Jul 11, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Stroomversnelling in die Sabierivier vlakvoor die middelste van Sabiepark se drie uitkykpunte by die piekniekplek sorg vir ‘n konstante gedruis – soete watermusiek wat tot op ons stoep by Tarlehoet in Wildevy die oor streel.
Die water wat voor jou oë skielik lewe kry en skuimende wit tussen die klippers koers kry Skukuza se kant toe, wek ook mymeringe.
Vanoggend sit ek daar en mymer oor lewe en dood. Die lang lys afgestorwene Sabieparkers in die vorige boekj.aar bly maal in my gedagtes.
Die lys van tien name is die langste in die 20 jaar dat ek Sabiepark se jaarvergaderings bywoon. Dit sluit bekende mense in soos regter-president Frikkie Eloff (erf 362) en sy vrou, Wanda, wat ‘n maand uitmekaar oorlede is.
Twee van die oorledenes, Anne Weiland (erf 42) en Connie Openshaw (erf 92), niggie van Flip en Linda Nel van Kaapstad, was kuiergaste by ons plek, Tarlehoet.
Die ander ses was Wessel Germishuysen (erf 289), Benno de Klerk (erf 133), Hannetjie Lourens (erf 52), Christo Makaal (erf 85), Dave Barnett (erf 217) en Willem Badenhorst (erf 132).
Ek dink daaraan dat elkeen van hulle, soos ek, op hierdie bankie gesit het, bekoor deur grootse toneel voor hulle, en intens bewus van die watergeruis – des te harder soos die vlak van die rivier ná reën in die berge by Sabie styg.
Daardie geruis sal die tien nie weer hoor nie. Maar die Sabie sal steeds bly vloei: steeds jaar in en jaar uit voor die piekniekplek verbykom in ‘n kalm stroom lewegewende water wat ineens opbreek in ‘n tiental klaterende versnellings.
‘n Mens dink aan onsekerhede soos hoe lank nog vir jou oor is. Jy dink ook aan sekerhede soos die lewe wat tot aan die einde van die aarde sal bly voortgaan en die simbole daarvan – soos die Sabierivier aan jou voete.
Jul 2, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Hendrik (links) en Chris by hul gedwonge oonagskuiling.
‘n Sabieparkse buurman, dr. Hendrik van Tonder, vertel op die Sabiepark-webwerf van die “half nare” Wildtuinervaring nadat sy voertuig se battery hom in die steek gelaat het. Hy en sy broer, Chris, ń Australiese burger, sal hul nag van ontbering naby die Mopani-ruskamp nie lig vergeet nie.
In Mopani het hulle in ń hut gebly met ń pragtige uitsig oor die Pioniersdam. Na ‘n lekker ontbyt van spek en eiers vat hulle die Dipenipad al langs die oostelike grens, rigting Shingwedzi. Hulle vat niks ander in Hendrik se Prado saam nie en as net verkykers, kameras, hul selfone en 500ml water elk.
Die pad was doodstil wat ander motors betref, maar hulle het heelwat wild gesien, veral groot olifanttroppe, ook alleenloperbulleen hul askari’s.
Sowat 48km van Mopani is die Nyawutsi-voëlskuiling. Hulle het so 15 minute daar vertoef. Hendrik draai die sleutel om verder te ry, en … niks. Die battery was morsdood. Hoe maak ń narkotiseur en ń veearts om uit díe penarie te ontsnap?
Dit was warm, sommer baie warm, hul waterbotteltjies onder die halfpadmerk, geen selfoonontvangs, 300 meter van die Dipenigrondpad, en ergste van alles: op die laaste sowat 20 km het hulle geen ander voertuig teengekom nie. Dit was n Maandagmiddag,buite skoolvakansie in die noorde van die Park en gou het hulle besef hulle slaap moontlik die nag net daar.
Hulle het die Prado gestoot tot teenaan die ingang van die skuiling en toe voorraad opgeneem: sowat 500 ml water tussen die twee, ń pakkie XXX-pepermente, twee selfone met flitsies, kameras en verkykers. Verder net twee moedelose middeljarige mans sonder hul pille en brille. Teen 18h00 was dit donker en die muskiete bedrywig daar langs die water. Hulle het maar in die kar gaan sit. Die ruite was gelukkig oop want dit was stomend warm en hulle was baie,baie dors.
Hulle het die nag deurgebring in die voorste sitplekke en het oor baie dinge gesels (hulle sien mekaar maar sowat elke vyf jaar). Olifante was deur die nag om die watergat maar hulle kon nie hul hande voor hul oë sien in die nagdonkerte nie en die selfoonliggies was te lig in die broek.
Dit was ń eindelose,dorstige en warm nag en later het jy nie eens die muskiete probeer wegklap nie., vertel Hendrik.
Om 05h00 het ń reënbui uitgesak. Aangesien die ruite oop was, het hulle bietjie nat geword. Hulle kon egter geen water opvang onder die twee groot appelblaarbome waaronder die motor gestaan het nie. Dit was toe dat Chris vra of sy broer seep by die ruitwasser se water gooi. Hulle kon van die water uittap en dit was skynbaar sonder enige byvoegsel gewees – toe drink hulle water!
Die twee was toe meer positief oor die penarie, en het maar in die skuiling gaan sit en na die voëls en bome gekyk. Chris wou teen die tyd ń vuur maak en rookseine die lug instuur, maar ouens wat nie rook nie het dikwels nie vuurhoutjies by hulle nie en die Prado se sigaretaansteker benodig ń motorbattery wat krag lewer.
Toe kom Mark en sy vriend daar verby – twee manne in hul twintigerjare wat in Shingwedzi gekampeer het en op pad was na Satara. Hulle het die pap battery vervang met hul dieselbakkie s’n (nooit geweet ‘n dieselmotor kan ry sonder sy battery nie!) en Hendrik en Chris is vort Mopani toe vir water, kos en ń stortbad …. 22 ure nadat hulle by Nyawutsi gestop het. Mark het als weer reggepak in sy bakkie en sou hulle volg.
Drie ure later was die twee Samaritane nog nie in Mopani nie. Hendrik is na die Veldwagter toe en hulle is met twee voertuie uit om hulle te soek. Die soektog het niks opgelewer nie. Die die soekgeselskap is terug kamp toe.Daar staan hul bakkie toe! Die bakkie het gaan staan kort na Hendrik en Chris hulle verlaat het. Daar sit hulle toe met die dooie battery. Gelukkig was hulle reg vir kampeer en het begin kosmaak in die stofpad totdat ń weldoener hulle na Mopani kon sleep.
Mark en sy vriend is toe teerpadlangs na Satara nadat die vriendelike ouens by Mopani gereël het met Satara dat hulle laat by die kamp sou aankom.
Die twee Van Tonderbroers het die res van die dag geslaap en net ‘n broodjie vir aandete gehad. Die gebraaide tjops is terug yskas toe; hulle was te moeg om te eet. Die volgende oggend het ń vriendelike man van Mopani se werkwinkel ‘n vragmotor en n paar reusekabels gebring om die Prado aan die gang te kry.
Hullr het ń nuwe battery op Phalaborwa gekoop en is sonder voorval terug Pretoria toe.
Jun 24, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sestig jaar nadat hulle as onsekere eerstejaars in 1958 opgedaag het by Kollegetehuis – toe nog op Tukkies se hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou – het ‘n groepie veteraan-Kollegemane op ‘n nostalgiese safari van 17 tot 20 Junie in die knusse wildtuinkampie Orpen saamgetrek.
Die agt Kollegemanne van weleer – almal 75-plussers, party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir hul koshuis – het met groot vure en ‘n heildronkie of twee hul liefde vir Kollege betuig. Die stories, slimmighede, anekdotes en kwinksklae uit hul studentejare het van ‘n onuitwisbare kameraderie getuig.
Tussen die heildronkies het die Kollegelied, “Aan het oewer van de Schelftzee”, welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink. Rondom die kampvure het die gedagtes hul loop geneem na die die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.
’n “Ienk” (eerstejaar) is behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons 1958-modelle moes gereeld voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.
Maar toe die ontgroening verby was, het ons behoort. Ons het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.
Daardie verbintenis leef tot vandag. Sewe jaar gelede al, in 2012, is daaruit ‘n eietydse tradisie gebore. Die ses rondawels van die primitiewe Balulekampie, naby Olifants, is vir die eerste veterane-saamtrek gehuur. Van 2012 af tot 2016 was elke winter ‘n Balule-“bosberaad” wat oor drie dae gestrek het.
Dalk die spesiaalste okkasie was in 2015 – Kollege se eeufees. Op die “Republiek van Kollegetehuis” is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.
In 2017 is ons Orpen toe. ‘n Spesiale Kollegekoek is laat bak. Op die gewone wit vanieljekoek in A4-formaat uit baasbakster Kristie Thompson van Skukuza se oond, was die beeltenis van Sarge Bourke, gedugte gelukbringer van Kollege.
Die besnorde polisieman wat 250 kilogram weeg, is in 1942 al deur ‘n vorige generasie waaghalsig geskaai uit ‘n voortuin in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom. Die beeld het langs ‘n tuinhek op aandag gestaan: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.
‘n Kamee wat ons van die kennismaking met Orpen nie sal vergeet nie, is die nagtelike besoeke van die kolonie ratels wat kom aas het onder ons wildtuinkos. Twee-twee of alleen het die woelgeeste – met hul formidabele voorkloue van tot 5 cm lank en komplement van 32 dodelike tande – doelgerig en volhardend hul strooptogte op die ys-en koskaste geloods; gewoonlik in die nanag.
‘n Duitse toeris wou glo ná een so ‘n onderonsie weet of die liewe klein “honigdach” op Afrikaans dalk ’n “bliksem” heet. Sy buurman se verontwaardigde krete oor sy verlore biltong was met die b-woordjie deurspek!
Die “liewe bliksempies” was vanjaar so bedrywig soo verlede jaar. Een is deur ‘n “akrobatiese” fotograaf afgeneem met ‘n boks Ultra-Mel onder ‘n motor!
By die uiters informele AJV (algemene jaarvergadering) langs twee lekker vuurtjies is gewonder of die jaarlikse heerlikheid volhoubaar is. Die beweeglikheid van die span pioniers is as ‘n moontlike struikelblok geopper. Ons gemiddelde ouderdom is minstens 77. ‘n Mislukte droom is egter verkieslik bo geen droom nie, soos my vrou, Tokkie, tereg herinner. Ons gaan vir seker probeer…
Ek wil byvoeg: Die durendheid van studentevriendskappe is een van die vele onverdiende vreugdes wat in my 77 jaar oor my pad gekom het. Watter voorreg om dit vanjaar weer in Orpen te kon voorsit – boonop vir die viering van ‘n leeftyd van onvergeetlike Kollegemanskap.

Jun 11, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die eerste 17 jaar sedert ons 20 jaar gelede by ons Laeveldse hartsplek, Wildevy 154, Sabiepark, ingetrek het, was ons naaste bure Van Heerdenmense van Wes-Transvaal (nou Noordwes). Die naambord was ‘n straatnaambord: Van Heerdenstraat.
Seker so ses jaar gelede sit ek een middag op my stoep en lees toe ‘n kabaal by die Van Heerdenhuis losbars. Bobbejane! Die huis het sleg deurgeloop. Al die glasware is verwoes, meubels is gebreek, mure is besmeer en die reuk het jou laat terugdeins.
Die storie was dat Stilfonteiners in hul dominee se huis kom vakansie hou het. Op die laaste dag van hul vakansie ry hulle vir oulaas deur die Krugerhek wildtuin toe. Hulle grendel een venster nie dig genoeg nie. Toe hulle laatmiddag by die huis kom, wag die chaos op hulle. Hulle moes nie maar net vergeet om die aand ‘n vleisie op die kole te sit nie, maar ook om die volgende dag in die pad te val huis toe.
Hulle het soos kinders op die destydse parkhoof, Gerrie van Niekerk se skouer gehuil. Die twee se vakansie is met dae verleng. Maar dit was geen luilekker vakansie meer nie, wel klipharde werk om die dominee se huis skoon te kry en stukkende goed te vervang.
Daardie dominee was ds. Francois van Heerden (64) van Stilfontein wat homself en sy seun, Rupert (31), gister in die pastorie op Stilfontein doodgeskiet het nadat hy na bewering die oggend nog nagmaal aan sy nou verslae gemeente bedien het. Hy was dekades lank hul leraar.
Van die seun, Rupert, weet ek min buiten dat hy kort nadat ons by Sabiepark ingetrek het, in die sop was oor ‘n waaghalsige avontuurtjie in die Sabierivier. Hy het op die rotse gaan rondklouter tussen seekoeie en krodille. Een van die oewereienaars het hom voorgekeer, sy naam uit hom gepers en hom by die algemene jaarvergadering verkla. Dit was duidelik dat die ouers nie geamuseer was nie.
Waarom die nare goed my so agtervolg, weet ek nie. Eers was die Van Breda’s van Sabiepark 231 in ‘n gesinstreurspel. Nou die Van Heerdens van 155; ‘n aangename plek wat so twee, drie jaar gelede nuwe eienaars gekry het en grotendeels herbou is. Twee treurspelle in ‘n paar jaar. Klink amper te sleg om waar te wees. Wat sou dit met die mense van Wildevylaan wees?
Jun 4, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Swerwers in Suidwes.
Vir koerantmense was die Afrikaner-Broederbond (AB) vir ’n belangrike luisterpos – ’n beskrywing van prof. Piet Cillié. Cillié was een van die swaargewigte wat tot die einde lid gebly, getrou die vergaderings van die afdeling Kaapstad bygewoon en op sy kenmerkende vurige manier gesprekke koers help gee het.
Met sy dood het hy aan die afdeling R5 000 nagelaat. Daarmee is geruime tyd elke jaar ’n Piet Cillié-huldigingsaand gehou; ’n mooi aand met goeie kos en wyn en herinneringe.
ie AB is more in sy nuwe gedaante as Afrikanerbond 100 jaar oud. Ek rakel ‘n paar persooonlike herinneringe en anekdotes op oor my dubbele rol van koerantman/Broeerbonder (veral as lid van die Uitvoerende Raad – UR).
Dit het gebeur dat laasgenoemde vertroulikhede te wete kom wat vir eersgenoemde ‘n onweerstaanbare versoeking was om dit in sy koerant te openbaar. ‘n Prima-voorbeeld was ná die FW de Klerk-aankondigings van 2 Februarie 1990 wat die land op die hervormingspad sou plaas waarvoor ook die AB hom so daadwerklik beywer het. Die dubbelslagtigheid het in daardie geval amper in ’n stekelrige turksvy ontaard.
Die Uitvoerende Raad (UR) was agt dae later, Saterdag, 10 Februarie, op Piet Carinus se pragplaas in die distrik Stellenbosch in sitting. ’n Besoek van De Klerk sou die hoofdis wees en is met groot verwagting afgewag. Toe brand hy vas. Die UR-lede was bra bek-af. Gerrit Viljoen wat as impakspeler vir die president moes kom instaan, het ons aanvanklik net laat verstaan dat daar belangrike staatsake is wat voorkeur moet geniet. Later het dit deurgeskemer wat daardie staatsake is. Die aankondiging daardie middag van die dag en datum van Nelson Mandela se vrylating het De Klerk se program omvergegooi.
Maar sesuur, met die UR-lede vasgenael voor die TV vir die SAUK se nuusbulletin, wie stap by die voordeur van die Carinus-woning in? Niemand minder nie as broer FW! Die Man van die Oomblik in lewende lywe, en totaal onverwags. Daardie aand het onvergeetlik geword, met ’n rits heildronke (net Roodeberg en KWV se chenin blanc), opgewonde uitvraery en, as kersie op die koek, ’n oproep uit die Wit Huis vir die president.
“Hou aan vir president Bush, asseblief!” Dit was nie ‘n kort gesprek nie – amper 20 minute as ek my nie misgis nie. Die adrenalien het gevloei. Agterna was De Klerk duidelik in sy skik; opgeruimder as wat ek hom ooit weer gesien het totdat hy die politiek vaarwel geroep het.
Dié Sondag, terug in Bloemfontein, kom sit die duiwel op my skouer en fluister in my oor: dis ’n storie wat darem te goed is om nie geskryf te word nie. Toe gaan neem ek voor die rekenaar plaas. Oor die feit dat dit ’n AB-geleentheid was, is niks gerep nie. Ook oor die naam van die plaas en die identiteit van sy eienaar is ’n sluier getrek. ’n Veilige berig, dag ek.
Dié Maandag is my storie op al die Naspers-koerante se voorblaaie. In senior UR-geledere heers ontsteltenis. Die voorsitter, die uitnemende prof. Peter de Lange, rektor van die RAU, beveel grimmig aan dat ek maar self Tuynhuys toe bel met ’n apologie.
Ek skakel, oorgehaal vir ‘n skrobbering. Maar toe wys De Klerk van watter stoffasie hy is. “Jy was ’n bietjie stout,” berispe hy. “Maar toemaar, geen skade is aangerig nie. Jy hoef nie sleg te slaap nie.” Einde van daardie episode.
Alle wisselwerking was nie so instintief en sonder oorlegpleging nie. In Oktober 1989 is ek en Gerrit Velthuysen van Die Transvaler byvoorbeeld ingesluit in ’n AB-afvaardiging wat met ligte vliegtuie Namibië deurkruis het om die aanstaande vrye verkiesing te monitor. Agtergrondskennis is op verskillende maniere verbreed.
Op die insiggewende inligtingsbesoek het ons vergaderings bygewoon onder meer in Oshakati en Khomasdal. Ons was by die Administrateur-generaal, by die Gebiedsmag, by Swapol, ons is toegespreek deur politici – onder andere Dirk Mudge by wie ek in Windhoek oornag het – leraars en kultuurleiers, en ons het teruggekom met veel groter begrip vir die ingewikkeldhede van daardie wye, wonderlike land.
Vir Volksblad-lesers was die vrug ‘n politieke rubriek deur Willem (eweknie van Die Burger se Dawie) op 20 Oktober 1989 wat op kraakvars eerstehandse waarnemings berus het. Dit was met die goedkeurende medewete van die voorsitter en hoofsekretaris, Naudé Botha, maar sonder enige voorskrif of inspraak van AB-kant. Beste van alles: dit het die koerant self geen sent gekos het. Al was ek daar op die Nasionale Pers se koste sou ek in elk geval aan daardie rubriek net mooi niks verander het nie.
Wat van daardie klandestiene besoekie nie die pers gehaal het nie – seker maar weens goeie gastemaniere – is dat die groepie, wat drie prominente jong Nasionale LV’s ingesluit het, met hul aankoms deur hul gashere op die lughawetjie by Namutoni vergeet is. Hulle moes toe maar voetslaan kamp toe, leeuwệreld ofte nie.
Dink net watter opskudding dit sou wees as Etosha se leeus die spannetjie ongewapende Broers daardie middag agtergekom het! Gelukkig was die maanhare elders geokkupeerd, verveeld of aan die slaap.
’n Binnebaan wat ek via die UR meermale tot voordeel van my koerant of koerante in die algemeen kon benut, was die direkte toegang tot die sogenaamde “Broers in verantwoordelike kringe” (ministers en ander senior politici en amptenare). ’n Uitnodiging na die UR was iets wat geen minister sou versmaai nie; nie eens Pik Botha wat miskien nie die geesdriftigste Broer in die Kabinet was nie.
Dit is daardie binnebaan wat ek in 1988 met ’n opportunistiese slenter uitgebuit het om Zwelakhe Sisulu, broer van Lindiwe en Max en latere direkteur-generaal van die SAUK, uit die tronk te kry vir ’n reünie van Nieman Fellows by die Harvard-universiteit. Negentien maande al. Dit sou beslis ‘n skadu werp op Suid-Afrikaanse deelname aan die groot Nieman-fees, het sy mede-Niemans van hier te lande maar te terdeë besef.
‘n Komitee, waarvan ek lid was, het aan die Regering bly karring, sonder veel welslae. ‘n Openbare protes is selfs in ‘n stadium oorweeg onder aanvoering van twee senior Engelse redakteurs, Richard Steyn en Allister Sparks.
Toe kom besoek die Minister van Polisie, Adriaan Vlok, die UR, en ek vat vinnig die gaping. Ek vertel hom die hele storie, en waarsku dat van Sisulu nog ‘n martelaar gemaak word, soos Steve Biko. Nee, hy ken die Niemans, antwoord Vlok. Gee hom kans om ‘n bietjie te kyk wat gedoen kan word. Twee weke later was Sisulu uit die tronk. Hoewel hy ingeperk is, het die Regering later ook reisdokumente goedgekeur sodat hy na Harvard kon reis.
Toe Sisulu die aand van 5 Mei 1998 by die groot Nieman-dinee in die ornate Memorial Hall onder ‘n gejuig instap, arms triomfantlik omhoog, kon ek kwalik ‘n glimlag verberg oor die AB se rol in die oomblik. Wat Sisulu sou sệ as hy weet dat sy vrylating in ‘n UR-vergadering beklink is, het ek baie gewonder – des te meer nadat hy baas van die SAUK geword het.