Jun 2, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die UR in die laat 80’s – informeel op ‘n jagplaas en by ‘n Bondsraad.
Laat die kritici die Afrikaner-Broederbond (AB) maar verguis soos hulle wil. Nȇrens anders kon in die Afrikanergeskiedenis uitdagender, prikkelender en stimulerender gedink, gepraat en geredeneer gewees het oor watter bestemming die volk moet najaag en hoe hulle daar moet uitkom nie.
Die AB wat sedert 1993 onder die vaandel van Afrikanerbond (dus minus die “Broeder” in sy naam) funksioneer, word oormore, op Dinsdag 5 Junie, stil-stil ‘n eeu oud.
In amper vyf dekades was ek nooit verleë of skaam dat ek aan die ou en die nuwe AB lojaal bly nie te midde van sy verlies aan invloed en mag, asook ’n eksodus van gewese Broers; óf uit vrees vir viktimisasie óf uit politieke korrektheid óf weens frustrasie. My “langdiens”-sertifikaat, uitgereik aan veteraan-Broers, hang aan ‘n gedenkmuurt in ons woonkamer op Melkbosstrand vir almal om te sien.
My eie pad saam met die AB strek terug tot die gewigtige aand van 26 September 1973 toe ek as lid 12951 in Bloemfontein by kerslig tradisioneel ingehuldig is. Stemme uit die donker het die erns van die oomblik by die nuweling ingeskerp. Op 26 September sal ek dus 45 jaar lid van die omstrede organisasie wees.
In 1973, tydens my instelling, was ek nuusredakteur van Die Volksblad en agt jaar lid van die “junior organisasie”, die Ruiterwag, Toe die aanbod kom om my by die AB aan te sluit, het ek my bevoorreg geag en die uitnodiging met hoë verwagtinge aanvaar. My verwagtinge is nie teleurgestel nie. By elke byeenkoms was pitkos, ’n gevoel van samehorigheid en die algemene lekkerte van goeie geselskap.
Die lede van die Afrikaner-Broederbond is roepingsbewuste Afrikaners wat daarna strewe om die beste in ons volk uit te leef en te dien. So is ek daardie aand uit die ou instellingsformulier vir nuwe Broers ingelig. Ek het gou agtergekom dat dit nie leë woorde is nie.
Kyk ek terug op my jare van AB-skap, het ek min twyfel oor die waarde wat dit vir my as mens, as joernalis en uiteindelik as redakteur van Die Volksblad gehad het. In geen ander forum – buiten in my eie leefwȇreld van die koerant, en in die wisselwerking tussen koerant en gemeenskap — kon ek so ingesuig geraak het by die Afrikaner se uitspook van ‘n nuwe lotsbestemming nie.
Kort nadat ek lid geword het – trouens minder as ‘n jaar – is ek deur Naspers na Johannesburg gestuur as eerste nuusredakteur van Beeld. In my Beeld-jare, van 1974 tot 1980 In die noorde het ek met ’n besonderse AB-tradisie kennis gemaak: die jaarlikse “druiwefees” op die spogplaas Moosrivier van oud-minister Hendrik Schoeman. Broers van oral oor die ou Transvaal het op die eerste Saterdag van die druiweseisoen daarvoor na Marble Hall-distrik opgeruk. Elkeen is vir sy moeite met ’n kissie Moosrivier-druiwe beloon.
Voortreflike kos is deur die plaaslike Broers voorgesit en hartlike herontmoetings met ou studentemaats was aan die orde van die dag. In ’n reusepakhuis is honderde stoele oopgepak, en toesprake van formidabele Afrikaner-geeste soos PW Botha, Connie Mulder en Andries Treurnicht was altyd ’n hoogtepunt, veral namate Afrikaner-politiek toenemend ’n aksentverskuiwing van oorheersingspolitiek tot oorlewingspolitiek begin ondergaan het. “Het jy gehoor wat sê PW/Connie/Andries?” Daaroor is op pad huis toe lewendig geredeneer.
‘n Persoonlike hoogtepunt was toe ek by die Bondsraad van die AB in 1985 by die Hartbees-jeugterrein onverwags lid van die UR (uitvoerende raad) geword het. Vir my was dit ’n groot oomblik. Dit is met ’n bottel van my heel beste KWV gevier toe my mede-Vrystater in die UR, professor Piérre Theron, my laataand by die huis afgelaai het.
Watter gedenkwaardige hoofstuk in my bestaan het die nuwe status nie ingelui nie! Láng UR-vergaderings in die AB-gebou, Die Eike in Aucklandpark, Johannesburg, met die lywigste agendas wat ek nog gesien het, was die terrein vir ’n diepsnydende, ontledende toekomsgesprek.
Die deure is geopen om as ’t ware by die vuur te sit van Afrikaner-gisting oor die realiteit van ’n politieke omwenteling soos nog nêrens elders ter wêreld vreedsaam voltrek is nie.
Die UR-kameraderie was verkwikkend en die ure se debatte met geslote deure oor strukture, voorwaardes, wigte intellektueel verrykend. Gewigtige beleidsdokumente is geformuleer en geherformuleer.
Op streeksaamtrekke en byeenkomste van individuele afdelings is UR-sentimente uitgedra; soms teen enorme onbegrip en weerstand in. Dit was ’n veeleisende taak maar ook een wat die adrenalien laat vloei het. As UR-lid was ek in die jare tagtig dikwels op pad, saans en oor naweke, en het ek duisende kilometer met my eie motor gery om afdelingsvergaderings op uitnodiging te gaan toespreek – nogal ‘n taai roetine vir iemand wat ses dae ‘n week ‘n koerant moes uitgee.
Die UR was vir my soos ‘n hegte bergklimspan. Party klim sterker; sommige bly ‘n bietjie agter. Die sterker klimmers wag egter altyd en help die agterosse waar dit nodig is sodat almal die kruin plus-minus gelyk bereik. Die “voorklimmers” van daardie tyd wat na my oordeel ‘n erepenning verdien, was die voorsitter, prof. Peter de Lange, en die staatkundige komitee, wat ‘n bloudruk vir die toekoms moes soek. Sy lede – mense soos Andreas van Wyk en Olaus van Zyl – het hul groot taak met ywer en bekwaamheid verrig. Waar die Regering se onderhandelingspan in Kempton Park maar dun was, kon van hierdie mense daar ‘n verskil gemaak het, glo ek.
Die komitee het nie net die res van die UR aangesteek om skeppend te help saamdink oor fundamentele staatkundige kwessies nie, maar was instrumenteel in die sleutelrol wat die organisasie in die tweede helfte van die jare tagtig gespeel het om sy lede vir ‘n magsprysgawe aan ‘n demokratiese meerderheidsregering voor te berei. Daarmee het die AB, volgens my, nie net ver voor die Regering geloop nie, maar was hy ook ente voor enige ander organisasie, insluitende kerke, om sy lede tot verstandige aanvaarding van nuwe werklikhede te bring.
Thabo Mbeki het, terwyl hy nog adjunk-president was, ‘n keer met seldsame waardering gepraat oor die rol wat die AB in die transformasie van die land gespeel het. Die AB verdien daarvoor egter veel groter krediet.

Die AB vier sy 70ste in 1988.

Spyskaart en wynetket 1988.
’n Baie spesiale herinnering is die viering van die organisasie se sewentigste verjaarsdag op 3 Junie 1988. ’n Spesiale bondsraad is gehou op die Hartbees-jeugterrein in die Magaliesberg, asook ’n feesdinee in ’n reusemarkiestent, getooi in oranje, blanje, blou.
Op een van my foto’s sit pres. PW Botha langs die uitnemende prof. De Lange aan die hooftafel. Ander eregaste is Gerrit Viljoen, Piet Koornhof en Johan van der Spuy, almal AB-leidsliede van ’n vorige generasie.
Saam met die wildsmoor, bobotie, geelrys, gestoofde vrugte en groente is die aand op die Hartbees-jeugterrein ’n chenin blanc voorgesit wat deur bemiddeling van Ritzema de la Bat van KWV-faam spesiaal vir die geleentheid gebottel is deur die Bolandse Koöp Wynkelders, Huguenot. Op die etiket is ’n groot goue 70 en die woorde “’n Unieke kultuurerfenis”.
’n Unieke kultuurerfenis, inderdaad. By die eeufees lig ek my hoed vir wat die AB in Afrikaner- en landsbelang vermag het, en betuig ek opnuut my eie dankbaarheid vir die geleentheid om te dien wat my deur my lang verbintenis gebied is.
(Naskrif: Die besluit om die ou AB tot die Afrikanerbond te omvorm, is op 26 September 1993 op ‘n Bondsraad by die Hartbeesjeugterrein naby die Hartebeespoortdam geneem – dag en datum twintig jaar nadat ek ingestel is. Ek was een van die 1 200 afgevaardigdes van oral in Suid-Afrika. Meningsverskille is openhartig gelug. Maar sal ek die treffende samesang van 1 200 begeesterde Broers ooit vergeet?)
May 31, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Dr. Francois en “Pop”
Geweet hoekom predikante nie staak nie? Omdat niemand dit sal agterkom nie. Die wysheid by Bybelstudie gehoor – nogal uit die mond van ‘n predikant. Die spitsvondige dr. Francois Hanekom, eerste leraar van die NG gemeente Melkbosstrand en nou, ná sy aftrede, bedienaar van die 75-plussers in die gemeente, is dikwels so ondeund. Ook van die kansel af.
‘n Keer het hy sy gemeente nog regopper as gewoonlik laat sit toe hulle sy preektema verneem: “Hou jy van ‘striptease’?” Maar dit was darem net oëverblindery. Klaar geterg, word dit ‘n verrykende preek – “vintage” Francois Hanekom. .
Die hulpmiddels waarmee hy sy boodskappe beklemtoon, is legendaries. Hy het bv. al ballonne laat bars, geraamde foto’s van die kansel gewerp dat die glas in stukkies spat, ‘n rooi bra aan sy vinger geswaai of met poppe, teddies, ander speelgoed, iinspuitnaalde, selfs vermomming vorendag gekom.
Dr. Marius Falck, medeleraar, onthou ‘n Sondag toe dr. Francois se keuse geval het op ‘n Pyrexbak uit sy “Pop” (mev. Riana Hanekom) se kombuiskas – boonop een waaraan sy buitengewoon waarde heg. Sy was orrelis. Toe sy van die orrel (destyds nog op die galery) afkyk, val haar oog op haar kosbare bak in sy vreemde rol.
Sy het verstyf en deur dun lippies uitgepers: “Mannetjie, vandag gaan ek jou vrek maak.” Francois kon net antwoord: Ai, Pop, ai ….., aldus kollega Marius.
‘n Dominee se treffendste hulpmiddele is helaas nié altyd immuun teenoor die “onvoorsiene” nie. ‘n Keer het die “onvoorsiene” pynlik toegeslaan. Dit was toe Francois met boeie die houvas van die sonde wou demonstreer. ‘n Meisie van so plus-minus 10 kom op sy uitnodiging vol bravade na vore. Sy word met presiesheid “geboei”.
Toé tref die onheil – die sleutel wil om die dood nie die boeie oopsluit nie.
Terwyl die geproes en gelag in die gemeente al ‘n crescendo bereik, gaan skakel die koster die polisiehoof. Die geregsdienaar hou met die vangwa voor die kerk stil, natuurlik met skreeuende bande! “Pop” speel en speel. Die dominee en die verskrikte meisieskind word weggeneem polisiekantoor toe. Eers daar word die regte sleutel gevind.
Die volgende oggend het Francois Die Burger se voorblad gehaal: Leraar se “gevangene” vas ná boeiende preek. ‘n BOEIENDE preek, inderdaad.
By die feesdiens met die kerkgebou se 30ste verjaardag was hy op die kansel. Voor die diens is die lidmate op ‘n geestige toer deur die vroeë geskiedenis geneem. ‘n Konneksie van die kerk met ‘n kroeg word toe onthul.
Klink gelukkig erger as wat dit werklik was. Die verkoper van die grond, Harold Ashwell, ‘n eiendomsbaron na wie ‘n spogstraat van Melkbos genoem is, en verteenwoordigers van die gemeente Philadelphia waarvan Melkbos afgestig is, het afgespreek om die koopkontrak by die Hotel Miramar in Kusweg te teken.
By die hotel aangekom, was die sitkamer onder reparasie, Die kroeg was al uitweg. Die manne het darem nie die transaksie met ‘n dop beklink nie, het dr. Francois bekommerdes verseker.
Anders as sy destydse kollegas, dr. Marius en dr. Hennie Swanepoel, is dr. geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..”
‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois Hanekom is, breek die son gou deur die wolke.
May 28, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Paddatjie in sy skuimende liefdesnes.
Padda-indabas kan veral na ‘n verfrissende somerbui die nagrus ru versteur. Die bruinrug-boompaddas “haa….haa” sonder ophou. Hulle glo blykbaar hulle moet die wêreld opkikker. Lag en die wêreld lag saam met jou! Ander (op-)kikkers — identiteit onbekend — laat jou wonder wat jy hoor: ‘n magtige paddakoor of dalk ‘n onwettige kragopwekker?
Van die skuimnespadda se naam raak ek die eerste keer bewus toe ‘n yslike bol “skeerskuim” aan die reuserosyntjieboom by ons watergat in die private natuurreservaat Sabiepark opduik. Naslaanwerk bring aan die lig dis ‘n liefdesnes wat soos room opgeklop word deur die betrokke paartjie met die hulp van ‘n paar flukse vrygeselle. In die nes, gewoonlik aan ‘n tak wat oor water hang, word die eiers dan gelê — baie gerieflik met die oog op ‘n “watergeboorte” cum doop. Skuimnespaddas? Natuurlik! Hoe dan anders?
Die skuimnes-paddas is verkleurmannetjies in vermomming. In die skaduwee vertoon hulle grys. In die sonlig word hulle krytwit. Hul eintlike woonplek is bome, maar die stoep is bedags besonder aanloklik. Saans is dit ‘n stryd om dit in hul koppe te prent die swembad is eintlik ons s’n. Private eiendom. Oortreders sal vervolg word. Hierdie paddatjies sit ook graag op die buitenste dranktrollie wat deur die vorige eienaar wit geverf is, of balanseer hulle op die rame van die groot voëlplakkate op die stoep. Op die tafeltjie is hulle so wit dat jy hulle kwalik raaksien. Op die houtraam raak hulle bruin. Weer uitstekend gekamoefleer.
‘n Grillerige padda-ervaring was juis met een van die skuimnes-garde. Ek skop my stapskoene uit vir ‘n middagslapie op die swembadstoel. Toe gaan soek ‘n klein kikvorsie ‘n holte vir sy torso heel voor in die neus van die bruin skoen. Susanna platanna! Ek gil en gooi die skoen dat hy doer trek toe my tone die skurwerige teenwoordigheid van ‘n onbekende verstopping agterkom. Ter verdediging, daardie hindernis kon ‘n skerpioen gewees het. Goue reël: skud altyd jou skoen uit voordat jy dit aantrek — veral as jy dit buite laat rondstaan.
May 22, 2018 | Hennie van Deventer se Blog
Dit is weer daardie seisoen van die jaar in die bos wanneer die harige versamelwurms doen wat hulle naam aandui: hulle versamel in ‘n menigte. Kort voor die winter, slaan hulle toe – gewoonlik in Mei. Skielik is dit net wurms, wurms, wurms; wurms waar jy loop of kyk.
Rosyntjiebosse is blykbaar hul gunsteling. Wit of vaal rosyntjiebosse word oornag met wurms oortrek. Ná enkele dae lyk die boompies bra oes. Die takke is kaalgestroop. Die harige wurms koek ook graag in grillerige bondels teen huise se skurwe buitemure (foto).
Maar “’n ieder woelt hier om verandering”. Die hele koeksel wil dan, klaarblyklik gelyktydig, op ‘n ander plek kom as waar hulle is. Dan tou hulle in ellelange rye oor paaie en strate, waar duisende ‘n gewelddadige einde onder motorwiele tegemoet gaan.
Bosbeseoekers leer om stadig en met oop oë te ry. Vir enigiets van onwrikbare miskruiers met rekord-bolle, tot hottentotsgotte wat, soos slagysters, roerloos op hul agterpote vir ‘n prooi sit en wag, tot suutjiestrap verkleurmannetjies met hul lang tonge hou ‘n mens graag stil. Wie is dan ook so harteloos om twee skilpadjies kort te knip nadat hulle met ‘n slakkegang tot in die middel van die pad gekom het om te paar? Of om ‘n oorblufte kolhaas met sy swart-wit donsiestert in die straal van jou motorligte te verblind?
Maar teen die versamelwurm is jy ‘n magtelose gevangene agter die stuurwiel. Geen manier bestaan om die vermorseling onder jou wiele te vermy nie.
Versamelwurms is hul regte naam. Bosvelders noem hulle ook “treinwurms” – om klaarblyklike redes. Honderde wurms haak by mekaar aan soos treinwaens.
Haal ‘n mens een uit die ry, wurm die volgende homself lank uit om die “gat” toe te maak. Sit jy die een wat jy uitgehaal het weer terug, maak die span eenvoudig vir hom plek, en val hy as’t ware weer op sy plek in die ry in.
Neem jy die “leier” weg, verwar jy die arme drommels heeltemal. Die nuwe leier konsertina homself so lank as moontlik uit en soek in die lug langs wanhopig na die “pad”. Die hele treintjie kom daar en dan tot stilstand
Hul onstuitbare drang om doodsveragtend paaie oor te steek, is die oorsprong van ‘n ander, informele, naam: selfmoordwurms of ‘n hara-kiriwurms.
Baie Bosvelders praat eenvoudig van gat-neus-wurms. Dit is ’n raakvat-naam.