Jun 8, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Wuif totsiens vir die tjek. Die gerespekteerde betaalmiddel sedert die 9de eeu al loop nou die pad van ander gister-goed wat nie teen moderne plaasvervangers die pas kon volhou nie. Soos die betroubare telegram, die Kerskaart en die minnebrief met langhand op papier gesit – boonop met ‘n vulpen.
As jy ‘n koerantmens was, soos die uwe, kan jy die teleksberig bysit. Daarvan het rieme elke dag elke koerantkantoor binnegestroom op rye teleksmasjiene wat onverpoosd soos masjiengewere knetter. Moenie die landlyn vergeet nie. Elke foto van elders het jou koerant dotjie vir dotjie via ‘n verre poskantoor bereik.
Op my eerste tjekboek aan die begin van die 60’s was ek, jong koerantman, trots soos ‘n pou. Het altyd gehoop om iemand te imponeer wanneer ek daardie kenmerkende plat boekie spoggerig uitpluk en met ‘n swierige “JH van Deventer” – die ene krulletjies en draaitjies, aldus my vrou – ‘n aankoop met vers en kapittel op die reghoekige stukkie papier beklink.
Myne was ‘n Volkskas-model met “arbeidsaamheid” as leuse en die hand op die ploeg as logo. Absa, my latere modern bank, is nou onder die voorlopers om die tjekboek goedsmoeds in die snippermandjie te gooi.
Ai tog. Maar dis soos hulle sệ: Omnia mutantur nos et mutamur in illis (“alle dinge verander en ons verander saam met hulle.”)
Nog ‘n nuttige papierproduk van ‘n vergange era was die telegram. Telegramme is al geruime tyd uitgedien. Al waar jy nog daarvan kry, is in netjiese pakkies met lintjies vasgebind, gewoonlik in ‘n embuia-“trousseau”-kis met bal-en-klou pote en koperbeslag. Saam met allerlei ander sentimentele kleinighede word dit daar as soewenier van bruide van toeka se groot dag bewaar.
Hoeveel telegramme jy gekry het – en van wie almal – was nogal ‘n statussimbool. Party was kort en kragtig: “seën op huwelik”. Ander kon nog al woordryke sedepreke bevat. Moes afsender ‘n fortuin gekos het.
Op die onthaal – dikwels in die kerksaal – het die seremoniemeester of een die telegramme voorgelees. Dit was deel van die bruilof ritueel, soos die sny van die koek en die werp van die kousband in die gehoor.
Grapjaste – gewoonlik die raseriges wat voor in die koor was wanneer “Ta Koek se hoenderhaan” vir die bedremmelde bruidegom aangehef word, het dikwels kamma-telegramme ingesmokkel. Een voorbeeld: ‘n fiktiewe vorige kệrel wat met doelbewuste dubbelsinnighede op vorige soete oomblikke saam met die verleë bruid sinspeel.
‘n Gewilde stoutetjie wat ek onthou, was sogenaamd van die bestuurder van die wittebroodhotel: “Spyt my om julle in te lig die spesiale bruid-suite het weens omstandighede buite ons beheer op die laaste oomblik onbeskikbaar geraak. Ek gee julle sommer julle ou kamer van vorige besoeke, as dit sal reg is met julle.”
Ou kamer? Vorige besoeke? Onthou, ek praat van ander tye. Die huweliksnag was veronderstel om werklik ‘n eerste te wees; nie sommer soos al vele nagte voor hom nie. Menige bruid het beetrooi gebloos.
Voorspel tot die huwelik was o.m. hartstogtelike briewe waarin die ontluikende liefde met toenemende vrymoedigheid verklaar is. “Liewe Bettie”, het in sulke briefies eers “liefste Bettie” en dan later “My enigste liefling” geword.
Op skool het spesiale “koeriers” sulke briefies ongemerk voor jou op jou bank kom neersit of pouse vinnig in jou sak gedruk. Party was op pienk papier met ‘n diskrete parfuumreuk. Jy kon dit nie gou genoeg oopskeur om elke soete woord van liefde en verlange in jou hart te vertroetel nie.
Party romantiese Romeos kon monumentale liefdesbriewe skryf. Een skrywer van ‘n gedenkwaardige brief was n passievolle jong Tukkie, Pikkewyn (Pik) Botha, rasieleier en latere minister van buitelandse sake. Sy rekord was ‘n brief van 90 foliovelle.
Die ontvanger van daardie gewigtige brief, netjies in ‘n pakkie opgemaak, was Helena Bosman, ‘n Matiestudent. Tere minnegediggies uit dieselfde oord was ook gereeld in haar posbus. Sy het in 1953 mev. Helena Botha geword.
Deesdae kommunikeer geliefdes dalk meer met haastige teksboodskappies en emoji’s, dalk nog in kodetaal. So raai ek maar.
Kerskaarte was toeka se tyd ook ‘n groot ding. Vroeg in November het jy al begin lysies maak wie almal moet kry, en by skryfbehoeftewinkels begin rondkyk. In nederiger prysklasse was die meeste in pakkies van ses met onvanpaste sneeutonele op die voorblad en swak vertaalde Kersboodskappies binne.
Later het die prentjies meer gesifostikeerd en gevariëerd geword. Op party van die nuwer soort was plek om ‘n persoonlike boodskappie te skryf. Deftige mense het hul kaartjies laat druk: in goue of silwer letters met hul name en adresse in die een hoek soos op ‘n visitekaartjie.
Ingenome ontvangers het hul Kerskaarte graag op kaggelrakke en ander plat oppervlakke uitgepak. Ander ornamente, ook op die buffet, is vir die “Kersgety” na laaie geskuif om vir die verskeienheid Kerskaarte plek te maak. Sommige ondernemendes het tou of ‘n draad van hoek tot hoek in die sitkamer gespan. Hul Kerskaarte is dan wydsbeen daaroor gedrapeer om met die res van die kleurryke Kersversiersels saam te smelt.
Boontoe het ek verwys na vanmelewe se teleksmasjiene wat stil geraak het. Koerante word in doodse stilte in die soort steriliteit geproduseer wat ‘n mens gewoonlik met hospitaalteaters vereenselwig. Foto’s se pad is as’t ware van die kamera na die blad.
Nog iets wat ongetwyfeld vir altyd verlore is, was iets waaroor ek nogal ‘n sterk nostaklgie in my voel opwel. Uit afvalpapier in die drukkery is klein blokkies papier geknip waarop haastige boodskappies per bode vir kollegas gestuur is: “Mev. O. Kom gesels asb. HvD”
‘n Keer was by Die Volksblad ‘n kompetisie tussen redaksielede oor wat ek in my haas op so ‘n blokkie papier in my partikuliere soort snelskrif neergepen het. Die drie finaliste is vir my gebring om die wenner aan te wys. Ná ‘n ruk moes ek tou opgooi. Die drie moes die eerste prys deel. Ek het vergeet wat ek daar geskryf het en kon dit om die dood nie ontsyfer nie.
Jun 2, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In 1941 toe ek in die hartjie van die Tweede Wêreldoorlog in Babanango gebore is, was die plaaslyn ‘n wonderbaarlike manier van kommunikasie. ‘n Telefoonsentrale by die poskantoor het die oproepe bestuur. Jou oproepkode was konfigurasies van vier luie: drie langes en ‘n korte, een lange en drie kortes en dies meer.
Die telefoon het elke keer by almal op die betrokke lyn gelui. Jy moes fyn luister om die regte “kode” te onderskei.. Om in te luister op mekaar se oproepe was vir sommige ‘n soort stokperdjie. Vele skinderstories het so ontstaan.
Hoeveel bakens is nie sedertdien geplant nie? Wat een dag nog as wonderwerk beskou was, was die volgende dag ou nuus. En my geslag het dit alles beleef. Hoe uitnemend bevoorreg is ons nie.
Woensdagaand 20 Mei was my eerste webinaar op Zoom. Dit was ‘n voorreg om ingeskakel te wees by die historiese “eerste”. Het nogal taamlik senuweeagtig sit en wag. Sê nou ek druk iewers ‘n verkeerde knoppie – en kapoef! Toe die beeld begin lewe kry, was dit of ‘n Everest bestyg is. Op my kroegie staan nog ‘n ou landsvlaggie (sjuut!). Kon gerus na buite storm en hom triomfantlik in ‘n blombak plant.
Die webinaar (‘n mens se woordeskat brei ook gedurig uit) was prikkelend, insiggewend en boeiend. Het wonderbaarlik vlot verloop. Ek lig my hoed vir die tegniese mense agter die skerms.
Sondag kom ‘n e-pos van kleinseun Jacob Claasens: uitnodiging tot ‘n Zoom-geleentheid. Die tema: “Ons mis julle!” Lekker gekuier so virtueel.
Vir Woensdag is ‘n derde Zoom –okkasie geskeduleer. Ek raak ‘n veteraan!
Oor presies hoe die ontwikkeling van die Alexander Graham Bell se instrument in my lewe verloop het, is ek, helaas, ‘n volslae leek. Seker honderde verfynings en moderniserings het al plaasgevind.
Ek onthou darem Klerksdorp se sentrale waar ek ná matriek in 1957 ‘n vakansiewerker was: voor jou ‘n muur vol klein gaatjies, en toue soos lang wurms met lang dun koppies wat jy in presies die regte gaatjie moes druk. (Kon een aand nie die versoeking weerstaan om te sit en inluister nie toe ‘n verslaggewer van Die Transvaler ‘n moordstorie inbel Johannesburg toe.)
Op Tukkies was die “langtiekie” in die jare rondom 1960 hoogmode. Openbare telefone is vuurwarm gebel met ‘n tiekie aan ‘n stringetjie. Jy laat sak hom, pluk hom uit, laat sak hom, pluk hom uit – totdat die “betaling” registreer en die oproep (meesal na jou meisie of jou ouers) deurgaan. Voorloper van deesdae se gratis gesels?
As jong vryer onthou ek die laasste stuiptrekkings van die driesyfer-era. My vrou, Tokkie (toe my meisie), was van Bultfontein. Ma Marietjie se nommer was 204. Jy skakel die kode vir Bultfontein; die sentrale doen die res. En hoe ingelig was daardie sentrale nie? “Nee hartjie, Ta’ Marietjie-hulle kuier vanoggend by Ta’ Ellie. Ek probeer daar.”
Ek was toe ‘n jong verslaggewer. Hope berigte is via openbare telefone Volksblad toe deurgebel: “perskollekteer”. Jy lui eers die poskantoor. Dié verneem by die ontvanger of hy sal betaal. Dan bel hy jou terug. Het nogal vernaam gevoel om ‘n “perskollekteer”-oproep te plaas.
Sekere langafstandoproepe was ‘n kwessie van bespreek, wag en desperate frustrasie. Soms soos ure gevoel. Terwyl spertyd nader kom en jy duskant brand van haastigheid.
Toe die 80’s. Aangename kennis, Mnr. Faks. Verstommend. Jy stuur ‘n volledige brief of berig sommer sito-sito na sy bestemming – nie meer letter vir letter soos op die telegraaf- of teleksmasjien wat toe die kommunikasiehart van die koerant was nie. Maar daai faks kon ook ‘n vloeksteen wees. Jy is besig om ‘n hoofartikel die lig te laat sien. Dan kom die sekretaresse by die deur in en plaas ’n stuk papier in die inmandjie.
Koebaai, konsentrasie. Nuuskierig, los jy eers alles en lees die faks. Soms onbenullig. Dekselse inbreuk op jou privaatheid, het ek dikwels geknor.
Laat in die 80’s het die rekenaar in my lewe gekom. Die era van warmlood was op sy laaste bene in koerantfabrieke. Tikmasjiene was op pad museums toe. Krisis! Hoe verkleef was ek nie aan my getroue Olivetti nie, en hoe wantrouig jeens die nuwe affêring met sy tentakels wêreldwyd!
In die 90’s, hier’s die selfoon. Sulke halwe bakstene wat ‘n klompie kilo’s weeg. Voortvarend, gee ek te kenne ek gaan dadelik een aanskaf. ‘n Kollega (later ‘n bedryfsleier) was skepties. Hoekom sou ‘n mens so ‘n onnodige oorlas met jou wil saamdra? Ons baas was Ton Vosloo. Gelukkig het hy my kant gekies,
Einde 1997 tree ek af. Toe begin dinge aan daardie front roer. Kommunikasie raak net al hoe meer gesofistikeerd. En in dolle vaart. Sal my liewer nie probeer slimhou oor die laaste twee dekades se ontwikkeling nie.
Tokkie sal my hopelik die storie vergewe oor hoe sy jare gelede nog net in haar allernodigste die buurman bel om hom geluk te wens. Nee, hy’s al werk toe. Sy bel soontoe. Beset. Sy bel weer. Hy antwoord dadelik: “Hi, Tokkie”. Sy wou onder die bed induik – oortuig dat hy haar in haar ontblote toestand kan sien. Later eers by die buurvrou gehoor hy het tussen haar twee oproepe met sy huis gepraat. So het hy gehoor dat Tokkie op sy spoor is.
Wel, hier kom Skype toe al die ander nuwerwetsighede – die I-pad, die I-phone, Whatsapp video calls, Facetime en wat nog. Hulle maak moontlik wat Tokkie destyds instinktief gevrees het. Maar liewe Skype. ‘n Buiging na jou is vanpas. Wat sou oupas en oumas sonder jou gedoen het in die era van kleinkinders oor die aardbol heen verstrooi?
En slimfone word net al hoe slimmer. Die weer? Kom ons kyk gou. Die pad? Kom ons kyk gou? Beurtkrag? Kom ons kyk gou. Die verstand duisel – veral as jy, soos die uwe, verbete bly klou aan jou uit die oude doos Blackberry uit die jare toet wat net kan bel en sms’e stuur.
Daaroor ‘n laaste storie voordat ek weer by Zoom kom. Dis van ’n vriendin wat Tokkie bel. Sy soek my Whatsapp-nommer. Hennie het nie een nie, antwoord Tokkie. Vriendin (verbaas-verergd): “Man, jy verstaan nie. Gee my net sy selnommer. Ek kan dit hanteer.” Tokkie: “Man, jý verstaan nie. Jy onthou toe Noag die duif uit die ark gestuur het? Wel waarmee hy teruggekom het, was met Hennie se selfoon!”
Maar hierdie Zoom-ding: soos ek hierbo probeer verduidelik het: dis waaragtig oulik. Wens so ons het dit al lankal gehad. Hoeveel duisende kilometers moes ek nie in my lewe reis – per vliegtuig, bus en motor – vir vergaderings en byeenkomste wat ons met die huidige tegnologie uit die gerief van ‘n kantoorstoel kon hanteer het nie
Met waters wat verby is , sal die meule nooit weer maal nie. Laat my nie afsluit op ‘n noot van nostalgie nie maar op ‘n noot van gedeelde opwinding oor ‘n nuwe era wat aanbreek. Oorvloedig is die dankbaarheid dat die ou gryse 1941-model in Mei 2020 saam daardie nuwe treetjie kon gee – al het hy nie eens ‘n Whatsapp-nommer nie!
Omnia mutantur nos et mutamur in illis.
May 28, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
As ‘n ervare veteraan op die gebied van ophou rook, wil ek met Oumatjie Zuma saamstem dat dit ‘n maklike ding is. Mastig, ek het dit persoonlik hoeveel keer reggekry!
‘n Keer wat ek in ‘n ophoufase was, is ek in 1990 via Londen na Rusland op besoek. Kollega Tertius Myburgh van die Sunday Times gee my die wenk dat ‘n mens ‘n hardekwas Rus se gesindheid maklik met ‘n pakkie Marlboro positief kan swaai. Ek vertrek toe uit Bloem met ‘n karton Marlboros in my koffer.
Tydens my oorslaap in Londen gaan kuier ek ‘n aand by ds. Henno Cronje. Hy haal ‘n vergete pakkie uit ‘n laai en ons steek oor ‘n Engelse bier of wat ‘n paar entjies aan.
Volgende oggend staan ek op met daardie hond-in-die-mond-gevoel. Net ‘n sigaret kan red. Wel in my koffer onder die kooi is ‘n hele karton. ‘n Sielestryd soos min ontvlam. Sal ek toegee of sal ek verbete my belofte aan gade Tokkie probeer gestand doen?
Seker ‘n halfuur lank staan ek verskeurd. Toe borsel ek my tande ‘n tweede keer en gaan eet brekfis. Die Marlboros is saam Moskou toe. Tertius se wenk het gewerk soos ‘n bom.
Maklik om op te hou? Doodmaklik, Oumatjie Zuma. Vra ou Hennie, hy weet.
Van rook gepraat. In Bloemfontein was in die 80’s ‘n dr. Hiemstra wat oor die stad se gesondheid moes waak. Een of ander gesagsamp by die munisipaliteit beklee.
Soos Oumatjie Zuma was sy nie lief vir sigarette nie. Sy skryf toe aan Die Volksblad ‘n brief waarin sy drie van die stad se grootste rook-rampokkers by die naam noem: Louis Botha, administrateur, Barnie Human, motormagnaat, en Hennie van Deventer, redakteur van Die Volksblad.
My kollega by die brieweblad het gewonder of hy so ‘n sensitiewe briefie moet plaas of liewer nie,
Ek het nie lank gedink nie. Vir my ‘n Rembrandt van Rijn opgesteek en toe ek die eerste wolkie rook in die lug blaas, spreek ek die oorwoe oordeel uit: sit hom in.
Sy is uit vele oorde gelukgewens. Ook uit my eie huis. Ek het my egter nie deur die “misipaal” (Johan van Wyk se woord) laat voorskryf nie! Ook nie Louis of Oom Barnie nie.
May 27, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Oumatjie Zuma se eenvrou-oorlog teen tabak voer my gedagtes terug tot een van Volksblad se kernelemente oor dekades: die rubriek Stop van Myne. Toe ek die koerant as vyfjarige aan die voete van my oupa Visser in Kimberley gelees het, was Stop in elke uitgawe ‘n moet.
Toe ek die redaksiekantore einde 1958 die eerste keer as studentewerker instap, was Stop van Myne volstoom aan die gang. Die logo was ‘n pyp en twaksak. Die skrywer daardie tyd, Renier (Oom Giep Joubert), se persoonlike aanhang het gesorg vir genoeg biltong vir sy spens om ‘n hele winter mee deur te kom.
In my redakteursdae (1980 tot 1992) was die groot gees van Stop Johan van Wyk (die “Oom”) wat in ‘n kwarteeu ‘n asemrowende 6 000 rubrieke, of vier miljoen woorde, gelewer het. Sy resep het hom ikoonstatus besorg. Van sy uitdrukkings het volksbesit geword. Dink aan “ohopoho” wanneer dinge rof raak. Of “Hef ‘n siegret” (“Ingels” vir Stop van Myne).
Dit is laasgenoemde wat my aan die wonder gesit het. Sou Oumatjie Zuma (“‘n misdaad is ‘n misdaad”) sulke uittarting geduld het? ‘n Rubriek wat mense elke dag in twee van die 11 ampstale uitnooi tot ‘n dampie? Dis mos skreiende uitdaging van die staatsgesag! Hoop die outeur sou darem ‘n keuse gekry het tussen ‘n boete en tronkstraf.
Dis natuurlik alles net speel-speel, Wat nie-speel is nie, is haar magsug wat soveel derduisende rokers se verwagtinge van ‘n verslapping in vlak 3 in rook laat opgaan het. Of haar beweerde verbintenis met die mafia van die smokkelhandel met rookgoed. Sy ontken. Geen rook is egter sonder vuur nie.
Die belangrikste vraag is of sy die pyp rook in die gesagsposisie wat sy nou beklee. As jy uit my twaksak wil stop, is die antwoord NEE.
May 26, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
You can’t keep a good man down,” seg hulle op Engels. Ek verbuig ter wille van die blog die spreuk ietwat: “You can’t keep a good wine down.”
Vanoggend deur ‘n brokkie in Die Burger herinner aan die Suid-Afrikaanse wyn wat ek in 1985 by Kenneth Kaunda in Lusaka gedrink het. Die storie storie agter die storie volg, maar eers net gou die brokkie in Die Burger wat my gedagtes in trurat gesit het. Dis in die rubriek “50 Jaar gelede”. Opskrif: “Wyn laat bloos”.
Die storie: “Die etiket op ‘n wynbottel het ‘n paar hoe Kanadese gister in Ottawa by ’n anti-Suid-Afrikaanse dinee erg in die verleentheid gehad. Mitchell Sharp, minister van buitelandse sake, het 40 anti-apartheidsondersteuners na die dinee genooi om hul versoek om strenger sanksies teen SA te bespreek. Een van hulle het die servet om’n bottel wyn op die tafel verwyder … en gesien dis Suid-Afrikaans. Die bottel is dadelik deur ’n ander vervang. Sharp het gebloos en om verskoning gevra vir die blaps.”
Herinner my toe aan een van my eerste ervarings van “oor-grens-diplomasie”. Dit was was op 25 Mei 1985. Ek is daardie dag saam met die joernaliste Hugh Murray (Leadership), Willem de Klerk (Rapport), Jan van Zyl (SAUK), Tertius Myburgh (Sunday Times), Harvey Tyson (Star) en Harald Pakendorf (Vaderland) in ‘n Citation van Anglo American na Lusaka vir ‘n ontmoeting in State House met pres. Kaunda.
Daar was ‘n prikkelende gedagtewisseling, opgevolg deur ‘n lang middagete met wyn wat net nie kon opraak nie. Die etiket was onbedek. Dit was Bertrams. Eg-Suid-Afrikaans.
Kaunda was in ‘n joviale bui en het selfs ná ‘n paar glasies vir ons ‘n Van der Merwegrap vertel: oor John Vorster wat, verwysende na Afrika se swart premiers, vir ‘n Amerikaner sou gesê het: “Waar ons vandaan kom, laat ons swartes die werk doen!”
Die teleurstelling van die dag was dat ‘n poging om ook by Oliver Tambo uit te kom op die nippertjie misluk het. Maar dis ‘n ander storie.
Op die foto’s is vir eers ‘n boodskappie van die president op my naamkaartjie aan tafel. Het die Zambiërs maar vergewe dat hulle my naam Jakob met ‘n c gespel het. Baie mense doen dit. Op die ander foto is die spyskaart van die dag. Nogal lekker filet gewees. Die naam van die wyn ontbreek opsigtelik.
Die dag was om drie ander redes onthoubaar:
Een is die groot pie wat ek weens die baie wyn ontwikkel het. Die Citation se toilet was vol gepak met kartonbokse. Toe ons op Jan Smuts land en die deur oopgaan, het ek sommer bo van die trappe af my ding op die laaiblad gedoen. Ek was 35 jaar jonger as nou!
Twee: Ons was laat vir die aansluitingsvlug na Bloem en die verleë Tokkie moes ‘n ete-afspraak kanselleer wat die arme gashere lank gesukkel het om te reël.
Drie: Later bel Tokkie my in die hotelkamer in Johannesburg. Ons sou buitendien die ete misgeloop het. Sy is met Marisa (ons dogter) by die hopitaal. Dié het geval en haar arm gebreek.