VRAE VIR MNR. X

Die geheimsinnige Mnr. X bevind hom in die gerieflike posisie dat hy eensydig sy storie kan vertel. Verslaggeefster Maygene de Wee, skynbaar die enigste met toegang tot hom, teken dit op; Netwerk24 en Media24 se dagblaaie (met die lofwaardige uitsondering van Beeld) publiseer dit.

Agterdogtig van Bellville vra gister (14 Augustus) in Die Burger vrae oor die merkwaardige onthou ná drie dekades van die blou Volkswagen-Kombi (met die gordyntjies)   se roete. Die tyd het aangebreek dat me. De Wee, ‘n senior joernalis of iemand met ervaring van kruisondervraging   ‘n kritiese gesprek met Mnr. X   voer.

Onthou hy die opset van die “huis in Tsitsikamma” ewe haarfyn as die roete in Port Elizabeth?   Waar presies is die gruwelhuis; hoe lyk dit van binne en buite? Hoe groot is die slaapkamer waarin hy die “Oom” moes vermaak? Was die badkamer waar hy ewe bedagsaam toegelaat is om te gaan bad, en-suite?

Hoe ver of naby is dit van die see of aan ander huise? Kan hy dit gaan uitwys?

Blou Kombi’s was volop. Ekself het een besit (darem sonder gordyntjies!) Wat maak Mnr. X so seker dat die een wat hy jare later in militere intelligensie se parkeerarea opgemerk het, dieselfde is as die een waarin hy “ontvoer” is? Net die gordyntjies, lyk dit, want hy wat strate en geboue so haarfyn onthou, het nie na die registrasienommer opgelet nie. Of het hy?

Volgens hom is ‘n vuurwapen in sy sy gedruk. Jare later kon hy dit as ‘n militệre .38 Special identifiseer. Die verskrikte seun moes dus geleentheid gehad het om dit, of wat daarvan in die aanvaller se hand sigbaar was, nogal fyn te bekyk.

Wie sou die vyf mans in die kombi gewees het en hul helpers wat by die vulstasie opgedaag het? Lede van militere intelligensie wat in opdrag van die minister vir hom seuntjies gaan vang het? Was hulle gemasker dat hy hulle nie later kon herken nie?

Hy vertel van die lekker middagete – die lekkerste en meeste kos wat hy nog gesien het. ‘n Mens verwonder jou aan so ‘n makabere feesmaal en dat die slagoffers so gesellig saam kon aansit.

Die lys kan gerek word. Dit behoort egter vir elkeen duidelik te wees dat Mnr. X se opspraakwekkende storie nie langer ongetoets vir soetkoek opgedis durf word nie. In belang van verantwoordelike joernalistiek behoort hy met die vaaghede, onwaarskynlikhede en ongeloofwaardighede gekonfronteer te word.

Hierdie  blog is vandag in Volksblad as brief gepubliseer. Dit is te lese by: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/kruisvra-mnr-x-oor-magnus-bewerings-20180814

‘n Verwante brief van Maritz Spaarwater in Die Burger is by: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/ondersoek-na-skrywers-kan-help-20180814

MET BLINDHEID GESLAAN

‘n Massiewe ineenstorting van veiligheidstelsels sou nodig gewees het vir ‘n sensitiewe geheim oor ‘n sleutelminister se private lewe om dekades lank geheim te bly.

Dink mense werklik dat PW Botha en Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, nie presies geweet het wat in die private lewe van vername kabinetslede aangegaan het nie? En dat selfs polisie-ondersoeke eenvoudig doodgesmoor sou kon word sonder dat enige kennis daarvan boontoe uitlek?

Is dit moontlik dat ook militệre intelligensie deel van ’n doodswyg-komplot kon wees ondanks die klaarblyklike veiligheidsrisiko’s van sulke nagtelike avontuurtjies soos in die boek “Seuns van Bird-eiland” beskryf en deur die geheimsinnige Mnr. X in ‘n latere klandestiene onderhoud beweer word? Sou die staatsveiligheidsraad sulke aktiwiteite maar handjies-gevou geduld het?

Vincent Torlage, gewese lyfwag van min. Magnus Malan wat 16 jaar lank in teen-intelligensie gewerk het,  wys in ‘n Facebook-inskrywing tereg uit hoe veral ‘n minister van verediging hom met sulke gevaarlike speletjies aan afpersing sou blootstel. Dit kon tot iets erger as die  Profumoskandaal uitkring.

Torlage skryf: “As daar soliede getuienis was, sou ons dit ondersoek het. Die minister sou op spesiale verlof geplaas word hangende ‘n volledige ondersoek. Selfs gerugte sou tot ‘n ondersoek lei.  Dit sou onmoontlik gewees het om dit toe te smeer.”

Hy wys voorts op hoe deeglik die minister opgepas is.  Hy is nooit iewers heen sonder sy lyfwagte nie. Selfs met vakansies is die lyfwagte saam. Ook kerk toe het Torlage hom vergesel. Hoe sou hy dan so doodstil in die nagtelike ure kon verdwyn om onbehoorlike dade te gaan pleeg – en selfs daarna stil-stil in ‘n geheime nessie  ‘n lekker ontbyt wegsit, aldus Mnr. X?

Volgens die gewraakte “onthullings” van die skrywers Chris Steyn (gewese eggenoot van die huursoldaat Eeben Barlow), voorheen bekend as Christa Steyn en Chris Steyn-Barlow, en Mark Minnie. ‘n afgedankte polisieman met ‘n skimmelrige loopbaan, was die kring van mense wat geweet het of behoort te geweet het, nogal aansienlik.  Helikopters het tog bemannings. Die polisie en speurdiens het gesagsvlakke. Hospitale het verpleeg- en administratiewe personeel.  Chirurge het ontvangsdames, ens.

Moet ons werklik glo dat van die president en nasionale intelligensie se kantore op makrovlak af deur elke ander vlak tot selfs by huishoudings wat moes sorg vir kos, beddegoed, handdoeke en dies meer, almal met blindheid geslaan was vir wat om hulle aangaan of hulle opsetlik daarvoor blind gehou het?

Wat sou die rede gewees het?

Daarmee, vir nou,  my laaste woord oor die reuse-onreg wat  Magnus Malan en sy familie so argeloos aangedoen word.

KAAL BENE

P1020048

Vleis groei nie terug aan kaalgevrete bene nie. Met die harde werklikheid  maak hiënas klaarblyklik maar moeilik vrede.

In Maart is ‘n kameelperd op ons motorpad dood – ouderdom of dalk ‘n slangbyt. Sy beendere lê tussen die tamboties gesaai. Tot aan die einde van die vakansie het hiënas steeds hoopvol kom kyk of daar nie weer iets te aas is nie.

‘n Ontdekking ‘n week of wat gelede is dat ook kameelperde nog in lewe graag besoek bring – nie as ‘n hulde-ritueel nie, maar om die oorblyfsels van hul bloedverwant te kou.   Lekker magnesium in daardie bleek beendere opgesluit, aldus die kenners.

Die vleisfees in Maart moet iets ysliks gewees het. Buiten die kaal bene het die sparretjie-heinings om die lapa’s  daarvan getuig. Knaagmerke was oral. Een  hekkie is total verinneweer.  Blykbaar gemeen die paaltjies kan nuttig as  tandestokkies ingespan word, reken Tokkie.

Die kleur en tekstuur van dammetjie se water verklap dat dit waarskynlik as yskas moes dien. Die sluipende lywe wat die lig van die “gorilla” aktiveer, dien ter stawing.

Drie nagte by Boulders was ‘n heuglike hoogtepunt.  Twee klipspringer-parades, groot olifanttroppe wat vier, vyf keer ‘n dag besoek bring, buffels soos tampans om die watergat en, les bes, twee resident-muskeljaatkatjies  by die braai het die kameras laat oortyd werk.

Vier klipspringers woon in die rotskoppies om die kamp. Twee keer het hulle hul tuiste verlaat en in ‘n ry in die natuurlike voëlbadjie vlakvoor ons oë kom drink.

Orpen2 was selwers weer ‘n heerlikheid, Maar die Kollegemanne is nou almal hier rondom 80. Op die oomblik heers nog onsekerheid of die tradisie ‘n 8ste jaar sal kan beleef.

By Tarlehoet was die bloukuifloeries amper nog aktiewer as die hiënas. Hulle het kom smul aan die reuserosyntjies, kom drink uit die watergat (ook in die kinders se plastiekdammetjie) en kom bad in die voëlbad. Mooier foto’s van die pragvoels is nog nie hier geneem nie. Gekroonde neushorings, tarentale, fisante was goed verteenwoordig in die reënboognasie van die gevleueldes.

Njalas het meermale hier rondgestap en ook uit die watergat gedrink.  By die piekniekplek het ‘n kameelperd en rooibokkies ons verras deur  by die olfante se plek in die Sabierivier te kom drink.

Ons peetkind Jaco van Wyk en die tweeling, Bernard en SJ, kon die paddas in die watergat identifiseer en het telkens een gaan uithaal vir ‘n fotosessie.

Die hoeveelste Sabieparkvakansie was dit? Moet al in die omgewing van 50 wees. Vyftig of nie vyftig nie  – weer eens het die tyd hopeloos te vinnig gevlieg.

RUS IN VREDE, VRIENDE

Met die lys voor jou van tien afgestorwenes in Sabiepark in die vorige jaar tref dit hoe die Byl ook in die kleiner, persoonlik bos bly kap, kap en kap …

Nie minder nie as veertig gaste sal nie weer ‘n voet oor Tarlehoet se drumpel sit nie – ‘n vreemde gedagte.

Met van hulle is in die vorige 20 jaar lank saam om die kampvuur gesit en na naggeluide geluister, ander het saam op die stoep die aktiwiteite van die nagapies dopgehou. Hul name staan in ons gasteboek. Nou staan hul name op grafstene, gedenkplaatjies in tuine van herinnering en dies meer.

Hier is my “bose” lys (wat nogal verskeie egpare insluit):

Sabieparkers: Dawie Strydom, Martie van der Merwe, Jan de Necker, Dalene de Necker, Fickie Visagie, Andre Visagie, Cecilia Roux, Gert Pols, Anne Weiland, Connie Openshaw.

Familie: Ouma Marietjie van Wyk,  Fanie van Wyk, Ben Smith,

Hannetjie Smith, Sina van Wyk.

Melkbosvriende: Chan de Kock, Andries Brewis, Martin Grond,

Danie Grundlingh, Esbe Krynauw, Harry Kloot, Pauline Bell, Hennie Jonker, Magriet Jonker.

Vriende uit ander oorde: Sannie Steyn, Barnie Human, Swanie Human, Wynand Mouton, Daleen Mouton, Pieter de Kock.

Kollegas: Eric Wiese, Alf Ries, Ben van Rensburg, Andrew Marais, Jan Scholtz, Piet Gouws, Esta Gouws.

Besoekers saam met besoekers: Anton Steyl, Theuns van Heerden, Tim Krynauw.

Rus in vrede, vriende.

KAN NIE IS DOOD

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Piet Theron, Volksblad-kollega wat op 27 Julie 80 word, se motto is “kan nie is dood” – ‘n rigtingwyser wat by sy ouers gekry het.  Van daardie 80 jaar ken ek hom amper 60; het hom in 1960 as 21-jarige in Kollegetehuis by Tukkies leer ken.

Op die lang pad wat ons amper ses dekades saamgestap het,  van ons Kollegedae tot ons Volksblad-dae, van jong woonstelmaats tot lewenslange vriende wat tot vandag toe in Bloemfontein, op Melkbos en in Sabiepark graag saamkuier, het hy dit oor en oor bewys:  Kan nie is inderdaad dood.

In ‘n geleentheidstuk het ek na Piet verwys as ‘n S-man: ‘n staatmaker oor ‘n breë terrein. Op Tukkies was sy bynaam nie verniet Piet Sportie nie.  Hy was  nie net self ‘n bruikbare losskakel nie, maar Kollege se toegewyde rugbybaas.

Hy was ook ‘n Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Baie ouens wat later bekend geword het, het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

By Die Volksblad het hy o.m. as Piet Sportredakteur diep spore getrap. Tuis is hy al 50 jaar Piet Saaier. Daar is altyd groente. Sy pampoene is legendaries.  Sy amarillas blom feestelik in ‘n reuse-beeskrip wat as blombak.  Sy tuin is, in sy woorde, sy gimnasium waar hy kan spit, skoffel, plant, bewerk en oes.  Dit is “salf vir sy siel”.

Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk. Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. Sy sappige steaks bewys sy stoffasie as baasbraaier.

Ná sy aftrede het hy hom as ‘n bedrywige Piet Skrywer ontpop. Hy was redakteur van ‘n insiggewende boek oor die omstrede Belhar-belydenis, en het allerlei hoogs interessante private publikasies op sy kerfstok. As iets hom pla (wat nogal nie ongereeld gebeur nie!) skryf hy aan die koerant. Hy steek bepaald nie sy sentimente onder ‘n maatemmer weg nie! Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer

 

By nadenke is hy egter dalk eerder ‘n D-man as ‘n S-man.

Piet Donnerwetter sal ek hom liefs nie noem nie, al het die tweemanskap Van Deventer en Theron soms bra sakke growwerige sout saam opgeeet. Ja, ons twee oues het in vuriger dae ons kwota konflik gehad. By twee sulke hardekoppe is dit seker onvermydelik!

Hy is by uitstek Piet Doener. Na ‘n uitnemende loopbaan van 35 jaar het hy afgetree as assistent-redakteur. Hy was ook nuuredakteur en hoofsub.  Een van sy kragvertonings as verslaggewer was toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag  in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom. Piet het die stories uitgeryg.

In 1988 was hy die eerste wenner van die Hennie van Deventertrofee – ‘n stuk stinkhout in die vorm van ‘n opgerolde Volksblad. Die Laura Rautenbach-skepping word toegeken vir ondernemingsgees, dryfkrag, skeppingsvermoë, leierskap, volharding, kundigheid, geesdrif, goeie oordeel en algemene bekwaamheid.

Piet Dienaar noem ek hom vrymoediglik.  Hy is ‘n dienaar wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy was op 48 leier-ouderling en was (of is dalk steeds) redakteur van ‘n lewendige kerkblad. Hy was (of is dalk steeds) en voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra

In sy matriekjaar aan Oos-Moot in Pretoria het die Nederlandse voorgeskrewe boek Duikelaartje deur G. van Nes-Uylkens hom diep getref. ‘n Duikelaartjie is ‘n poppie met lood in die voete, wat telkens regop spring as dit omgestamp word.  Einste die vegter Piet. Noem hom gerus ook Piet Duikelaar.  

In uitdagende en beproewende omstandighede soos hul onderskeie ernstige operasies en kinder-teenspoede was Piet Petro se anker en omgekeerd. Toe hul oudste seun, Dawie, in ‘n veldbrand sleg verbrand het, was hulle vir hom daar. Toe nekbeserings die tweede, Jannie, se belowende rugbyloopbaan verongeluk, was hulle vir hom daar. Toe die jongste, Pieta, na ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, in ‘n lang lyding gedompel is, was hulle vir hom daar.

Hulle is ook vir vir hul kleinkinders daar – ‘n wonderlike, opofferende oupa en ouma..

Piet is vir Petro ‘n eggenoot duisend. Vir sy kinders is hy ‘n pa duisend.  Vir sy kleinkinders  is hy ‘n oupa duisend. Vir sy kollegas is hy ‘n kollega duisend. Vir sy vriende is hy ‘n vriend duisend.

Piet is waarlik ‘n man duisend.