Debbie Reynolds – op haar was ek verlief.

”Die blonde matroos”; “Bolandse nooientjie”; “Bootjie na kammaland”;  “Daar doer in die Bosveld”; “Tahiti verre land”.  Met die Jurie Ferreira-liedjies het ek in die 40’s grootgeword.

‘n Musiekbaken daardie dekade was ‘n konsert in Kimberley se stadsaal: Hendrik Susan en sy boereorkes. Watter onvergeetlike orkesleier was die sjarmante gryskop met sy singende viool nie. Sy viool was sommer ook sy strykstok a la André Rieu (of eintlik andersom).

Jurie was die aand op die verhoog as sanger. Ek is ook seker oor die teenwoordigheid van ‘n bloedjong Nico Carstens (trekklavier) en Erns van Rooyen (basviool). Oor van ander Hendrik Susan-staatmakers soos Taffy Kikillus, Jimmy Boonzaaier,  Flippie van Vuuren, Tienie Coetzer en Freddie Luyt moet ek ‘n vaagheid bely.  Maar Jimmy se ”Outa in die Langpad” was op die program. So glo ek.

Ander herinneringe uit die era is rolprent- en radio-verwant. Hendrik Susan en sy orkes het hul filmdebuut gemaak in die musiekrolprent “Kom saam vanaand”. Onder andere Betsie de la Porte se bekende sopraanstem het in die rolprent ‘n gesig gekry.

Al Debbo (“Hasie”) en Frederik Burgers het as komediantepaar na vore begin kom. In Cowboy-flieks was daar mense soos Gene Autrey met sy hartseer-kitaar.  Hy kon skiet en sing.

Nelson Eddy en Jeanette McDonald se “Indian love call” was ‘n radiotreffer.

Plate het ek nog nie geken nie. Die eerste plate wat in ons huis gekom het, was in Durban saam met Pa Tonie Malan met wie my weduweema in 1950 getroud is:  “Mona Lisa” van Nat King Cole, asook “The Tennessee Waltz” en “Mockingbird Hill”,  Patti Page se groot treffers.

Skielik begin in my kop me. Page se soet stemmetjie maal:

“Tra-la-la, tweedlee dee dee it gives me a thrill / To wake up in the morning to the mockin’ bird’s trill / Tra-la-la, tweedlee dee dee / There’s peace and goodwill ……”

In 1952 is ons gesin Potchefstroom toe. Konserte van o.a.  die Weense Seunskoor en die Duitse sopraan Erna Sach in die imposante stadsaal het in die nuwe omgewing vir gedenkwaardige musiek-ervarings gesorg.

Musiek het in ons generasie se lewens gevestig geraak met die periodieke plate-aande in skoolsale. By my skool, Volkies, was dit nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ’n handjies-vashouery was uit.

Van die snitte wat gereeld gehoor is, is egter tot vandag toe gunstelinge en word ook gereeld op Afrikaanse Radio (nou RSG) se  “U eie keuse” gehoor: “O sole mio”, “La Paloma”, “When you come to the end of a perfect day”, “Beautiful isle of somewhere” en, ietwat ernstiger, Rachmaninoff se 18de variasie uit sy “Rapsodie op ’n Tema van Paganini” (ook bekend as die “Soetmelksvlei-serenade” na aanleiding van Jan Schutte se radiovervolgverhaal oor die Du Plooys waarvan dit die temalied was).

Op die stoep van Jack Pauw-koshuis se Blok C is Glenn Miller se ”In the mood” deur ‘n versotte klasmaat in standerd agt oor en oor gespeel.

Indien hoegenaamd moontlik, is Sondagaande op LM Radio se “Hit Parade” ingeskakel. Die vordering van liedjies soos Doris Day se “Que sera sera”,  Perry Como se “More” en Nat King Cole se “When I fall in Love” op die trefferlys is intens gevolg.

Daarna het gekom (en ek noem met enkeles): Elvis Presley se “All shook up” en “Jailhouse rock; Billy Vaughn se  “Sail along, silvery moon”; Bing Crosby en Grace Kelly se “True love”; Harry Belafonte se  “Banana boat song”; Pat Boone se “Love letters in the sand” en “April Love” en die oulike Debbie Reynolds se “Tammy”. Op haar was ek smoorverlief.

Europese treffers waarmee ek op die een of ander manier kennis gemaak het. was: Georges Guetary se “Caballero”; Edith Piaf se “Hymne de l’amour” en Carlo Buti se “Bella ragazza”.

In 1958 is ek Tukkies toe. Saam met my op die agtersitplek van die Chev is pa en ma se groot ou staanradio. Op daardie radio het ek met “U eie keuse” kennis gemaak. Operakomponis Verdi het my held geword. Sy aangrypende “Va, pensiero (koor van die Hebreeuse slawe)” uit “Nabucco” vind ek nou nog verheffend,

Op alleen-Saterdagaande was ook die Drinklied uit “La Traviata”, die Kwartet uit ”Rigoletto” en die Groot Mars uit “Aida” altyd ’n troos. Gigli en De Stefano was betowerende tenore, maar moenie vir Richard Tauber en Jussi Bjoerling weggooi nie.

Op die program, die oudste op RSG, leer ek ook van Tsjaikoski en Rachmaninoff.  Ek luister nou al 65 jaar. Elke keer as die temalied, die “Baltoneel” van Joseph Hellmesberger, opklink, bou  steeds afwagting op.

In die Aula, nuwe konsertsaal van die universiteit, was Mimi Coertse een van die eerste kunstenaars. Sy het opera-arias gesing maar o.m. ook die besielende “O Boereplaas” en die guitige Duitse “Schatzi” (Schatsli/Skatjie) as toegif.

Van die Aula het ek persoonlik allerlei herinneringe. Was in ‘n stadium ‘n gewillige plekaanwyser in ruil vir ‘n gratis kaartjie. Een aand is ek en my vriend Cas Jacobs met twee bekoorlike “asters” na ‘n Aulakonsert. Ons was in ons kispakke en hulle in die fraaiste rokkies. Lieflike geure het om hulle gehang.

Toe ons hulle wil huis toe vat, Asterhof toe, haal die “Santa Maria” (my Peugeot 203) sy ou nuk uit. Hy verseg om te vat. Enjinkap is oop. Ek en Cas vat hier en druk daar. Uiteindelik stoot ons almal – ook die fraai asters in hul spoguitrustings. Geen gelukkige einde vir ons grênd aand nie.

Studenteprins: Mario Lanza

‘n Rolprent wat groot studentegehore  gelok het, was Mario Lanza se “Student Prince”.  Die sorgelose studentelewe in ou Heidelberg het sterk aanklank gevind.

’n Trefferliedjie waarvan ons in Kollegetehuis se geselligheidskamer nie genoeg kon kry nie, was “Tom Dooley” van die Kingston Trio.

Met die oorgang van die studentelewe tot ‘n vervullende lewe as koerantman het ek in Bloemfontein op die draaitafel van “Volksblad”-kollega Wiets Beukes, latere redakteur van “Die Burger”, met  Antonin Dvořák se ”Nuwe Wêreldsimfonie” kennis gemaak. Die simboliek het my later getref: dat met daardie eerste wankelende treë in die joernalistiek vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit is. Ook ‘n verruimende wêreld in elke opsig.

Een van my eerste stokperdjies toe ek my eie geld begin verdien het, was om aan ‘n versameling langspeelplate te begin bou: ou gunstelinge, maar ook vele nuwes.   Die versameling het dekades later neerslag gevind in eie geskepte CD’s wat ek en Tokkie, my vrou, tien jaar lank  vir vriende vir Kersfees geskenk het  met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens. Ek en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Ek kan dit om die dood toe nie oor my hart kry om van die hoop ouderwetse viniel in my studeerkamer ontslae te raak nie. Die herinneringe is net te kosbaar.

Deel dit: