
Spotprentjie deur Fred Mouton met sy aftrede: hy oorhandig die “pakkie”aan Wiets Beukes.
As spreker – dikwels impromptu by konferensies en etes – en as storieverteller met ’n unieke styl, ’n monumentale humorsin en ’n skatkis vol kwinkslae, anekdotes en slimstories het Piet Cillié, redakteur van Die Burger en later voorsitter van die Nasionale Pers, nie sy gelyke gehad nie. Waar hy aan die woord was, is aanhoudend gedawer.
Ek het in die Piet Cillie-skatkis gaan delf na aanleiding van die tamaaie reaksie op een van sy stories wat ek pas as kommentaar by ‘n Facebook-plasing opgesit het. Dit is die storie van die Boer wat gebid het: “Ons weet die Engelse is ook U kinders. Hulle bid nes ons vanaand. Nou vra ons: Bly U tog maar more uit die geveg. Dan skiet ons hulle fyn en flenters. “
Die laaste keer dat ek gesien het, was die duime in die lug by die kommentaar op pad 100 toe en was daar reaksies soos “uitstekende storie” en “wat ‘n praktiese en nugtere gesprek was dit nie met God!”
‘n Cilliéstorie wat hom skynbaar nooit ophou plesier gee het nie, is van ’n pa wat ’n onwillige jong man gaan aantree het om met sy dogter te trou. “Maar sy is swanger, meneer!” “Ag, darem net so ’n bietjie.” Dan lag hy snorkend uit sy maag.
’n Grappie wat ook dikwels afgestof is, is van ’n lekeprediker wat almal iewers individueel konfronteer met die dringende vraag: “Are you saved?” ’n Koerantman antwoord: “I’m from the press.” “Sorry, sir,” sê die lekeprediker, en skuif aan: “Are you saved? Are you saved?”
Hy het graag vertel van die plattelandse redakteur wat sy tikmasjien so hamer. “Wat skryf jy so woes?” vra iemand. “Ek gee Choesjtsjof (destydse Russiese leier hel!” (Terloops, dis hoe ons Chroesjtsjof in my dae gespel het.)
Toe hy met sy aftrede op Stellenbosch professor word, was sy kwinkslag: ‘n Professor is iemand wat al hoe meer weet van al hoe minder; ‘n koerantman weer iemand wat al hoe minder weet van al hoe meer.
Cillié had ‘n rits anekdotes, nommerpas vir elke okkasie. ’n Gunsteling was oor die reaksie van ’n Amerikaanse redakteur nadat dr. Eric Louw, veglustige minister van buitelandse sake in die 50’s, die New York Times in die parlement afgeransel het. Cillié het die redakteur, ene Archimbeaud, gevra: “Wat dink u van die aanval?” Sy antwoord: “The New York Times is an institution. Mr Louw is just a passing phase.”
In 1984 met die afskeid van adv. Lang David de Villiers het hy die Pers se destydse kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik: “Wanneer die Pers se resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan ná ’n verpletterende sege by die stembus: ’I think we did rather well’.”
Onlangs het ek hier gewys op die verwarring tussen Betlehem van die Bybel (sonder die h) en Bethlehem in die Vrystaat (met die h). Volgens Cilliése insigte behoort daar geen verwarring te wees nie. Wat die Vrystaatse Bethlehem in sy oë gediskwalifiseer het vir die Kersverhaal was dat daar nie drie wyse manne was nie.
Hy was lief vir Bybelstories, maar geen engeltjie in elke opsig nie. Toe iemand opmerk ‘Piet, ek het jou lanklaas in die kerk gesien,’ was hy klaar met ’n antwoord: ‘Ja, maar op my ouderdom moet jy nie die aandag van die Here te veel op jou vestig nie!’