Mar 11, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Koerante het heelwat slae gekry oor hul hantering van die Bird Island-sage. Ek wil nie die kritiek hier herhaal nie; het wel self van tyd tot tyd my mond oor die een en ander uitgespoel – soos oor die roemlose kort verskyning op die toneel van ‘n uiters onwaarskynklike “Mnr. X”.
Die munt het egter ook ‘n ander kant. Dit sou uiters onbillik wees as ek nie raaksien nie of dit sommer onvermeld laat verbygaan watter ruimte die koerante my deurgaans gegun het om uit die staanspoor na die verskyning van Steyn en Minnie se gewraakte pennevrug my bedenkinge te opper.
Uiteindelik tel ek sowat 10 briewe oor die onderwerp uit my pen. Van hulle was in al drie dagblaaie, Die Burger, Beeld en Volksblad. Van hulle was in Rapport. Al die koerante het my ruim geleentheid gegee om my saak te stel, vrae te vra en kritiek uit te spreek. Prominensie is aan die briewe verleen wat bo verwagting was. Ook op Netwerk24.
Beeld het een van my briewe geplaas met ‘n sterk verwysing daarna regs bo op die voorblad (foto). Reeds op 9 April 2019, 11 maande gelede, is ek toegelaat om te verklaar: “Vier, nee vyf, spykers is nou in die doodkis van die Bird Island-boek gekap”.
Barnard Beukman, redakteur van Beeld, het onder sy naam die uitgewer, ‘n sustermaatskappy in die Media24-groep, sterk aangevat en o.m. die boek “waarskynlik ‘n laagtepunt in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf” genoem.
Rapport het op 14 April ‘n brief van my geplaas onder die opskrif “Vrae en reaksie na berigte oor Bird-Island” waarin ek uitdruklik verklaar die dat die geloofwaardigheid van die boek toe reeds “in vlamme afgeskiet” was.
Aan die brief het hy sy apologie in sy kommentaarkolom op bladsy 2 vasgeknoop. Die opskrif was, sonder om doekies om te draai: “Bird Island: Ons het ‘n fout gemaak.” In die apologie is die kernswakheid van die boek in een sin kragtig saamgevat: “Vir geen van die skadelikste bewerings kon enige joernaliste bewyse vind wat onafhanklik geverieer kon word nie”.
Daarop het die koerant sy lesers, Barend du Plessis en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley om verskoning gevra.
Die merkwaardigheid van so ‘n aanvaarding van skuld en uitspreek van berou is waarskynlik nie oral na waarde geskat nie. In koerantgeskiedenis is dit ‘n uiterste seldsaamheid.
By die uwe leef nog ‘n krapperigheid of wat oor ‘n uitlating van ‘n hekelskrywer hier of ‘n dingetjie daar, maar op die keper beskou, skuld ek die koerant ‘n persoonlike woord van dank dat hulle op die wyse hierbo genoem hul rol bly speel het om die waarheid oop te kloof en die onsin wat Minnie en Steyn opgedis het, aan die kaak te stel.
Hoe onmisbaar die koerant vir ‘n ingeligte gemeenskap is, is opnuut onderstreep.
Mar 9, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Meermale moet ‘n mens maar sterk staan die versoekinge van die ou ondermaanse.
Moet maar die persoonlike swakheidjie bely om my in ‘n sekere mate te verlustig in die verleentheid van dese en gene wat my so aangevat het oor my onmiddellike verwerping van die Bird Island-boek as die verbeeldingsvlugte van verwarde siele.
Sal maar my rug styfmaak teen die versoeking om te begin appeltjies skil.
Vergewe my egter as ek darem net vir Pollux, stekelrige politieke rubriekskrywer van Rapport, herinner aan sy snedige opmerking van eertyds dat die uwe iemand is wat die Magnus Malan-storie so heftig ontken, dat hy (dis nou ek) ) deur geen bewyse oortuig sal kan word nie. Bewyse? Al bewyse wat daarna gekom het, is onomstootlike bewyse van die spul opgestapelde leuens van die “outeurs”, Steyn en wyle Minnie.
Gisteraand in Carte Blanche was daar minstens vyf nuwes: almal behoorlik be-edig. Hoop dit het vir Pollux ak iets bewys!
Terwyl Pollux nou so ‘n man vir bewyse is, kan hy gerus ook maar met sy bewyse kom vir sy dwarsklap van dieselfde dag dat die uwe ‘n redakteur was wat geglo het hy kan die wereld verander.
Ook die stelling was natuurlik uit die duim gesuig soos Steyn en Minnie se boek. Elke kollega wat my geken het, staaf die onwaarheid daarvan. Pollux het nog nooit verskoning gevra nie. Dalk is hier nou ‘n gulde geleentheid vir hom om sommer die onverdiende veroordeling ook in die reine te stel.
Of moet ek ook 36 jaar wag, soos Barend du Plessis nou al 36 jaar wag dat die polisie wie se”ondersoek voortduuur” aan sy deur kom klop?
Feb 22, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Volkies se eerste krieketspan in 1957. Die uwe is tweede van links agter. Charles Bamberger is in die tweede ry in die middel. Pierre Lombard sit regs voor.
Kom nou eers tot verhaal om ‘n straaltjie oor gisteraand se krieket by te dra. Het my laat dink aan die jaar 1957 toe ek tweede aanvangsbouler van Volkies op Potch was.
Ons speel teen Potchefstroom-Dorp. Een van sy aanvangskolwers is Harry Newton- Walker, groot Springbokstut van die 50’s. Wat het ek geweet van lyn en lengte? Afrigter het nooit ‘n woord oor so iets gerep nie. Ek kom maar ingedraf – taamlike lang aanloop – en slinger die bal (die “rooi pampoen” het wyle Dana Niehaus dit destyds genoem) min of meer in die rigting van die paaltjies.
‘n Boulbeurt was toe nog agt balle. Die heer Newton-Walker slaan die skraal donkerkop-skoolseun vir 4,6,0,6,6,4,4,6. Hoe miserabel kan ‘n mens voel, jou selfbeeld aan flarde (met jou nooi langs die veld) en jou brose gemoedjie verskeur met twyfel oor jou eie vermoe om ‘n tweede soortgelyke aanslag te stuit.
Die kaptein, wyle Charles Bamberger, vervang my gelukkig na daardie eerste rampspoedige beurt met draaier Pierre Lombard, later grootkop in die Spoorwee. Pierre boul die Van Deventer-verwoester toe pens en pootjies. Maar die skade was gedaan.
Ek is bitterlik jammer vir julle, arme Proteas (of Vroteas, soos Die Burger julle vanoggend noem).
Feb 20, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Danie Krynauw
As dit by moderne poësie kom, kan ek nie eintlik saamgesels nie. Veel daarvan is vir my duister. Soms wil-wil ek wonder of die digter (en die liriese resensent!) self weet wat hul skeppings beteken.
Eintlik is dit onbillik om net moderne poësie uit te sonder. Ook van die ouer digters kon jou laat kopkrap oor wat hulle probeer oordra.
So vertel vriend Danie Krynauw, oud-burgemeester van Milnerton en deesdae ‘n inwoner van die Sea Park-versorgingsentrum op Melkbos, vir my vanoggend ‘n N.P. van Wyk Louw-storie wat verdien om iewers behoue te bly. (Of my blog die aangewese plek is, is ek nie so seker van nie!)
Danie, bekend om sy humor en geestigheid, vertel hy is met ‘n nuwe Van Wyk Louw-bundel na die gevierde digter se woonstel in Drieankerbaai.
Hy klop aan, stel hom voor en deel mee dat hy graag ‘n vraag wil stel.
“Seker, seker”, gee Van Wyk Louw hom die groenlig.
“Wel, dr. Louw, dis oor hierdie gedig van jou.” Danie druk toe op op ‘n gedig met twee verse van vier strofes elk. Die naam kan hy ongelukkig nie onthou.
“Ek het gedink ek moet liewer by u self duidelikheid kom soek, want ek verstaan nie die gedig nie. Sê tog asseblief vir my wat beteken die woorde wat hier staan?”
Van Wyk Louw kyk hom fronsend aan.
“Mnr. Krynauw,” antwoord hy, “toe ek die gedig geskryf het, het twee geweet wat dit beteken: die Lieven Heer en ekself. Nou weet net die Lieven Heer!”
Laat my dink aan kleinseun Thomas Claassens wat een aand ná ‘n slangbesoek by die braai in Sabiepark die tafelgebed doen. “Dankie, Here, dat die slang nie marakas gemaak het nie,” bid hy.
“Thomas,” terg sy ouma toe hy amen sê: “Dink jy die Here weet wat die word marakas beteken?”
“Natuurlik, Ouma,” kom dit blitsvinnig. “Die Here ken al 11 ampstale”.
Blykbaar ook alle gedigte – volgens N.P. Van Wyk Louw.
Feb 1, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vir die somervakansie van 2020 het Sabiepark sy beste voet voorgesit: ‘n sprankelende lushof van milde groen; temperature van selde oor die vroeë 30’s; lekker, harde reën; perfekte braai-aande; Piet-my-vrou wat die hele maand bly roep soos nooit tevore. Eers hier teen die einde het die veld smiddae begin vaal raak. Nog reën sal van harte welkom wees.
By Tarlehoet is die nuwe blink elektriese yskas ingewy – ons eie “Taj Mahal” – aanvanklik nie so vlot nie, later seepglad. Bonus: alles wat moet koud wees, is koud. Niks – nie eens die bederfbaarste suiwel – gaan meer verlore nie. Die sonkrag-stelsel bult nou sy spiere met vier batterye en ses panele. Sal graag Jacob se kommentaar hoor. Ook nuut: op die vloer van die woonkamer is dit net wildebeesvelle danksy Brent, die jagter. Lyk spiekeries.
Die ou krom knoppiesdoring by die kombuisvenster het uiteindelik gesneuwel. Iets van ‘n ikoon gewees, maar sy tyd was regtig verby. ‘n Klomp hout is herwin, asook hope bas. Ons gaan GROOT vure maak. Vraag is net: wie gaan daai stompe opkap? Wonder of Christopher kans sal sien.
Die maroela langs die huis het die eerste keer gedra. Effentjies maar darem. Jy hoor die vrugte op die dak val en sien hulle op die grond. Hoop nie dit raak ‘n verpesting nie.
Cas en Nella Jacobs het vyf dae uit Centurion kom kuier. Hul spore lê wyd op hierdie stukkie aarde sedert 1998 al. Goed gewees om weer saam met die twee beskaafde fynproewers saans by ‘n vuurtjie te sit en ‘n pimpeltjie pienk jenewer met ‘n skyfie komkommer en suurlemoenskil te geniet.
Aan die dierefront is die “geur van die maand” steeds die swartwitpense. Ongetwyfeld. Ons was gelukkig om die nuwe statussimbole van naby te sien. Deur die heining van die pad af, maar nietemin. Kyk my foto’s. Vyf najala-ooitjies loop saam. Was ook hier rond. Het een oggend wakker geword met kameelperde net waar jy kyk: as ‘t ware deur langnekke omsingel. Amper weer soos daardie ander oggend lank-lank gelede. ‘n Stewige trop rooibokkies het agter die huis kom slaap. Nagapies was egter skaars.
Die gebruiklike slangepisodes het nie uitgebly nie. Tokkie – weer sy – het enetjie teen die muur in die stoorkamer gewaar en hom uitgeboender. Koebaai Meraai. Die tweede enetjie het ons by die wegpak ontdek. Klaar kaduks. Houtgerus (dié is vir Johan en Mariza) het ta hom op ‘n stoepstoel onder die kussing tuisgemaak. Toe kom een van die huisbewoners, onwetend, met volle gewig op hom neer. Te oordeel na die addertjie se graad van platheid kon dit die vader des huises gewees het. Baie waarskynlik.
Op ‘n vet skerpioen teen ‘n muur in die gastebadkamer het dieselfde lot gewag as die slang in die stoorkamer. Komplimente van Tokkie se kookwater-nagflits.
Amper was daar nog ‘n koebaai toe ‘n rooikophoutkapper teen die slaapkamervenster vasvlieg. Dood soos die spreekwoordelike mossie. So het dit altans daar op die trappies langs die swembad gelyk. Arme ding. Skielik kom voël se kind egter orent en skud sy vere reg. Daar vlieg hy as ‘t ware uit die dood op. Hoër en hoër. Sou dit nie geglo het as ek dit nie met my eie oë aanskou het nie.
Nes die Piet-my-vrou was die Bosveldvisvanger op sy gewone somerbesoek. Altyd besonders om te hoor as hy die reën so roep: “Tjip-trrrr.” Bloukuifloeries was, soos gewoonlik, gedurig hier. Die geroep van die vleiloerie en die vis-arend het saam met die heerlike gedruis van die Sabierivier hier aangesweef gekom en die hartsnare geroer.
Die swembadjie was weer sy gewig in goud werd, soggens, smiddae en saans. Gee hom summa cum laude. Wat sou Tarlehoet tog gewees het sonder sy swembad?
In die wildtuin was ons minnerig. Raak lui om te ry. Niks vreeslik buitengewoon in ons “buurman” gesien nie. Darem ‘n uitgestrekte luiperd op ‘n klip en ‘n leeu in die pad. Ons het vier van die Vyf Grotes op ons telkaart; mis net die renoster (hierdie ter wille van Thomas!). Tokkie was ingenome met die sterkbos wat so briljant blom. Ons het Andrew en Christine Murray van Bloemfontein by hul hut in Skukuza gaan oplaai en by die gholfklub ietsie gaan geniet. Lekker oudag-herinneringe opgediep. Dan was daardie doop darem ook baie spesiaal. Lees die vorige blog.
Kan nie die versoeking weerstaan nie om more se datum as opskrif te kies: 02-02-2020. Tokkie was so wakker om die besonderse syfer-konfigurasie dae gelede al raak te sien.
Naskrif: In die wassery is ook ‘n nuwerwetsigheid: twee moderne wasmasjiene. Al die knoppies en liggies laat dit vir Tokkie lyk soos ‘n Boeing se kajuit. Sy hou van eenvoudiger dinge.