Sep 19, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Onheilspellend, vreesaanjaend, dodelik. Mense skarrel vervaard om weg te kom voor die toringhoë noodlotsgolf wat Saterdag by Leentjiesklip, Wildernis, die lewe van ‘n brose 93-jarige, mev. Jo Hartman, geëis het.
Mev. Hartman was aan die terugstap van die reling af toe die dreunende reusebrander haar en haar geselskap onverhoeds tref. Mev. Hartman is tot in die pad meegesleur en is in ‘n ambulans op pad na die hospitaal oorlede.
Hierdie beeld van die treurspel is ‘n gedeelte van ‘n foto van ’n ooggetuie, Tanya Rossouw van Wildernis. Sy het in haar bakkie gesit en foto’s van die onstuimige see geneem toe die muur water – sy skat dit so vyf tot ses meter hoog – skielik bo-oor haar voertuig spoel.
Op die ander helfte van haar oorspronklike foto is die groepie waarin die slagoffer haar bevind het. Tanya verkies om dit terug te hou uit respek vir die oorledene en haar naasbestaandes.
Selfs sonder daardie detail is dit egter ‘n uiters nuuswaardige foto – een wat volledig reg laat geskied aan wat die Franse fotograaf Henri Cartier-Bresson, vader van die moderne fotojoernalistiek, “The decisive moment” noem. Hy verwoord ‘n groot waarheid so: “Ons fotograwe werk met goed wat gedurig verdwyn. En wanneer dit eers verdwyn het, kan niks op die aarde dit terugbring nie. Ons kan nie ‘n herinnering ontwikkel en uitdruk nie.”
Eenvoudig gestel: jy het ‘n foto of jy het hom nie. Tanya het haar foto, al verkies sy dan om dit nie volledig met die wêreld te deel nie. My dank aan haar vir die vergunning om die halwe foto hier te plaas.
Sep 15, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Dat die eerste uitgawe van Beeld more, 16v September, presies 49 jaar gelede verskyn het, laat hierdie 82-jarige lid van die span stigters meteens stokoud voel. Hoop maar met die halfeeufees aanstaande jaar sal ek nog hier rond wees om saam in die vreugde te deel. Net vir ingeval dinge anders uitval, sal ek vanaand en more-aand al ‘n premature feesglasie vonkelwyn daarop klink.
Op die hooffoto in hierdie klein collage oor daardie groot dag in my joernalistieke loopbaan staan ons eerste redakteur, Schalk Pienaar, regs. Links is adv. Lang David de Villiers, besturende direkteur van Naspers, en in die middel dr. Phil Weber, voorsitter. ‘n Mens kan sommer sien die drie Naspers-swaargewigte bars van trots op die weerbarstige nuweling wat die koeranttoneel in die noorde later ná ‘n lang en bitter stryd op sy kop sou keer.
Bo links dwaal Pienaar op Sondagaand 15 September laataand deur ‘n verlate verslaggewerskantoor in die lelike ou eerste Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein – nes ‘n verwagtende vader by die geboorte van sy eersteling. Die formidabele redakteur sou helaas net enkele maande in sy veeleisende hou voordat hy weens swak gesondheid die aflosstokkie aan Johannes Grosskopf moes oorhandig.
Die klein fotot’jie regs onder is die Sondagmiddag in die fabriek geneem. Die uwe, eerste nuusredakteur, staan opgewonde en kyk hoe die eerste voorblad gestalte kry. Dit is 49 jaar gelede. Dit voel soos gister.
Die heel eerste uitgawe het verskyn met ‘n scoop. Die Burger se Alf Ries, prins van politieke beriggewers, het daardie oggend met die Boeing uit die Kaap die berig gebring – met komplimente van PW Botha. “Troepe oral op die grens”. Die Suid-Afrikaanse Weermag skud hom reg weens die chaos in Mosambiek ná Portugal se abdikasie. Troepe is oral op strategiese plekke aanwesig. Grense word gepatrolleer.
In Julie 1980 moes ek vir Beeld vaarwel sê om terug te gaan “huis” toe — as redakteur van Die Volksblad waar ek in 1963 my joernalistieke tande begin sny het. Tussen 1974 en 1980 lê ‘n verhaal van fantastiese hoogtepunte. Ongelukkig ook laagtepunte. Maar watter onvergeetlike skof was dit nie.
Ek herhaal vandag graag ‘n woordjie wat ek ‘n keer uit die hart gespreek het en wat al telkens aangehaal is: Dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie.
Sep 14, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Met ‘n dodelike mokerhou maak Jaco Marais op Facebook korte mette van die alewige verwyt dat koerante plaasmoorde afskeep.
Hy reageer op ‘n inskrywing van ene Karin Barnard. Tot haar eer erken sy dadelik en boetvaardig dat sy die kat aan die stert beetgehad het.
Dankie, Jaco. Dankie, Karin, vir die geleentheid wat jy vir Jaco geskep het om die mokerhou te plant.
Sep 11, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vir naastenby almal wat oud genoeg om te onthou, beteken die datum 11 September ‘n dag van verskrikking soos hulle op geen ander dag in hul leëeftyd beleef het nie. Presies 22 jaar gelede het alle hel in New York losgebars.
Die indrukwekkende tweelingtorings van die Wêreldhandelsentrum aan die voet van Manhattan is in ‘n ongekende tereur-aanval gelyk gemaak met die grond – “Ground Zero” – vliegtuie is links en regs gekaap en sowat 3 000 mense het ‘n wrede dood gesterf. (ook by die Pentagon in Washington en in Pennsilvanie is mense dood.)
Die ondenkbare het inderdaad op 11 September 2001 gebeur. In my herinneringe is ook iets van veel-veel geringer omvang: ‘n aand in Boston saam met Nieman-vriende. Ons gesels oor my land, Suid-Afrika, en die oplaaiende spanning oor sy beleid van “afsonderlike ontwikkeling” – “apart-hate”, soos hulle dit uitdruk.
“Julle Amerikaners moet Suid-Afrika ophou druk,” waarsku ek in ‘n oomblik van bravade.
“Maar julle kan ons tog niks doen nie,” se Rod Decker, ‘n mormoon van Salt Lake City, Utah.
“Moenie so seker wees nie. Ons sit eenvoudig ‘n bom in een van SAL se Boeings en gooi hom op New York.”
Ek wonder of Decker en die ander ook op elke 11 September daardie lighartige, ligsinnige opmerking onthou.
Aug 31, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Sestig jaar gelede, in 1963, was die opspraakwekkendste wêreldnuus die sluipmoord op pres. John F. Kennedy van Amerika in Dallas, Texas. Beatlemania het oor die wêreld heen geswiep met die verskyning van die debuutalbum van daardie Liverpoolse mopkoppe, Please Please Me. Die drukknoppie-telefoon is gebore. Ook poskodes, die sogenaamde Zip-kode
In die mikrowêreld van die gesin Van Deventer – toe nog onbekend aan mekaar – het dinge geroer. Hennie het by Die Volksblad in Bloemfontein ingeval as verslaggewer. Tokkie het op Bultfontein matriek geskryf, kort nadat die dorp elektrisiteit en spoeltoilette gekry het.
Dis die baken van my vrou se buitengewoon hegte matriekklas wat die kapstok vir hierdie skrywe verskaf. Op 6 en 7 Oktober vier die klas sy matriekjaar ses dekades gelede. Ons ruk op Bultfontein toe vir die okkasie.
‘n Koerantknipsel uit Die Volksblad in daardie jaar (foto hierby) bring ‘n glimlaggie. Tokkie, wat die A’s behoorlik inryg as pianis, is ook lid van Bultfontein se volkspelegroep wat ‘n A op Bloemfontein se Kunswedstryd verwerf het – die enigste plattelandse skool wat dit daardie jaar kon regkry.
‘n Skoolseun van Grey met ondernemingsgees – ‘n latere geneesheer – skryf toe vir die geamuseerde skoolhoof op Bultfontein hy wil graag die naam van die donkerkoppie heel links weet en ook waar hy met haar in aanraking kan kom. “U daadwerklike optrede sal waardeer word.”
Gelukkig was die skoolhoof ‘n verstandige man. Anders was ek dalk my latere vrou kwyt. Op die foto bo is sy in haar klassieke wit volkspelerok. ‘n Treffende prentjie, meen ek. Verstaan dat die ou so been-af geraak het.
’n Verdere terugblik op die jaar lewer allerlei wetenswaardighede op. Premier Harold McMillan van Brittanje bedank onder meer na die slepende Profumoskandaal (die fraaie foonsnol Christine Keeler, onthou). Die Groot Treinroof vind plaas in Engeland; ₤2.5 miljoen verdwyn. Martin Luther King Jr lewer sy “I have a dream”-toespraak in Washington DC in die VSA . Kenia word onafhanklik. Die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) word gestig. Huisgenoot verskyn die eerste keer in kleur.
Geboortes van 1963 sluit in Garri Kasparof, Russiese skaakmeester. Johnny Depp, Amerikaanse akteur, rolprentvervaardiger en en musikant. TB Joshua, Nigeriese TV-evangelis, Damon Galgut, Suid-Afrikaanse skrywer en Bookerprys-wenner, rugbyman Jake White en skrywer-joernalis Dana Snyman.
Onder die sterftes is Sailor Malan, SA vegvlieënier, Edith Piaf, Franse sangeres, Aldous Huxley, Engels-Amerikaanse skrywer en digter, en Henry Fagan, SA skrywer, politikus, regter en joernalis.
Voorste rolprent is Cleopatra (sterre: Elizabeth Taylor, Rex Harrison en Richard Burton) met How the West was won kort op sy hakke. In Suid-Afrika maak Emil Nofal se Kimberley Jim sy buiging met die Amerikaanse sanger Jim Reeves en Madeleine Usher.
Die Singing Nun se liedjie Dominique is ‘n treffer: Dominique, nique, nique, over the land he plods / And sings a little song/ Never asking for reward / He just talks about the Lord /He just talks about the Lord. Die groep The Beach Boys se gewildheid styg snel.
Groep Twee (Gert van Tonder en Sias Reinecke) tree na vore as Afrikaanse sangpaar. Elsa Joubert trek sterk in letterkundekringe aandag met haar boek Ons wag op die kaptein (later voorgeskryf). Mej. Suid-Afrika is ‘n mooi Boeremeisie Louise Crous (sonder ’n e aan die einde) – sy trek nogal op die beeldskone Liz Taylor.
Die begeerlike Chevrolet Corvette Stingray is die Motor van die Jaar. Die beste weeldemotor is die Buick Riviera, die beste weelde-sportnuts die Jeep Wagoneer en die beste ryding vir ‘n gesin die Chevrolet Impala. In Suid-Afrika is die Cortina (self een gery van 1964 tot 1966) baie gewild. Die Borgward is ‘n motor vir fynproewers.
Die sogenaamde “Young look” tref die modewêreld soos ’n storm. Meisies dra kniehoogte-rompies, moulose rokke, laer hakke en natuurlike kort kapsels. (Vir mans is die safaripak bobaas!)
Aan die sportfront deel die Wallabies van John Thornett die toetsreeks met die Springbokke twee elk. Ken Catchpole is een van die sterre. Sportman van die Jaar is die legendariese Gary Player wat die trofee ‘n weergalose agt keer verower het.
(Terloops, niemand het darem seker vergeet nie dat dr. HF Verwoerd die eerste minister was en CR Swart die staatspresident.)