Dec 20, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Of ek graag Hoof van Koerante sou wou word, is ‘n vraag wat nooit by my opgekom het nie. Dit was Ton Vosloo se idee. Hy wat self ‘n redakteur was, het daarvan gehou om redakteurs in bestuursposisies om hom te versamel, en Engelse perskollegas het die tradisie as een van die redes vir die ou Naspers se welslae beskou.
Ek meen self nie dat ek ‘n wafferse bestuurder geword het nie. Balansstate en daardie klas ding was nooit my kos nie en die vrees dat ‘n direkteur of sakejoernalis my ‘n finansiele strikvraag kan vra, was immer teenwoordig. Vir die nuwe roetine en dissiplines: state, begrotings, direksieverslae, komiteevergaderings – alles ver verwyder van die daaglikse dinamiek van koerant-uitgee en die vloei van adrenalien in ‘n redaksie – het ek nooit lief geraak nie.
Nietemin: wysneuse in die advertensiewese wat Afrikaanse koerante prematuur wou begrawe, moes in die era nogal op hul neuse kyk. ‘n Vreugde gewees om hulle een aand so te kon aanspreek: “Vir die doemprofete sê ek vanaand: trek uit u begrafnisklere; gooi weg u kransies; laat die vonkelwynproppe klap dat ons kan fees vier!” Ek kon die aand aankondig dat die gesamentlike geouditeerde lesertal van die drie Afrikaanse dagblaaie pas deur die miljoenkerf gebreek het. Ja, julle lees volkome reg: ‘n een en ses nulle
Koerante het in daardie vyf jaar ook met hul geldsake na bo gestuwe het as bekerbekroonde presteerder in die Naspers-portefeulje. Dit was egter nie die produk van een man se versiendheid, leierskap of goeie besluite nie; eerder weens hul onverbloemde Afrikaansheid waaromheen lesers gretig herkonsolideer het; ook oor hul vinger op die pols van die gemeenskap, die toevoeging van waarde vir die lesers, die kwaliteit van die produk. Daar was voorts ‘n span besielde kollegas wat berge versit het om die sektor op verskeie terreine uit te bou. Ek was maar net ‘n bevoorregte medereisiger op daardie opwindende pad; des te meer bevoorreg om daarvoor met die Pers se gesogte Phil Weberprys beloon te word.
Maar watter boeiende, uiteindelik hoogs verrykende leerskool het die 18de van die Perssentrum verdieping nie tog wel geword nie; die nabyheid aan die vuur in ‘n goue era van die Pers waarin baken op baken geplant is, met skitterhoogtepunte soos notering – ‘n tyd waarin die Pers nie net die voorste persgroep in die land nie, maar volgens niemand minder nie as die Sanlam-voorsitter, Marinus Daling, in ‘n rede by die jaarvergadering in 1996, toe reeds ‘n “wêreldklas-organisasie” geword het.
Om op Maandag 12 September 1994 op die vloer van die Johannesburgse Effektebeurs te wees toe Naspers geroep word en agterna ‘n vonkelwyntjie te klink (foto) op ‘n openingsprys van R21 (!) was ‘n belewenis wat ek amper 30 jaar later op my oudag bly troetel. Ek en wyle kollegas Salie de Swardt, Hoof van Tydskrifte, en Andrew Marais, Hoof van Openbare Skakeling, het daardie middag in die Boeing op pad terug Kaap toe nog heildronk op heildronk gedrink.
Uit die bestuursera dateer ook ‘n spotprent wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw (ook ‘n wyle) wat ‘n verbaasde Van Deventer op die program Monitor verskreeu (foto). Wat Louw so intens irriteer het, was my persoonlike voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK). Ek betoog daarin dat Afrikaanse koerante niks het om verskoning oor te vra nie. Hulle het, trouens, in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers in die saak van hervorming volhardend te dien.
Louw het dit as ‘n “romantisering” afgemaak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die telefoononderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard: hy in Aucklandpark, Johannesburg, en ek op Melkbos. Albei briesend. Die Jong Turke van die Pers wat opsluit self by die WVK gaan boete doen het, sou gewis in hierdie episode nader aan Louw gevoel het as aan Van Deventer. Daardie klein paleisrevolusie was nie vir my aangenaam nie, maar het my baie geleer van die onvermydelike opvolging van generasies.
Wat opvolging betref: My koerantwêreld waarin ek my tande geslyp het, was een van warm lood, matryse, teleksmasjiene, perstelegramme en landlyne. Nou het die elektronika oorgeneem: oral in die produksieproses, selfs in die versending van hele koerantblaaie heen en weer oor die lengte en die breedte van die land. Die nuwe ontwikkeling het my eers laat sidder vir die onbekende, maar mettertyd al hoe meer geboei en betower.
Saam met die betowering het die besef deurgedring dat ‘n nuwe fase aanbreek. Vir die fase had ek nie die broodnodige toerusting nie: tegnies en emosioneel. ‘n Nuwe geslag sou moes oorneem om die koerant as ‘t ware te herskep vir langtermyn-oorlewing in ‘n media-omgewing waarin die mededinging ongetwyfeld al hoe moordender sou word.
Op ‘n dag is aangekondig dat ek einde Februarie 1998 op eie versoek sou uittree en deur Jan Malherbe, noordelike Hoofbestuurder van Koerante, opgevolg sou word. Francesco, die witgesig-nar, met wie ek 20 jaar tevore ‘n onderhoud gevoer het vir die rubriek Onder Vier Oe in Beeld, bel toe uit die bloute en sê: “Jy’s mos te jonk om af te tree!”
Die liewe Francesco was verkeerd. My besluit om op ouderdom 57 vroeg uit te span, was op presies die regte oomblik geneem – een van die beste besluite van my lewe!
Dec 19, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In die geselskap van rolspelers van die era.
Om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis op ‘n werklikheidskerm voor jou verbyrol. Dit is die bonus wat ‘n koerantredakteurskap bied. In die 80’s (en 90’s) het die tempo en intensiteit van politieke geskiedskrywing ongekende vlakke bereik. Dit was nie ‘n maklike tyd nie. Vir my was dit fassinerend – ‘n tamaaie era.
Enorme politieke uitdagings en verskuiwings was aan die orde. Swart nasionalisme het ‘n brullende leeu geword. Stakings, optogte, opstande, onluste en bloedige konfrontasies was daaglikse spyse. Terreur sou lelike afmetings aanneem. Die Kerkplein-bom in Mei 1983 het harder geslaan as elke ander terreurdaad. Winkelsentrums, kerke en eetplekke is ook geteiken.
Die bosoorlog het gewoed. Al hoe meer jong Suid-Afrikaners het “aan die grens” gesneuwel. Fidel Castro se Kubane het in hul tienduisende na Suider-Afrika gekom om Swapo te help. Hakkejag-operasies oor buurgrense het die spanning tot breekpunt opgejaag. Die internasionale gemeenskap het die skroewe al hoe stywer begin aandraai. Boikotte, sanksies en isolasie het toenemend ‘n beleërde Suid-Afrika se voorland geword. Die land was was struikelend op pad na onregeerbaarheid.
Die Nasionale Party, tradisionele politieke tuiste van die Afrikaner, sou in 1982 skeur. Die Konserwatiewe Party van dr. Andries Treurnicht het elke verkiesing sterker geword. Op 6 September 1989 het die KP so hittete die NP in die Vrystaat uit die kussings gelig.
PW Botha het steeds met ‘n ysterhand regeer, maar met sy beroerte in Januarie 1989 het hy sy greep verloor. Ná dae van hoogspanning het sy mantel op FW de Klerk geval (‘n scoop vir Die Volksblad danksy Alf Ries). ‘n Nuwe presidentskap met ‘n nuwe visie het op die toneel gekom. Toe kom 2 Februarie 1990. Nege dae later het Nelson Mandela as ‘n vry man uit die tronk gestap.
Beswaardes oor die destydse politieke verloop knoop hul verwyte teen Afrikaanse koerante graag aan by die huidige gemors waarin die land verkeer. Die koerante word vir vele misstande blameer. Hulle sou dan oorgeesdriftig gewees het oor hervorming en het dan saam met FW de Klerk die land weggegee. Hoe die kritici realisties kan dink dat ‘n piepklein minderheid in heersende omstandighede aan die mag sou kon vasklou, is bo my begrip.
Aan die teenpool kom die beskuldiging dat die koerante as stoere kampvegters vir apartheid bly optree het; dat hulle sterker moes gedruk het vir vinniger hervorming. Daardeur word hul sleuterol as drywers van hervorming eenvoudig veronagsaam. Die grense van lesers se ontvanklikheid vir nuwe politieke insigte is deur die koerante gedurig tot breekpunt, en selfs verby breekpunt, getoets.
So fel en bitter was die “familietwis” tussen pro- en anti-hervormers – waarlik ‘n “tweede Boereoorlog met Boere aan albei kante” – dat die koerant toenemend ‘n teiken van regse wrewel geword het en die redakteur self as persoon in die stryd ingesuig is; hy (en sy gesin) is oor sy “verligte” beskouinge getreiter en vanuit die AWB met die dood gedreig. Dit was ‘n klippekou-tyd wat van ‘n redakteur meermale groter wysheid as die beskikbare geverg het!
Vir die intense politieke rol waarin hy gewerp is, kon Die Volksblad natuurlik nie terugdeins nie. Trouens, dit het hom ook al hoe meer op die nasionale toneel na vore gedwing. In TV-debatte en elders is die Vrystaatse stem al hoe meer gesoek. Een TV-debat was op die vooraand van die referendum oor die driekamer-bedeling in 1992. Die redakteur is ook genooi vir ‘n eerste TV-gesprek met Nelson Mandela ná sy vrylating. Ek sal lieg as ek ontken dat ek daarvan gehou het.
Hand aan hand het Engelstalige koerante toenemend van Die Volksblad se standpunte kennis geneem. Oor die onregverdigbare diskriminasie teen Indiërs was hy op die oorlogspad. Hy was eerste om te sê dat die begrip ‘magsdeling’ gerus maar aanvaar kan word. ‘n Ope brief aan PW Botha op die voorblad van Maandag 7 Mei 1990 het heelwat opspraak gewek. “The most unusual way of editorial comment,” het die perskommentator van die Cape Times, James McClurg, dit genoem
By nasionale konferensies, kongresse en simposiums het saampraat-geleenthede ontstaan; ook by buitelandse konferensies in o.m. Londen, Wiston House in Surrey en Parys. So is paaie met dié van ‘n jong Thabo Mbeki gekruis. Kontruktiewe bande het ontstaan wat voordele ingehou het. Die Volksblad kon byvoorbeeld dié ANC-voorman, toe hy onder blankes nog ‘n relatief onbekende was, na Bloemfontein nooi vir ‘n private voorligting aan uitgesoekte meningsvormers.
Hoe het Die Volksblad die toets geslaag? Dit is iets waaroor ek nogal baie getob het. In my laaste direksieverslag het ek ietwat swaarmoedig gerapporteer: “Die grootste teleurstelling (mislukking?) van daardie skof was ongetwyfeld die onvermoë om die vertroue, geloofwaardigheid en selfs liefde wat Die Volksblad deur die jare in sy gemeenskap verwerf het, om te sit in steun vir die koerant (en die land) se ‘nuwe politiek’.”
“Iets is verkeerd gedoen,” het ek hand in eie boesem gesteek. “Hopelik bring tyd groter klaarheid oor wat dit was.” Maar absolute klaarheid bestaan steeds nie – buiten dat ons dalk tog maar, veral aanvanklik, met groter diplomasie, deernis en begrip op beswaardes se vrae en vrese kon gereageer het.
Een troos was toe die waterskeidingsreferendum van 1992. Teen die stoutste verwagtinge in is albei Vrystaatse stemdistrikte vir die Ja-stem ingepalm. Amper 55% van die stemme was ten gunste van magsdeling in ‘n onderhandelde nuwe grondwet.
Nog ‘n riem onder die hart was ‘n kloppie op die skouer uit ‘n onverwagte oord. Oor die rol van Afrikaanse redakteurs het James McClurg in die Cape Times bevind: “That they [verligte Afrikaanse editors] have succeeded at all [in discarding the myths and visions with which Afrikanerdom has long encumbered its sons], given the pressures to which they have been subjected, is a mark of courage.” Oor Die Volksblad het het hy onomwonde verklaar: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksbladhas shown consistent courage.”
Oor hoeveel lopies die “dapper” kolwer aangeteken het en hoeveel keer hy been voor paaltjie betrap is, trek McClurg ‘n sluier.
Dec 17, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In my loopbaan was ek altyd gelukkig om op die regte tyd op die regte plek omring deur die regte mense te wees, ook by Die Volksblad. Hiermee ‘n buiging na ‘n spesiale span (foto).
Die Volksblad het in die tyd ‘n volkleurkoerant geword, van middag-gleuf tot oggendgleuf oorgeskakel, die eerste Saterdagponie in die land uitgegee en ‘n leier met gemeenskapskoerante geword. Deur al hierdie vernuwings (en andere) was die span doelgerig aan my sy. Saam kan ons op ‘n vrugbare en voorspoedige hoofstuk terugkyk.
Die Vrystaat was altyd ‘n goeie voedingsbron van joernaliste. Die span van die 80’s was in die opsig uitblinkers. Meer as ‘n dosyn het redakteurs, assistent-redakteurs en buitelandse verteenwoordigers geword. Een is Henriette Anderson, huidige grootbaas by Netwerk24. Ander is o.a. Gert Coetzee, huidige redakteur, Chris Karsten, Sarel Venter, Piet Theron, Jan Scholtz, Francois Lötter, Tobie Wiese, André Brink, Charl van Rooyen, Thinus Prinsloo, Anneke Blaise, Carlien Wessels en Annelise Doubell. (Ouer tydgenote soos Herman le Roux en andere was in die 80’s reeds as leiers gevestig.)
Vir rubriekskrywer Johan van Wyk (die “Oom” van Stop van Myne) het ek in 1988 vir die FAK se prestigeprys vir joernalistiek benoem. Dit was ‘n persoonlike vreugde toe my kollega die prys inpalm. Fred Schnetler was ‘n ander toppresteerder wat pryse versamel het.
Topskrywers soos Deon Meyer, Rudie van Rensburg en Chris Karsten, die onvermoeide sport-statistikus Frikkie van Rensburg, dinamiese advertensieman Philip van Rensburg, wat ‘n baanbreker in Afrika is, top-skakelman Tom Ferreira en ander het op hul eie terreine uitgestyg – te veel om te noem. Dit is ‘n lekker gevoel dat Die Volksblad iets tot hul vorming kon bydra.
Kollegas het my ‘n “kompulsiewe koerantman” genoem. Koerant uitgee was, volgens hulle, vir my “‘n passievolle drif”. Dankie, kollegas, vir daardie getuigskrif – as dit as een bedoel was. ‘n Onmiddelike doelwit was om iets van hierdie entoesiasme aan my hele span oor te dra. “Maak die skouers oop met ‘n groot storie,” is die kultuur wat ek dadelik probeer vestig het. Ek het o.m. ‘n wisseltrofee geskenk om ondernemende joernalistiek te bevorder: ‘n opgevoude koerant uit stinkhout deur die beeldhouster Laura Rautenbach.
Stories wat hulle tot sterk aanbieding geleen het, was onder meer die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg naby Mauritius; die Challenger-ruimteramp; die Vrystaatse vloedramp van 1988; die Westdene-busramp; die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van pedofiel Gert van Rooyen; die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela. Met ons aanbieding kon ons met die bestes saamgesels. ‘n Patroon van “skouers oopmaak” is gevestig en die visuele impak het ingrypend verbeter. Die beeld van “vaal Boertjie” is vir goed afgeskud. Wyle Nols Nieman het hierin ‘n reuserol gespeel.
Dat gemeenskapsdiens ‘n goeie koerant onderskei, was altyd ‘n credo. Twee witbroodjie-“kinders” van die era was Die Volksblad– Kunsmark en die Matrieknooiwedstryd. Een van die beste geskenke aan die gemeenskap was Kunsmark wat in 1982 gestig is. Skares het op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom. Iets soos 1 600 uitstallers was in ‘n stadium geregistreer. Die Matrieknooiwedstryd het topwenners opgelewer soos Margaret Wessels, bedryfshoof van die Standard Bankgroep.
Dat ek gelukkig by Die Volksblad was en beroepsatisfaksie van die hoogste orde beleef het, blyk seker uit die verbetenheid waarmee ek aan die pos vasgeklou het. Toe Ton Vosloo teen die einde van 1982 moes Kaap toe as kroonprins vir Lang David de Villiers, is ek aangekeer om in sy plek terug te kom Beeld toe. Ná wik en weeg het ek dit van die hand gewys. Later het die geleentheid twee keer gekom om Rapport se leisels oor te neem. Geesdrif het ontbreek.
Met die Riaan Eksteen-debakel by die SAUK is ek die pos van nuushoof aangebied. Ek wou nie byt nie. Van buite die mediakring het twee toenaderings gekom. Eers het ‘n afvaardiging van Bultfontein (Tokkie se tuisdorp) my gevra om my as NP-kandidaat in die kiesafdeling Winburg beskikbaar te stel. Aikona. Louis Botha, Administrateur, met wie ek ‘n vriendskapsverhouding gehad het, het my daarop vertroulik ‘n pos as LUK (lid van die Uitvoerende Komitee) aangebied. Nee, ek wou redakteur bly.
Dit was ek 12 heuglike jare lank. Die dag toe ek, einde Maart 1992, die deur van Die Volksblad se deftige redakteurskantoor met sy swaar ou meubels (stinkhout en Birmaanse kiaat) en donker houtpanele teen die mure vir laas agter my toetrek, was ek innig dankbaar dat die uitnemende geleentheid my gegun was.
More praat ons oor die politiek van die 80’s.
Dec 16, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Jong sub by Die Volksblad, circa 1965.
Plus-minus 60 gelede het ‘n groentjie-verslaggewer by Die Volksblad in Bloemfontein ingestap. Dit het ‘n koeranteloopbaan van 35 jaar ingelui. ‘n opwindende skof by Beeld in Johannesburg is ingesluit: die kindertuinjare van daardie koerant.
In ‘n kort reeksie kyk daardie groentjie terug op sy pad. Vandag val die fokus op eerste twee dekades totdat hy in 1980 van Beeld na Bloemfontein toe teruggestuur is om die leisels te vat by die koerant waar hy sy tande gesny het.
Die storie begin in 1957. As Wes-Transvaalse seun slaan ek ‘n Volksblad-beurs los. Ek is Tukkies toe vir vyf jaar. Einde 1961 moes die 20-jarige Tukkie as Goudveldse verteenwoordiger waarneem – ek moes aan die diep kant leer swem. Begin 1963 het ek in Bloemfontein vas ingeval. Uit die staanspoor is net beroepsvreugde ervaar. Verslaggewing was in my bloed, van moord tot politiek.
In 1964 en 1965 (ongelukkig net die twee jaar) was ek in die persgalery van die parlement. ‘n Dinamiese stukkie van die Verwoerd-era kon ek as’t ware in die voorste ry beleef. In 1966 het ek hoofsubredakteur geword (‘n pos wat te gou gekom het). Die moord op dr. HF Verwoerd op 6 September moes ek as groentjie hanteer. ‘n Groter nuusstorie het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie. Nog ‘n grote was prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op Louis Washkansky op 3 Desember 1967.
Vir byna ‘n dekade was ek nuusredakteur, eers by Die Volksblad en later by Beeld. Die storiestroom oor my lessenaar het die adrenalien laat pomp: ruimte-deurbrake en –rampe; die neerstorting van vliegtuie; vloede; terreur; staatsgrepe; rooftogte; aardbewings; politieke intriges; opspraakwekkende hofsake; kapings; Anneline Kriel; allerlei menslike dwaashede en manewales; spitse op die sportveld.
Op 16 September 1974 het Beeld sy buiging gemaak (prys was 7c, onthou ek). Die nuusredakteur was een van die bevoorregtes in die voorhoede wat in April reeds Rand toe geskuif het om die dolosse in ‘n ry te gaan te kry. Later het ek assistent-redakteur geword.
Die stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Die joernalistieke omgewing was dinamies. Die spangees was kerngesond. Toe die stryd teen Die Transvaler (grootliks weens sy geknoei met syfers) gedugter blyk as wat verwag is, het dit ons in net ‘n hegter eenheid gesmee.

Beeld-dae: Nuusredakteur en sy gesin, circa 1976.
Ek het dit vantevore gesê; ek sê dit weer: Ek wonder of iewers ter wêreld al ’n koerant was waarin soveel mense soveel liefde gestort het.
In 1976 is ek as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Die jaar in die VSA was genotvol, maar ook uitdagend. Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys. Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop. In ‘n vyandige omgewing moes ek maar bontstaan.
‘n Jammerte van die 70’s is dat ‘n driejaar-skof in die Londense kantoor verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was bespreek en ons huis in Bloemfontein verhuur. Toe word ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer. Pediaters was uit die veld geslaan. Ons is aangeraai om liefs nie in die ongewone situasie die vreemde aan te durf nie. Nou-ja, het ek Londen toe gegaan, het ek dalk nooit ‘n Nieman Fellow of nuusredakteur van Beeld geword nie. Laat ‘n mens liewer juig oor geleenthede wat jy gekry het as wat jy huil oor dié wat deur jou vingers is.
Met my aanstelling as redakteur van Die Volksblad in 1980 is ‘n droom bewaarheid. Jare tevore het ‘n verslaggewerskollega, Trudi Gey von Pittius, gevra: “Hoekom werk jy so hard? Wil jy redakteur word?” Ek het eerlik geantwoord: “Ja, ek wil.” Op ouderdom 39 raak my wens toe vervul. Ek was weer redakteur soos op skool in 1957 (eerste leerlingredakteur van die Volkie-jaarblad) en op Tukkies in 1961 (redakteur van die studenteweekblad Die Perdeby).
Ek was weer in my element.
oto 2: Beeld-dae: Nuusredakteur en sy gesin .
Dec 15, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op 15 Desember 1997 – vandag presies 25 jaar gelede – het ek die deur van my kantoor met die mooi uitsig op Tafelberg op die 18de verdieping van die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad vir oulaas agter my toegetrek.
Ek het die sleutels op die pynlike netjiese lessenaar van Lizette Hanekom, my uiters bekwame, dinamiese en borrelend vriendelike persoonlike assistent sedert 1 April 1992, my eerste dag as uitvoerende hoof van koerante, neergesit, ‘n oomblikkie getalm vir ‘n laaste opregte dankie vir alles en deur haar kantoorvenster die toneel ingedrink hoe ‘n haelwit wolkekleed oor Tafelberg stoot.
Toe stap ek soos sovele kere tevore oor die straat na die parkade waar my rooi Sportline staan, swaai sy neus noordwaarts en durf met ‘n bittersoet gevoel die woelige N1 aan vir die rit langs Paardeneiland, Milnerton en Bloubergstrand verby huis toe op Melkbos vir ‘n salige lewe los van roetine en daaglikse sleur. Voel soos gister. Maar die saligheid duur reeds ‘n kwarteeu.
Om eerlik te wees, het ek ‘n ekstra dag gegaps. Daardie laaste dag op kantoor het ek min vermag, indien enigiets. Hier ingeloer, daar praatjies gemaak. By elke kollega ‘n draai gemaak en my geel legger gemerk “Idees“ ingenome voor hom/haar ingeskuif. Dié was dolleeg. Almal het dit nogal prettig gevind.
Die oggend het al die mense van die 18de saam tee gedrink en ‘n soetigheidjie geniet in die Pers se deftige eetkamer met mure vol groot skilderye wat deur skakelhoof, Andrew Marais, uitgesoek is. Ek het nie geweet of ek ooit weer daar kom nie.
Anet-Pienaar Vosloo het my met ‘n vernuftige plannetjie verras. Toe ek instap, kyk ek in ‘n see van HvD-klone vas: een en elke kollega agter ‘n mombakkies soos diéwat ek elke oggend in die spieël sien – ook die vroue. Vir Conrad Sidego het ek dadelik herken. Sy lang lyf het bo almal uitgetoring.
Die formele afskeid sou in Februarie 1998 volg: ‘n tradisionele dinee by die Mount Nelson. Teen daardie was ek al gewoond aan die nuwe status van voormaligheid.
In die volgende klompie dae wil ek graag die een en ander uit my loopbaan van 35 jaar deel – eintlik 40 jaar as jy my tyd as beurshouer en gereelde vakansiewerker by Die Volksblad ook tel. Verduur my dus maar, asseblief.
NASKRIF: Van die lede van die bestuur van Naspers wat op daardie dag saam met my op die 18de verdieping gehuisves was, en saam ‘n totsienstee gedrink het, is nog net ekself en Ton Vosloo, uitvoerende hoof, oor. Ja, werklik. Koos Bekker het nog nie formeel ingetrek nie. Die ander voor wie se name ‘n “wyle “ gevoeg moet word, was Eric Wiese (in sy huis vermoor aan die voet van Tafelberg vermoor), Andrew Marais, Conrad Sidego, Robert Crowther en my buurman aan die oorkant van ‘n gemeenskaplike p.a.-kantoor, Salie de Swardt. Die Byl kap al hoe vinniger. Dis ‘n versoberende gedagte vir ‘n amper 82-jarige.
Foto’s: (i) Vir oulaas Saam met die liewe Lizette Hanekom. (ii) HvD’s net waar jy kyk.