May 21, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van dwelm- en bendebetrokkenheid rot rugbyglorie. Rugby was goed vir Ashwin Willemse, en voorheen was hy nie skaam om aan die spel en medespelers lof toe te swaai vir sy merkwaardige opgang nie. Ek lees o.m. die volgende in ‘n bemarkingstukkie (hy is beskikbaar as spreker en seremoniemeester):
“Ashwin Willemse’s remarkable life story has been an inspiration to all people from all walks of life. Suffering as a youth with drug addiction, gang involvement, depression and po…verty he made a choice to leave all that behind, and embark on a new journey in search of a better life.Rugby was the medium, which gave him the freedom to accomplish this. Through perseverance and determination he has overcome enormous personal and professional challenges.
“Faced with extreme adversity he has managed to make the best of his life and turned his obstacles into opportunities. He has a passion for helping people better their own lives and creating limitless beliefs within themselves.”
Het sy geheue hom Saterdag in die steek gelaat toe hy so onbeskaamd die rassekaart speel?
May 11, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Oupa het vanoggend sy rooi strikdassie uit die mottegif gehaal en ouma het ‘n dubbelstring perels uit die kluis opgediep. Ons het ons uitgevat vir Welgemoed-laerskool se stylvolle oupa- en oumatee met die tema Strikdasse en Perels.
Die skoolsaal was ‘n feestelike toneel: meer as 30 pragtig gedekte tafels met swierige versiersels en swaar gelaai met verkwiklike eetgoed. Talentvolle kinders het die gaste vergas. Daarna is ons deur ons kleinkinders kom haal. Ons is saam na hul klasse toe, aan menere en juffrouens voorgestel en trots rondgewys.
By die skoolhoof het ons gehoor Welgemoed word as een van die top-10 laerskole in die Wes-Kaap geag. Die kwaliteit van die tee het die skool se stoffasie weerspieel. Enigste wanklank van die oggend was ‘n ander oupa wat my “omie” genoem het.
Op die foto’s is ek en Tokkie by die keurige tafel 23 – die eerste foto wat van ons geneem is na my viervat-hartomleiding. Na die drie weke in die hospital (twee in die waakeenheid) en ses weke se herstelperiode tuis is alles vir my mooier – die see, die berg, die lug, die sonsondergang en – natuurlik – my vrou, Tokkie (72).
Apr 21, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die rampspoedige vlug SA 228 wat op 20 April 1968, gister 50 jaar gelede met opstyging onder meer weens foutiewe flap-verstellings by Windhoek in die grond geboor het, herinner aan een van die groot kamera-katastrofes in die Suid-Afrikaanse koerantgeskiedenis.
Die Boeing 707-344C, genaamd Pretoria, het 118 mense aan boord gehad van wie net vyf oorleef het. Die ramp het ‘n Saterdagnag net na midddernag gebeur. Dit was die land se grootste lugramp tot op datum – Die Helderberg-ramp was jare later – en die land se koerante het die Sondag omtrent almal vliegtuie gehuur om verslaggewers en fotograwe na die toneel te haas. Die Transvaler, dagblad van Perskor, was geen uitsondering nie.
Laat die middag het sy span teruggekeer. Daar was nie baie tyd om die foto’s te ontwikkel nie. Toe die nuusredakteur angstig begin raak, sit hy af donkerkamer toe om te gaan kyk wat dan aangaan. Hy vind die arme fotograaf hande in die hare.
Geeneen van sy foto’s het uitgekom nie. Of lig in die kamera, of iets anders, maar daar was geen enkele bruikbare opname nie.
‘n Soortgelyke stel is deur ‘n fotograaf van Die Burger afgetrap toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag in Mei 1971 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom.
Die eerste Burgerfotograaf was verstommend gou op die toneel. Helaas, met ‘n kamera sonder film!
Omstreeks dieselfde tyd is ‘n Volksbladfotograaf in Bloemfontein op eie versoek in ‘n Lugmagvliegtuig so vasgegespe dat hy amper halflyf kon uithang om dramatiese foto’s van ‘n massa- valskermsprong van die Valskermbataljon te neem.
Na al die moeite is agterna dieselfde ontdekking gedoen – geen film nie.
Oor sulke katastrofes kan ‘n mens nie glimlag nie. Waaroor ‘n glimlag egter nie uit sy plek sal wees nie, is die bokkerop wat Jean du Plessis van Die Burger oorgekom het toe hy by Tuynhuys retireer-retireer ‘n foto van die nuwe president van doerie tyd, mnr. Nelson Mandela, wou neem. Toe Du Plessis nog so agteruit korrel vat, haak sy voet aan die rand van ‘n groot visdam. Hy val kaplaks tussen die verbaasde koivisse, kamera en al.
‘n Galante pres. Mandela het kom hand gee om die sopnat fotograaf op vaste bodem te kry. Die toneeltjie illustreer die uwe se boek Flaters & Kraters.
Nog ‘n ligte storietjie van ‘n kameraman is van wyle Jasper Kroese, ook van Die Burger, wat op ‘n Saterdagmiddag op Nuweland langs die kantlyn af nael om by te wees wanneer die vleuel in die hoek druk – toe gee die vleuel die bal na Kroese uit, wat dit netjies vasvat.
Teenwoordigheid van gees noem ‘n mens dit. i
Apr 17, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ons sending na Atlantis vir die hernuwing van ons rybewyse begin op die verkeerde voet. Die liewe “Google maps” kry die naam van ‘n straat verkeerd en laat ons ‘n tamaaie ompad van 20 km ry. Volgens Google moet ons in Mamregweg afdraai. Eintlik is die regte afdraai Charel Uysstraat.
By die verkeersafdeling wag nog ‘n ongelukkiger verwikkeling. Die Natis-stelsel is van lyn af. Dit het blykbaar gebeur net voordat die Van Deventers hul vertraagde opwagting maak. Ons hou kajuitraad en besluit: ons is nou hier; kom ons wag blymoedig.
Ons wag en ons wag. Later is ons die enigste bittereinders. Maar ons byt vas tot die kantore om 15:00 sluit. Toe keer ons onverrigter sake terug Melkbos toe. Natis is nog al die tyd af.
Soos ek dit verstaan, is Natis ‘n landwye stelsel. Die personeel wat rondstaan en die publiek wat ongeduldig wag, word dus by elke verkeersafdeling in Suid-Afrika gedupliseer. Wat die koste aan verlore werkure is, sal ‘n aktuaris moet bepaal.
Dan verneem ek boonop soms is die stelsel sommer dae aaneen van die lug.
Die frustrerende ervaring het gelukkig ‘n positiewe element ook. Laat my dit met oportuiging konstateer dat ‘n netjieser verkeersafdeling ver gesoek sal moet word. Die personeel is hulpvaardig en die ene empatie. Kan aan onaangenamer omgewings dink om drie uur lank met my tone te sit en speel. In elk geval: as daar iets is waarvan oumense baie het, is dit tyd.
Apr 17, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Saam met my koerant word ‘n hand geskrewe briefie by my huis afgelewer met ‘n onheilspellende mededeling oor ‘n aanval deur vier gewapende mans om 03:50 die oggend.
Die egpaar wat ons koerante aflewer, word amper self voorbladnuus. Hulle en hul tweelingdogters is op hul ronde in die nagdonker met messe toegetakel. Almal het baie seergeky. Die tweeling is met drie meswonde elk in die hospitaal opgeneem.
Die vriendelike versoek word deur hulle gerig dat huiseienaars die omgewing so helder verlig as moontlik – d…ie boosdoeners skuil agter posbusse, struike en bome, en hardloop, in swart geklee, handeviervoet rond “soos honde”.
Die lewe daarbuite het, ook vir ons getroue koerantaflewerars baie gevaarlik geword!
Die slagoffers van die betrokke aanval waarsku dat hulle by donker huise koerante of tydskrifte net op die plaveilsel voor motorhuise of oor die hek of heining gegooi word, indien versoek. Dit is verstaanbaar.
Hierdie mense lewer ‘n uiters waardevolle diens wat dikwels as vanselfsprekend aanvaar word, Kom, mense, kom ons neem kennis van die slegte ervaring en bewys ‘n bietjie bedagsaamheid deur vir die afleweraars lig te maak waar ons verkies dat ons leesgoed besorg word terwyl ons soggens nog ‘n laaste slapie inkry.