POTJIE MET VARKIES

IMG-20180107-WA0000Botter sal nie in die twee slapende “skoonhede” se mond smelt nie – so onskuldig lyk hulle. Maar vanoggend vroeg by Tarlehoet was die twee Sabieparkertjies hoof-figure in petalje wat in ‘n taamlike moles kon ontaard het as skoondogter Mariza nie so vinnig met ‘n besem ingegryp het nie.

Die toneel was ons buitetoilet. Johan het die vertrekkie vroeg-vroeg gaan opsoek; met ‘n oop deur. ‘n Oopdeur-beleid t.o/v. buitetoilette is vry algemeen daar in die bos; ‘n mens kan sit en peins terwyl jy dophou wat dalk verbystap. Toe Johan hom weer kom kry, stap ‘n vlakvarkie egter die beknopte ruimtetjie binne. En o wee, daar klap die deur agter hom toe!

Mariza hoor in die slaapkamer net ‘n benoude uitroep “Mariza, jy moet kom help!”. Toe sy om die hoek van die huis kom, staan die ander varkie voor die deur. Kos haar die besem gaan haal om hom weg te stoot. Toe sy die deur oopmaak, was Johan natuurlik gretig om buite te kom. Hy het vinnig die daad by die wens gevoeg.

Die twee vlakvarke was glad nie gretig om die “verowerde gebied” prys te gee nie. Hulle was vrek nuuskierig oor wat dan agter daardie deur gebeur. Maar ‘n vlakvarklyf kan ook net soveel opwinding op ‘n Sondag voor brekfis vat. Dit was nie lank nie toe strek albei hulle langs die huis uit en snork vir die eerstespan.

TWEE KLEIN KRUKKIES

Verjaardag-wyntjie.

Verjaardag-wyntjie.

Die bekende spel Bingo is  veral gewild by senior burgers. In die sogenaamde “Bingo Lingo” wat ingewydes in die bekende spel  onder mekaar besig, is die getal 77 bekend as die “two little crutches.”

Synde self op die vooraand van my 77ste verjaardag more (Woensdag 3 Januarie) hoop ek maar die “krukke” slaan op die vorm van die 7’s – nie op voorspelde gevolge van die bereiking van so ‘n hoë ouderdom nie.

Hoë ouderdom is 77 inderdaad, lees ek. Op jou 77ste jaar steek jy as’ t ware die grens oor van “‘oud” tot “baie oud. Jy word ‘n Metusaleg. Jy voel aan jou bas al hoe meer die waarheid van skertsende woorde wat ek, nog onervare in sulke sake, jare tevore uit oneerbiedigheid oor die ouderdom gepleeg het (Uit Polisie, Polisie, Ons reënboog is geroof!):

“Elke denkbare kanaal, van nasaal tot urinal, raak verstop of skeef of krom, dis die kruis van ouderdom!”

Ander prikkelende feite oor ouderdom 77 is op Google beskikbaar.  Voorbeeld: uit elke 100 00 geboortes leef 64 542 tot daardie ouderdom. Nogal ‘n gewigtige gedagte dat ‘n derde van die kalwers in jou hok al langboompies toe is.

Jy staan darem nie met jou een voet in die graf en die ander op die spreekwoordelike piesangskil nie – wel, nie noodwendig nie.  Die lewensverwagting vir ‘n man van 77 is 9,7 teenoor 11,5 vir ‘n vrou. So beweer die mense wat statistieke van sulke sake hou.

‘n Ding kom my op die vooraand van die biezondere verjaardag oor wat ek maar moet verklap.

Ek en Tokkie gaan ry maar my selfoon is skoonveld. Oral gesoek, besluit ek ten einde raad om die selnommer op die landlyn te skakel.  Skielik gaan die ding oorverdowend aan’t skel – in my hemp se bosak!

Jy word oud, Hennie, jy word oud!

Oud, bepaald. Van die begrip “stokoud” skram ek egter steeds doelbewus weg. Klink darem nie vleiend nie.

Laat ‘n mens  nie te veel oor die onvermydelikheid van stygende jare en die implikasies daarvan tob nie.  Konsentreer op die positiewe – dis ook die advies wat ek telkens van my vrou kry.

Altyd bly immers nog stof tot dankbaarheid oor.

Asof ek gerusstelling soek, gaan lees ek toe maar weer ‘n  stukkie wysheid oor die ouderdom uit Yesler se operette “Der Lustige Ehemann” (die vrolike eggenoot). Wyle Fred Schnetler het dit op my 60ste vir my gestuur uit die Swartland waar hy afgetree het:

Fein, fein schmeckt uns der Wein wenn man zwanzig ist, und die Liebe.
Fein, fein schmeckt uns der Wein
Wenn man dreissig ist, und auch die Liebe.
Wenn man vierzig ist, man nog gerne kuesst
Sonders wenn man ein sparsam gewesen ist.
Doch wenn man aelter wird, und langsam kaelter wird,
Bleibt allein nur der Wein.

Die vernuftige Fred het dit so “overgeset”:

Fyn, fyn smaak ons die wyn as ‘n mens twintig is, en die liefde.
Fyn, fyn smaak ons die wyn as ons dertig is, en ook die liefde.
As ons veertig is, soen ons nog graag, mits ons ‘n bietjie spaarsaam was.
Maar as ons ouer word, en stadigaan kouer word,
Bly alleen net die wyn.

Maar darem nog die wyn – let wel!

Ná die wyn – daarna ek weet nie. Ek is nog net 77.

 

 

 

 

VREDE VAN BINNE

Tokkie by die ou naambord, 20 jaar gelede.

Tokkie by die ou naambord, 20 jaar gelede.

Ek het ‘n “plaas” in Afrika…  Tussen Karen Blixen van “Out of Africa” se PLAAS-plaas in Kenia en die Van Deventers se plasie-plaas in Mpumalanga bestaan ‘n hele paar verskille. Een is omvang.

Ons s’n in Sabiepark – ‘n spikkeldeeltjie van die groter Lisbon-landgoed – is volgens transportakte T22558/98 net 8 982 vierkante meter – ‘n rugbyveld en ‘n stukkie. Maar vir ons is dit oorgenoeg.  Hier voel ons so vry soos mej. Blixen in Kenia moet gevoel het.

Sabiepark is hier aan die oujaar voorop in ons gedagtes om twee redes:  ons begin pak vir seker al ons plus-minus 50ste bosvakansie (ons vlieg op 8 Januarie), en ons roep in ons herinnering die kennismaking 20 jaar gelede met daardie geliefde 8 982 vierkante meter aan die einde van 1997.

Sabiepark self het ons al in 1988, 11 jaar tevore, ontdek. Op pad wildtuin toe het ons die eerste eerste keer oornag in die huis van Fickie Visagie; daarna ‘n keer of wat in die huis van Hannes Meiring en Ronnie Schoombee. ‘n Saadjie moes toe geplant gewees het wat ‘n dekade later, rondom my aftreeplanne einde 1997, ontkiem het.

Oud-kollega Danie Krynauw, gewese uitvoerende hoof: tydskrifte, en sy vrou, Kathleen, het in Oktober by die Pers kom inloer.  Danie en Kathleen het destyds in die winter na die gholflandgoed Kruger Park Lodge, net buite Hazyview, uitgewyk. In die somer was hulle op Hermanus.  Die laaste jare woon hulle nou in Helderberg Village.

Terwyl ons daardie dag in die Pers-kafeteria “Van Alle Kante”,  met die onoortreflike uitsig op berg en see, saam koffie drink, kry ek uit die bloute die bevlieging om ook met so ‘n swaeltjie-leefstyl te eksperimenteer, nesd die Krynauws. Tokkie is gelukkig te vinde.

Ek skryf dadelik vir Fickie Visagie en Ronnie Schoombee en vra of ons hul plekke die volgende winter vir ‘n paar weke kan huur. Ek noem my plan ook terloops Colin Hickling van Bloemfontein. Dié onderneem om by Ken Saggers, ook ‘n Sabiepark-eienaar, namens my aan te klop.

Saggers laat weet uit Johannesburg: maar wil ek nie sommer my eie plek koop nie? Jean Smythe, ‘n weduwee van Vishoek, soek ‘n koper vir haar huis, waar sy na   haar man se dood ongereeld kom.

Sommer dieselfde dag bel ek vir Jean.  Het sy vir my ‘n plan en foto’s?  Sy het selfs iets beter: ‘n video wat vir ‘n gestremde vriendin in Johannesburg vervaardig is – een wat jou van vertrek tot vertrek neem, dan stadig met die trappies op boontoe. Boonop word al die diere wat oor ‘n tydperk van maande kom besoek aflê het, in ‘n klompie kort minute ge-enkapsuleer.

Swembadjie en watergat - min het verander.

Swembadjie en watergat – min het verander.

Die video en ‘n geskeurde, water-beskadigde argiteksplan, word sommer die volgende dag saam met ‘n vriendin stad toe gestuur, en dieselfde aand by my seun en skoondogter, Johan en Mariza, met positiewe kommentaar uit alle oorde betrag.

Die gogga het hard gebyt.

Ons begin onderhandel. Ek weerstaan die druk van my klaar verowerde hart, en kondig aan ek moet darem eers die plek sien. ‘n Mens koop nie ‘n eiendom 2 000 kilometer ver op grond van ‘n tuis-video nie, allawêreld! Die geleentheid om dinge self deurte kyk, kom in November.

Ek en Tokkie spring met ‘n geleende motortjie in Johannesburg weg Sabiepark toe. Ons ry vol afwagting met kloppende harte, in Apiesdoring af na Wildevy 154: Ukuthula – die huis van Jean en wyle Mike Smythe. Die naam beteken: vrede van binne.

Toe die skuifdeur oopgly op die woonkamer met die hoë grasdak en die rottangmeubels, wis ek al: ek hou hiervan. Ek behou egter my kommentaar voor, wagtende vir Tokkie om die eerste woord te spreek. Sy laat my in spanning wag.

Ons gaan stap die middag en kry ‘n olifant net oorkant die grensdraad, maar braai amper uit in die somergloed. Toe sy bra gehawend by die huis kom, dog ek dis neusie verby. Maar die swembadjie se water is ‘n lafenis – en ‘n gebrek aan swemklere is in die bos gelukkig nie ‘n struikelblok nie!

Die aand toe die vuurtjie begin flikker en die sterre begin flonker, kom ek dankbaar agter ons is in die groot saak ad idem. Die Sondagmiddag voor ons wegry Johannesburg-lughawe toe, skryf TvD dit swart op wit: “Geen twyfel dat ons gaan koop nie.”

Toe voeg ons die daad by die word. In Maart 1998 het Ukuthula amptelik  Tarlehoet geword.

So het ons hartsplek  20 jaar gelede in ons lewe gekom. Hoeveel vrede van binne het dit nie vir ons beteken nie!

BOEK-ET VAN ‘N LAATOES

IMG_6576Hierdie is die verhaal van twee Laatoese – die een op papier, die ander in ‘n bottel.

Die bedoeling is nie om die twee, hul boek-et en die plesier wat hulle liefhebbers of nie-liefhebbers verskaf of nie verskaf nie,  teen mekaar af te speel nie. Dis ‘n kultuur-historiese blog wat vrae soos wie, wat, waarom en wanneer probeer beantwoord.

Eersgenoemde is die natuurlik jongste pennevruggie van die uwe, gepubliseer deur Naledi ‘n maand of twee gelede.  Laasgenoemde is een van die spogprodukte van die bekroonde Paul Cluver-kelders van Elgin: ‘n riesling noble late harvest.

 

Gister het ek geskenk-eksemplare van eersgenoemde aan Andries Burger, afgetrede ginekoloog van die Paarl, en sy seun, Andries Junior, bekroonde wynmaker van Paul Cluver oorhandig. Ek het huis toe gekom met ‘n “eksemplaar” van laasgenoemde in ‘n netjiese kartondosie ná ‘n aangename kuiertjie by die sierlike Paul Cluver-landgoed en ‘n ete in die karaktervolle klein Salt-restaurant tussen die groot akkerbome.

Die gashere was Andries Senior en sy minsame vrou, Irma, en die aanknopingspunt vind ons 56 jaar gelede in Kollegetehuis, Pretoria. Dit is die jaar toe Andries, plaasseun uit Suidwes (nou Namibië), met die trein van Gobabis af in Pretoria aangekom het om op Tukkies te kom swot.  Hy was in 1961 ‘n ienk (eerstejaar) in Kollegetehuis, waar ek die jaar huisvoorsitter was.

Die koms na Tukkies was ‘n ontredderende ervaring waarvan hy boeiend kan vertel: oor hoe hy op Johannesburg moes oorklim en verlore op die grote Parkstasie rondgedwaal het. Hy betaal toe `n tiekie om af te gaan na ‘n platform en vra aan iemand wat nie gevaarlik lyk nie: “Is dit die trein na Pretoria?” Intussen klou hy aan sy twee tasse, kosmandjie en beddegoedrol. want hy gehoor as jy weg kyk, is dit gesteel.

“Nee.” Kom die kortaf-antwoord. Toe takel Andries maar die volgende platform. Skielik loop iemand na hom en sê: “Jy was mos ook op die trein. Dit was mede-Suidwester Arend de Waal wat tot sy redding gekom het. Arend was sekretaris van die HK (huiskomitee).

Toe deel hulle ook die taxi. Die volgende oggend het Arend kom seker maak dat hy weet waar die universiteit is. Andries dit nogtans reggekry om tot by die Uniegebou te loop waar hy toe weer aan `n enkeling op straat vra: “Kan meneer my sê waar die universiteit is”. Die “meneer” sê toe hy is nie seker nie want hy is ook `n eerstejaar!

Andries het baie dae erg na Windhoek verlang, verklap hy. Hy is nou nog dankbaar jeens Arend dat hy gekeer het dat hy die eerste trein terugvat huis toe. Ook die huisvoorsitter is gelukkig nie in sy slegte boekies nie.

Ná Tukkies is ek koerante toe: Bloemfontein, Johannesburg, Bloemfontein, Kaapstad. Andries het ginekoloog geword in die Paarl.   Die eerste wat ek weer van hom gehoor het, was in September toe hy lees my “Laatoes” is op pad, en ek vier dit met ‘n ‘laatoessie” van ‘n ander kelder.  Hy wou dat ek die “ware Jakob” proe.

Ek en Tokkie in die proeklokaal by Paul Cluver; asemrowende meubels van natuurlike sederhout uit die berge.

Ek en Tokkie in die proeklokaal by Paul Cluver; asemrowende meubels van natuurlike sederhout uit die berge.

Ewenwel, hy en Irma (sy was ‘n matrieknooi op Affies toe haar en mediese student Andries se weë in die 60’s gekruis het) kom kuier toe hier op 14 September (met ‘n gewaardeerde pakkie van sy seun se wyne in die hand!). Ons spreek ook af om saam Paul Cluver te besoek.  Wat toe gister gebeur het.

‘n Geleentheid vir my om die vorige gasvryheid met my eie “Laatoes” te beloon, en, onverdiend, ‘n tweede botteltjie van daardie Paul Cluver se “engeltjiepiepie” in die hand geprop te word.

“Laatoes” deur Hennie van Deventer; ‘n wonderlike “laatoes” uit die Paul Cluverstal van die wynmeester Andries Burger Junior. Die bonus: ‘n heerlike kuier met twee voortreflike pêrels van die Paarl en die herontdekking van Kollegebande wat oor 56 jaar bly voortbestaan het.

RAPPORT UIT MELKBOS

file8

 

file1 Drie bakens in 2017 beklemtoon dat die jare aanstap: Hennie gedenk 60 jaar uit matriek (met ‘n klein maar heuglike reünie op Potchefstroom) asook  20 jaar van aftrede; die oudste kleinkinders, Jacob en Thomas, skud die stof van die laerskool van hul voete.

Ons kyk terug op 2017, weer in dankbaarheid oor al die goedheid en guns.

Twee Sabiepark-kuiers het nog heerlike bosherinneringe bygedra. Dit het ingesluit die Kollegemanne se Orpen 1 na vyf Balules sedert 2012, en ‘n herbesoek aan die boskamp Boulders.  Vir die knusse kampie tussen die klipkoppies raak ons net al hoe liewer.

Ons had uiteindelik die voorreg om op die “nuwe”, vergrote Sinfonia te vaar. Die vaart na Walvisbaai was, soos elkeen tot dusver, vir ons seer aangenaam.

In November was ons op ons spore terug Vrystaat toe. ‘n Saamtrek van Volksblad-veterane van die laaste vyf dekades van die vorige eeu het die geleentheid geskep om heelwat ou vriendskapsbande weer op te tel en o.m. ‘n verkwiklike erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal by te woon.

Op ‘n besoek aan Volksblad is ‘n historiese foto van die sewe redakteurs nog in lewe in Hennie se ou kantoor geneem. Nogal versoberend vir hom om daaraan herinner te word dat hy, wat van 1980 tot 1992 die leisels gehou het, chronologies gesproke, die oudste is.

Natuurlik is ons ook op ‘n sentimentele reis Bultfontein toe, Tokkie se heimat. Ons was o.m. by Hertzogstraat 5, haar skool en die begraafplaas waar intussen ‘n steentjie ter ere van Ouma Marietjie op Oupa Kotie se graf aangebring is.  Natuurlik was ons by die NG kerk Bultfontein waar die egpaar Van Deventer op 31 Desember 1966 in die eg verbind is.

‘n Ontdekking teen die einde van die jaar was die grootse Bergteater in die Sederberge naby Clanwilliam.  Die Kerskonsert teen die agtergrond van verligte rotswande was aangrypend.

Dit was behaaglik om weer ‘n nuwe boek in die hande te hou. “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” het by Naledi verskyn. Dit is HvD se 18de.   Resensies tot dusver is heel vriendelik. Ook Kyknet gee aandag.

Nog ‘n vreugde was om uitvoering te gee aan Tokkie se blink ingewing om by die WAT woorde vir die kleinkinders te borg. Drie boomname met ‘n spesiale betekenis vir elkeen is vir die Claassens-kinders uitgesoek: blinkblaar-wag-‘n-bietjie (Jacob), jakkalsbessie (Thomas) en wildevy (Christopher). Op Mariza se wenk, borg ons die woord “spesiaal” vir Migael.

In die Kaapse annale sal 2017 aangeteken staan as ‘n jaar van slepende droogte, kwynende damvlakke, sware waterbeperkings. Te midde van die waternood kon ons tog op ons Kaapse doenlysie ‘n paar dinge aftik. Ons was op die Rooibus Houtbaai toe, het ‘n boeiende besoek gebring aan die Hartmuseum in Groote Schuur, toneel van die epogmakende eerste hartoorplanting 50 jaar gelede, en by die roofvoëlsentrum by Spier ‘n draai gemaak. Op die Desemberprogram is die Kunstekaap (Evita) en die Planetarium.

Met die gesin Claassens nou weer stewig gevestig in Welgemoed, kon ons verskeie van ons Kaapse draaie saam met die seuns geniet.

Met al die kinders gaan dit in die algemeen goed. Die Claassense is gelukkig, ook Brent in sy werk en die kinders in die skool. Al drie het akademies asook op sport- en kultuurgebied presteer. Hulle is met armsvol sertifikate vereer. (Christopher is ook sy klas se papierherwinningskampioen, danksy sy ouma se entoesiastiese bydraes).

Jacob verdien ‘n ekstra klop op die skouer vir sy verowering van die skoolhoof se spesiale toekenning vir voortreflike diens as klank- en beligtingsman.  In die commedatio word hy ook vir ander eienskappe hoë lof toegeswaai. As ek hy was, het ek dit geraam en teen my muur gehang vir inspirasie.

Uit George kom ‘n konstante stroom positiewe nuus wat ons trots maak op wat die kinders in uitdagende omstandighede vermag.

Johan se trokwas het oor die afgelope jaar so dinamies uitgebrei dat hy op ‘n drafstap moes byhou. Hy het twee groot kontrakte, met Grain Carriers en Unitrans. Op die Grain Carriersperseel is substansiële konstruksiewerk afgehandel, en met die toevoeging van die Unitranskontrak moes Johan ‘n tweede perseel huur.

Johan en Mariza is diep dankbaar vir die goeie besigheid, al bring die voëlgriepepidemie mee dat van Maandag tot Vrydag amper 24 uur per dag gewerk moet word om silwerskoon vragmotors op die pad te hou.

By Mariza se hartsplek, die Legacy Centre, word ook gewoeker. Agt  kinders word nou  een-tot-een onderrig gegee.  Verbeeldingryke projekte word aangepak. Die sentrum het sedert Augustus 2016 vinnig uitgebrei en geniet merkwaardige ondersteuning van die George-media en -gemeenskap.

Dis aangrypend om te sien met hoeveel liefde die personeel van vyf die kinders bystaan. Mariza-hulle hoop om daardie diens tot meer gesinne te kan uitbrei. Sy, Johan en die hele skooltjie is veral trots op Migael was uitblink in sy perdry en swem!

Ons sluit die jaar af, skaam dat ons dit ooit oor die hart kry om te kla (oor die water, aandeelpryse, allerlei pyne en so).

Wat die nuwe jaar alles inhou, weet ons vanselfsprekend nie. Wat ons wel weet, is dat ons sommer vroeg in die nuwe jaar, op Tokkie se verjaardag op 15 Maart, weer ‘n baken bereik. Ons vier dan ons 20 jaar as Sabieparkers – salige verbintenis. Sou dit graag met ‘n koue wyntjie  in die swembadjie wou doen. Weet nog nie of dit moontlik sal wees nie.

Ons sien uit na ‘n paar dae in Sabiepark in Januarie saam met die Van Deventers van George en ‘n vakansietjie in die winter daar saam met die Claassense. In oupa se sak is ‘n bespreking vir Boulders, wat vir die kinders ‘n eerste sal wees.

Op die tweeling wag hul toetrede tot die hoërskool (Hoërskool Stellenberg in Durbanville). Hul nuwe kleurbaadjies hang al in die kas.   Ons hou vir hulle styf duim vas vir ‘n vrugbare nuwe fase in hul lewens.

Seënwense vir julle almal vir Kersfees en die nuwe jaar.

Hennie en Tokkie van Deventer, Melkbosstrand