaatse Universiteit, bevind hulle ter see op die Costa Pacfica (meen ek) wat op 3 Maart uit Buenos Aires vertrek het na Barcelona in Spanje. Daar is 168 Suid-Afrikners op die skip.
Van toe af vaar hulle, vaar hulle, vaar hulle. Nêrens, by geen hawe, is die skip welkom sodat hulle ’n bietjie kan rondkyk en bene op vaste aarde rek nie.
Gister laat weet sy eers hulle mik nou maar Marseilles omdat Barcelona ontoeganklik is. Later hoor ons: net Duitsers, Amerikaners, Kanadese en Franse is toegelaat om die skip te verlaat. Teen 13:00 is ankers gelig en het die Costa weer begin begin vaar omdat hulle skynbaar “onwettig” in Marseilles was. Waarheen weet g’n mens. Die wat weet. wil nie sê nie. Is dit Savona in Italië . Is dit Genoa?
Die passasiers wat Engels kan praat of verstaan het blykbaar bande gesmee. Hulle sou uit hul geledere ‘n komitee kies om vir die kaptein te gaan sê hulle gaan sowaar nie in Genoa afklim nie, kom wat wil. Daardie Italiaanse hawe lê omtrent in die episentrum van die huidige rooiste van rooi gebiede. Hoop vir Almero en Carien en die ander se onthalwe hul pleidooi val nie op dowe ore nie, maar die wind waai frisserig wes.
Op die webblad Friends of the MSC was gister ‘n noodoproep van ene Tozelle Kohlmeyer dat iemand tog haar ouers te hulp moet snel. Hulle is onder die 168 Suid –Afrikaners wat weier om in Genoa af te klim. Volgens Tozelle word hulle met inhegtenisneming gedreig as hulle sou weier om te gehoorsaam. Onder hulle heers blykbaar ontsteltenis, selfs paniek.
Op ‘n ander Costaskip, die Costa Luminosa is die passasiers sedert Sondag in hul kajuite in kwarantyn nadat vier passasiers positief vir Covid- 19 getoets is. Op die skip is 36 Suid-Afrikaners. Die vier koronalyers het intussen die skip verlaat. Die skip het op 24 Februarie Fort Lauderdale verlaat en is ook nou in Italianse waters, blykbaar op koers Savona of … behoede dit .. Genoa toe.
(Die Costastories herinner ook aan ‘n ander Bybelse woord, nie waar nie, dat jy, as jy oud is, na plekke geneem sal word waar jy nie wil wees nie!)