EENVOUDIG NET BETER

Ons en ons Fillipynse hoofkelner Petros by ‘n gala-aandete in die Brittania-restaurant.

Dis nie dat die lewe aan land vir hom onsmaaklik is nie. Die lewe ter see is net beter. Ek wil dié woorde van sir Francis Drake so verbuig: Dis nie dat lewe op ander skepe vir my onsmaaklik is nie. Die lewe op die Queen Mary 2 is net beter.

‘n Hardnekkige maaggogga het die lewe vir talle passasiers ‘n dag tot drie lank versuur. Die geluid van toilette wat spoel was in ‘n stadium in ons kontrei op dek 4 soos ‘n simfonie van saam-swaarkry. Selfs dit kon die vreugde van die herbesoek nie demp nie.
Ná die vaart van agt nagte na Mauritius bly die bewondering, lof en respek vir die klassieke skip op dieselfde hoë vlak as met die kennismaking tien jaar gelede op ‘n vaart na Sydney. Die QM 2 is enig. Vir styl, deftigheid, diens en die veelsydige vreugdes van sy aanbod aan die gaste in sy sowat 2 000 “staterooms” gee ek Cunard se weelderige vlagskip so aan volpunte as dêmmit aan vloek is.

Ons goue kentekens.

Oorheersend dalk was die vreugde van hierdie jongste en laaste vaart die hertontdekking van al die goue gunstelingplekke op die 14 dekke: van ons ou kajuit op dek 6 en “ons” glaskas-hysbak na die uitkykplek langs die brug tot al die manjifieke sitkamers, eetkamers, teaters, balsale – ook die reuse-biblioteek en planetarium – wat die QM2 in ‘n klas van haar eie plaas.

Gala-etes van uitvoerige watertand-spyskaarte in die swierige, dubbelvlak Brittania-restaurant, “high teas” in die Queen’s Room, konserte in die Royal Theatre, skemerdrankies in intieme sitkamers of die immer gewilde Golden Lion Pub, rustige rondsit op die netjiese dekstoele met hul geborduurde blou kussings – daarmee het ons ons dae deurgebring.

Die herskepte Carinthia Lounge.

Uit ‘n vol program met “insights” (kennerslesings) oor Mandela, krokodille , argitektuur, duikbote, ‘n verskeidenheid kulture, asook hope musiekuitvoerings – harp, strykers, flamenco-kitaar, klavier – kon ons kies en keur. Opnuut ‘n aardigheid gewees om in een middag in te pas: ‘n konsert deur ‘n flamenco-virtuoos, ‘n strelende harpuitvoering en die energieke snarespel van ‘n trio jong strykers uit Oekraïene.

Wat tegelyk effens treurig en opwindend nuut was, is die herskepping sedert ons vorige reis van ons geliefkoosde rustige Winter Garden met sy voëlgekwetter tot die dinamiese byenes van ‘n Carinthia Lounge waar gedurig dinge soos vasvrakompetisies en klavieruitvoerings aan die gang is. Smaaklike ligte happies word vir ‘n alternatiewe ontbyt of middagete aangebied en die mense staan stroom soontoe.

‘n Kajuit soos 4186.

‘n Ander sterk element van nuutheid is in die kunswerke teen die mure. Die art deco-karakter van die goue era van die 20’s en talle historiese foto’s uit die lewe van die skip en sy passasiers – vele glansrykes! – is grootliks behou. Treffende moderne werke is bygevoeg. Nuwe kleur en ure se kykplesier word so verleen.

Vir my en Tokkie was nie net die tradisionele bottel yskoue Franse vonkelwyn in kajuit – “stateroom”! – 4186 se yskassie uit ‘n persoonlike hoek spesiaal nie, maar ook die oorhandiging van twee diepblou fluweelsakkies met ons goue kenketekens vir die bereiking van senior lidmaatskap van Cunard se gesogte Word Club.
Op die QM2 klink ek graag in my gedagtes weer die glasie komplimentêre sjampanje waarmee die kaptein gaste aan boord verwelkom en beleef ek weer die een goue oomblik op die ander. Daarvan sal ek in die volgende dae (weke?) meer vertel – en wys!

TUKKIE SKAAR HOM BY WILGENHOF

Oor studentekoshuise en hul tradisies, gewoontes en geite voel ek as oud-_Kollegeman van Tukkies sterk. Toe die Wilgenhof-bom bars, was in die Kollegehart dadelik ‘n spontane opwelling van simpatie – al lyk aspekte van die Wilgenhof-kultuur ietwat rof, veral in die nuwe tydvak van menseregte en ander sensitiwiteite.

Die gevolg was vanoggend se brief in Die Burger (hier onder ) – een waarmee die ou man maar moes fyntrap. Met een kleinseun in Eendrag en ‘n ander in Helshoogte wil jy nie op tone trap nie.

Ek glo darem my pleidooi vir respek vir andersheid, behoud van identiteiteit en weerstand teen die nastrewing van ‘n kleurlose kampus waar elke koshuis maar net ‘n bloudruk van al die ander is, sal niemand aanstoot gee nie, buiten dalk die “owerheid”.

Terloops, terwyl ander hul locus standi’s nou so aanhaal, meld ek in die verbygaan graag dat my skrywe kom van die oudste lewende voorsitter van Kollegetehuis (1962). Hoop dit gee my standpunt meer relevansie en gesag.

Hennie van Deventer, Melkbosstrand

Wilgenhof is ongetwyfeld mans genoeg om sy sy eie stryde te stry. ‘n Tikkie solidariteit uit Tukkiegeledere sal hopelik tog nie deur Wilgenhoffers “onwelvoeglik” geag word nie.

Ligsinnigheid kan immers net tot op ‘n punt geduld word.  Wat darem hemeltergend te erg is, is om in alle erns die gedagte uit te spreek dat hierdie Matie-ikoon  gesluit of ‘n vrouekoshuis moet word. Dit is heiligskennis verby.

Ek was ‘n lojale Kollegeman – inwoner van die U.P. se Kollege-tehuis  – so ses dekades gelede. ‘n Geurtjie van berugtheid het ook om die koshuis gehang.  Nagligte was gevrees . Modderbaddens, duiwelsdrek-pille, “gatpaarties” en “p-paarties” was ‘n eerstejaar se voorland. Motorfietse het by geleentheid in sy gange gebrul.

Soos Wilgenhof het Kollege nogtans voortgegaan om mense aan die samelewing  te lewer wat weens hul agtergrond, karakter en waardes eerbiedwaardige burgers geword het.

Van die foto’s uit Wilgenhof se geheime binnekamers lyk vreemd, om dit sag te stel.  Dalk is dinge te ver gedryf en is dit nodig om in die nuwe tydvak hokaai te sê. Maak dan reg wat verkeerd is, goed en wel, stel perke, handhaaf ‘n sekere orde, maar wees asseblief tog ook maar versigtig wees om nie onnodig op hol te gaan, allerhande spoke op te jaag en voor die voet te wil “regruk” nie.

Om alle andersheid op ‘n kampus as uit die bose te sien en blindelings ‘n identiteitlose kleurloosheid na te jaag, is werklik ‘n klassieke geval van om die baba saam met die badwater uit te gooi.

ALS BEGIN MET BLONDE MATROOS

Debbie Reynolds – op haar was ek verlief.

”Die blonde matroos”; “Bolandse nooientjie”; “Bootjie na kammaland”;  “Daar doer in die Bosveld”; “Tahiti verre land”.  Met die Jurie Ferreira-liedjies het ek in die 40’s grootgeword.

‘n Musiekbaken daardie dekade was ‘n konsert in Kimberley se stadsaal: Hendrik Susan en sy boereorkes. Watter onvergeetlike orkesleier was die sjarmante gryskop met sy singende viool nie. Sy viool was sommer ook sy strykstok a la André Rieu (of eintlik andersom).

Jurie was die aand op die verhoog as sanger. Ek is ook seker oor die teenwoordigheid van ‘n bloedjong Nico Carstens (trekklavier) en Erns van Rooyen (basviool). Oor van ander Hendrik Susan-staatmakers soos Taffy Kikillus, Jimmy Boonzaaier,  Flippie van Vuuren, Tienie Coetzer en Freddie Luyt moet ek ‘n vaagheid bely.  Maar Jimmy se ”Outa in die Langpad” was op die program. So glo ek.

Ander herinneringe uit die era is rolprent- en radio-verwant. Hendrik Susan en sy orkes het hul filmdebuut gemaak in die musiekrolprent “Kom saam vanaand”. Onder andere Betsie de la Porte se bekende sopraanstem het in die rolprent ‘n gesig gekry.

Al Debbo (“Hasie”) en Frederik Burgers het as komediantepaar na vore begin kom. In Cowboy-flieks was daar mense soos Gene Autrey met sy hartseer-kitaar.  Hy kon skiet en sing.

Nelson Eddy en Jeanette McDonald se “Indian love call” was ‘n radiotreffer.

Plate het ek nog nie geken nie. Die eerste plate wat in ons huis gekom het, was in Durban saam met Pa Tonie Malan met wie my weduweema in 1950 getroud is:  “Mona Lisa” van Nat King Cole, asook “The Tennessee Waltz” en “Mockingbird Hill”,  Patti Page se groot treffers.

Skielik begin in my kop me. Page se soet stemmetjie maal:

“Tra-la-la, tweedlee dee dee it gives me a thrill / To wake up in the morning to the mockin’ bird’s trill / Tra-la-la, tweedlee dee dee / There’s peace and goodwill ……”

In 1952 is ons gesin Potchefstroom toe. Konserte van o.a.  die Weense Seunskoor en die Duitse sopraan Erna Sach in die imposante stadsaal het in die nuwe omgewing vir gedenkwaardige musiek-ervarings gesorg.

Musiek het in ons generasie se lewens gevestig geraak met die periodieke plate-aande in skoolsale. By my skool, Volkies, was dit nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ’n handjies-vashouery was uit.

Van die snitte wat gereeld gehoor is, is egter tot vandag toe gunstelinge en word ook gereeld op Afrikaanse Radio (nou RSG) se  “U eie keuse” gehoor: “O sole mio”, “La Paloma”, “When you come to the end of a perfect day”, “Beautiful isle of somewhere” en, ietwat ernstiger, Rachmaninoff se 18de variasie uit sy “Rapsodie op ’n Tema van Paganini” (ook bekend as die “Soetmelksvlei-serenade” na aanleiding van Jan Schutte se radiovervolgverhaal oor die Du Plooys waarvan dit die temalied was).

Op die stoep van Jack Pauw-koshuis se Blok C is Glenn Miller se ”In the mood” deur ‘n versotte klasmaat in standerd agt oor en oor gespeel.

Indien hoegenaamd moontlik, is Sondagaande op LM Radio se “Hit Parade” ingeskakel. Die vordering van liedjies soos Doris Day se “Que sera sera”,  Perry Como se “More” en Nat King Cole se “When I fall in Love” op die trefferlys is intens gevolg.

Daarna het gekom (en ek noem met enkeles): Elvis Presley se “All shook up” en “Jailhouse rock; Billy Vaughn se  “Sail along, silvery moon”; Bing Crosby en Grace Kelly se “True love”; Harry Belafonte se  “Banana boat song”; Pat Boone se “Love letters in the sand” en “April Love” en die oulike Debbie Reynolds se “Tammy”. Op haar was ek smoorverlief.

Europese treffers waarmee ek op die een of ander manier kennis gemaak het. was: Georges Guetary se “Caballero”; Edith Piaf se “Hymne de l’amour” en Carlo Buti se “Bella ragazza”.

In 1958 is ek Tukkies toe. Saam met my op die agtersitplek van die Chev is pa en ma se groot ou staanradio. Op daardie radio het ek met “U eie keuse” kennis gemaak. Operakomponis Verdi het my held geword. Sy aangrypende “Va, pensiero (koor van die Hebreeuse slawe)” uit “Nabucco” vind ek nou nog verheffend,

Op alleen-Saterdagaande was ook die Drinklied uit “La Traviata”, die Kwartet uit ”Rigoletto” en die Groot Mars uit “Aida” altyd ’n troos. Gigli en De Stefano was betowerende tenore, maar moenie vir Richard Tauber en Jussi Bjoerling weggooi nie.

Op die program, die oudste op RSG, leer ek ook van Tsjaikoski en Rachmaninoff.  Ek luister nou al 65 jaar. Elke keer as die temalied, die “Baltoneel” van Joseph Hellmesberger, opklink, bou  steeds afwagting op.

In die Aula, nuwe konsertsaal van die universiteit, was Mimi Coertse een van die eerste kunstenaars. Sy het opera-arias gesing maar o.m. ook die besielende “O Boereplaas” en die guitige Duitse “Schatzi” (Schatsli/Skatjie) as toegif.

Van die Aula het ek persoonlik allerlei herinneringe. Was in ‘n stadium ‘n gewillige plekaanwyser in ruil vir ‘n gratis kaartjie. Een aand is ek en my vriend Cas Jacobs met twee bekoorlike “asters” na ‘n Aulakonsert. Ons was in ons kispakke en hulle in die fraaiste rokkies. Lieflike geure het om hulle gehang.

Toe ons hulle wil huis toe vat, Asterhof toe, haal die “Santa Maria” (my Peugeot 203) sy ou nuk uit. Hy verseg om te vat. Enjinkap is oop. Ek en Cas vat hier en druk daar. Uiteindelik stoot ons almal – ook die fraai asters in hul spoguitrustings. Geen gelukkige einde vir ons grênd aand nie.

Studenteprins: Mario Lanza

‘n Rolprent wat groot studentegehore  gelok het, was Mario Lanza se “Student Prince”.  Die sorgelose studentelewe in ou Heidelberg het sterk aanklank gevind.

’n Trefferliedjie waarvan ons in Kollegetehuis se geselligheidskamer nie genoeg kon kry nie, was “Tom Dooley” van die Kingston Trio.

Met die oorgang van die studentelewe tot ‘n vervullende lewe as koerantman het ek in Bloemfontein op die draaitafel van “Volksblad”-kollega Wiets Beukes, latere redakteur van “Die Burger”, met  Antonin Dvořák se ”Nuwe Wêreldsimfonie” kennis gemaak. Die simboliek het my later getref: dat met daardie eerste wankelende treë in die joernalistiek vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit is. Ook ‘n verruimende wêreld in elke opsig.

Een van my eerste stokperdjies toe ek my eie geld begin verdien het, was om aan ‘n versameling langspeelplate te begin bou: ou gunstelinge, maar ook vele nuwes.   Die versameling het dekades later neerslag gevind in eie geskepte CD’s wat ek en Tokkie, my vrou, tien jaar lank  vir vriende vir Kersfees geskenk het  met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens. Ek en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Ek kan dit om die dood toe nie oor my hart kry om van die hoop ouderwetse viniel in my studeerkamer ontslae te raak nie. Die herinneringe is net te kosbaar.

DAAI BAADJIE WIL SY (WEER) DRA

Langs die koffers op die bed in die spaarkamer word twee hopies klere stadigaan groter. In die een vang buitengewone items vir die uwe die oog: strikdassies, mansjetknopies, swart skoene….. In die ander hopie is vroueklere. Een stuk oorheers: ‘n waterdigte bloedrooi baadjie. Dis die liewe Tokkie s’n.
Die koffers word gepak, want oor ‘n week bestyg die Van Deventers die Queen Mary 2 vir ‘n herontmoeting. Die kennismaking was tien jaar gelede. Ons is in 2014 via Durban. Mauritius, Perth, en Melbourne na Sydney . Die keer klim ons ná ‘n 8-nag-vaart in Mauritius af. Sien nie meer kans om so ver terug te vlieg nie. Dit net terloops.
Op die vorige vaart is Tokkie met die nimlike rooi baadjie oral op die dek afgeneem: by elke tweede reddingsboei en elke moontlike uitkykpunt (Foto regs). Toe al was die baadjie ver van nuut. Trouens, in die 80’s al het sy hom by ons seun, Johan, afgevry.
Van daardie dag af is sy en die rooi baadjie soos ‘n Siamese tweeling. As betroubare reisgenoot lê die staatmaker se spore wyd op hierdie aardbol en sy oseane. Agter hom is nie minder nie as 12 vaarte.
En waar was die baadjie nie al oral nie? Van New York tot Los Angeles in die VSA; van Kobe in Japan tot China se Hong Kong; van Londen tot Jerusalem: van die Oostenrykse Alpe tot Amsterdam … Die lys is lank.
Die baadjie is deur Johan aangeskaf om hom teen wind en weer te beskerm toe hy in die 80’s Die Volksblad” in Bloemfontein afgelewer het. My vrou het ‘n wyd bekende voorkeur vir rooi. Johan se baadjie het uit die staanspoor haar oog gevang. Die stomme kind het later voor sy ma se flikvlooiery geswig.
Daardie dae moes ons dikwels uit Bloemfontein Kaap toe weens werkverpligtinge. Aprilmaande het ons op Buffelsbaai vakansie gehou. Elke keer is die rooi baadjie saam.
In die 90’s het werks- en vakansiereise ons na o.m. Amerika, Europa, Japan en Australië gebring. Weer was die baadjie altyd van die eerste kledingstukke wat ingepak is.
Ná aftrede het reis ‘n voorkeur-tydverdryf beword. Na elke verre hawe is die baadjie saam – ook op ons jongste vaart enkele maande gelede na Walvisbaai (foto links).
Toe ons begin inpak vir die QM 2 waag ek versigtig die vraag of die baadjie die reis meemaak. Simpel vraag. Hoe simpel, kon ek aflei uit die vuil kyk my kant toe. Tokkie het haar baadjie sonder verwyl uit die kas gaan haal en langs die koffer neergesit.
Natuurlik gaan hy saam op sy 13de vaart. En laat net een donder sy neus optrek

AMBASSADEUR SE STOUT DOGTER BEVARK ALS

Dit moet hier in 1968 rond gewees het toe die aankondiging kom dat die Vrystaatse Universiteit ‘n mediese fakulteit  gaan kry.

Vir die universiteit en die provinsie is ‘n droom bewaarheid: iets waarvoor lank en met mening agter die skerms gespook is.  Vir Die Volksblad was dit vanselfsprekend belangrike nuus.  Boonop eksklusief aan ons besorg in die veronderstellingv dat ons daaraan reg sal laat geskied.

In die eerste uitgawe was dit die hoofberig op die voorblad en op die plakkaat. Tereg.

Tussen die twee uitgawes steek die teleksman Bennie Lean, soos sy gewoonte met belangrike nuus was, sy gesig deur die luik wat die subkantoor en die telekskantoor skei. Hy oorhandig ‘n flitsberig van Sapa  – ‘n “snap” is dit genoem – met die tipe storie wat ‘n koerantman se adrenalien terstond laat pomp.

Die uwe was hoofsubredakteur en dus eerste ontvanger van die boodskap uit Bennie se hand.  Dit het iets soos volg gelui: “Daughter of South Africa’s ambassador in Vienna abducted.”

Sjoe!  Ek druk my half gerookte Rembrandt van Rijn in die asbakkie dood en storm met die stukkie vuurwarm telekskopie na die assistent-redakteur, Oom Bart Zaaiman.  (Hy het later redakteur geword en ek het hom opgevolg, maar dit net terloops.)

Die gedistingeerde Oom Bart was nie ‘n man vir verbale demonstrasie van emosie nie. Jittetjie, Hendrik, roep hy uit. Albei besef egter die implikasie dadelik.  Die UV se mediese fakulteit is sy staanplek as hoofberig op die voorblad kwyt.

Die ambassadeur se ontvoerde dogter is uit elke hoek beskou eenvoudig ‘n groter storie. Dis ‘n loeloe. Ons gooi dit groot.

Die “ontvoering” vervang ook die aankondiging van die mediese fakulteit op die tweede uitgawe se plakkaat.  Daardie tyd had ons net een plakkaat en klaar.

Natuurlik is by ons Kovsievriende teleurstelling oor die verloop van sake, maar hulle verstaan. ‘n Koerant is immers ‘n koerant.  Nuuswaarde, nie sentiment nie, bepaal die prominensie van ‘n berig.

Twee, drie dae oorheers die ontvoering in Wenen (ja, so spel ‘n mens Vienna in Afrikaans) die nuus.  Toe kom ‘n lammerige beriggie: nee, die dogter is nie ontvoer nie. Sy het, soos tieners oral soms die nuk kry, eenvoudig uit die ambassadeurswoning weggeloop. Sy het ge-“abscond”; sy is nie ge-“abduct”nie.

Die wegloper is nou gevind en uit haar skuilplek aan haar verleë ouers terugbesorg. ‘n Diplomatieke insident van allemintige proporsies is afgeweer.

Maar die stouterd!  Hoop haar boudjies het gebrand (by wyse van spreke)  – met sommer ‘n ekstra raps of twee vir die skade wat sy Kosies en Die Volksblad aangedoen het.

Terugskouend: die aankondiging van die nuwe mediese fakulteit moes liewer maar as hoofberig bly staan het.  Altyd makliker om spore dood te vee as ‘n spookopjaery nie te prominent gehanteer was nie.

Maar hoe moes ons nou geweet het?

(Dat die storie nie in “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is nie, is te betreur  Ek het skandelik daarvan vergeet. Gister, eergister laat die naam “dr. Van der Spuy” my daaraan dink. Van der Spuy – dit was die naam van die ambassadeur in Oostenryk.  Hy het later senator en minister geword.)