Die paradysvlieëvanger is nie ‘n voël wat jy sommer mis kyk nie. Sy ellelange stert van tot 20 cm is uniek. Sy roesbruin lyf, donker kop en hemelsblou snawel voltooi ‘n swierige prentjie. Hom verwag jy in die somer, veral van Oktober tot Maart. Dan dos die mannetjie hom uit in sy kleurryke ‘’hofmaakpak’’.
Groot was my verrassing toe ek gister – 21 Junie nogal – ene met oorgawe in ons watergatjie sien bad. Daarna gaan tooi hy hom op ‘n tak van ‘n reuse-rosyntjiebos. So lank paradeer hy daar dat ek Tokkie kan gaan roep. Sy – slimmer met die reënboognasie van gevleueldes – bevestig dat dit nie ‘n verbeeldingsvlug is nie.
Kenneth Newman meld dat enkelinge wel van April tot September in die Wildtuin aangetref word. Totaal vreemd is die Sabieparkse besoeker dus nie. Maar daai stert? Verloor hy dié dan nie, buite die broeiseisoen nie?
C. Louis Leipoldt, verssmid van die Hantam, se oulike gedig oor die verrassende gesig van ‘n sekretarisvoël op ‘n vreemde plek skiet my te binne: ‘’Sekretarisvoël met jou lange bene, Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf, Met jou groot, groot oë, Wat maak jy hier?’’
Dis die vraag wat ook by my opkom oor die paradysman – stert en al – in die winter in ons watergat:

Paradysvoël met jou lang, lange stert,
Met jooi roesbruin lyf en donker kop,
Met jou helder hemelsblou snawel,
Wat maak jy hier?
(VERSIE: Met apologie aan C. Louis Leipoldt. FOTO: Internet.
Deel dit: