Nov 15, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Tokkie en Oom Gert (Foto Herman le Roux)
Toe ons ons geliefde ou stad Bloemfontein op die N1 nader, sak my moed in my skoene. Die vullishoop langs die pad stort soos ‘n klein Vesuvius oor sy rande en die rommel-lawa stoot tot diep in die begraafplaas langsaan. Plastieksakke kleef aan grafstene. Lyk bra troosteloos.
Later sien ek heelwat wat opbeurend is, al is Bloemfonteiners in die algemeen taamlik bedruk oor agteruitgang in hul stad. Ons sien o.m. steeds netjiese, boomryke woonbuurte, ‘n “nuwe”, uitgestrekte Langenhovenpark, deftige nuwe geboue (veral motorhandelaars, kantore en restaurante) en ‘n eersteklas opset op Naval Hill met die reuse-Mandelabeeld en die uitsig-restaurant wat teen die noordelike hang gebou is.
Ja maar, sê die gasvrye Volksblad-vriende by wie ons tuisgaan, Sarel en Liesbeth Venter, praat van ‘n wit olifant! Oor wie die restaurant moet bedryf, is ‘n hele toutrekkery aan die gang. Geen lig in daardie tonnel nie. Intussen staan die plek maar maar leeg – ‘n monument vir lompe wanbestuur.
By Volksblad, die koerant waar ek oor drie dekades twee vervullende skofte van 12 jaar elk agter die rug het, word die veterane wat kom reünie hou, gul ontvang. Teen die mure hang foto’s uit ons almal se eras. Ons klink ‘n glasie vonkelwyn onder o.m. ‘n foto van die voorblad op 6 September 1966, die dag toe dr. HF Verwoerd in die Volksraad vermoor is. Ek was toe die (jong) hoofsubredakteur. Die voorblad was my werk. Die opwinding van koerant-maak bruis sommer weer in die verkalkte are.

Ek en Marlene by “Jan se boom”.
‘n Mens voel jy het tuisgekom in die koerantgebou met al sy herinneringe, al het die tegnologie ook hoe vernuwe en die kantooropset daarmee saam redelik ingrypend verander. Die statige redakteurskantoor met sy donker houtpanele en duursame meubels is ‘n gelukkige uitsondering. Lyk of ek gister daar uitgestap het, al was daar al ses opvolgers sedert ek in 1992 die deur agter my toegetrek het.
Die huidige generasie beur swaar teen die winde van ‘n digitale uitdaging wat in my tyd nie bestaan het nie. Maar die huidige redakteur, Gert Coetzee, en sy span is vol moed en dryfkrag. Jou eie vrese lyk sommer ietwat oordrewe in die lig van soveel positiewe energie.
Die Saterdag hou ons reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum. Die oudste onder die oudstes is die 95-jarige Gert Terblanche. Hy was nuusredakteur toe ek as student in 1958 by die koerant instap. Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel. Kollega Herman le Roux neem Saterdag ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (selwers al 71). Pleks dat ek hom gaan vra het of hy nog dink my keuse was in die kol!
Ai, was dit heerlik om soveel ou kollegas weer van aangesig tot aangesig gesien – die meeste spierwit grys, party met kieries maar almal stralend van vreugde oor die weersiens van tydgenote wat saam in die juk getrek het.
Op ‘n strategiese kolletjie naby die museum staan ‘n fiere jong vaderlandswilg. Dit is “Jan se boom” – daar geplant ter ere van Jan Scholtz, kleurryke Boesmanlander, wat twee jaar gelede oorlede is. Die naald van die Vrouemonument toring ‘n entjie agter toe die blou lug in. Vir my ‘n aandoenlike oomblik toe ek by “Jan se boom” ‘n arm om Marlene kan slaan.
Darem nie net Volksblad-mense gesien in die Volksblad-naweek nie. Die Vrydagmiddag het so twee dosyn ander ou vriende saam met my en Tokkie ‘n koppie koffie geniet: bure, politici, regslui, weduwees, ‘n oud-leraar, die stigter van verskeie goeie Bloemfontein-goeters soos die Friday Club … Party van hulle sien mekaar net as ons kom kuier, hoor ek tot my verbasing. Maar, natuurlik, ons raak almal ouer.

Tokkie en Meshack.
Ons gaan groet ook tuinman Meshack by die Universiteit vir Tegnologie waar hy nou werksaam is: ‘n vreugdevolle herontmoeting. Die dekade van 80 was onder meer vir die Van Deventers die dekade van Meshack. Hy was ‘n ware karakter wat nie net in ons lewe kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens vol lewenvreugde en vrolike humor.
Hy en Tokkie (wat mekaar altyd met ‘n kenmerkende “joe-hoe” geroep het) wil die een breër glimlag as die ander glimlag toe ek hulle laat regstaan vir ‘n foto.
“Ons tuin”, lyk nie goed, waarsku Meshack kopskuddend. En waarlik, die verwaarlosing is nogal ‘n skok – soos daardie “klein Vesuvius” langs die N1, die hartverskeurende swart verbrande historiese stadsaal, en die gemors soos molshope oral in Koningspark, waar die Kunsmark in die 80’s onder Tokkie se hand tot so ‘n sieraad vir die stad gegroei het. Dese en gene hou nou op ‘n Sondagmiddag daar piekniek. Vullisdromme ontbreek blykbaar of word nie juis benut nie.
Gelukkig is die erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal die Sondagoggend ‘n sielsverkwikkende ervaring. Daaroor skryf ek later ‘n aparte blog.
Nov 8, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Prof. Chris Barnard sou vandag 95 jaar oud gewees het. Oor minder as ‘n maand word sy eerste hartoorplanting 50 jaar gelede gedenk – op 3 Desember 1967 in die Groote Schuurhospitaal in Kaapstad. So amper was dit ‘n 45ste verjaardaggeskenk aan homself. Oor die hartoorplanting skryf ek in “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Hier is ‘n uittreksel.
WEDEROM, PROF. CHRIS!
By ‘n besoek aan die Hartmuseum sowat 50 jaar ná die eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967.
*
Suid-Afrika moet deesdae koes, sy ekonomie is “rommel”, en op die rugbyveld word die Groen en Goud opgefrommel. Amper oral gaan dit bra broekskeur. Dreigende donker wolke pak saam.
Ten minste op een belangrike gebied staan sake verfrissend anders, want geen Standard & Poor, Fitch of Moody’s kan die land se mediese “status” afgradeer nie; geen Nieu-Seelandse (of Japanse!) rugbystewel kan hierdie stukkie nasionale trots vertrap nie.
‘n Verbluffende deurbraak vir die ganse mediese wetenskap – dit was prof. Chris Barnard se historiese eerste hartoorplanting ter wêreld amper 50 jaar gelede op 3 Desember 1967. Prof. Barnard is wêreldwyd toegejuig en met vererings oorval. Sy roem leef voort; onder meer in die sierlike ou Groote Schuur-hospitaal se “Hart-van-Kaapstad”-museum.
‘n Besoek aan die museum in die indrukwekkende hospitaal met sy deftige koloniale ontwerp, swaar houtdeure en dik vensterrame, laat die hoogdrama van daardie mirakel in die nag van 2 tot 3 Desember 1967 in die naasliggende “Charles Saint”-teaters dinamies herleef.
Die boeiende toer van twee uur begin in die kamer waarheen die skenker, Denise Darvall (25) van Milnerton, op 2 Desember gebring is nadat sy op ‘n gesinsuitstappie saam met haar moeder, Myrtle, net ‘n entjie van die hospitaal in Hoofweg, Observatory, omgery is. ‘n Jaagduiwel het in die twee vroue ingeploeg toe hulle die straat oorsteek om by ‘n geliefkoosde bakkery ‘n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.
Myrtle, die moeder, is op slag gedood. Denise se lewe was aan ‘n draadjie. Sy is weens die slag 40 meter ver geslinger en haar kop het met ‘n geweldige slag die voorwiel van ‘n motor getref. Haar kop- en borsbeserings was ernstig. ‘n Ambulans met loeiende sirenes het met haar na Groote Schuur gejaag.
Enkele ure later, om 21:00 die aand van 2 Desember, het twee onafhanklike dokters haar breindood verklaar. Haar hartverskeurde vader het toestemming gegee dat haar organe vir oorplantings gebruik kon word.
Die laaste besoekpunt van die toer is twee buurteaters: die een waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, kort ná middernag haar hart met haarfyn sinchronisasie verwyder en versigtig in ‘n ysbak geplaas het (ook ‘n nier vir ‘n 10-jarige bruin seun, Jonathan van Wyk); die tweede waar die beroemde hartdokter self met pionier-chirurgie die swak, siek hart van die ontvanger, dr. Louis Washkansky (54), uit sy borskas verwyder en met die sterk, gesonde hart van die jong vrou vervang het.
Die middernagtelike operasie – waarmee haas ondenkbare mediese grense oorgesteek is – het vier en ‘n driekwart uur geduur.
Die dosyn of wat besoekers op die toer, sowel Suid-Afrikaners as buitelanders, gaan sit op die klein “paviljoentjies” wat in die oorspronklike teaters A en B vir mediese studente ingeruim is. Om die outentieke operasietafels staan die lewensgetroue beelde van die teaterspanne in hul uniforms om die pasiënt, of gebukkend voor delikate toerusting soos daardie tyd se hartlongmasjien.
Die masjien was ‘n afskeidsgeskenk van die Universiteit van Minnesota waar Chris Barnard in die jare 50 onder leiding van twee pioniers in die hartsnykunde, Richard Varco en C. Walton Lillehei, die amper onmoontlike vermag het. Hy het sy Ph.D in twee jaar verwerf pleks van die gewone ses.
Alles lyk spookagtig werklik. Jy verbeel jou jy is ‘n toeskouer by die grootse gebeurtenis en jy hoor daardie eerste hartklop.
Almal was momenteel stomgeslaan toe dit gebeur, vertel die uithaler-gids, Trace Adamo. Toe verbreek Christiaan Neethling Barnard se fyn, hoë stem die gespanne stilte: “God, dit gaan werk!” Met daardie woorde het die sendelingseun van Beaufort-Wes die verwondering van al die spanlede verwoord.
Die geleide toer sluit verskeie ander besoekpunte in. Daar word o.m. by “prof. Barnard se kantoor” aangedoen. Die beroemde man in ‘n snyerspak sit agter die lessenaar, telefoon in die hand; só lewensgetrou hy dat jy jou moet keer om nie hoflik vir hom “goeie dag” te sê nie.
Die 54-jarige Washkansky het 18 dae geleef het voordat hy aan longontstekening gesterf het. Die skenkerhart in sy borskas het tot op die laaste oomblik sterk bly klop. In dieselfde hospitaalkamer waar die Kaapse kruidenier aangesterk het, kom ‘n beeld van die pasiënt half orent in die hospitaalbedjie. Sy regtervoet loer onder die laken uit. ‘n Slapbandkopie van Louis L’Amour lê oop op die beddeken in wat ‘n tipiese hospitaaltoneeltjie is.
Die museum se mure is nie net versier met honderde foto’s en geraamde koerantvoorblaaie wat die groot nuus onder banieropskrifte uitdawer (Die Burger, die Argus en die Cape Times) nie, maar ook met briewe van lof en kritiek; selfs van kinders. Een kind eggo sy pa se woorde dat hy “bokkerol” van prof. Barnard sou dink as hy na Amerika sou padgee.
Trace, die gids, praat ingelig en gesaghebbend oor die morele en etiese aspekte waaroor destyds vuurwarm gedebatteer was; oor die flambojante wêreldfiguur Chris Barnard wat hom so laat meesleur het deur die onversadigbare genot van sy nuwe roem; oor sy liefde vir mooi vroue, oor sy drie egskeidings (Louwtjie, Barbara en Karin), asook sy eensame dood weens ‘n akute asma-aanval op 2 September 2001 in die ouderdom van 78 jaar, in Ciprus, Griekeland. Die geprese arts het heeltemal agtelosig sy asmapompie in sy hotelkamer gelos toe hy swembad toe gaan.
Aan die epiese stuk mediese geskiedenis het ek ‘n persoonlike herinnering. Op Maandag 4 Desember 1967 was ek in die hoofsubredakteurstoel van Die Volksblad* in Bloemfontein toe stories oor die eerste hartoorplanting per teleks van ons Kaapse susterskoerant, Die Burger, bly instroom. In ‘n meesleurende kopie uit die tikmasjien van Die Burger se hoofverslaggewer, Harry Shaw, het die ongelooflike storie voor my op die hoofsublessenaar ontvou.
Daardie oggend se se voorblad van Die Burger was skitterend. Ek dink ons in die verre Bloemfontein het self ‘n treffende voorblad gehad. Trouens, ek sou dit sonder skroom vir die museum wou aangebied het. Wat ek liewer nie sal aanbied nie, is ‘n kort grafskriffie vir prof. Barnard in my boekie met hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof, wat in 2003 verskyn het.
Die vrypostige versie lui soos volg:
Ook maar mens, ook maar lus,
Met dié kort grafskrif,
Sê ons: tot siens, dr. Chris!
Nov 6, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wanneer Volksblad-veterane van vorige dekades die naweek in Bloemfontein saamtrek, gaan sekerlik goed nostalgies geraak word. ‘n Traantjie of twee sal dalk op ‘n wang verskyn. Die klomp gaan ook lekker lag – dis gewis.
As ek moet raai, sou ek reken van die luimigste anekdotes in tafelgesprekke in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum waarskynlik sal handel oor al die kleurryke karakters wat deur die jare op die koerant se betaalstaat was: salaries eccentrics, het Lord Thomson of Fleet joernaliste mos so ietwat neerbuigend genoem.
Een van die “salaried eccentrics” in my dae was fotograaf Willem van der Walt. Mooi Willem, het sommige hom genoem; Lelike Willem ander. Hoe ookal, Willem (Mooi of Lelik) of sou jy nooit kon beskuldig dat hy die toonbeeld van afgerondheid was nie.
Ek en hy was op ‘n keer op ‘n sending na Sasol. Verveeld deur my gesprek met ‘n paar Sasol-hoës, onderbreek hy uit die bloute met: “Haai, lyk hy nie vir julle ook nes ou sir De Villiers Graaff nie? ” Hy was nie die eerste wat ‘n beweerde ooreenkoms in voorkoms raakgesien het nie. In die parlementêre krieketspan in 1965 was sir Div bekend as Big Div en ek as Small Div.
‘n Asder keer het ons die Kovssie-tamboernnooientjies gaan afneem. Die voorste ry sit kruisbene. Dan sien jy tot doer. Willem waarsku: “Pas op, ons sien julle almal se broeke.”
Die Willem-storie vat die koek vat, is ‘n storie oor terte.
Hy en ‘n kollega is in die Suid-Vrystaat en die kollega voer ‘n onderhoud met die plaaslike leraar oor die een of ander fondsinsameling. Weer boei die gesprek Willem hoegenaamd nie.
“Dominee,” val hy sommer met die deur in die huis, “waar’s die terte?”
Die leraar was momenteel uit die veld geslaan. Toe antwoord hy, terwyl hy bloedrooi begin bloos: “Ag broertjie, hier is ‘n paar onderwyseressies maar hulle is nou met vakansie!
(Uit: Scoops en Skandes, Tafelberg 1993)
Oct 27, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

(Die illustrasie deur Fred Mouton kom uit my humorboekie Oos-Wes, Reismoles! (Human & Rousseau, 1998).)
Die woordjie TE verswak dikwels ‘n goeie saak. Dit weet ons mos almal. Verskoon my, dames, maar die kampanje teen mans se aanstootlikhede raak vir hierdie ou man op Melkbos nou TE dik vir ‘n daalder.
Alle simpatie met slagoffers van seksuele molestering in sy verskillende vorme. Sal dit nooit geringskat of goedpraat nie. Maar te veel “slagoffers” spring nou op die wa met stories wat bra karig is.
Skielik onthou ek van die meisiekind wat in die nanag aan my hoteldeur in die Kaap kom klop het met die mededeling: ” I am in the room right next door”. Dan was daar die voorwaartse ene – in Rusland darem – wat my kamernommer gebel het met die inleidende vraag: “You have for me the cigarette?”
Vir my: ‘n kuise, middeljarige, gelukkig getroude man en vader van twee kinders; ouderling in die kerk en also!
Volgens sommige beswaarde vroue se definisies van die molestering wat hulle te beurt geval het, klink dit mos vir my of ek dan ‘n omgekeerde slagoffer was van die nare maatskaplike verskynsel. .
Mensig, die letsels sit seker nou nog aan my brose manlike psige.
Volgende keer sal ek nie van skrik net bly stamel nie. Ek sal opstaan vir my regte. Watch my!