SAL VLIEG HOOG MET FEES DER FEESTE

Kos vir Afrika. Grafiese voortelling in ‘n koerant van alles wat op die spyskaart was.

By sy 90ste verjaardag op 2 Februarie 2024 het die verrinneweerde Suid-Afrikaanse Lugdiens bloedmin om te vier. By sy 50ste in 1984, 40 jaar gelede, was, in skrille kontras, ‘n fees sonder weerga.

Van 2 Februarie, die lugdiens se stigtingsdag in 1934, tot 23 November 1984 is sy “50 goue vlugjare” swierig gedenk. ‘n Historiese gedenkvlug, tienduisende goud- en silwergedenkmunte en medaljes, eerstedagkoeverte, spesiale seëls, dokumentêre rolprente en glanspublikasies propvol foto’s het luister verleen.

Die fees is met ‘n manjifieke galabanket afgerond, Sowat 4 500 gaste is uit elke uithoek ingevlieg vir die partytjie van die dekade in ‘n dubbeldoor–Makroloods op die lughawe Jan Smuts (nou O.R. Tambo). Die Amerikaanse ruimteman Buzz Aldrin, vlieënier van die eerste maanlandingstuig tydens die Apollo 11-ruimtesending, was die eregas.

Vliegtuigentoesiaste was in die wolke oor nog ‘n uitskieter-element: die merkwaardige herskepping van ‘n Junkers-vliegtuig uit die pionierdae wat verlate op ‘n vliegveld in die Britse platteland opgespoor is. ‘n Uitgesoekte span tegnici het die boksvormige veteraan stukkie vir stukkie tot  lugwaardigheid herbou.

In die wolke . Lugwaardinne in wasige wit uitrustings het by die banket wolkies uitgebeeld. By hulle is Gert van der Veer, bestuurshoof, en Marie-Hélène Maguire, ‘n senior bestuurder in die skakelafdeling. Foto: Verskaf.

Op 2 Februarie 2024 op sy 90ste bevind die lugdiens hom  – of wat van hom oor is – in sakeredding en spartel hy om met ‘n afgetakelde vloot en ruime reddingsboeie van die staat terug in die lug te kom. Die Latynse spreuk sic gloria transit mundi is perfek van toepassing: die ou glorie is droewig daarmee heen.

Reeds in die 70’s het ‘n SAL-span begin prakseer kry om van sy halfeeufees ‘n gedenkwaardige okkasie te maak.   Een ideaal was om sy kleurryke geskiedenis te romantiseer.  ‘n Duitse Junkers Ju 52/3m – die eerste “moderne” vliegtuig in die SAL–vloot –  was in die visier.

‘n Net is uitgegooi, maar ‘n herwinbare Ju 52/3m was ‘n naald in ‘n hooimied.  Eindelik is ‘n vervalle CASA 252L, ‘n feitlik identiese weergawe wat op lisensie in Spanje gebou is, opgespoor. Hy is op ‘n skip gelaai Suid-Afrika toe en tegnici het aan die werk gespring om hom te herbou. Die 52/3m is die “Jan van Riebeeck” gedoop en as ZS – AFA geregistreer.

2 Februarie 1984. ‘n Herboude Junkers Ju 52/3m genaamd “Jan van Riebeeck” styg in ‘n rookwolk op vir ‘n simboliese vlug. Foto: Len Preskow.

‘n Simboliese vlug met die “Jan van Riebeeck” sou op 2 Februarie 1984 van Durban na die Randse lughawe by Germiston onderneem word  – een van die eerste roetes wat in die 30’s met die Junkers en 17 passasiers aangedurf is. Die Tropiese storm “Demoina” het, helaas ‘n onstuimige stokkie voor die droom gesteek.

Jan Smuts is as alternatief ingespan. Blink gepoets en uitgevat in die kenmerkende oranje, blanje, blou van die ou SAL het die 52/3m op 2 Februarie van die hoofaanloopbaan opgestyg.  Om 14:30, presies op skedule, het hy op die Randse lughawe neergestryk.

Van die ou staatmaker met sy drie kragtige Pratt & Whitney-motore het kaptein Flippie Vermeulen van die SAL die gevleuelde woorde kwytgeraak dat sy klank musiek is, sy reuk parfuum en sy beweging pure plesier. Vir die nostalgiese skares was die opstyging, brullend en in ‘n rookwolk, asook die seepgladde landing van ZS – AFA beslis die puurste plesier. “Tante Ju” soos die vliegtuig deernisvol in lugvaartkringe bekend was, is op albei lughawens geesdrigtig toegejuig.

Die gala-banket was op Vrydagaand 23 November – asemrowend in omvang en eksieperfeksie in uitvoering.  Jan Smuts se grootste en nuutste loods, ‘n kolossale struktuur van derduisende vierkante meter wat staanplek vir twee Boeing 747’s en ‘n rits kleiner vliegtuie bied, is as onthaal-area ingeruim.   ‘n Personeelkorps van 1 000 het gespring om alles te laat vlot.

Manjifieke massa-tablo by Makro.

Gert van der Veer, bestuurshoof wat die aand gasheer was, en Marié-Hélène Maguire, ‘n senior bestuurder in die skakelafdeling wat aan die spits van die reuse-organisasie was, raak nou nog meegevoer as hulle die groot aand in herinnering roep. Albei onthou die harde werk, maar die vreugde van ‘n taak wat met lekkerkry klaar gekry is.

‘n “Lavish bash”, het koerante die banket genoem. Die koste is konserwatief op R650 000 geraam. Vandag klink R650 000 na kleingeld.  Omgesit in huidige waardes praat ons van R12 miljoen rand – die prys van ‘n herewoning in ‘n spogbuurt.  Die leeue-aandeel het uit die diep sakke van internasionale verskaffers gekom. Boeing van Seattle en Airbus van Frankryk, asook die Amerikaanse enjinbouer Pratt & Whitney, het met graagte opgedok.  Die SAL was immers ‘n gesogte voorkeur- kliënt.


Marie-Hélène Maguire – sy raak nou nog meegevoer.

Die gaste, uitgevat in formele aanddrag, kon uit die bladsye van die jongste “Who’s Who” gestap het: kabinetslede, regters, generaals, myn- en nywerheidsbase, top-sakelui, senior amptenare, glansmense reisagente, media ….  Koerantredakteurs is gelukkig ook genooi.  So het die uwe en sy gade by een van die keurige tafels met spierwit damask, die fynste kristal, silwer en porselein beland, en ‘n ete-ervaring beleef soos geen ander in sy 83 jaar op aarde nie.

‘n Blommeskouspel het gaste verwelkom.  Emmersvol koningsproteas uit die Kaap het die onthaal-spelonk opgehelder. ‘n Span lugwaardinne in wasige wit uitrustings het wolkies uitgebeeld. Van ‘n orkesverhoog het die strelende klanke van Mozart en Rachmaninoff aangesweef gekom. ‘n Plaat kunstige beelde uit ys gehou:  reuse-visse  – vir my gelyk soos dolfyne of tornyne – seeperde en swane het rondgestaan.  Gade Tokkie het 24 getel.

Dr. Anton Rupert was die hoofspreker. ‘n Dramatiese hoogtepunt was ‘n manjifieke massatablo van militêre orkeste en SAL-kapteins voor ‘n skitterblink Boeing 747 terwyl Mimi Coertse voorgaan met die sing van “Die Stem”.

Op die spyskaart was ‘n seleksie van seekosse, ‘n rojale  vleisverskeidenheid – veral hope wildsvleis (elandfilet, springbok en volstruis) om buitelandse gaste gastronomies te oorrompel –  groente en vars vrugte vjr Afrika, kraakvars broodjies uit die oond, en  allerlei uitsoek-lekkernye soos ganslewer, eksklusiewe kase, koek, roomys en sjokolades.

Fynproewerwyn vir elke smaak – die beste uit die voorste kelders in die Boland – was volop, en ook vir elke tafel sy toegewysde  kelners, ‘n hele garnisoen van weermagrekrute. Jy kon net vra:  duur whiskey, brandewyn, jenewer, vodka en rietblits is binne enkele oomblikke rinkelend voor jou neergesit.

Die goue proefmunt ter herdenking van die SAL se halfeeufees. Op die een sy vlieg ‘n Boeing 747 en ‘n de Havilland DH-60 “Gipsy Moth”-dubbelvlerk van links na regs. Op die keersy is die ou vlieënde springbok-embleem en ‘n groot 50. Onder die jaartal 1984 is die munt se inhoud: “FYNGOUD 1 oz. FINE GOLD”.

n Ondernemende koerant – die Sunday Times meen ek het die skakelmense agterna oor hoeveelhede gaan uitvra – en antwoorde gekry wat die asem wegslaan.  Om te begin met die wildsvleis: 1 800 kilogram eland, 1 500 kilogram springbok en 450 kilogram volstruis.  Voeg by: 150 kilogram beesfilet, 325 kilogram gebraaide bees, 320 kilogram kalkoen, 120 kilogram skaap en 80 kilogram vark. ‘n Optelsommetjie laat die verstand duisel.

Ander verbluffende syfers:  Broodrolletjies: 6 000; roomys en koek: 4 500 porsies.  Wyn: 400 kiste; whiskey: 15 kiste; brandwyn, jenewer, vodka en rietblits:  10 kiste elk. Garnale: 150 kilogram; kingklip: 450 kilogram.  Groente: 400 kilogram; vars vrugte: 1 200 kilogram. Souse: 50 kilogram; slaaie: 100 kilogram, paté: 175 kilogram, kaas: 150 kilogram. Truffels, paté de foie gras, pralines en sjokolade: 12 000 stukke.

Die lakonieke vraag van my spitsvondige swaer, wyle Fanie van Wyk, toe ons in Bloemfontein tuis kom:  “Moes julle jul eie Rennies koop?” Hy kon wel vra.

SEEROWERS VAL MSC-SKIP AAN

Verskeie skeepvaarte moes in die afgelope,paar dae gekanselleer word weens toenemende gevare vir skeepvaart op die Rooisee.  Een wat in die slag gebly het, is die die terugtog van die MSC Splendida na sy tuiswaters by Genoa.

Die veiliheidsituasie in die Midde-Ooste  herinner aan die verrassingsaanval deur seerowers op die MSC Melody in 2009. Die rowers het blindelings met hul handgranate en AK 47’s op die skip losgebrand

Die gesagvoerder. kaptein Ciro Pinto, het laataand – toevallig juis oor die onwaarskynlikheid van seerowery in die geweste – met Suid- Afrikaners by ’n kroeg sit en ginnegaap. Twee verskrikte passasiers kom toe  aangehardloop met die skoknuus: “Ons word deur seerowers aangeval!”

Hulle het hortend vertel van ’n snelboot by die boeg, en van dapper passasiers se stryd om die vasberade aanvallers af te weer.

Kaptein Pinto is vinnig brug toe om alarm  te maak. Hy het dadelik die kluis oopgesluit en pistole aan die Israelse veiligheidsmanne aan boord oorhandig.  ‘n Skietery oor en weer het ontstaan.

Dit het soos “oorlog gevoel”, het  kaptein Pinto later vertel.  ’n “Honderd koeëls” het om die koppe van die veiligheidsmanne gefluit. ’n Veiligheidsman het ’n ligte kopwond opgedoen en ’n passasier is in die been getref.

’n Reddingsboot asook talle patryspoorte is stukkend geskiet. Die kort, hewige skermutseling is deur die veiligheidsmanne en passasiers gewen. Die aanvallers is verdryf en later aangekeer.

Een van die passasiers op die MSC Melody tydens die aanval was mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai. Haar vertelling laat ‘n mens se hare rys. Die tumult het losgebars terwyl die meeste passasiers op ’n binnedek na operasangers sit en luister het, het sy vertel.  Eensklaps het geweerskote met die applous gemeng.

Die gehoor het net vuurvonke gesien soos die aanvallers met handgranate en AK 47’s op die skip lostrek. Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gang is. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down, down.”

Passasiers moes dringend na hul kajuite terugkeer en is beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en hul oranje reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ’n bottel water en jamaikagemmer vir naarheid as vlug in die reddingsbote hul voorland sou wees.

Die nag het verder rustig verloop. Die oggend loer Koos versigtig by die deur uit. “Meneer kan maar gaan ontbyt eet,” stel een van die kajuitpersoneel hom toe gerus.

Die volgende middag het ’n Spaanse oorlogskip en ’n helikopter hulle verder tot by die Suez kom begelei. Daarna is saam met ’n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend”. Sy sal nietemin graag weer daarheen gaan.

  • Uit my boek “Na verre hawens” (Naledi, 2019)

ALS OOR SLAG VAN BLAAUWBERG

Die Slag van Blaauwberg in 1806 was ‘n week of wat gelede ter sprake met die herdenking daarvan  –  en ‘n omvangryke algemene onkunde oor die belangrike skakel in die SA geskiedenis het daarmee aan die lig gekom. Wie, wat, waar? So wou mense op Facebook weet.

Elke moontlike vraag oor die slag net buite Melkbos (wat die Britte in beheer geplaas het van die Kaap) word beantwoord in ‘n formidabele boek Battle for the Cape 1778 – 1806 deur  Ian van Oordt en sy vrou, Barbara, van Pinelands. Ek was so bevoorreg om iemand se kopie te lene te kry.

Die boek van 548 A4-bladsye (ja, dit weeg 2,3 kg!) het 15 jaar se intensiewe navorsing geverg. Die Slag van  Blaauwberg op 8 Januarie 1806 en die impak van die Britse oorwinning oor die Hollanders word in besonderhede beskryf.

Eerstehandse ooggetuieverslae is in argiewe oor die wêreld heen opgespoor Die skrywer het uiteindelik nie minder nie as 8 000 foto’s van oorspronlike dokumente gehad.

Die skildery op die voorblad is ‘n opdragwerk deur Estelle Laubscher.

Die boek kos R1 500. Dis egter nie asof ek dit hier probeer bemark nie, want dit is op die oomblik uit druk.

 

 

 

SKATKIS VOL KWINKSLAE

Spotprentjie deur Fred Mouton met sy aftrede: hy oorhandig die “pakkie”aan Wiets Beukes.

As spreker – dikwels impromptu by konferensies en etes – en as storieverteller met ’n unieke styl, ’n monumentale humorsin en ’n skatkis vol kwinkslae, anekdotes en slimstories het Piet Cillié, redakteur van Die Burger en later voorsitter van die Nasionale Pers, nie sy gelyke gehad nie. Waar hy aan die woord was, is aanhoudend gedawer.

Ek het in die Piet Cillie-skatkis gaan delf na aanleiding van die tamaaie reaksie op een van sy stories wat ek pas as kommentaar by ‘n Facebook-plasing opgesit het. Dit is die storie van die Boer wat gebid het: “Ons weet die Engelse is ook U kinders. Hulle bid nes ons vanaand. Nou vra ons: Bly U tog maar more uit die geveg. Dan skiet ons hulle fyn en flenters. “
Die laaste keer dat ek gesien het, was die duime in die lug by die kommentaar op pad 100 toe en was daar reaksies soos “uitstekende storie” en “wat ‘n praktiese en nugtere gesprek was dit nie met God!”
‘n Cilliéstorie wat hom skynbaar nooit ophou plesier gee het nie, is van ’n pa wat ’n onwillige jong man gaan aantree het om met sy dogter te trou. “Maar sy is swanger, meneer!” “Ag, darem net so ’n bietjie.” Dan lag hy snorkend uit sy maag.
’n Grappie wat ook dikwels afgestof is, is van ’n lekeprediker wat almal iewers individueel konfronteer met die dringende vraag: “Are you saved?” ’n Koerantman antwoord: “I’m from the press.” “Sorry, sir,” sê die lekeprediker, en skuif aan: “Are you saved? Are you saved?”
Hy het graag vertel van die plattelandse redakteur wat sy tikmasjien so hamer. “Wat skryf jy so woes?” vra iemand. “Ek gee Choesjtsjof (destydse Russiese leier hel!” (Terloops, dis hoe ons Chroesjtsjof in my dae gespel het.)
Toe hy met sy aftrede op Stellenbosch professor word, was sy kwinkslag: ‘n Professor is iemand wat al hoe meer weet van al hoe minder; ‘n koerantman weer iemand wat al hoe minder weet van al hoe meer.
Cillié had ‘n rits anekdotes, nommerpas vir elke okkasie. ’n Gunsteling was oor die reaksie van ’n Amerikaanse redakteur nadat dr. Eric Louw, veglustige minister van buitelandse sake in die 50’s, die New York Times in die parlement afgeransel het. Cillié het die redakteur, ene Archimbeaud, gevra: “Wat dink u van die aanval?” Sy antwoord: “The New York Times is an institution. Mr Louw is just a passing phase.”
In 1984 met die afskeid van adv. Lang David de Villiers het hy die Pers se destydse kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik: “Wanneer die Pers se resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan ná ’n verpletterende sege by die stembus: ’I think we did rather well’.”
Onlangs het ek hier gewys op die verwarring tussen Betlehem van die Bybel (sonder die h) en Bethlehem in die Vrystaat (met die h). Volgens Cilliése insigte behoort daar geen verwarring te wees nie. Wat die Vrystaatse Bethlehem in sy oë gediskwalifiseer het vir die Kersverhaal was dat daar nie drie wyse manne was nie.
Hy was lief vir Bybelstories, maar geen engeltjie in elke opsig nie. Toe iemand opmerk ‘Piet, ek het jou lanklaas in die kerk gesien,’ was hy klaar met ’n antwoord: ‘Ja, maar op my ouderdom moet jy nie die aandag van die Here te veel op jou vestig nie!’

EIE CHARLIE CHAPLIN

Elke keer as spotprenttekenaar Charl Marais stiptelik om 11:00 by my kantoor by Die Volksblad inwals vir die spotprentkonferensie, het ek half verwag dat hy ’n bamboeskierie en paar-nommers-te-klein hardebolhoedjie sou uitpluk en ’n paar danspassies uitvoer. Nes sy genant Charlie Chaplin.

Charl Marais met sy tandeborsel-snorretjie en eenderse liggaamsbou (skraal van lyf en self niks langer as Chaplin se 1,65 m nie) was ‘n amperse ewebeeld. Onse Charl het selwers blymoedigheid uitgestraal, al was hy soms melancholies. Hy was op 70 nog kreatief (party dae meer as ander). Hy het, les bes, ook 11 kinders verwek: sewe seuns en vier dogters, nes die nimlike Hollywoodster; maar in sy geval almal by een vrou, Hester, anders as sy beroemde genant.

Lekker gewees om vanoggend uit die pen van oud-redakteur Gert Coetzee  in  Die Burger se naweekblaaie, “By”, van die oud-kollega te lees, en ook van die bokse met ou spotprente wat in ‘n kluis ontdek is. Ek dink vir al Charl se oud-kollegas en vir sy uitgebreide groep nasate sou dit heuglike leesstof gewees het.

Van nasate gepraat: Sy kroos van elf was pa Charl se trots. Die sewe broers Marais het almal – de leste een – provinsiale kleure in stoei verwerf en almal in pa Charl se voetspore as geheelonthouers gevolg. Sy seuns se prestasies op die mat het hom so begeester dat hy met die stoeibesigheid weer in hul voetspore gevolg het (darem net op klubvlak). Self het hy nooit sy mond aan selfs net ’n biertjie gesit nie. Die wegbly van drank en sy liefde vir grappies is “seker waarom ek in my hele loopbaan nie ’n enkele dag weens siekte by die huis gebly het nie.”

Heelparty van Charl se goedige grappies had die spannetjie van 11 kinders (en 18 kleinkinders) as onderwerp. Hy moet gereeld gaan tel of almal nog daar is, was een van sy kwinkslae. As iemand vra hoekom die egpaar nie 12 het nie, was sy antwoord gereed: “Die buurman het weggetrek.”

Aweregse humorsin ook aan hom gehad, die Charl.