BALDADIGHEID

Die eweredigheid tussen straf en oortreding is een vna die kernbeginsels van reg en geregtigheid .

Geregtigheid kom nie tot reg in die ligte raps op Steve Smith se kneukels tot dusver nie.

Krieket en rugby is ver van vinkel en koljander.  Onthou egter wat met die oorywerige Springbokstut Johan le Roux gebeur het toe hy in 1994 in ‘n toets teen die All Blacks uitgevang word waar hy aan Sean Fitzpatrick se oor knibbel. Hy is summier huis toe gestuur, het sy Springbokbaadjie verloor en is vir 18 maande uit rugby geskors.

So ‘n bytery is nie diaboliese maneuver wat in die kleedkamer gestalte gekry het nie. Dit geskied op die ingewing van die oomblik.  Kan ook nie juis ‘n impak op die uitslag van ‘n kragmeting he nie.

Pas hierdie beginsel  op die baldadige skuurdery toe, dan is dit tot siens, Steve Smith, los sommer jou baadjie in die kas, en ons hoop jy vaar in poker of veerpyltjies ewe goed as met die kolf!

‘N PAAR KORRELTJIES

‘n Paar korreltjies uit my praatjie gister by die WAT se Woordpret op Stellenbosch oor die “Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”- die subtitel van “Laatoes”( Naledi, 2017). 

Saam met dr. Willem Botha, hoofredakteur van die WAT. (Fotograaf: Frikkie Lombard)

Saam met dr. Willem Botha, hoofredakteur van die WAT. (Fotograaf: Frikkie Lombard).

Resensent Anton van Zyl skryf beeldryk oor Laatoes:   Van Deventer pluk as’t ware die stories uit die wingerde waardeur hy die afgelope paar jaar gewandel het. ‘n Vreugde is dit vir my om vandag juis hier in prima-wynland paar korreltjies oor hierdie ou natrossie van my te kom deel.

Mense vra: Watse boek is Laatoes? Die kort antwoord is bepaald: ‘n koeranteboek natuurlik – dit verklap die omslag en die subtitel: Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman dadelik. Dit onderstreep die inhoudsopgawe.  Van die plus-minus 60 hoofstukke is twee-derdes gekoppel aan koerante en hul mense.

Ek is sensitief om Laatoes se koerantekarakter te sterk te beklemtoon, want ek is al beskuldig dat ek reeds twee outobiografieë gepubliseer het: Kroniek van ‘n koerantman (1998) en In kamera (2003). Ek is bang vir die verwyt dat Laatoes die derde in ‘n trilogie is waarin VD sy eie basuin blaas!

Daardie raps op die kneukel is grootliks onverdiend, meen ek.   Kroniek dek ‘n spesifieke era, die 8o’s. In kamera is ‘n boek oor my foto’s.  Albei is outobiografies van aard maar geeneen kwalifiseer as volwaardige outobiografie nie.   Eintlik is my eerste twee Scoops en skandes en Flaters en kraters ook koeranteboeke. Dié is wel oor koerante se blapse. Dit sluit egter my eie blapse in. Dus, vrees ek, is dit ten dele ook outobiografies!

Eintlik, moet ek bely, is al my werk net ‘n vertakking van die joernalistiek: stories uit die lewe en nie uit die verbeelding nie.   Enigste uitsondering is Mayafudi / Spore in die bos oor die fiktiewe wedervaringe van ‘n olifantbul.

Die boekie het nie juis pryse ingepalm nie.  Uit Taiwan het Anton Jansen egter op Amazon se blad laat weet sy Chinese klassie is daardeur geboei. Hulle wou elke dag weet: watter nuwe avontuur het Mayafudi nou te beurt geval.  Die Mandarynse reaksie was ‘n aangename lafenis ná die kritiek van veral een hoog aangeskrewe resensent. Sy is teen die bors gestuit deur die antropomorfisme wat ek so skaamteloos pleeg. Ek moet bely: ek moes die woordeboek raadpleeg oor wat daardie sonde is!

AJ Opperman skryf op Litnet: Die woord “kanniedood-koerantman” is nogal gepas, want die opteken van gebeure en ervarings doen hy slaafs. Ek kan nie van  Opperman verskil mne.  Ek het laaie en leggers met notas. In Laatoes skryf ek oor al die eras van my lewe.  

Uit my vroeë Volksblad-jare skryf ek bv. oor twee van die gedenkwaardigste koerantstories van my era:  moord op dr. Verwoerd op 6 September 1966 en die eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Ek was destyds hoofsub. Al die berigte is deur my hande – hande bewende van ontsteltenis in die geval van die Verwoerd-moord net ‘n uur of wat tevore. (In November het ek gesien ‘n geraamde voorblad met die Verwoerd-storie hang nog teen ‘n muur by my ou koerant. Het my sommer dadelik laat voel: dis nog my plek!)

Uit my 12 jaar as redakteur is daar hoofstukke oor o.m. die intense Afrikaner- broederstryd tussen verlig en verkramp en die die bosoorlog.   Uit my laaste skof van vyf jaar aan die Heerengracht skryf ek oor die goue era van koerante, wat helaas vir altyd verby is; ook oor die stryd vir Afrikaans en die stigting van die Pendoringprys.

Plus-minus 30 van die hoofstukke (amper 50%) is  profiele van groot geeste; bekendes soos Pik Botha, Wynand Mouton, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Okkie Raubenheimer, Gustav Hoexter en Percy Qoboza; kleurryke kollegas soos Piet Cillié, Johannes Grosskopf, Ton Vosloo, die vermoorde Eric Wiese, Alf Ries, Johan van Wyk, Ben van Rensburg.

In die voorwoord verwys Louis Esterhuizen vriendelik na  my vonkel-in-die-oog-kyk na sake, geestigheid en “kenmerkende pittigheid”. Nou-ja, humor gee my groot plesier. in Laatoes is hoofstukke soos “Plett prett”, “Die sool en die kous”, “Kaalbas en strikdas” en Otjie met ‘n CV” wat hopelik ‘n glimlag sal uitlok. Trouens, drie van my eerste vier boeke is humorboeke. Later het nog twee bygekom.  Die vyf behels plus-minus ‘n derde van my skryfwerk.

Wordsworths skryf op sy webblad: Die verrassende (of dalk nie?) ervarings met diere in die Krugerwildtuin sorg vir baie vermaak. Luiperds in hul erf, ratels op die stoep, vlakvarke in die kerk…En ja, heelparty bosstories duik op in Laatoes. In Sabiepark is ‘n stapel verslagboeke waarin die boslewe in al sy nuanses gereeld opgeteken word.  As ‘n uitgewer dit wil waag, sou ek graag as ‘n laaste hoera ‘n kompilasie van anekdotes met ‘n Sabieparkse voetspoor publiseer.

Die lewe in die bos – dit sou die titel van my bosboek kon wees!

DIE LAASTE AAND

By die afskeidsete in die Mount Nelson: Ons, seun, Johan, en skoondogter, Mariza.

By die afskeidsete in die Mount Nelson: Ons, seun, Johan, en skoondogter, Mariza.

Een formaliteit het in my loopbaan oorgebly nadat ek op 15 Desember 1997 my kantoordeur in die Perssentrum die laaste keer agter my toegetrek en die sleutels aan my bekwame p.a., Lizette Hanekom, oorhandig het.

Twee maande later op 19 Februarie 2018, eerskomende Maandag presies 20 jaar later,  het die 57-jarige afgetredene (nou 77) vir heel oulaas as lid van Naspers se uitvoerende bestuur ‘n das geknoop (‘n rooie) en ‘n donker pak aangetrek vir ‘n afskeidsete in die elegante, koloniale Mount Nelson-hotel aan die voet van Tafelberg.

Die gaste het aangesit vir gerookte salm, peper-beeslende en appeltert, afgesluk met “Vergelegen Vin de Provence” en “Nederburg Baronne”.  ‘n Opdragskildery van ‘n Melkbos-uitsig op Tafelberg deur Dale Elliot is o.m. aan my oorhandig.

Ton Vosloo het gepraat.  Ek het geantwoord – seker te uitvoerig, soos by geleentheid.  Adv. Lang-David de Villiers het al gewonder of ek nie soms te langasem raak nie!

Mooi musiek vir my gewees daardie laaste aand in die Mount Nelson, ook in ‘n letterlike sin:  die “Die Drie Tenore” het gesing – met soveel bruisende entoesiasme dat Jeff Malherbe, direkteur, knorrig versoek het:  Sagter asseblief!

Agterop die spyskaart was in my handskrif die volgende gedruk:  “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense te wees.  As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees!”

Booskappie op spyskaart.

Booskappie op spyskaart.

Ton het ook spanwerk beklemtoon.  Net uit ‘n ietwat ander hoek:  “Ek soek nog die geheime formule, maar Hennie het die span gelei van een oorname van ‘n vesting tot ‘n ander, van een ombouing van ‘n koerant na die aanpak van ‘n lewegewende projek by ‘n ander.  Redakteurs, bestuurders, redaksies, advertensies, verspreiding, besture en drukkerye het natuurlik almal saamgewerk, maar iemand moes as kaptein voorgaan, moes die planne op die tekenbord plaas en deel van die resep maak.  In Hennie het ons so ‘n leier gehad.”

Toe ek opstaan, was dit met die gewigtige besef:  dit sal my laaste woorde as Nasionale Pers-man wees.  Ek wou graag terugkyk en vorentoe.

Dit was nie die geleentheid vir stuitige grapjastery nie.  Een storie het my versamelde kollegas darem laat glimlag. Dit was die volgende:

“In die wêreld van die koerant leer ‘n mens allerlei fyn kunsies.  Een is vernuftige voetwerk.  Só vernuftig dat die uwe ná 36 jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kan sê:  Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar is nooit gedonner nie – hoekom nie is ‘n raaisel.  Nie dat daar nie ʼn paar near misses was nie!

” ʼn Moerige setteryvoorman het ʼn moersleutel teen ‘n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig.  By Beeld moes wyle Johan Parreira, ‘n bokser, weer een nag vir ‘n verskrikte assistent-redakteur lyfwag speel:  teen ʼn bladplakker met ʼn skerp mes in sy hand en moord in sy hart.”

Oor die res van die (langerige) toespraak trek ons maar ‘n sluier. Dalk genoeg om te meld dat ek oor die toekoms van koerante nogal sterk positief gepraat het. In die 20 jaar wat verby is, het my vurige pleidooi vir die vertroeteling van die kosbare bate wat ‘n koerant is, egter by die e-aangedrewe owerhede en magte van die nuwe Naspers nie op vrugbare aarde geval nie. Helaas.

Maar wat, die karavaan gaan voort. Ek lees darem nog ses oggende in die week vroeg-vroeg Die Burger saam met my oggendkoffie, en die sewende oggend Rapport. Kan nie sien dat dit in my leeftyd sal verander nie, ondanks swartgallige voorspooksels uit selfs die mond van Naspers se nuwe, Nederlandse uitvoerende hoof, Bob van Dyk.

(Vir die blog is swaar geleun op “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”, Naledi, 2017)     

JACOB EN JAKOB

Soos Woensdag nie Jacob Zuma se dag was nie, was gister nie Jakob van Deventer (njannies my doopnaam!) s’n nie.

Albei Jacobs/Jakobs is op pad iewers heen.

Jacob is op pad na Nknadla en later … wie  weet?

Die uwe is op pad na die Harteenheid van die Panorama Medi-Clinic.

Die skerp messe wag. Viervat-omleiding op 27/2.

Baie planne skielik in die war gestuur, o.m. die viering in loco van ons verbintenis van 20 jaar met Sabiepark.

Darem dankbaar die dreigende katastrofe is deur die wakker internis opgetel.

As dit ‘n bietjie stil raak hier: HvD hoop om eerlank op volle vaart terug te wees.

 

HERMAN EN HENNIE

Laatoes is ʼn versameling indrukke en profielstukke deur die oudkoerantman Hennie van Deventer. In die voorwoord skryf die digter en teksredakteur Louis Esterhuizen: “Wat ons voor ons het, is in wese die lewenservaring van iemand wat nie net geskakeerd geleef het nie, maar ook dit wat die lewe in sy pad geplaas het – hetsy persone óf gebeure – met toepaslike begrip en waardering onder pen gebring het.”

Herman Lategan het die boek gelees en geniet, en vra ʼn paar kort vrae daaroor en oor ander sake van die dag.

So lui die inleiding tot ‘n uitvoerige gesprek tussen my en Herman Lategan op Litnet. Ek verwys o.m. na die rol van Afrikaanse koerante in die vorige bedeling en praat oor die toekoms van die media.

Die volledige onderhoud is te vinde by die volgende skakel:

’n Kanniedood-koerantman: ’n onderhoud met Hennie van Deventer

 

 

 

 

 

’n Kanniedood-koerantman: ’n onderhoud met Hennie van Deventer