SOMER, SON EN …SWEMBADJIE

IMG_6795

Somer en son en saffier vir my! So dig die slampamperman C. Louis Leipoldt. Wel, vir ons was die somervakansie in Sabiepark somer, son en swembadjie. Vele sorgvrye swem-sessies in die bos is agter ons blaaie.

Vreemde sameloop. Gaan kyk in ‘n Afrikaanse woordeboek onder die letter “s”. Jy sal plus-minus alles daar raakloop wat ons somervakansie gedenkwaardig gemaak het: veel meer as net die sonskyn en swembadjie.

‘n Sakspinnekop het Migael op die knie gebyt (‘n vorige blog).

‘n Slange-onderonsie vlakby die stoep het ons lank vermaak (‘n vorige blog).

Die skuimnespaddas was weer bedrywig op die stoep en het hul gebruiklike wit liefdesnessie (soos skeerskuim) by die watergat gespin.

Op die S4 het ons die eerste keer in helder daglig twee sivette gesien.

Sebras (en wildebeeste) het ons laaste middag verhelder met ‘n lang besoek teenaan die huis en by die watergat.

Uit hierdie alliterasiepatroon is die njalas (bul, ooi en kleinding) wat hulle op 154 kom tuis maak het.  ‘n Wonderlike gesig – hoop net nie hulle verdryf die bosbokkies nie.

Tietietyd!

Tietietyd!

Dié was van die konstantste besoekers, soos die getroue nagapies.  By die piekniekplek het die kragmeting tussen twee bloedjong bosbokrammetjies boeiend verloop.

Die agt kameelperde het ons meer as een keer amper omsingel.

Hiënas , bloukuifloeries, visarende, bosveldvisvangers en ‘n laat piet-my-vrou het gereeld geroep. Hiënas het ons net twee of drie keer keer gesien en bloukuifloeries ook minder gereeld as tevore. ‘n Gekroonde neushoring by Tarlehoet, ‘n indrukwekkende saalbek by die piekniekplek en talle ralreiers by Lake Panic het ruim kompenseer.

In die wildtuin (waar ons nie dikwels gekom het nie) het die leeus en luiperds laaggelê.

Die reën was minder as waarop ons gehoop het – 8mm die eerste nag en daarna ‘n mm hier en ‘n mm daar. Die aand nadat ons weg is, het dit gestort – 22 mm.

Ons het darem nie net warm sonskyndae beleef nie.  Minstens vyf of ses van ons 20 dae was bewolk en selfs koel.  Een middag is ek met ‘n windbreker aan piekniekplek toe. Ongehoord!

Johan het ‘n kanaal oopgewikkel om goeie knoppiesdoring-braaihout by die kruiwavrag te koop – ook (vir diegene met ‘n biersmaak) kontakte opgebou met ‘n sjebien op pad na Mkuhlu.  Hy het ‘n toestel laat sweis om die swembadseil vinnig op en af te rol. Baie gerieflik.

Die Honda het ongelukkig taamlik geld gesluk: nuwe verkoeler, nuwe bande, nuwe agterlig (ná ‘n stampie teen ‘n boom). Die huis se gaspype word alles met voorgeskrewe koperpypies vervang en ‘n spesiale gashok word gebou om aan nuwe vereistes te voldoen.

Aan die positiewe kant: Tokkie se sonkrag-lanterns en ander liggies lyk feestelik, spaar lampolie, is windbestand en sorg vir minder moeite.

Op 8 Maart is ons weer daar om ons verbintenis van 20 jaar te vier.

‘N IENK IN 1958

Sarge Bourke - hier in versiersuiker op 'n koek!

Sarge Bourke – hier in versiersuiker op ‘n koek!

By die begin van die nuwe akademiese jaar 2018 aan ons universiteite gaan die gedagtes van hierdie Tukkie-kalwer van 1958 ver terug: na die dae van ienk-wees in die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.

Kollegetehuis was toe nog op die hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou. Al die meisies moes daar verbystap klas toe. Spitsvondige kommentare het nie uitgbly oor al die vietse en minder vietse lyfies lyfies wat deur ‘n waarderende gehoor waargeneem is nie.

In Kollege is ’n ienk toentertyd behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons moes gereeld voor die eetsaal (lankal die slagoffer van vooruitgang) in gelid aantree.

Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep:  “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.”  Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Dit was die tyd van  modderbaddens, die “pil” (’n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” – elkeen ’n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ’n element van weerbarstigheid te tem!

Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk moes maar weet: vir ‘n jaar lank is hy lyfeiene vir ‘n veeleisende senior. Jy het honderde pare sweterige sokkies gewas. Een senior het selfs geverg dat ‘n ienk op ‘n koue wintersoggend vir hom die toiletbril gaan warm sit.

Die arme ienk sou ‘n paar keer moes inpak en trek (met al sy klere, al sy koffers, al sy boeke) en “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot met die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Tot daardie welaangename dag het jy ‘n geel knopie op die bors gedra met die letter “K”.  Nogal snaaks gewees toe daar vroeg die jaar een Sondagaand ‘n kerksleep was saam met Asterhof.  Daar sit ons toe in Pretoria-Oos se kerkbanke: Kollegeman (K), Asterhoffer (A), Kollegeman (K), Asterhoffer (A) ……

‘n Jaar van enorme nederigheid was dit. Maar ons het oorleef, het seniors geword en op ons beurt die pyn uitgedeel. Hopelik ook die liefde vir Kollege aan ons opvolgers oorgedra.

Van die tradisies het ses dekades bly voortleef, verneem ek dankbaar. Die gelukbringer, Sarge Bourke, ’n beton-polisieman wat by ’n huis in Gezina geskaai is, bestaan steeds. Nuwes tradisies het bygekom. Party bo hierdie begrip. Tye verander.

In Junie trek nege Kollege-tydgenote uit daardie era weer saam in die Orpenkamp in die Krugerwildtuin – ‘n wonderlike tradisie wat nuut posgevat het.  Ons sal vir seker ‘n heildronkie of twee geniet op die 60 jaar wat sedert 1958 verloop het.

Helaas sal dit maar met al die skete en so aan sukkel-sukkel gaan om te “haaitjokkelorum, haasbekpatrollum ….”

LUSTIGE SLANG/HITSIGE SLANG

1-1-IMG_6730‘n Boeiende slangepisode speel hom voor ons oë af toe ek van Tarlehoet se stoep uit die hoek van my oog beweging in die wilde katjiepieringboompie naby ons stoep-swembadjie waarneem.

“Slang”, roep ek en beduie boompie se kant toe. Dadelik is ek en Tokkie albei op ons voete. Nadere inspeksie bring aanvanklik niks aan die lig nie.  Toe sien ons tegelyk tussen die blare die lansvomige groenerige koppie met die kenmerkende donkerbruin, swart en pienk spikkels van die savannavoëlslang, volgens slangkenner Johan Marais in sy “Volledige gids tot die slange van Suid-Afrika.”

1-1-IMG_6728Tensy hulle beweeg, sien ‘n mens die slangetjies moeilik raak, want wanneer hulle bewegingloos in ‘n boom wegkruip, lyk hulle kompleet soos takke of takkies. Vandaar die Engelse name “twig snake” en “vine snake”. In Afrikaans word ook soms na hulle as “takslange” verwys.

Ons aandag maak die slang blykbaar ongemaklik.  Hy kies vinnig koers in ‘n westelike rigting via die lae takke van ‘n groterige knoppiesdoringboom langs die kleiner katjiepiering. Maar soos die spreekwoordelike kat, keer die slang ook terug.  Die tweede keer kom n “maat” saam. Albei is na skatting sowat ‘n meter lank en so dik soos die vinger van ‘n pianis.

Tokkie gewaar hulle eerste in dieselfde katjiepiering as vaneffe. Dit lyk of hulle die een of ander grasieuse speletjie met mekaar speel soos hulle die slanke lywe woel.  Die rooi-en-swart tonge kwispel ononderbroke.

So speel-speel versit hulle saam-saam van die katjiepiering na die naburige knoppiesdoring, waar sake ernstig begin raak. Hulle rondomtalie in die doringtakke. In ‘n stadium is die twee lywe vlietend soos ‘n koesister gevleg.

Ons dag eers dis die liefde wat so maak, en dat dit die “lustigheid” van die slang is wat ons op kort afstand waarneem.  Dis juis paartyd. In Johan Marais se slangboek lees ons egter dis hoe twee mannetjies baklei.

Hul kronkel hul lywe om mekaar. Die een vegter probeer dan om sy teenstander se kop na benede te druk. By nadenke, was dit waarskynlik dus nie “lustige slange” nie maar “hitsige slange” – of “bitsige slange”, ‘n teorie wat versterk word deur die feit dat die twee vir die leke-oog baie eenders gebou voorgekom het. Die wyfie is glo swaarder gebou met ‘n korter stert.    Mog die beste slang gewen het!

Dit stem nogal tot nadenke dat die savannaevoëlslang as “baie gevaarlik” geklassifiseer word. Geen teengif bestaan nie. As hy jou byt is, dit “hallelujah and goodbye”, soos Organ Ongeni by die piekniekplek ons lakoniek inlig.

Die volksnaam “voëlslang”  is nie eintlik nommerpas nie, want dis akkedisse en paddas eerder as voëls waarop hy teer – twee soorte kos wat juis in die somermaande uiters volop op en om Tarlehoet se stoep is.

el, nog ‘n natuurles is geleer.  Vorentoe sal ons stipper vir lewe op boomtakkies kyk, dis voorwaar. Al is dit huiwerig en sku van geaardheid, en word die kans as gering geag dat ‘n mens gebyt sal word, kan die kripties gekleurde voëlslang soos die uiters gevaarlike boomslang goed sien en sal hy soms woes reageer as hy getempteer word!

 

GEVAAR AGTER GORDYN

saksIn die voue van jou gordyne of in jou linnekas – op plekke waar jy dit dalk die minste verwag, kruip een van die gevaarlikste spinnekop-kalante moontlik weg.

Pas op vir die venynige sakspinnekop. Sy byt veroorsaak ‘n liederlike wond (lyk soos ‘n lelike puisie) en kan selfs tot veelvuldige operasies lei om die gif en aangetaste weefsel uit te sny.

Allerlei grusame stories het ons ore bereik nadat ons kleinseun Migael van Deventer (11) van George by Sabiepark se swembadjie op sy knie gebyt is; van vingers waarvan net die been oorgebly het, gapende gate in die vel, amputasies en selfs die dood.

Gelukkig het Migael vinnig by ‘n dokter in Skukuza uitgekom wat spinnekoppe en ander geniepsige trawante se spore ken. Hy het die dik geswelde rooi wond op die knie net een kyk gegee en dadelik gediagnoseer waar die kwaai eina vandaan kom. Sy aggressiewe behandeling met antibiotika het genadiglik die knie se weefsel  gered. Binne dae was Migael weer aan’t boomklim en swem – maar nie voordat die wond nie oopgebars  en ‘n verbysterende spul  etter uitgestroom het nie.

Sy ma, Mariza, was geskok toe sy sien wat die spinnekop alles in die wond op haar seun se knie gedeponeer het.

Die gelerige sakspinnekop is relatief klein, maar is bekend as een van die “Gevaarlike Vyf” in die geledere van Suid-Afrika se agtpotiges. Sy byt is meesal nie dodelik nie.  Soos sy nabyfamilie die vioolspinnekop is sy gif sitotoksies. Die gif val weefsel aan, nie die senustelsel nie. Dit voorkom dat witbloedselle by die beskadigde weefsel rondom die bytplek kan uitkom. Die gevolg is dat die weefselselle afsterf. Die gif kan met ‘n pofadder s’n vergelyk word.

Die sakspinnekop leef gewoonlik buite in plante se blare,  maar kom ook redelik algemeen in huise voor.  In die Hoëveld het omtrent elke huis sy sakspinnekop of twee, waarsku ‘n kenner. Soek maar dadelik vir vreemde klein sakkies in jou gordyne se voue of aan jou linne, mevrou!

Die kenner praat net van die Hoëveld. So geografies beperk is die ventjie se habitat egter nie.   Uit reaksies op Migael se pynlike ervaring blyk dit  dat minstens tien mense wat aan ons bekend is, landwyd al in wisselende grade van ernstigheid die slagoffers van die lelike meneer was.

Die arme Migael.  Voor sy onderonsie met die spinnkopwas was daar in die Van Deventers se verbintenis van 20 jaar in Sabiepark al stampe en stote van vlakvarke, ‘n paar groot skrikke weens slange en skerpioene, asook ‘n luiperd en hiëna of wat op die stoep wat gevaarlik kon word. Die ergste ongeval voorheen tot dusver was egter Tokkie se been wat onder ‘n sogenaamde witmot deurgeloop het. Nou dra die spinnekop-episode die kroon.

Met Migael se kennismaking met die plek agt jaar gelede het hy as driejarige seuntjie in ‘n kort bestek aan die skokdraad by die piekniekplek gevat, vat die stoepmuur getuimel en in die watergat beland. Hy het sekerlik rede om in negatiewe terme oor Sabiepark te dink.  Maar hy bly lief vir die plek, soos ons almal.  Uit die swembadjie hou jy hom nie sommer nie al is die water vriesend.

(Seker net billik om  te noem dat skere navorers die sakspinnekop as ‘n onskuldige sondebok beskou. Hulle meen ander spinnekoppe en goggas is dalk eerder vir daardie nare wonde verantwoordelik Hul teorie gaan egter baie oortuigingswerk verg. Die “puisiewonde” lyk darem net te eenders. )

SOMER IN DIE BOS

Wil dit nou nie invryf nie, maar vir al my Kaapse vriende wat so besorgd is oor die vreeslike hitte wat ons dan van more af in die Laeveld gaan trotseer, het ek darem ‘n boodskap.

Ons gaan stort en swem na hartelus, mense. As die watervlak in die swembadjie sak, vul ons hom met die tuinslang op. Die huis se ruite word gewas en die Honda skoongespuit. Saans word vuurtjie gemaak en buite gebraai. Elke aand trek die rokie direk opwaarts – tensy dit natuurlik reën, wat in Januarie in die bos nie nie te seldsaam is nie.

Maar as ‘n buitjie klaar uitgesak het, lewe die veld. Die vars reuk van die lug is verkwiklik. Die plate, plate klein bokkies baljaar uitgelate. As die skemer toesak, raas die tarentale en patrysies vrolik. Die paddas kwaak in ‘n crescendo.

Ai, dis swaar om jouself so te straf!