DIS WEER DOOPTYD IN SKUKUZA

Kerk in Skukuza.

Kerk in Skukuza.

Sondag toe ons die unieke doopvont – ‘n knoetsige stomp hardekool op wieletjies (omdat dit so swaar is) – voor die kansel sien staan, besef ons dadelik: vandag word hier gedoop in Skukuza-kerk.

Doop is, raar maar waar, ’n seldsaamheid in die wildtuingemeente. Sondag was maar ons tweede in die oor die 20 jaar dat ons in Sabiepark kom kuier. Dit beteken natuurlik geensins in al die jare is net twee keer gedoop nie, genade, nee – maar ds. Carl Louwrens bevestig:  die doop is ’n sakrament wat in sy kerk nie aldag bedien word nie Hoekom, weet hy nie. Sy eie plig het hy immers nie in die verband versuim nie, gee hy met ‘n vonkel in die oog die versekering.

So min word, trouens, gedoop dat hy elke keer skaars sy lus kan bedwing om die hele uitvoerige doopformulier woord vir woord te lees voordat hy die gebruiklike vrae aan die doopouers stel.

Sondag het die doopouers, Conrad en Maya Booyens van Letaba, hom as ’t ware gesystap  – darem met sy goedkeuring.  Die doop-belofte was ’n intieme selfgeskepte dokument. Mamma Maya het dit voorgedra – plek-plek met ’n bewende onderlip. Pappa Conrad, trots soos ‘n pou, het uit die Bybelboek Sagaria ’n stukkie voorgelees.

Klein Hugo Booyens was ’n regte meneertjie so met sy deftige kruisbande en al.  Stroopsoet en geduldig het hy in sy ma se arms gesit  terwyl ’n video van hom in ’n verskeidenheid monderings in verskillende omgewings vertoon is. Op een skyfie was hy op ’n antieke wakis, het dit gelyk.  Op ’n ander weer op ’n moderne smuktassie.  Elke grootouer het kans gekry om vir die kamera die kleinkind vas te hou.

Wat my en Tokkie betref, was hierdie karaktervolle doop ’n tradisie wat voortgesit is. Ook ons eerste doop in hierdie intieme boskerkie in die personeeldorp, waar vlakvarke soms die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom by die trappe hul eie koorsang aanhef, was iets om te onthou.

Die meisietjie se rokkie was die ene donsige tarentaalveertjies. ‘n Kinderkoor het haar toegesing, ‘n CD is gespeel en in die voorportaal was ‘n reuse-tietiebottel: een waarmee wees-olifantjies gevoed word.  Na die diens was daar ‘n kreunende koektafel onder die bome wat elke kerkbasaar eer sou aandoen. Die dooptee was vir almal in die kerk – ook vir die uwe in sy sportiewe vakansiedrag wat toe nog ‘n volslae vreemdeling vir die liewe mense van Skukuza was.

Ds. Carl het altyd ‘n boodskap wat tref. Sondag het hy almal weer diep laat nadink oor die voorbeeld wat hulle stel vir hul  kinders wat hul voetspore sal moet volstaan.  Hoor julle kinders julle byvoorbeeld ooit hardop bid? Sit julle ooit saam om ‘n tafel en lees uit die Bybel?

In April doop hy ‘n eie kleinkind – sy tweede dogter, Madge, se  dogter – in die gemeente Blouberg in die Kaap, ons buurgemeente. Vir seker gaan die Van Deventers die geleentheid bywoon, Wonder net of die hele formulier dan gelees gaan word. En of ds. Carl dalk ‘n bietjie bewoë gaan raak, soos sy vrou, Sarah, stellig verwag.

 

“MAAR EEN VAN DAARDIE DINGE”

 

Aan die vooraand van ‘n langnaweek is by die Vrystaatse Universiteit ‘n sogenaamde ope dag gehou om matrieks op die kampus rond te wys en touwys te maak. In die groep van die Sentrale Hoërskool was ‘n seun van 18 wat al van ses maande oud ‘n diabeet was. Almal was bewus van sy probleem.

Die middag het hy nie op die gewone tyd by die huis opgedaag nie. Namate die ure rek, het sy ma, Tokkie,  al hoe bekommerder geword. Later het sy vriende van hom begin bel. Nee, hulle het hom nie op die bus terug gewaar nie. Sy het die skool probeer. Daar was geen teken van lewe nie. Die hekke was gesluit en die langnaweek in volle gang.

Radeloos, probeer sy toe die universiteit. Die skakelbord was nog oop en skakel haar deur na ‘n vriend by die openbare skakelafdeling wie se pa ook ‘n diabeet was. Hy het dadelik die erns van die situasie besef en alarm gemaak. ‘n Veiligheidwag op sy laaste rondes om lokale te sluit, ontdek toe die bewustelose seun uitgestrek op die vloer van ‘n lesingsaal.

‘n Ambulans is ontbied. Dié jaag met hom  na die Universitas-hospitaal langs die kampus .

Toe sy ma by die hospitaal kom, loop sy haar vas in ‘n uitgebreide mediese span onder aanvoering van die hoogs ontstelde professor wat die seun gewoonlik behandel.  Die pasiënt was steeds bewusteloos en aan ‘n klomp pype gekoppel.    Voorbereidings is getref om hom ‘n hartskok toe te dien as sy hart sou gaan staan.

Die binne-aarse toediening van glukose was gelukkig betyds en voldoende. ‘n Hartskok is net-net afgeweer. Ure later het  hy dronkerig sy bewussyn herwin.  “Waar is ek? Wat maak ek hier” wou hy by sy ouers langs sy bed weet.

Einde van die storie – buiten vir die medies rekenings natuurlik!

By die skool het geen haan weer daaroor gekraai nie. Die skoolhoof het in salige onkunde voortgeleef.  Die “verantwoordelike” onderwyser – onverskillige bliksem! – is nooit voor stok gekry nie. Dalk het hy selfs later ‘n senior pos beklee danksy ‘n “skoon rekord”.   Hopelik darem nie. Want ek haas my om by te voeg: in die onderwys was ook baie voortreflikes wie se toewyding niemand kon bevraagteken nie.

In die kultuur van die tyd was wat gebeur het,  maar “een van daardie dinge” – ‘n ongelukkige glipsie wat ter wille van die vrede en  verhoudinge stilletjies onder die mat ingevee is. Onthou, dit was  30 jaar gelede: toe niemand nog van Facebook en ander sosiale media gehoor het nie.

Die dood van  Enock Mpianzi (13) ruk die deksel af.   Ons seun, Johan, nou 48, kon ook dood gewees het, besef ons opnuut. Trouens, hy sou ongetwyfeld dood gewees het as daardie veiligheidwag hom nie die Vrydagmiddag bewusteloos op die vloer gekry het nie. Iemand sou die Dinsdagoggend op die lyk afgekom het. Dalk sou die onderwyser dan moes verduidelik waarom op die bus terug een minder kind was as op die bus die oggend.

Die ontsteltenis oor die argelose pligsversuim in die geval van Enock vind sterk aanklank in ons gesin.  ‘n  Lastige skuldgevoel knaag terselfdertyd. Om koppe te tel, is tog ‘n basiese vorm van kontrole. Hoekom het ons die saak dan maar gelos? As ons en andere oor soveel jare skuldiges nie skotvry laat kom het nie, was daardie basiese, noodsaaklike, feitlik vanselfsprekende  dissipline dalk teen hierdie tyd beter ingedril by elke onderwyser wat oor die heil van groepe moet waak.

Ons oorversigtigheid om “nie op tone te trap nie”, was ‘n fout.   Kom ons erken dit maar eerlik. Hopelik is dit nooit te laat om ekskuus te vra aan almal wat in die 30 jaar na die amperse treurspel op die kampus van die Vrystaatse Universiteit die lydende partye van gruwelike agtelosigheid was nie.

SOPHIA EN DIE SKEPE

Sophia doop een van die 15 skepe

Sophia doop een van die 15 skepe op haar kerfstok

Het jy geweet:

* Sophia Loren (foto) het al 15 skepe “gedoop” – loshande die meeste van alle koninginne, prinsesse en glansmense;

* Cunard se Queen Mary2 kan drie Titanics insluk?

* Seerowers het die MSC Melody in 2009 aan die kus van Oos-Afrika aangeval en is o.m. deur pasassasiers met dekstoele verdryf?

Skeepvaartbrokkies soos bogenoemde kom voor in my boteboek “Na verre hawens” (uitgegee deur Naledi)  waaroor op Dinsdag 4 Februarie met Elsje van Jaarsveld op Pretroria FM ‘n regstreekse radio-onderhoud gevoer word.

Die tyd: Dinsdag 4 Februarie om 10:30. Die stasie: PretoriaFM.

  • “Na verre hawens” is by boekwinkels. Die boek ook kan regstreeks aanlyn bestel word by Naledi,online.  Kontakpersoon is Tertia Swart by tertiaswart@naledi.online. 

UIT MELKBOS

kersfees

Liewe vriende

Die tradisionele Kers-CD uit Melkbos het gesneuwel in 2016, die jaar toe Tokkie 70 en ek 75 geword het.  Die tradisionele Kers- en Nuwejaarsbrief uit Melkbos met ‘n verslag (en selfs ‘n foto of twee) van die jaar se wel en wee in die Van Deventerkamp het voortgeleef.

Dalk sou dit ‘n netjieser afronding gewees het as ons die brief tot 2021 bly stuur het.  Tokkie bereik dan die geseënde baken van 75 en ek die ouderdom van 80 – die jare van diegene wat “baie sterk is,” aldus Die Bybel (D.V.)   Ons het egter van sulke ambisies afgesien.

Vanjaar dus geen uitvoerige epistel uit die Van Deventerhuis nie.  Ook in daardie opsig het die tyd na ons oordeel aangebreek om, soos op ander terreine,  ‘n streep te trek.

Wel kan ons, ondanks enkele stampe en stote,  dankbaar van vele seëninge in 2019 getuig. Ons gaan met dankbare harte Kersfees tegemoet.

Ons hoop is dat ons almal oorvloedige seën sal geniet en in hierdie uitdagende tyd vir Suid-Afrika tog wel vrede en vreugde sal ervaar.  Mag die nuwe jaar gelukkig, gesond en voorspoedig verloop.

Hennie en Tokkie

REKENAAR-VERSKRIK

Herman toerienHerman Toerien skryf in sy Weeklikse Nuusoorsig vir die TLU op Maroelamedia se webblad  (verkorte weergawe):

“‘n Klompie van ons is in Hennie van Deventer se kantoor saamgetrek. Hennie was destyds, in 1981, redakteur en gaan ons toespreek oor ‘n belangrike verandering aan die koerant – die wegdoen met die loodgietstelsel en oorskakeling tot litografie. Die ou bekende “bloutjies”, ‘n deurslag wat op ou tikmsjiene uitgemoker is, is op pad uit. Rekenaars gaan die ding doen.

“Hennie agter ‘n rekenaar? Hennie agter sy tikmasjien met sy vingers wat oor die toetse vlieg, was immers ‘n baie bekende gesig. So vinnig het sy vingers die toetse bygedam dat ek tot vandag nie seker is of hy al tien vingers ingespan het, of, soos, ek net die twee wysvingers nie.

“ ‘Hier gaan ek rang trek,’” skerts Hennie in ligte luim. “Ek gaan my tikmasjien gebruik. Iemand anders sal dit in die rekenaarstelsel moet intik.’

“Ek is weg by Volksblad nog voordat die rekenaars gekom het, en weet nie hoe lank Hennie toe wel sy verhouding met die tikmasjien voortgesit het nie. Ondanks sy gehegtheid aan die tikmasjien het hy toe tog rekenaars onder die knie gekry. Altesaam 16 boeke nie uit nie, vertel die verhaal.

“Hennie se uitsonderlike geheue het ons jongklomp verstom, veral wanneer jy as groentjie ‘n storie by ‘n voorganger “erf.” Hy kon jou kennisleemte in die skerpste besonderhede toelig – met besonderhede wat dikwels ‘n gans ander lig op die saak kon werp.

“Dat Hennie ‘n besonderse humorsin het, het ek ontdek nadat die redaksielid wat vir die rubriek, Korrelkop verantwoordelik was, ‘n ander pos opgeneem het. Korrelkop was ingestel om met ‘n “kritiese oog” na die nuwigheid, TV, te kyk. Die SAUK- TV was nuut en taamlik baie flaters is begaan. Die flaters het onder die vingers van Korrelkop skreeusnaaks geword. Ek was binne hoorafstand toe ek hoor hoe iemand vir Korrelkop vra wie nou Korrelkop gaan wees. “Die baas gaan dit blykbaar self doen?”antwoord Korrelkop.

“ ‘Wat, Hennie?’”reageer die verslaggewer verbaas. “Jong, Hennie het ‘n skerp humorsin.”

“Hy het toe nie Korrelkop regtig oorgeneem nie. Dis egter of humor ‘n belangrike anker van nie net sy skryfwerk geword het nie, maar sy lewe. Boek ná boek, uit sy huis oorkant die baai van Tafelberg af tot uit sy winter-uitspanplek (en ander tye van die jaar ook) by die Krugerwildtuin.

“Die tyd stap aan. Groot gees op groot gees word weggeneem. Hennie word gespaar om steeds pennevreugde te verskaf – ligjare verwyder van daai Olivetti in die hoek van sy redakteurskantoor waar bloutjie op bloutjie uitgespoeg is.

“Verskeie skeepsreise is aangepak. En skeepsreise so saam met gesinslede of vriende lewer baie onderwerpe vir verhale wat in “vingertaal” opgediep kon word. As daar nie genoeg vriende aan boord was nie … geen probleem nie. Vriende word gou-gou gemaak en deel van opgetekende avontuur op avontuur aan boord. Met Na Verre Hawens kan u deel word van die opgetekende verhale van ‘n meesterverteller wat soos ‘n goeie verslaggewer bedrewe waarneem.

“Na Verre Hawens word op Donderdag 9 April 2020 om 12:00 heel gepas by die Oppiwaterfees bekend gestel. Die fees is van 5 April tot 10 April aan boord van die MSC Orchestra. Die skip vaar uit Kaapstad na Walvisbaai en Luderitz. Die boek is te koop by boekwinkels en aanlyn by www.naledi.online. Die skakelpersoon daar is Tertia Swart by tertiaswart@naledi.online”