Dec 3, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die groot staatsdienshorlosie teen ‘n muur in die Groote Schuur-teater waar die eerste mensehart 50 jaar gelede oorgeplant is, staan op twee minute voor ses die Sondagoggend, 3 Desember. Dit was die uur van waarheid.
Op daardie grootse oomblik het die klein, gesonde skenkerhart van ‘n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall (25), ná ‘n skok of twee spontaan in die borskas van die dodelik siek kruidenier Louis Washkansky (57) begin klop.
Op daardie oomblik uiter die hartchirurg Christiaan Neethling Barnard, sendelingseun van Beaufort-Wes, ‘n gelade paar woorde wat die verwondering van al die spanlede verwoord.
Wat was daardie woorde presies? In terugblikke in die naweek by die vyftigste herdenking van daardie reuse-deubraak vir die mediese wetenskap die nag van 3 Desember 1967 in Kaapstad is verskillende weergawes aangebied. Volgens een weergawe van ‘n teenwoordige in die teater daardie nag is geen woord geuiter nie; net “sugte van dankbaarheid.”
In April 2017 het ek en my vrou, Tokkie, ons kleinkinders na die Hartmuseum in die Groote Schuurhospitaal gebring om – met die oog op die 50ste herdenking oor ‘n paar maande – die unieke gebeurde te herleef. Ons gids was die uiters knap Trace Adamo.
Trace het die dosyn of wat besoekers, sowel Suid-Afrikaners as buitelanders, stap vir stap deur die aemrowende operasie geneem. Ons het met gespitste ore gesit en luister op die klein “paviljoentjies” wat in die oorspronklike teaters A en B van Groote Schuur vir mediese studente ingeruim is.
Volgens Trace se boeiende vertelling was almal momenteel stomgeslaan. Toe verbreek prof. Barnard se fyn, hoë stem die gespanne stilte: “God, dit gaan werk!”
Dit is die woorde wat ek in my boek “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” aangeteken het. Daardie hoofstuk in my boek is Vrydagoggend deur Volksblad, Bloemfonteinse dagblad, opgeneem.
Saterdag verskyn in By, naweekbylae tot Die Burger, twee ander weergawes. Die rubriekskrywer John Scott, was in 1967 mediese beriggewer van die Cape Times. Sy weergawe van daardie dramatiese woorde haal ook die Opperwese aan maar in ‘n ander vorm: “Jesus, dit gaan werk.”
In haar omvattende huldigingsartikel in dieselfde publikasie deel Elsabé Brits, mediese verslaggewer van Die Burger, mee prof. Barnard het nie die Opperwese aangespreek nie, wel ‘n kollega: “Hel, Rodney, dit gaan werk …”
Op Google kry ‘n mens nog twee weergawes: “Christ, it is going to work” (onwaarskynlik as hy Afrikaans gepraat het) en net die kleurloos-neutrale “It is going to work” (onwaarskynlik weens die absolute gebrek aan emosie.)
In Sondag se Rapport vertel 82-jarige oud-teatersuster Susan Tawse, een van die handjievol oorlewende lede van die beroemde hartspan:
“Voor elke operasie het hy (prof. Barnard) stil eenkant gesit en bid,ook met die eerste hartoorplanting. Toe Washkansky se hart daardie Sondagoggend aan die klop geskok moes word, was daar doodse stilte onder ons. Eers ná die tweede skok (volgens Trace Adamo was daar drie!) het die hart begin klop. Toe hoor ‘n mens net sugte van dankbaarheid opklink.”
Die nagtelike drama het hom in twee teaters afgespeel: die een waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, kort ná middernag Denise se hart met haarfyn sinchronisasie verwyder en versigtig in ‘n ysbak geplaas het; die tweede waar die pionier-chirurgie op dr. Washkansky deur ouboet Chris self uitgevoer is.
Ook oor die ligging van die twee teaters is in die naweek se terugblikke verskil. In een is lesers ingelig dat die twee teaters 32 treë uit mekaar was; in ‘n ander dat hulle buurteaters was. Laasgenoemde is korrek: ek weet omdat ek op die besoek in April self in die twee “Charles Saint”-teaters langs mekaar was.
Wens ek kon oor prof. Barnard se kreet uit die hart met dieselfde vrymoedigheid ‘n finale woord spreek. Oor sulke woorde van die uiterste historiese waarde by só ‘n epogmakende historiese geleentheid behoort onsekerheid darem nie ná 50 jaar nog te heers nie.
Nov 30, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Smaak my die oud-koerantman Hennie van Deventer ervaar die verlede en hede soms in een teug. Afgetree is hy wel reeds twee dekades, maar sy skryfstem weet nie van swyg nie. So skryf die joernalis AJ Opperman in ‘n resensie van Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman op Litnet.
In Laatoes spring hy tussen hede en verlede, gebeure en ontmoetings wat hy ervaar het, wat waarskynlik ’n indruk op enigiemand sou gemaak het. Dit klink eintlik so lekker, want hy kyk terug met genoegdoening – natuurlik kom groet heimwee en nostalgie ook – maar terselfdertyd bly hy nuwe goed ervaar. En hy het steeds die lewenslus en belangstelling.
Van Deventer ken baie mense en onderneem nog gereeld reise – alles kry oplaas uiting in sy skryfwerk, hetsy op sy blog of enige ander skryfsel met sy naam op.Die woorde “kanniedood-koerantman” is nogal gepas, want die opteken van gebeure en ervarings doen hy slaafs. Met baie omsigtigheid op die koop toe. Onder die titel van elke hoofstuk verskyn ook dikwels ’n datum.
Hy en sy vrou, Tokkie, woon op Melkbosstrand, maar hulle klink nie soos kluisenaars nie.
Van Deventer sit die werk voort wat hy in sy vorige boek Kroniek van ’n koerantman begin het.
In Laatoes vertel hy van afsterwes, maar ook ontmoetings, nuusgebeure lank gelede en meer onlangs. Jy kom inligting teë wat jy nie verwag het nie, daar is net soveel interessante goed wat opduik.
Synde self ’n joernalis, het ek aanklank gevind by baie van sy media-stories en hoogtepunte uit sy loopbaan. Hy skryf onder meer oor die geskiedenis en ontstaan van die einste gebou waarin ek vandag werk, Media Park, in Auckland Park, Johannesburg. Hy was een van die rolspelers destyds met die Nasionale Pers se se soektog na ’n nuwe perseel in Johannesburg.
Selfs al werk jy glad nie in die mediabedryf werk nie, sal jy ook iets uit hierdie vertellings kry.
Jy sal vir seker begin dink aan ’n besoek of herbesoek aan die Krugerwildtuin – daar is nou vir jou inligting en staaltjies. Gepraat daarvan, soveel nuwe inligting oor dié nasionale park sal jy ook hier kry, maar in ’n baie lekker verteltrant. Trouens, jy bekom baie inligting oor gebeure of mense wat jy glad nie verwag het jy sou nie.
Hoe klink die bywoning van ’n geleentheid met Suid-Afrika se voormalige Eerste Minister dr HF Verwoerd of sy kuier by die bokser Gerrie Coetzee in 1978 en die moontlikheid van ’n boksgeveg tussen Kallie Knoetze en die Amerikaner Joe Frazier?
Sy dae by Die Volksblad (vandag Volksblad), sy kollegas, die bekendstelling van Johan van Wyk se bundel koerantrubrieke, Só is dit nou, die dood van sy goeie vriend Jan Scholtz. Dit is steeds ’n vol lewe.
Die kerkie in die Krugerwildtuin, ’n besoek aan die kamp Orpen in die Krugerwildtuin, begrafnisse en verjaardae. Van Deventer leef die afgetrede lewe wat enige afgetrede joernalis stellig wil ervaar – om steeds aan te (kan) hou skryf. En natuurlik legio avonture, hoe gering ook al, en dies meer te ervaar wat juis stof vir nuwe skrywes skep.
Jy hoef natuurlik nie afgetree te wees om hierdie soort goed te kan doen nie, maar dit is lekker om daaraan herinner te word dat inspirasie jou wragtig enige dag of uur kan beetpak.
Nov 23, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sarel en Liesbeth Venter

Die lang tafel

Die sitkamer
In die Evangelies van Mattheus, Markus en Lukas lees ons van die wonderbaarlike mosterdsaadjie. Nietige saadjie soos dit is, word dit ‘n boom met takke waarin die voëls van die hemel kom nes maak.

Komweer
Van so ‘n mosterdsaadjie wil ek vandag vertel. Dit is die een waaruit die Volksblad-saamtrek van veterane van twee weke gelede gegroei het. Uit elke windrigting het hulle as ‘t ware in die takke van die boom in Bloemfontein kom nes maak.
Die saadjie was die verskyning op my skerm van ‘n foto wat nie vir my bedoel was nie. Sarel Venter, kollega en vriend van baie jare, het dit en ‘n paar ander in hul huis in Fichardtpark, Bloemfontein, geneem om hul verre kinders in Adelaide, Australië, aan hul ouerhuis te herinner.
Toe hy die knoppie druk, beland dit onverklaarbaar, op digitale kronkelweë wat vir ons generasie se mense vreemd en onverklaarbaar is, ook in die uwe se in-mandjie.
Ek maak ‘n foto oop, herken die omgewing dadelik, en laat weet vir Sarel: “Ek ken daardie plek.” Sy e-pos kom terug: ja, dit is die Venters se sitkamer; “Kom kuier”. Ek, nie links nie: “Wat van ‘n saamtrekkie in Bloemfontein? Ek sal ry.”
Toe ek weer sien, begin die e-posse heen en weer vlieg.
Uiteindelik is 60 plekke op Saterdag 11 November in die Santa Ferestaurant by die Oorlogmuseum gedek. Die Vrydag het ons al begin kuier met ‘n tee (en ‘n glasie vonkelwyn) by Volksblad. Die oudste onder ons was Oom Gert Terblanche (95). Daar was ook kollegas van in die 80. Ons “jongklomp” van in die 70 was volop.
Die Van Deventers was so bevoorreg dat ons nie net weer met die gasvrye Venters se sitkamer kennis gemaak het nie. Ons was soos konings in die hoof-suite van hul gesellige en gewilde gastehuis in De Jagerstraat, Komweer. Ons het aangesit aan hul gulle tafel. Sarel, Liesbeth en hul jongste dogter Mart-Marie het ons van ‘n kant af bederf.
Die Vrydagaand het die hoofredaksie van my tyd (en ook in die termyn van my opvolger, Johan de Wet), saam in die tuin en om die lang tafel op een van die stoepe van Komweer gekuier.
Toe ek die eerste keer vir Sarel laat weet “ek sal ry”, het ek klein gedink: net in terme van so ‘n intieme saamtrekkie soos dié van die Vrydagaand. Maar Sarel het “skouers oopgemaak” (my uitdrukking van destyds om oor te dra dat ons op die voorblad van ons koerant ‘n groot storie moet hard slaan.)
Ongelukkig het ek vergeet met hoeveel veterane Sarel kontak gehad het. Dit was baie. ‘n Klomp sou wat wou gee om ook daar te wees. Afstand, omstandighede, ander verpligtinge en – helaas – ook ouderdom het hulle gestuit.
Maar die mosterdsaadjie het inderdaad geil gegroei. Om in sy takke te vertoef en twee dae in sy koelte deur te bring, was verkwiklik. Dankie, Sarel en Liesbeth.
(Kontakbesonderhede: 051 522 3778, selfoon 083 7090 684, faks: 0866708251 of e-pos: ventersg@mweb.co.za)
Nov 20, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Juweel van die Groot Karoo.
Die plek waar die koper altyd blink. So het ek die Krugerwildtuin leer ken. Vandag is dit – na my kennis – eintlik net die Nasionale Karoopark, 12 kilometer van Beaufort-Wes in die hartjie van die Groot Karoo, wat die tradisie voortsit.
Die Karoopark is ‘n juweel in vele opsigte; die harde, ruwe landskap wat prentjiemooi in sagte pastelkleure oorgaan in die laat namiddag; die karaktervolle gewelhuisies; die fassinerende diversiteit van wildlewe, vriendelike personeel wat so mooi Afrikaans praat, die heerlike ontbyte in ‘n deftige eetkamer wat by die tarief ingsluit is. Noem maar op.
Wat waarlik tref, is hoe die krane, ook die brandkrane, in die sonlig skitter. Ook nêrens anders het ek al ‘n gedenkplaat gesien wat so van gereelde versorging getuig nie. Die oomblik as jy by die hoofgebou stilhou, sien jy die glinsterende koperplaat wat op 12 September 1979 deur pres. P.W. Botha onthul is, en ‘n ewe eksieperfeksie brandkraan met een oogoplag.
Aan die feit dat die enorme park die romantiese wegloperleeu Sylvester se tuiste was, word die besoeker op vele maniere herinner. Maar Sylvester behoort tot die verlede tyd; die blink koper – ook die ornamente in die sitkamer – is nog altyd deel van die park se allure. Mag dit altyd ‘n kenmerk bly.
Op ‘n reis na Bloemfontein het ons in die Karoopark oornag; ‘n bietjie te naby aan Kaapstad, ongelukkig, en nog ‘n bietjie te ver van Bloemfontein. Daardie ekstra uurtjie of twee wat jy aan die einde van jou eerste dag op die pad oor het, is egter oor en oor die moeite werd; veral die genotvolle ritte deur die wildryke Lammertjiesleegte (gemsbokke gesien!) en die indrukwekkende Klipspringerspas. Ook die rondkyk in die fossielpark.
Buitendien: hier in die Karoopark wil ‘n mens vroeg jou vuurtjie aansteek. Salig om op jou stoep met ‘n glasie koue wit die sonnetjie op sy geleidelike afwaartse koers te volg en die donker die Nuweveldberge te sien bekruip. Die verskuiwing van die buite-braairoosters stoep toe was ‘n blink ingewing, mense!

Skone Hexriviervallei.
Vroeër die dag was die Hexriviervallei ‘n fees vir die oog. Ry hom in die herfstyd, hoor jy dikwels. Kan my die kleureskouspel indink. Maar ry hom ook in die helder sonskyn op ‘n Novemberdag as die skilderagtige lappe, lappe wingerd tot doer teen die berge in hul malse jong groen skitter. Jammer oor die informele nedersettings wat weliswaar die prentjie iets bederf, maar daaraan moet ‘n mens maar gewoond raak. Ook jammer dat aftrekplekkies so skaars is. Om elke draai wag ‘n nuwe stukkie skoonheid wat jou na jou kamera wil laat gryp.

Suid-Vrystaat, naby Bethulie (Foto: Francois Lotter)
Op dag twee van die reis is dit die geel grasvlaktes tussen die donker koppies oral langs die pad tussen Richmond en Colesberg wat die reisiger bekoor. Dan steek jy Colesberg verby. Die laaste skof van 235 kilometer na Bloemfontein breek aan: jou heimat vir twee skofte van 12 jaar elk. Aan die een kant raak jy al hoe haastiger om by jou bestemming te kom; aan die ander wil jy stadig ry en die eiesoortige, oop Suid-Vrystaatse landskap indrink.
Die padborde kom en gaan: die Gariepdam; die dorpe Philippolis, Trompsburgen Edenburg; Tierpoort (die nuwe politiek korrekte naam) vir kollega Johan van Wyk se ou “Republiek”… elkeen ken ek op ‘n manier, elkeen dra ‘n herinnering, kleiner of groter.
Toe die tuiskoms! Oor die verrukliklike naweek in Bloemfontein het ek voorheen hier verslag gedoen.
Nostalgiese kuier gewees. Al wat oorgebly het, was die 1 010 kilometer teerpad terug Melkbos toe. Dit ek en ek en Tokkie Maandagoggend om 04:10 aangedurf. Ons het min gestop en ook net vir kort rukkies. Ons het ‘n konstante snelheid gehandhaaf, net duskant die snelperk. Om 14:20 het ons voor Penguin Place 11 se motohuis stilgehou na 10 uur en 10 minute op die pad. Goed gery, het ons vir mekaar gese.
Hoe bly is ek nie ons het nie die onpersoonlike vliegtuig-opsie gekies nie.
Nov 18, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Hertzogstraat 5.
Amper so warm soos op 31 Desember 1966, ons troudag. So het Bultfontein Sondag 12 November vir ons gevoel. Ons het op Tokkie se spore gaan loop.
Eerste stop op die dorp was dan ook Hertzogstraat 5, jarelange tuiste oorkant die kerk van Tokkie, haar ouer broer, Fanie, en hul legendariese weduwee-ma vir wie almal lief was, “Tannie Marietjie”. In daardie huisie het Tokkie by lamplig of ‘n kers in ‘n emaljeblaker geleer vir matriek in 1963. Die voorhuisie is oorheers deur haar klavier: ‘n Zimmerman. Daarop was sy ‘n klein virtuoos.
By die draad-voorhekkie van die huisie wat intussen taamlik verslete geraak het, het ek Tokkie afgeneem. Dis die hekkie waardeur sy, ‘n brose 20 jaar oud, op haar troudag na die troukar, ‘n boer se Mercedes, gestap het – trourok versigtig opgelig dat die wit soom nie in die rooi Vrystaatse stof sleep nie. Die voordeur van die huis is intussen verskuif.
In die agterplaas, naby die agterdeur, staan ‘n sering wat ek goed onthou. Onder die boom, wat in die vyf dekades sedertdien mooi lyf gekry het, het ons op die voooraand van die bevestiging in die eg braaivleis en waatlemoen geëet. Fanie was die voorslag-braaier. Ná ete het ons vroeg gaan inkruip – ek in die spaarkamer van die buurtannie.

Kerktrappies.
Ons tweede besoekpunt was die kerk oorkant die straat waar die band 51 jaar gelede deur my neef, ds. Bertus du Plessis, gesmee is. Hy is later APK toe. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n stewige siersteengebou met ‘n hoë toring. As aflos-orrelis was Tokkie dikwels in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Ek het my vrou afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het.
Op die parkeerterrein was Sondag teen 12:00 net soveel, dalk selfs meer, motors as op daardie snikhete oujaarsdag by die troue van die Bloemfonteinse koerantman met een van Bultfontein se geliefde dogters. Die rede vir die baie motors het ons verneem by ‘n lidmaat wat in sy bakkie iets kom haal het. Dit was die gereelde gemeente-ete. Op die spyskaart was vis. Die Bultfonteiner – wat vir “Tannie Marietjie”onthou – het net geglimlag toe die Kapenaar met die CA-nommer hom vra hoekom dan nie liewer skaapvleis as vis nie.

Pa se graf.
Oorkant die kerk is die ou begraafplaas. Die plek is pas geskoffel maar lyk nogtans taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak. Sonder te veel moeite spoor Tokkie haar vroeg gestorwe pa, Kotie, se graf op. Dis hy wat haar die bynaam Tokkelossie gegee het, omdat sy so ‘n kortetjie was. Die granietsteen staan genadiglik nog stewig. Op die graf het ‘n jarelange vriendin, eintlik ‘n soort semi-sussie, Pepsie Maritz, ‘n mooi steentjie na die dood van “Tannie Marietjie” op die verre Melkbos op ‘n bed van wit klippies laat aanbring. Pepsie (of Drienie) se ouers was boere, en sy het maar so saam met Tokkie in Hertzogstraat 5 grootgeword. Die steentjie is ‘n replika van die een op die nissie by die NG kerk Melkbos.
Ek neem Tokkie by die graf af sodat ‘n mens op albei stene die name kan lees. Daarna gaan soek ons na haar oupa en ouma Van Wyk se grafte. Van haar ouma Van Wyk het sy die naam Susara gekry: Gesina (wat van die Roux’s af kom) Susara. Ouma Roux is begrawe in die “nuwe” begraafplaas aan die Bloemfonteinpad. Om langs daardie besige pad te gaan rus, was ‘n gedagte wat skoonma niks aangestaan het nie!

Die skool.
Tokkie word voorts afgeneem by die groot naambord van die Hoërskool Bultfontein, wat in 1881 gestig is. So lees ek op die bord. In haar tyd was die skool ‘n klipgebou. Van die klipmure steek net hier en daar ‘n stukkie uit tussen die siersteenstrukture wat later bygevoeg is. In die saal, waar Tokkie ‘n geesdriftige volkspeler was – veral versot op die “galop”- het destyds kosbare skilderye gehang, o.m. van Pierneef en Maggie Laubser. Die saal se deur het sommer dag en nag oopgestaan. Ander tye gewees!
Wat opval, is die netjiese skool- en sportterrein. Ek sien nie die plate duwweltjies wat, volgens oorlewering, daarvoor verantwoordelik was dat Fanie so vinnig kon hardloop nie. Hy was die SA onder-19-kampioen in die 440. Die dorp het dalk aan ander fronte agteruitgegaan – van die state is die ene liederlike slaggate – maar die skool bly ‘n sieraad waarop die gemeenskap trots is. Die boere steek hand uit die mou en hand in die beursie om dit so te hou.

Saam met Pepsie (Drienie).
Ons laaste besoek van die kort kuiertjie is by Pepsie se huis in Stofbergstraat teenaan die Ooskerk. Die dorp het minstens drie groot kerke: twee NG en een Gereformeerd. Pepsi het pas afskeid geneem van matriekmaats wat 50 jaar gelede saam met haar in matriek was. Dit was hul reünienaweek. ‘n Bonus van die reünie vir ons is die bordjie heerlike eetgoed wat saam met die koffie voorgesit word.
Die vrou is op haar stukke. Die kwinkslae rol oor haar lippe en haar gul lag weerklink kort-kort. Danksy haar stories – o.m. oor hoe haar tone in ‘n Duitse jacuzzi aan ‘n Duitser se broek gehaak het – groet ons Bultfontein op ‘n vrolike noot; dalk vir oulaas.