Jul 21, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ter ere van die Chinese Sehol wat nou tot die mortormark toetree, deel ek graag ‘n hoofstukkie oor motorname uit my humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat” (Griffel, 2010). Dit is ook as e-boek by De Novo beskikbaar. Kyk onder.
TJORRE MET TITELS
“Bankrot Maar Windgat”. So spot sekere BMW-eienaars nogal graag met hulleself. Dit is seker ’n verkiesliker verklaring vir een van die bekendste akronieme op die pad as “Blik Met Wiele” of die Engelse “Bavarian Manure Wagon” – ’n klaarblyklike variasie op die tema van die ou DKW.
Ek soek nie baklei met BMW-eienaars nie – van my beste (en rykste) vriende ry Beamers. Die windgat-etiket kom maar net by my op toe ek by ’n winkelsentrum ’n spoggerige BMW-koepee sien met die plakker: “Was eers my man s’n”.
Dis nou fyn spog! Daardie vorige eienaar se egskeiding was klaarblyklik nie ’n goedkoop storie nie!
Tussen fyn spog en selfspot is soms net ’n fyn dun lyn. Nou die dag beland ek agter ’n rammelkassie met die bufferplakker: “My other car is a Porsche”. (Porsche staan glo vir: “Proof Only Rich Snobby Children Have Everything”!)
Van spot gepraat: Op Tukkies was my wiele in my laaste jare ’n piepklein Fiat 500-stasiewa. Dié Fiat is dadelik deur een seksie (spottend) die “Skoolbus” gedoop. Ander se spotnaam was die “Grassnyer”.
’n Amerikaanse webwerf het lyste en lyste van byname vir bekende fabrikate – speels en spitsvondig maar, interessant genoeg, tog hoofsaaklik onvleiend. Ekself is ’n trotse Honda-ryer en stem glad nie saam met die volgende nie: “Had One, Never Did Again!” Ek glo eerder: “Happy Owners Never Drive Anything else!”
Die BMW se twee Duitse mededingers, die weeldemotors Mercedes Benz en Audi, kom ook nie skotvry af nie. Hoeveel trotse Benz-eienaars sal saamstem dat “My Expensive Road Car Emits Dense Exhaust Smoke – But Efficiency Near Zero?” Audi-eienaars sal seker beledig voel oor: “Always Under Diagnostic Inspection.”
Die volgende willekeurige seleksie word nie lasterlik bedoel nie en moet asseblief nie ernstig opgeneem word nie:
Chevrolet: “Cheap, Hardly Efficient, Virtually Runs On Luck Every Time”;
Fiat: “Fix It All The Time”;
Ford: “Found On Rubbish Dump”. Of agterstevoor: “Driver Returns On Foot”;
Hyundai: “Here’s Y U Never Drive An Import”;
Jeep: “Just Expect Every Problem”;
Kia: “Kick It’s Ass”;
Toyota: “This One You Oughta Tow Away”;
VW: “Virtually Worthless”.
Sekere motors het nie spottende byname nodig nie. Motorname kan in sigself rampspoedig wees – veral daardie wat in ander tale gans iets anders beteken as wat die vervaardigers in gedagte gehad het.
Die Opel Ascona beteken glo in Spaans en Portugees ’n intieme deel van ’n vrou se lyf. Die Mazda Laputa is, volgens dieselfde bron, in Spaans die Mazda Slet. Die Pajero van die Mitsubishi Pajero beteken na bewering in Spaans “wanker” (iemand wat masturbeer). Die Nova van die Chevrolet Nova beteken in dieselfde taal eenvoudig: “Dit loop nie!”
In Japan is verskeie modelle met Engelse name wat ’n glimlag uitlok. Dit sluit in die Daihatsu Naked; Honda Life Dunk; Isuzu Mysterious Utility; Mazda Bongo; Nissan Fairlady Z; Suzuki Cappuccino; Toyota Deliboy en Volkswagen Thing.
’n Mooi Toyota-storie kom van ’n kollega wat diep wortels in die motorwêreld gehad het, wyle Fred Schnetler: Die student se meisie raak swanger en die tyd breek aan dat hulle haar ouers die interessante nuus moet meedeel. Hulle daag die Vrydagaand op by die pa se indrukwekkende plaas, maar hy besluit om te wag tot later, wanneer die oomblik geskik is, om die nuus oor te dra.
Die volgende oggend gaan wys die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man beïndruk is, hom die plaas. Ná ’n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek staan ’n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers is netjies op ’n ry en in die skuur langsaan is twee Toyota Hino-vragmotors. In die motorhuis is ’n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ’n Corolla.
“Oom glo in die Toyota!” sê die student.
“Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.”
Eenkant staan ’n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “Hy’t 500 000 kilometer op die klok en vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond.
Dis toe die student ’n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?”
“
Nee, hoekom vra jy?”
“Ai, oom, ek het haar net so ’n ligte ou stootjie gegee toe vat sy!”
Jul 14, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Jy verkeer in die salige waan jy is nog nommer een. Skielik ontdek jy jy is nie meer nie. ‘n Mens voel of jy in jou tande geskop is.
Arme Faf de Klerk. Hy moes sy nommer 1-posisie as die Springbokke se skrumskakel aan Jaden Hendrikse afstaan. Ek weet presies hoe hy voel. Hierdie skrywe kom uit dieselfde bootjie.
In my geval is rugby nie in die spel nie. Kragtie, ek is fluks op pad 82 toe en dit kan maar lol as ek haastig moet skrum skoon maak.
Nee, in my geval is dit banksake. Soos Jaden Hendrikse by Faf oorgevat het, het Tokkie van Deventer op die speelveld by die uwe verby geskuif.
Faf het uit die mond van Jacques Nienaber van sy afgradering verneem. My fluitjieblaser was Lichanda Nyirenda, ons Malawiese tuinier.
Hy kom grootoog en skepties verneem wat die SMS beteken wat hy van die bank ontvang het om hom van sy jongste inbetaling te verwittig. Nog altyd is hy deur ‘n JH van Deventer betaal. En nou? Nou’s dit ‘n GS. Wat beduie dit?
Tokkie verduidelik aan Lichandfa hoe die vurk in die hef steek . Die koekieblik het nie verander nie. Net die hand wat daarin gedelf het.
Ek luister belangstellend maar deel nie Lichanda se satisfaksie met die verduideliking nie. Sedert 1958 is hierdie my rekening. Ek is g’n GS nie. Watse kaping is dit die deur ‘n inkommer? Wat de duiwel!
Ek bel die bank taamlik ontsteld – nogal ‘n uitdaging want die foon lui lank en skakel in die proses – so lei ek af – meer as een keer van een telefoon oor tot ‘n ander. Uiteindelik darem ‘n gewillige oor. Nee, hierdie is taksake. Daar trek ons Blouberg toe. Melkbos het nie meer ‘n bank nie.
Maar moenie dink jou nommer -1 posisie val sommer weer in jou skoot nie. Dis jy teen die stelsel. Die het verander, hoor jy. Omdat die app op Tokkie se foon is – my getroue ou werkesel, ‘n Blackberry, is nog te ouderwets vir sulke gedoentes – moet sy User 1 wees en ek User 2, verduidelik die dame – of iets in dier voege.
Ek maak heftig beswaar. My status gee ek nie so maklik prys nie. Eers knor ek. Toe dit moontlik kontraproduktief begin lyk, raak ek die ene stroop. Uiteindelik: ‘n boer maak ‘n plan; ‘n slim bankmeisie ook. Meneer druk hier, Mevrou, druk daar, Die saak raak reg.
So, Faf, daar’s hoop. Byt vas en baklei. Soos ek weer User 1 geword het, kan jy weer met die nommer 9 op jou rug uitdraf. Arme Tokkie, vermoed ek, is nou User 0. Wens dieselfde lot nie met kwade bedoelinge vir Jaden Hendrikse toe nie, maar wat reg is, is reg. As ‘n mens nommer een is, is jy nommer een. Allekragtie.
Jul 14, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Voor die besoek aan die kardioloog kry ek ‘n boodskap: Bring jou eie handdoek saam. Ek en Tokkie beraadslaag oor die regte grootte – nie te klein nie, nie te groot nie.
Sy bied ‘n keuse van drasakke. Ek besluit op een en gooi sommer ‘n kam ook in. As jy ‘n handdoek nodig kan kry, gaan jou weerbarstige kuif waarskynlik ook deurmekaar raak.
Daag by die arts op met my drasak in die een hand en die kierie in die ander.
Beland uiteindelik op die gevreesde trapmeul. Dit verby, is die handdoek steeds nie nodig nie. Ook nie die kam nie. Kuif is nog ramkat.
Met die groetslag merk ek op: Dokter wonder seker oor die sak. In hom is my handdoek wat ek volgens die boodskap moes saambring.
“O,” antwoord hy met ‘n vonkel in die oog: “Dis eintlik net vir die ouens wat handdoek wil ingooi. ”
Ek grinnik maar saam. In die motor vra ek vir Tokkie: “Het hy nou ‘n grap gemaak?” Sy weet ook nie, maar vind dit klaarblyklik snaaks.
Elke wakker stonde in die nag dwaal my gedagtes na die handdoek in die drasak. Was die boodskap op die selfoon ‘n stukkie spitsvondigheid waarvoor ek, digte drommel, soos ‘n sak patats geval het? Of het die kardioloog geskerts?
Vraag is: moes ek werklik die handdoek gevat het of nie? Amper lus en bel die praktyk en vra hulle. Maar hulle is besige mense en het dalk nie tyd vir so ‘n beuselagtigheid nie. Nou gooi ek maar handdoek in.
Jul 5, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Koffers op ’n rolstoel – wat beduie dit? Die storie agter die foto regs is so absurd dat min mense my seker sal glo. Dit is die reine, reine waarheid.
Ek en gade Tokkie het Sondag omstreeks 14:00 op die Kaapstadse Internasionale Lughawe geland op Airlink-vlug 4Z652 uit Skukuza. In die aankomssaal was geen, absoluut geen, enkele bagasiewaentjie nie.
Die hele vleuel waar honderde waentjies gewoonlik in rye gereed staan, was dol-, dolleeg – ‘n spelonk van verlatenheid.
Verbaasde passasiers se navrae het min opgelewer. ‘n Algemene verklaring was dat die waentjies “opgeraak” het. Een lughawebeampte het weer beweer dat die verantwoordelike mense “van diens af” is. Nog een het opgemerk dat waentjies “laat haal” is. Ons moes net wag.
Niemand met ‘n geel oorbaadjie het laat blyk dat die gekke situasie hom of haar ‘n duit skeel nie. Met drie sware koffers wat uit die aankomssaal tot in Parkade 2 karwei moes word, was hierdie bejaarde egpaar taamlik benoud. Toe kom vra die dame op die foto – ‘n ware engel – of sy kan help.
Vervolgens kry sy die ingewing dat ‘n rolstoel die antwoord bied. Sy draf weg en kom met die een op die foto terug. Twee van die drie koffers kry daarop, plek. Die derde sleep sy op sy wieletjies agterna.
Die hele ent – hoeveel honderd meter sou dit wees? – vat sy ons; ek met my kierie tok-tok op haar hakke.
In die Parkade het ek die foto geneem. Die waentjies wat links sigbaar is, was die eerste wat ons teengekom het.
Dat ek nie haar naam gevra het nie, is iets waaroor ek myself bitter kwalik neem. Blameer maar die ouderdom. So ‘n barmhartige Samaritaan verdien gewis groter beloning as ‘n karige fooitjie uit ‘n dunnerige beursie na ‘n lang vakansie.
Maar watter verklaring sou daar wees vir skandelike induiestorting van ‘n heel basiere diens aan passasiers op selfs die kleinste, mees verlate ou lughawetjie? Dan word die Kaapstadse Internasionele Lughawe (let wel) gereeld bekroon as die skynende lig van lughawens in Afrika of iets in dier voege.
Swak Piketberg!
Jun 22, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die paradysvlieëvanger is nie ‘n voël wat jy sommer mis kyk nie. Sy ellelange stert van tot 20 cm is uniek. Sy roesbruin lyf, donker kop en hemelsblou snawel voltooi ‘n swierige prentjie. Hom verwag jy in die somer, veral van Oktober tot Maart. Dan dos die mannetjie hom uit in sy kleurryke ‘’hofmaakpak’’.
Groot was my verrassing toe ek gister – 21 Junie nogal – ene met oorgawe in ons watergatjie sien bad. Daarna gaan tooi hy hom op ‘n tak van ‘n reuse-rosyntjiebos. So lank paradeer hy daar dat ek Tokkie kan gaan roep. Sy – slimmer met die reënboognasie van gevleueldes – bevestig dat dit nie ‘n verbeeldingsvlug is nie.
Kenneth Newman meld dat enkelinge wel van April tot September in die Wildtuin aangetref word. Totaal vreemd is die Sabieparkse besoeker dus nie. Maar daai stert? Verloor hy dié dan nie, buite die broeiseisoen nie?
C. Louis Leipoldt, verssmid van die Hantam, se oulike gedig oor die verrassende gesig van ‘n sekretarisvoël op ‘n vreemde plek skiet my te binne: ‘’Sekretarisvoël met jou lange bene, Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf, Met jou groot, groot oë, Wat maak jy hier?’’
Dis die vraag wat ook by my opkom oor die paradysman – stert en al – in die winter in ons watergat:
Paradysvoël met jou lang, lange stert,
Met jooi roesbruin lyf en donker kop,
Met jou helder hemelsblou snawel,
Wat maak jy hier?
(VERSIE: Met apologie aan C. Louis Leipoldt. FOTO: Internet.