GOUE SILWER JUBILEUM

As ‘n ou ouer as 80 is, 60 jaar klaar is met universiteit, 65 jaar gelede in matriek was en al ses jaar verby jou goue bruilof is, is ‘n baken van 25 jaar nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Maar wag nou: 1997 was in die lewe van Jakob Hendrik van Deventer nie maar net nog ‘n ou jaartjie nie.

Ek vier vanjaar die silwer jubileum van my aftrede – 25 goue jare! – die silwer jubileum van ons verhuising na Melkbos – ook 25 goue jare – die silwer jubileum van verering met ‘n silwer penning, sy eerste, deur my skool, Volkies Potchefstroom, en, les bes, die silwer jubileum van my verwerwing van Naspers se goue Phil Webermedalje vir loopbaanprestasie. Laasgenoemde is in Augustus 1997 aan my toegeken.

Nou die dag grawe my Tokkievrou die uitgawe van Naspers se destydse personeelblad, Naspersnuus, met daardie nuus op sy voorblad uit ‘n laai vol rommel en vra: “Wil jy hierdie nog he?” Natuurlik wou ek.

Die ander twee bekroondes van 1997 was wyle Charles Fryer (PJ Cillie-medalje vir kreatiwiteit) en Jan Malherbe, my opvolger as koerantehoof (Hubert Coetzee-medalje vir bestuur).

Vergewe my maar dat ek met ingenomenheid op die verowering van die Phil Webermedalje terugkyk en die jaar 1997 met soveel onverbloemde vreugde in herinnering roep.

‘N ONTROERENDE “U EIE KEUSE”

Goeie musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies in die jare 50.  Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit. Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.

Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.

Die afgelope vyf dekades luister ek en Tokkie graag wanneer ons die kans het. In al die jare was gisteraand egter die eerste keer dat ons ingetrek is. Dierbare vriende, Theuns en Marian Otto van Parys, het gevra dat Gert Potgieter se “O Boereplaas” gespeel word en dat o.a. ons twee moet saamluister. Natuurlik het ons die ore gespits. Elk woord en elke stembuiging was spesiaal vir ons – so het dit gevoel.  Ons was half aangedaan.

Krane van herinnering is daarmee oopgedraai. Soos aan my Pa Malan se dood (my biologiese pa, Seun, is dood toe ek vyf was).

In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.

Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.

Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op “U eie keuse” ingeskakel. Robert Young was die aanbieder. Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.

Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.

In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg. Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai. Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!

(Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young, Wouter de Wet (ook tenniskommentator) en op die oomblik Willem Pelser.  s. Young is die vader van die gewilde “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis.

Dankie, Theuns en Marian, vir ‘n ruimer belewenis as net die mooi lied so weergaloos deur Gert Pogieter voorgedra. Vir diegene wat nie gisteraand saamgeluister het nie –of wat weer wil luister – hier is die You Tube-skakel: https://www.youtube.com/watch?v=-E-bhyz-oJ0

ONVOLTOOIDE SIMFONIE

Vir die MSC Sinfonia het die Van Deventers nou al drie keer gegroet.  Dat ‘n vierde groetslag dalk kan voorlê, was ‘n vergesogte gedagte. Onverwags het so ‘n moontlikheid egter nou opgeduik.  Ons het nie te lank gewik en geweeg nie.

Pas het die bevestiging van ons bespreking gekom: Wanneer die sierlike wit skip op 16 Januarie 2023 na Walvisbaai seil, sal ek en Tokkie op die dek wees – mits die kragte hou natuurlik.

Die eerste kennismaking was amper 13 jaar gelede, op 20 November 2009, op die Sinfonia se eerste vaart in Suid-Afrikaanse waters.  Ek, Tokkie en die tweeling-kleinseuns, Jacob en Thomas Claassens (toe vyf), was van die eerste  passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het vir die “nooiensvaart” na Durban (Foto).

In vyf seisoene en 150 vaarte vaarte het die skip diep in die harte van Suid-Afrikaners gekruip.  Maar in 2014 is afskeid geneem om in Palermo herbou te word. ‘n Nuwe middelstuk is ingevoeg.  Die laaste Suid-Afrikaanse vaart – ‘n “vaart na nêrens” –  sou op 15 Maart uit Kaapstad vertrek.

Om die Sinfonia op sy heel eerste vaart hier “welkom te heet” en op die laaste “tot siens te sê”  het ‘n historiese dimensie uitgestraal wat vir my aanloklik was.  Boonop was 15 Maart 2014 Tokkie se 68ste verjaardag. Omdat dit in ’n naweek sou val, kon Jacob en Thomas (toe al amper 10) op ’n reünietog saam. Christopher (5) sou sy boot-vuurdoop kry. Die ouers, Brent en Marisa, was vuur en vlam om saam te kom.

Ouma se 68ste verjaardag sou dus ’n lekker familiefees word: ’n geskenk van groot waarde vir haar om so tussen geliefdes op die oop see die dag te kan gedenk. (Foto).  Ons het nie geweifel nie.

Toe ons die Maandag voet aan wal sit, het ons die groot banier teen die kant van die loopplank bemerk: “Goodbye, Cape Town”. Uit die draradio’tjie van ’n hawebeampte het ’n trefferliedjie uit die jare 50 opgeklink: Arrivederci, Roma …It’s time for us to part. Dit was asof die speel daarvan juis op daardie oomblik so gechoreografeer was vir ’n sentimentele herinnering.

Vir my en Tokkie was dit ’n voorreg om saam met ons oudste twee kleinkinders op die eerste vaart van die Sinfonia uit Kaapstad te wees. Nou was ons weer bevoorreg om saam met die volledige Claassens-gesin die laaste mee te maak. Ons Sinfonia-simfonie was daarmee voltooi – of so het ons gedink.

Die middag het ons van ons stoep op Melkbos af die see dopgehou. Op die horison het ons ’n stippel gewaar wat al hoe groter word. Net verby Robbeneiland het ons besef: dis die Sinfonia op pad Palermo toe. Soos die seuns vroeër op die skip, kon Oupa nie verhelp nie om die hand te lig in ’n laaste tot-siens-saluut.

Salute, Sinfonia, het ek geprewel.  Arrivederci. Vaar voorspoedig, liewe skip.

In April 2019 is ek en Tokkie op die MSC Musica na Venesië.  Nostalgie het hoog geloop toe die Musica met sy aankoms in die kleurryke hawe Split reg voor die  vergrote Sinfonia  vasmeer; wat ‘n verrassing. Sinfonia-veterane op die Musica het ver teruggedink en goeie tye herroep.

Van die huidige Musica-bemanning het met breë glimlagte na die dek gestroom om hul “ou skip” van hul nuwe een af te groet. Een gryse kêrel  in uniform was ’n kelner op daardie vaart. Dalk was hy nog die ondeunde een wat die seuns so met slaptjips en roomys bederf het!

Die volgende oggend het die Sinfonia eerste gevaar. Ek en Tokkie het op die dek staan en kyk  hoe die ou kameraad al hoe kleiner word. My kamera het aanhoudend geklik. Dit sou sekerlik die laaste sien wees … (Foto)

Maar nou-ja, nou kom die Sinfonia terug vir ‘n nuwe Suid-Afrikaanse seisoen.  Toe ek die advertensie sien, was die koeël deur die kerk. Ons deposito is betaal. Ons kajuit is op dek nege in die  nuwe stuk wat in Palermo ingesweis is.  Die keer vaar ons ander kinders, Johan en Mariza van Deventer van George, saam.  Ons sien reikhalsend uit.

Ons Sinfonia-simfonie gaan voort.

VRESE OOR SKATKAMERS

Die wêreld is ons woning nie. Daaroor is ek dit met die digter Totius roerend eens. Hy merk dit o.m. aan die son wat wyk, aan die reier wat mistroostig na die son sit kyk en “in alle ding wat in die skemer my omring.” My lysie van tekens is heelwat langer as syne. Van veranderende waardes tot fisieke agteruitgang en verval maak my mistroostig.
Vanoggend het ‘n diepe mistroostigheid my oormeester toe ek ”Volksblad” se voorblad op Netwerk24 oopmaak. “NALN staan donker en gegrendel”, is die opskrif van die hartseer-hoofberig. Skatkamers van die Afrikaanse letterkunde het net nog ‘n slagoffer geword van die skromelike onbevoegdheid van die nikswerd ANC se treurige kaders.
Die Vrystaatse regering – berug om sy miljarde wat hy op onbekookte dagdromer-projekte mors – het nie geld om die kragrekening te betaal van die karaktervolle ou provinsiale gebou daar aan die bopunt van Maitlandstraat wat NALN huisves nie. Toegang tot die hart van skeppende Afrikaans is van die baan. Ook die toekoms van die Volksbladkamer met al die koerant se waardevolle meubels en onvervangbare memorabilia hang klaarblyklik in die lug. Hopelik net tydelik.
Wat ‘n ellendige besigheid. Om my nog mistroostiger te laat voel, is ‘n beklemming in my gemoed oor wat by INEG by die Vrystaatse Universiteit aan die gang is – nie net oor ‘n eie private versameling uit my koerantdae wat daar ‘n tuiste vind nie nie, maar oor die ramp vir die totale geheue van ons eietydse geskiedenis wat dreig as dinge skeefloop.
Hoop maar instansies soos die Erfenis-stigting en die Akademia-universiteit hou verwikkelinge fyn dop en maak al planne om te red wat te redde is, as dit nodig sou raak.

HENNIE VAN COLLER: WAT NOU?

Soos dit meermale met prikkelende uitsprake gesteld is, het prof. Hennie van Coller se waarskuwing oor die temas van kinderboeke tot groot omstredenheid gelei.
Ek is een van diegene wat nie die rede vir die diepe aanstoot in sy uitsprake raaklees nie. Kom ons aanvaar egter dat sekere mense en groepe dit wel as kwetsend kon beleef het.
Dan ontstaan steeds allerlei vrae. Het hy inderdaad akute homofobie geopenbaar? Was die stormagtige reaksie nie buitensporig nie? Was sy doeltreffende isolasie in letterkunde-kringe geregverdig?
Die vernaamste vraag: Ontstaan nie dalk ‘n waan van onantasbaarheid by sommige en by hul juigkommando’s wat gereed sit om elke vorm van kritiese bevraagtekening met vuur en swael te bestorm nie?
Ek weet niks van kinderboeke af nie. Maar ek ken Hennie van Coller oor die 30 jaar lank. By my geniet hy ‘n geloofwaardigheid wat my laat kennis neem van wat hy sê. In hom gewaar ek voorts ‘n akademiese integriteit en statuur wat die Akademie van Wetenskap en Kuns ten goede gestrek het.
Dat hy so platgeloop is oor ‘n eerlike opinie – hoe onsensitief dit ookal op sekere ore geval het– is klaarblyklik tot skade vir die dissipline wat hy so lank met onderskeiding gedien het. Die Akademie is vandag onteenseglik armer.
Oor wat hierdie Hennie van Coller-polemiek en die uiteinde hiervan vir toekomstige ope gesprekke oor sekere temas inhou, hou ek my hart vas.
Ek roep byvoorbeeld voor die gees hoe die gerekende skrywer Dan Sleigh slae gekry het toe hy – tereg, volgens baie ewewigtige waarnemers – die feitelikheid van die kontroversiële boek “The lie of 1652” aangevat het.
En ek het nie vergeet die tonne bakstene wat op my neergekom het toe ek gewaag het om die prul van ‘n Bird Island-boek se lasterlike leuens te help ontmasker nie.
Dit alles voed ‘n vermoede dat nie altyd die waarheid van kritiek vir almal deurslaggewend is nie; vir sommige eerder wie die kritiek uitspreek en wat hulle in jou opinie verteenwoordig.
In daardie geledere is allerlei groepe en individue met allerlei byltjies te slyp oor opvattinge en insigte wat vir hulle “ouderwets” en “konserwatief” lyk. Dit val op hoe hulle uit hul pad gaan om mense te diskrediteer en isoleer, veral die stemme uit ‘n ouer geslag.