May 10, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Volledige weergawe van my brief oor Covid 19 wat Saterdag in verkorte vorm in Die Burger verskyn het.
‘n Hardnekkige virus wat die wệreld in ‘n wurggreep het, ‘n deurmekaarspul met regulasies wat nie altyd sin maak nie, magsdronk wetstoepassers en vrot kommunikasie. Roer hierdie vier elemente saam in ‘n pot. Die resultaat is ‘n brousel van verydeling, moedeloosheid, kommer en, uiteindelik, opstandigheid.
Die publiek, aanvanklik so gewillig om saam te werk en op te offer, raak toenemend vervreem. Sosiale media gons van onhebbelikhede wat dese en gene weens masgevergrype en swak oordeel moes verduur.
Hoe stoei jy jou pad oop uit so ‘n moeras? Kitsoplossings bestaan ongelukkig nie. Om eenvoudig net voort te ploeter, is egter geen manier om die moreel te lig en groter vertroue in die hantering van die krisis te vestig nie.
Skerp in die eerste plek jou kommunikasie op – ook intern, want tussen die “bevelsraad” se insigte en die uitvoering op grondvlak is opsigtelik reuseklowe. Om onderlinge wanbegrip en teenstrydighede te probeer stroomlyn, verg sterk leierskap wat ongelukkig op die oomblik ontbreek.
‘n Komitee (kollektief) kan nie aan die spits wees in ‘n krisis nie. Cyril Ramaphosa sal sterker, meer dinamies na vore moet kom, nie net dan en wan op TV verskyn (altyd ‘n rukkie laat weens allerlei konsultasies) en dan 40 minute lank ‘n motiveringsrede van ‘n skerm lees nie. Die land smag na die ferm hand van ‘n kaptein.
Nogal vreemd vir ‘n regering wat so lief is vir “spokespersons” het sy korona-kampanje nie ‘n bedrewe eie kommunikeerder in daardie rol nie. ‘n “Meneer (of Mevrou) Covid 19” is onontbeerlik om regulasies, veranderinge en beweegredes daagliks helder en bevatlik (nie mompelend) aan die publiek oor te dra.
Die aksie het ewe dringend ‘n eie ombudsman nodig – nie een wat lang ondersoeke van stapel laat loop nie, maar wat vinnig, met gesonde verstand, in onsekerhede en dispute uitsluitsel kan gee.
Ten laaste bestaan behoefte aan ‘n klagtelyn, 24/7 soos hulle sệ. ‘n Amptelike uitlaatklep kan van die venyn wat nou op sosiale media vloei, in vrugbaarder kanale stuur.
May 4, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Agter is Giel de Swardt, George James, Jan Conradie, Sam Cronje en Piet Henning met sy pyp. Voor is die uwe, Bossie Bosman en Ralph van Schoor (klubkaptein).
Onder die “ienks” (eerstejaars) van 1958 in Kollege-tehuis was ene Piet Henning van die plaas Sweetwaters, Louis Trichardt. Wat hom van ons gewone vaal Boertjies onderskei het, is dat hy uit die “fênsie” St. John’s College in Johannesburg by Tukkies opgedaag het. St. John’s het van hom ‘n fyner jintelman gemaak as die res. Ongetwyfeld. Engelse private skole maak hul merk op ‘n mens. “
Opstêrs” was “ienk” P.B. Henning egter nooit. Inteendeel! Dié lekker ou uit die Soutpansberg was dadelik 100% “een van ons”. Hy het boonop ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugbyliedjies geken. Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as bekendes soos “Die maan skyn so helder op my p….” en daardie klas ding wat ons Wes-Transvalers graag gesing het as ons, dikwels op ‘n oop vragmotor, van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en Ventersdorp gereis het om op die sportveld te gaan kragte meet.
Piet se repertorium het gevorderde liedjies soos hierdie ene van St. Johns se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High/ we take pride in our virginity/ we take precautions by having abortions/ we are the girls from Rodean High.” Veel meer gesofistikeerd as enigiets wat ons geken het, het ons gedink.
In ons tweede jaar het ek en Piet ‘n “onderskeiding” te beurt geval wat nie in elke geselskap hardop genoem kan word sonder die gevaar van veroordeling nie. Ons was naamlik lede van ‘n klub wat eufemisties as Kollege se Bierklub bekend was. Onder ons het ons sommer van die “Boozeklub” gepraat. Elke Vrydagaand was ons by Ta’ Bella (die Hotel Belvedere) vir ‘n bietjie “tee”. Ek plaas die foto hierbo in die oortuiging dat ons lewens sedert 1959 ons darem van ‘n ewige brandmerk behoort te vrywaar,
In 1963, toe Piet 23 was en ek 22, het hy vir my Ayn Rand se formidabele boek “The Fountainhead” present gegee – een van die beste boeke wat ek gelees het. ‘n Latere geskenk, net enkele jare gelede, was Bill Bryson se kosbare “A really short history of nearly everything.” Die keuse van boeke getuig van hierdie vriend van 62 jaar lank se stoffasie, meen ek.
Deur harde werk en met waagmoed en idealisme het Piet ‘n suikerbaron en ‘n voorste wildboer in Chiredzi, Zimbabwe, geword, ‘n groot werkskepper en sterk bydraer tot die Zimbabwiese ekonomie. Die pyprokende Piet van ons studentedae het as boer die spreekwoordelikw pyp gerook dat die blou walms in die lug hang.
Vir wit boere in onse buurlandjie het dinge weens al die onbekookte grond-dramas natuurlik in die Mugabe-era maar taai geraak, bitter taai. Piet, sy vrou, Moraig, en hul seun, Greg, was van die ergste slagoffers van gewapende plundertogte deur bendes van korrupte, grondhonger oorlogsveterane, polisiemanne en soldate, asook van voortdurende viktimisasie en intimidasie deur grypsugtige politici en amptenare. Hul private wildreservaat, met “lodge”, rondawels en al, is verwoes. Duur, gesofistikeerde trekkers en swaar plaastoerusting vir die suikerboerdery is gestroop.
Die Hennings kon net magteloos toekyk hoe amper alles wat hulle opgebou het, tot niet gaan.
Vandag, 5 Mei 2020, vier Piet sy 80ste op sy plek van herkoms, Louis Trichardt, waar hy nou weer gevestig is. Ek weet hy gaan vir my tong uitsteek dat hy voor my by daardie baken kom. Maar ek is vinnig pad, Piet. Te vinnig eintlik. 3 Januarie is om die draai.
Die laaste jare het Piet moedig aan vele fronte en in vele forums gestry vir. kompensasie vir die enome skades en verliese van miljoene der miljoene wat hulle gely het. Die resultate was maar effentjies teenoor die geld, tyd, energie en geestelike staal wat dit geverg het.
Oor waar hierdie goeie ou Kollegemaat die geestelike stamina kry om so hardnekkig te bly vasbyt, het ek al dikwels gewonder. Andere sou al lankal tou opgegooi en op ‘n hopie gaan sit het. Maar Piet is een van daardie bewonderenswaardige mense wat ligstraaltjies gewaar waar ander net duisternis sien,
Hy rook nie regtig meer pyp nie, soos ek al lank nie meer sigarette rook nie. Hy volhard egter steeds om aan daardie spreekwoordelike pyp te suie deur so waardig en blymoedig teen die aanslae staande te bly. Simbolies is Piet nog altyd ‘n pyproker van formaat. En nog altyd dieselfde kwaliteitsmens van dieselfde staal wat 62 jaar gelede by Kollege aangekom het. Geluk, Piet. Hamba kahle.
May 4, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vriend Ronnie de Bruyn wat die naweek op amper 90 in die aftree-oord Klaradyn ter ruste is, was ‘n gerespekteerde oud-skoolhoof en ‘n pilaar van die gemeenskap. Kon lekker ondeund ook wees as hy die dag lus was.
Sal ek sy storie vergeet van Anita se heupvervanging? Bedagsame eggenoot wat hy is, koop hy toe vir haar ‘n fluitjie om hom slaapkamer toe te ontbied as hy ‘n pliggie moet kom verrig.
Die Saterdagmiddag sit hy in hul huis – toe nog hier in Tweede Laan, Melkbos – voor die TV en rugby kyk. Iets haper egter. Lyk of die spelers die skeidsregter eenvoudig net ignoreer. Fluitjie blaas skril. Spel gaan voort. Fluitjie blaas nog dringender. Geen teken dat iemand wil ophou speel nie.
Hy wou hom eers vervies vir die swak dissipline. Toe tref dit hom soos ‘n emmer yskoue water. Daardie fluitjie blaas nie op Nuweland nie. Dit blaas hier in sy slaapkamer. Dis Anita wat blaas en blaas dat haar longe wil ingee.
Toe hy skuldig by die deur inloer, kan hy sien Anita is ongeduldig. “Ek blaas en blaas, maar lyk my jy raak nou hardhorend!”
Met dieselfde operasie (en die lang rehabilitasie) was Ronnie later nie meer so fluks met al die huiswerkies soos aan die begin nie. Dis toe dat hy sy vriende sugtend meedeel hy wil kerkkantoor toe om ‘n reëling te tref. Hulle moet Anita se naam nou summier van die gebedslys verwyder en met syne vervang!
Apr 30, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Laat die byle huil, Paul Colditz van Bloemfontein! Die onderwysman mik nou om 50 dae aaneen te braai. So lees ek in Die Burger. Wat ‘n rein gedagte.
Grootte en intensiteit was eers my ware vuurplesier. Frekwensie het mettertyd ‘n oorheersender maatstaf van ware genot geword. In Sabiepark is ’n kampvuur ’n daaglikse heerlikheid. ‘n Stuk roetine soos opstaan of gaan slaap. Drie maande lank – 90 aande agtereen – lek die vlammetjies elke aand van ons lang hibernasie in die bos. Ja 90 aande, Paul!
Twee ekstra vuurmaakplekke is juis vir die doel by ons boshuis aangebou: een voor by die stoep; die ander agter, nader aan die eetkamer en die kombuis. By elk is ‘n verskeidenheid gedugte braaiers byderhand. Dit maak verskillende konfigurasies moontlik.
Elke braaier het ‘n naam wat op sy herkoms dui: bv. Neels se braaier en Manie se braaier. Neels Nothnagel was Johan se skoonpa. Hy is oolede. Manie Steyn van die Wes-Rand is ‘n dik vriend uit ons Tukkiedae in die jare sestig. Sy geskenk moes al die pad van Johannedsburg kom met my neef se groot 4 x4.
Om ’n braaiplek en ‘n braaier te kies, is deel van elke aand se ritueel. Nes die inspring in jou spesiale braai-“uniform” (ou klere deurtrek met rook en allerlei reuke). Die spuit van die nek, polse en enkels vir muskiete. Die aansteek van sitronellakerse en -fakkels.
Elke braaiplek het sy eie atmosfeer, sjarme en bekoring. Die keuse is soms ver van maklik.
Jesaja skryf soos ‘n ware vuurliefhebber: “Dis lekker. Ek is warm, ek geniet die vuur” [Jes. 44:16(b)]. Jesaja, ou maat, hierdie gryskop sekondeer sommer met albei hande in die lug.
Apr 18, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vanoggend wil ek vaderlik ‘n ope brief rig aan Jean Oosthuizen rakende sy manifes oor die Bird Island-sage wat hy kans gesien het om op 15 Augustus 2018 op Facebook te publiseer. Amper 500 mense wat ewe mislei was of daardeur mislei is, het dit sogenaamd ge-“like”.
In die manifes bestaande uit 11 genommerde paragrawe kap hy links en regs. Hy loop my van ‘n kant af oor my onmiddellike veroordeling en verwerping van die boek. Met die gewone selfvertroue wat hy openbaar wanneer hy graag in die media oor godsdiens, kerksake en morele kwessies pontifiseer, bevind hy dat ek “ bog” praat. Finish en klaar.
Oor die destydse verklaring tot steun van genl. Magnus Malan deur genl. Constand Viljoen (nou saliger) namens die Weermag-generaals was hy ewe neerhalend. Dit, bevind hy, is ook maar net “nog ‘n verklaring.” Die paragrafie eindig met ‘n arrogante veeg in genl. Viljoen se rigting: “Sak Sarel. Nag generaal.”
Intussen het die boek vinnig verkrummel. Taks om taks is nuwe spykers in sy doodskis getimmer namate die feite bekend geraak en die leuens ontmasker is. Die “bog” wat ek dan sou gepraat, was toe nie “bog” nie maar die waarheid – een van die hoekstene van die joernalistieke beroep, waarvoor ek baie lief is.
Gister het NB Uitgewers ‘n tweede keer teruggekrabbel. Skielik vra hy nou al drie die ministers wat hy beswadder het, en hul families om verskoning vir hul onverdiende pyn en lyding. Hy staan heel weg van die boek en bied verder o.m. ook aan om sy R2,3 miljoen wins op die boek beskikbaar te stel aan mnr. Barend du Plessis om aan ‘n organisasie van sy keuse te skenk, met naamregte, d.w.s. iets soos die Barend du Plessis-hulpfonds.
Na hierdie skouspelagtige ommeswaai van die ontnugterde uitgewers sal Jean Oosthuizen seker saamstem dat sy manifes ‘n “mistykie” was. Dit was, om dit sag te stel, voortvarend, oningelig en onjuis.
Bird Island die boek is toe inderdaad “uit die duim gesuig”; ‘n fabrikasie van fiktiewe insidente, ‘n spul wanvoorstellings en ‘n “laagtepunt in die SA publikasiewese”, soos dit al deur ‘n regdenkende redakteur beskryf is. Of stem jy nog nie saam nie, mnr. Oosthuizen?
‘n Apologie vir sy beledigende taal soek ek nie. Wat sal dit my in die sak bring, of vir genl. Constand Viljoen, wat reeds in sy graf is? ‘n Bietjie meer nederigheid aan mnr. Oosthuizen se kant oor sake waarvan hy klaarblyklik minder weet as wat hy gedink het, en ten minste ‘n openbare erkenning dat hy oor hierdie misbaksel van ‘n boek sleg misgetas het, sal ek wel by hom wou aanraai. Dit sal die eerbare weg wees om te volg.
In sy manifes beweer mnr, Oosthuizen voorts dat ek “in die NP se alie ingekruip was”, wat seker sy goeie reg is om te glo en sy demokratiese reg om uit te basuin, hoewel dit lynreg indruis teen bv. die taksering van die gerespekteerde prof. Johannes Froneman van my rol in die oorgangspolitiek. Laasgenoemde beskou ek as ongetwyfeld die gesaghebbender taksering. Ons laat dit maar daar.
Maar mnr. Oosthuizen het in sy manifes meer oor my op die hart. Hy skryf ook nog die volgende: “Hy het op die NP se takke en besture gedien en was lid van die geheime broederbond. Moet ons nou sý mening ernstig opneem as objektief? Rerig? “ Korrek – in een opsig. Ek was lid 12951 van die Afrikaner-Broederbond en is dit nou nog van die Afrikanerbond. My lidmaatskap het nie uitgelek nie. Dit is deur myself in die jare 90 bekend gemaak. Ek was ook lid van die F,A,K, is lid van die Akademie, die Erfenisstigting en ‘n Vriend van die Voortrekkermonument, wat seker deur mnr, Oosthuizen met afkeuring bejeën sal word. Sy goeie reg. Ek is trots op daardie verbintenisse.
Wat nie korrek is nie. is dat ek sogenaamd “op die NP se takke en besture gedien” het. Die vergissing is voorheen aan mnr. Oosthuizen uitgewys. As hy dit iewers reggestel het, het dit ongelukkig nie onder my aandag gekom nie. As hy volhou dat hy nie met hierdie bewering die waarheid geweld aandoen nie nie, vra ek hom beleefd om te bewys waar en wanneer ek lid van ‘n NP-bestuur was.
Vergaderings van die NP-hoofbestuur wat ek bygewoon het, was op uitnodiging as redakteur van Die Volksblad. Dus: ex officio. Dit was niks buitengewoon nie. Prof. Piet Cillié het as redakteur van Die Burger dieselfde gedoen. Ook ander redakteurs van Die Burger en Die Volksblad totdat die inisiatief van koerantekant gekom het om daardie gebruik te laat vaar.
Hier volg nou die manifes van 15 Augustus 2018. My advies aan mnr. Oosthuizen is: lees dit aandagtig, vergelyk jou aansprake daarin met die werklikheid soos dit ontvou het, en besin oor hoe jy jou geloofwaardigheid as meningsvormer self ondermyn wanneer jy toelaat dat jou vooroordele jou oordeel so vertroebel.
Hennie van Deventer
Jean Oosthuizen se manifes:
Ek glo nie in samesweringsteorieë nie maar ek wil ook ‘n straaltjie pie op Birds Island.
- Ek dink nie alles in die boek is noodwendig korrek nie.
2. Ek dink ook nie alles in die boek is uit die duim gesuig nie. Dit moet ‘n baie dik duim wees.
3. Ek dink Volksblad se oud redakteur wat so selfversekerd verklaar alles in die boek is bog praat bog. Hy was self in die NP se alie ingekruip, het op die NP se takke en besture gedien en was lid van die geheime broederbond. Moet ons nou sý mening ernstig opneem as objektief? Rerig?
4. Die oud generaals soos oom Constant se verklarings oor Birds Island se dinge is ook maar net dit. Nóg ‘n verklaring. Amper soos daai destyds dat die weermag nie in Angola was nie. Sak Sarel. Nag general.
5. Die basis van die storie in die boek was al in die 80’s welbekend onder baie joernaliste al het Volksblad se oud redakteur nie daarvan geweet nie. Hy het ook nie van Vlakplaas “geweet” nie.
6. Ek weet nie of Mark Minnie homself geskiet het nie. Indien wel wonder ek hoekom.
7. Ek dink te veel mense wat niks van die saak weet nie dink hulle weet alles daarvan en dit geld vir beide kante.
8. Wat ek weet is dat daar baie vir ons gelieg is in die verlede. Politici het nie toe minder vir ons gelieg as nou nie. Ook nie generaals nie.
9. Die derde oud minister se verweer dat hy nie Nagmaal sou kon gebruik as hy skuldig was nie maak my ook nie opgewonde nie. Katolieke priesters wat kinders gemolesteer het, het Sondag na Sondag Nagmaal gebruik én bedien.
10. Ek hoop ons kom nader aan die waarheid ter wille van almal wat betrokke is.
11. Laastens wens ek mense wil ophou om die boodskapper te skiet.
Jean Oosthuizen
15 Augustus 2018.