Aug 28, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Sport-misoes van die jaar 2023 moet die inploffing van SA atletiek in Boedapest wees. Altesaam 66 lande neem deel. Suid-Afrika eindig op nommer 65 -‘n kortkop voor die houtlepelwenner, Eritrea. Beste vertoning is Wayde van Niekerk se teleurstellende sewende plek in die eindronde van die 400 meter. ‘n Aflosstokkie word laat val. ‘n Naelloper word gediskwalifiseer. In die marathon maak ons beste 51ste klaar. Een kom heel laaste onder die atlete wat die wedloop voltooi.
So loop die grafiek onstuitbaar afwaarts sedert 2017 toe ons die laaste keer medaljes kon inpalm. Wat skort? Ek is maar ‘n leek en het nie antwoorde nie. My indruk, vir wat dit werd is, is dat atletiek ‘n aspoestersport geword het.
Ek onthou nog hoe ek as student in die 60’s gereeld na Pilditch in Pretoria toe is om atletiek te kyk, hoe ek selfs Stellenbosch toe is om Tukkies by ‘n Dalrymple te ondersteun (die dae van Sep Serfontein), ek onthou prestige-byeenkomste soos op Tweede Kersdag in die Paarl en opwindende uurbyeenkomste in Bloemfontein, Pretoria, Stellenbosch en elders.
Ek onthou die name van ritse kampioene, wenners van goue medaljes by Olimpiese Speles, soos Esther Brand en ander uitblinkers. Ek onthou die nasionale tranedal oor Gert Potgieter se motorongeluk op die vooraand van ‘n winkende triomf. Ek onthou die era van Fanie Van Zyl, Dickey Broberg, Danie Malan en March Fiascanaro. Ek onthou kaalvoet-skoolmeisie Zola Budd.
Ek onthou toe atletiek ‘n topsport was en die beste atlete nasionale helde. Maar iets het die wiele laat afval. In koerante lees ek meer van Banyana Banyana as van atletiek. Op ons TV brul Max Verstappern se F1-renmotor elke naweek terwyl jy vergeefs na ‘n bietjie atletiek smag.
Is ek maar net in ‘n mismoedige bui of behoort atletiekglorie in SA ook tot die verlede? Kan dit reggeruk word of nie? Wat dink die kenners?
Aug 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vir Zandra van Wyk (77), sjarmante, elegante lewensmaat aan die sy van daardie prins van rubriekskrywers, Johan van Wyk, groet ons Dinsdagmiddag in die Paarl. Op die kennisgewing van die tot-siens-diens by die Vergenoegd-kapel verskyn sy, toe nog’n jong vrou in haar fleur, by ‘n ryperd.
Die storie daaragter ken ek nie. Dadelik herinner dit my egter aan Johan se latere liefde vir ‘n ysterperd, so kragtig en blitsig as kan. En aan Zandra se versoening met daardie derde party van blink metaal in ‘n eiesoortige driehoek.
In sy eerste boek, ‘’So was dit’’, skryf Johan daaroor ‘n kostelike hoofstuk met die titel ‘’Die pad na Tranedal”. Dis ‘n hoofstuk oor epiese togte op die langpad op sy Honda Gold Wing 1100 GL. Elke 500 km is trane gestort. Een keer het sy passasier 899 km ver gehuil.
Tuis gekom, sweer sy dan dit was die laaste. Maar as hy dromerig begin padkaarte bekyk, blink die donker oë en gaan koop sy dadelik ‘n nuwe jean.
Skielik tref dit hoe twee sterk eienskappe van hierdie sterk vrou in die verhaaltjie deurkom. Die een ‘n onblusbare lewenslus, die ander ‘n vasbyt-vermoë soos min.
Sy was ‘n bok vir sports, onthou kollega Tobie Wiese haar onder meer in sy huldeblyk op Netwerk24. Inderdaad. Net ‘n rêrige bok vir sports sou maar telkens weer agter opklim – al die pyne onderlangs vergete. Sonder ‘n stewige element avontuurlus sou niemand dit in elk geval met die “Oom” van Stop van myne (sy ikoniese rubriek in Die Volksblad) lank uitgehou het nie.
Dan: vasbyt. Daarvan sou niemand Zandra iets kon leer nie. Vyf jaar lank het sy teen ‘n aggressiewe borskanker vasgebyt, Maar as jy dit nie geweet het nie, sou jy dit nie kon sê nie. Gekla het sy nooit, opgehou glimlag, het sy nooit.
Deur ‘n intense stryd met Covid was sy aan haar ernstige siek man se sy ‘n steunpilaar, soos altyd. Maar net opgesaal en voortgebeur; voortgebeur en haar kop vorstelik hoog gehou.
Ware aristokrasie was Zandra van Wyk voorwaar in voorkoms, optrede en ingesteldheid. Daardie pragtige perdefoto met saal en toom en al is daarvan ’n treffende simbool.
Aug 25, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Kreef op die kole by Sabiepark se piekniekplek. Vir ons was dit iets nuut. Waarskynlik ook ‘n eerste vir Sabiepark.
Johan en Mariza het die begeerlike seekos saamgebring toe hulle die laaste week van ons lang wintervakansie uit Oudtshoorn kom saamkuier het. Die kreef kom uit Sedgefield se waters. Mariza het in die biezondere omstandighede die braaigereedskap oorgeneem en die heerlike happies tot perfeksie gebraai – so ‘n goue roesbruin, as so ‘n kleur bestaan.
Met die saamkuier – gekenmerk deur groot vure, bobaas-braaigeregte (dankie, Johan) en rojale rooiwyn-verbruik – is die vieringe van ons verbintenis van 25 jaar met Sabiepark feestelik afgesluit.
Danksy Jimmy en Lida Pressly was die tradisionele skemer-piekniek op die Granokoppie op die program. Ook ‘n lekker ontbyt by die gholfklub, gevolg deur ‘n wildrit na Leeupan wat stillerig verloop het. By die piekniekplek het ons darem mooi olifante gesien en ‘n luiperd net-net misgeloop.
Teenspoed het nie uitgebly nie. ‘n Bosluis of twee het Mariza bygekom. Bosluiskoors was die gevolg. ‘n “Sportbesering”, noem sy dit filosofies.
By Tarlehoet het twee baardspegte ons die laaste middag plesier verskaf met ‘n verbete aanslag op die maroela by die stoep. Die stryd teen die vlermuise is ongelukkig nie met welslae bekroon nie. Ons is redelik raad-op, Alle rate is uitgeput. Dalk trek hulle vanself. Hoop maar so.
Die reis na die Kruger-Mpumalanga-lughawe was nogal iets om te onthou. Eers het ek my amper misreken met die tyd. Ons was net betyds. Ten tweede het die immobiliseerder se batterytjie by die Phabenihek gekalf. Ons dag eers ons is gestrand. Toe onthou Tokkie gelukkig van die sleutelgat in die deur.
Die amperste moles was egter Cielie Versfeld van NSTBC se blaps om skoon te vergeet van die laat haal van die Honda. Tokkie moes vinnig spring om parkeerplek te gaan soek terwyl ek, kierie en al, met die bagasiewaentjie by die vertrektoonbank gaan inval.
‘n Laaste woord oor die nege weke se verblyf raak die lees van die nege A4-boeke. ‘n Boodskap wat werklik sterk daarin deurkom, is die rol van kleinwild soos duikers (nou baie minder) en vlakvarke (nou afwesig) om by die kleinkinders ‘n verknogtheid te kweek en ‘n boskultuur te vestig. Ons mis die ou dae se veel drukker wildverkeer – veral die gereelde koedoebesoeke om die voëls se pitjies te gaps.
Ek en Tokkie stem saam dat die regte resep vir Sabiepark radikale ontbossing is ten einde meer weiding te skep. Om eenvoudig net gedurig wild minder te maak, werk nie. Dit skep nie waarde nie, maar takel waarde af. Ernst Bezuidenhout, nuwe parkhoof, het al van my verskeie kommunikasies ontvang. Nog is op pad.
Aug 22, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
-
Vriendelike woorde van Anschen Conradie oor “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” … en oor koerante van oudsher in die algemeen:
Die klassieke koerantwese, kompleet met drukpers, ink, rolle papier, tikmasjiene, donkerkamers en teleksmasjiene word toenemend verower deur elektroniese publikasies; digitale foto’s, rekenaars, die internet, en alles wat daarmee saamgaan. Die ouer garde (waarby ek myself insluit) onthou egter nog die eerste oopvou van Sondag se Rapport, die skoolseuns wat soggens met hulle fietse koerante aflewer, en die afwagting oor wat die dag se lamppaalplakkate mag inhou.
Die skrywer, deurwinterde joernalis en voormalige redakteur van (Die) Volksblad, deel in hierdie bundel etlike kosbare herinneringe, nostalgie, humor, ironie, anekdotes, en huldeblyke uit vervloë dae. Sommige bydraes is, met erkenning, ontleen vanaf LitNet en die Nagkantoor-Facebookgroep, en sommige het voorheen in die skrywer se eie publikasies verskyn. Die voorwoord is deur Ton Vosloo – en die oorsprong van sy bynaam word ook in die bundel verklap.
Die ouer bydraes gaan so ver terug as 1914 toe C.J. Langenhoven ‘n persoonlike brief aan die koerant waarvan hy redakteur was, Het Zuid-Westen, geskryf en gepubliseer het, en sluit aan by moderne gebeure soos die storm wat om Prof. Amanda Gouws se kop losgebars het aangaande vroue wat vloek, en ‘n ontstoke dame beweer het vloekwoorde kom ‘…uit die mond van tandelose mense in die greep van alkohol of dwelms.’ (61)
Ander hoogtepunte sluit in: Glenda Kemp se privaat vertoning vir joernaliste waar die toegangsgeld R10 per kop was, maar darem ‘n bakkie kerrie-en-rys ingesluit het; die bisarre sensuurwetgewing wat polisiebeamptes in 1967 verplig het om, gewapen met skêre, ‘n berig uit die koerante te knip; die drukkersduiwel wat ‘n resensent laat koes het toe sy ‘Swak’ met ‘Twak’ vervang is; die redaksielid wat tydens die Vrystaatse aardbewing van 1975 soek geraak en in die brandkluis ontdek is, en die diakritiese glips wat in 1947 in ‘The Times’ se beriggewing oor die koninklike besoek aan Suid-Afrika die opskrif ‘Hoere, hoere, hoere vir die koning!’ tot gevolg gehad het.
‘n Lekkerlees, nostalgiese bundel.
⭐️⭐️⭐️⭐️ #uitdieperdsebek
Aug 9, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Skielike bevlieging neem ons op ‘n herinneringsrit via Olifants en Balule na Letaba (rondawel D58) en besorg ons ‘n onvergeetlike 24 uur. Het ons al ooit in 24 uur in die wildtuin meer gesien en beleef?
Die aksie begin met ‘n solovertoning deur ‘n leeu by die laagwaterbrug oor die Sandrivier. Sy draf ligvoets oor sand en teer voor ons uit en laat haar nie aanjaag nie.
Net af van die teer by Olifants op pad na Balule sien ons ’n kameelperd-karnaval soos nog nooit. Tokkie tel vinnig tot 15 nekke wat by ‘n lieflike klein watergat saambondel en in spanverband drink.
Op pad terug ry ons ons vas in ‘n indrukwekkende trop buffels wat van Timbavati se kant aantou – honderde der honderde. Dalk ‘n duisend of meer. Ongetwyfeld een van die wildtuin se grootste troppe, indien nie die grootste nie.
‘n Ent van Satara was ‘n leeuvangs. Ons sien net die mannetjie wat vlak langs die teer lê en eet (baie lig van kleur, dalk ‘n witte van Timbavati?) maar wat ‘n parade van gulsige hiënas wat skrik vir niks. Hulle kom uit elke windrigting.
By Leeupan geniet ons ‘n olifant-skouspel. Dertig of meer,
groot en klein, drink, rol in die modder, skop stof op, blaas stoom af, trompetter en treiter mekaar.
Van sebras en blouwildebeeste was daar troppe. Koedoes, waterbokke – en natuurlik rooibokkies – het gewemel. Steenbokkies was volop. Vlakvarke was hier, daar en oral.
Onder die groter gevleueldes was gompoue, boskorhane (baie) en volstruise.
Ook sierlike bome. Vir ‘n sambokpeul naby Letaba die goue medalje as wenner van die Laeveldse lentewedloop vir 2023. Reeds oortrek met sy briljante donkergeel bloeiselprag, kondig hy vroeg-vroeg al die koms van die naderende lente aan – sommer ‘n hele ent voor sy ritse mededingers van dieselfde spesie langs die hoofpad noorde toe. Wat ‘n pragtige boom in die blomtyd is die sambokboom nie. Ongelukkig is die duur van sy intense skoonheid maar kort – net vier fleurige weke of so.
Oor en oor die moeite werd, al vind ons amper R1 800 vir ‘n afgeleefde rondawel bra styf. Geen warm water om te stort. Die ysbakkies in ‘n yskas wat lyk of dit op ‘n rommelhoop opgetel is, is leeg. Op die stoep is ‘n kennisgewing met raad vir die hantering van ‘n gewapende roof, maar die sifdeur het geen skuifslot nie. Die badkamer is Apachestyl geteël: “patchies” wit tussen die groenes. So kan ek aanhou.
Lekker om dan by Skukuza tekens waar te neem van daadwerklike pogings om weer te begin tuin maak.