LEKKER STUKKIE LUISTER

Gerekende boekeman Danie Botha, oud-uitgewer by Tafelberg, het my die eer aangedoen om “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in die program “Boekkeuse” op Fine Music Radio te resenseer. Werklik ‘n warm, gesellige resensie, en boonop perfek voorgedra. Dankie, Danie, vir ‘n lekker stukkie luister.  Hierby Danie se vriendelike woorde:  

Laatoes-1000-500x778

Ek vind Hennie van Deventer se Laatoes ’n wonderlik meevoerende werk. Die subtitel lui: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman. Dit bestaan uit 57 kort tekste; elkeen iets tussen 3 en 7 bladsye lank. Louis Esterhuizen het gehelp met die samestelling van die bundel.

Die boek is ideaal vir ’n gewag van allerlei aard of om te lees waar jy ook al mag reis. Die prosa en meestal speelse verse is deurgaans maklik verstaanbaar. Hennie laat jou lag, maak jou nostalgies of aangedaan. Dit is hoofsaaklik tekste om iets te herdenk of hulde aan mense te bring. Die jongste tekste is van 2017 en daarna gaan ons verder en verder die verlede in tot by Hennie van Deventer se aftrede by Naspers op 15 Desember 1997 en die afskeidsgeleentheid op 19 Februarie 1998.

Ons beleef sy studentejare by Tukkies in Pretoria. Hoe ’n man regkom met die dames en by ’n aanstaande skoonpa. By hom en die digter en later regsgeleerde Toon van den Heever “pomp dieselfde koshuisbloed: Ou Kollege”. Toon het inspirasie gekry vir sy grootse gedig “Beeld van Oom Paul” toe hy op ’n aand te laat uit was vir die laaste trem terug kampus toe. Hy moes voetslaan, verby Prinsespark en die begraafplaas waar die standbeeld destyds gestaan het. Toon se woorde: “Grou in die maanlig rys die swaar kolos.”

Van  Deventer vertel baie oor sy jare by Die Volksblad in Bloemfontein. Hier het hy onder meer gehelp om die nuus van twee van die groot gebeurtenisse in ons geskiedenis uit te dra.

Danie Botha

Danie Botha

Die eerste: 6 September 1966. Dr. H.F. Verwoerd word vermoor in die parlement. Van Deventer is hoofsubredakteur. Hy vertel: “ʻStop alles!’ het ek skielik deur dun lippe geskreeu, en my sigaret sommer agterstevoor in my mond gestop, die kooltjie op my tong. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.”  Van Deventer vertel van ’n vroeëre ontmoeting met Verwoerd toe Van Deventer parlementêre verslaggewer was. Ook hoe Tsafendas altyd vir hulle as verslaggewers iets te ete van die kombuis gebring het. “Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!”

Die tweede gebeurtenis: prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Van Deventer gee kleiner besonderhede wat ’n mens dalk destyds nooit van gehoor of gelees het. Hoe die skenker Denise Darvall en haar moeder in Hoofweg, Observatory deur ’n jaagduiwel omgery is toe hulle die straat wou oorsteek om “by ’n geliefkoosde bakkery ’n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.”

In die boek is daar vele vermaaklike gedeeltes. Rubriekskrywer Johan van Wyk se “Stop van Myne” het ’n kwarteeu lank in Die Volksblad verskyn. Hoekom het hy homself “Oom” genoem? “Van Wyk het ’n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: ‘Dankie, oom. Dit was lekker.’”

Teen die einde van sy loopbaan word Hennie hoof van koerante in Kaapstad. Hy erken dat finansies ’n gedugte taak vir hom as oudredakteur was, hy “wat tot vandag toe nie ’n balansstaat behoorlik kan lees nie”. Maar toe kom Naspers se “prins van syfermense” tot sy redding:  finansiële direkteur Eric Wiese. Eric Wiese is op 4 Augustus 2017 vermoor. Hennie huldig hom en beeld Eric ook as gesinsmens uit en gee voorbeelde van Eric se wyse mensekennis en sy spitsvondigheid.

Hennie vertel: “Een aand, in sy jongmansdae, maar reeds getroud, kuier Eric en ’n klomp ouens iewers, aan die kaart speel tot vroeg in die oggend. Toe hy die oggend vyfuur by die huis kom en saggies by die kamer probeer insluip, word Sannie, sy vrou, wakker en vra: ‘En waar kom jy nou vandaan?’ Waarop hy antwoord: ‘Nee, ek is op pad werk toe. Ek het vreeslik baie om te doen.’ En so is hy reguit terug kantoor toe, nog in die vorige dag se klere.”

Hennie van Deventer skrywe oor sport, bv. oor die verskil tussen ou Gerrie Seerhandjies Coetzee en Kallie Knoetze die Bek van Boomstraat; oor motors en veral oor ervarings in sy geliefde Sabie-wildtuin. Kyk hoe gee Hennie ’n beskrywing van ’n  ratel. Hy is lief om enumerasies te gebruik; dit skep iets dramaties en versnel die verteltempo. Jy moet ‘n ratel nie net taai noem nie, maar in alfbetiese volgorde: “aggressief, dapper, humeurig, manhaftig, meedoënloos, onvoorspelbaar, strydlustig, vasbeslote, verbeeldingryk, vreesloos en volhardend. ’n Ware ‘doodkry is min’ van die diereryk.”

En toe kom ek ’n gedeelte teë wat my bewoë gemaak het. Hy beskryf die NG Kerk op Philadelphia, hoe hy en sy vrou Tokkie ’n geestelike tuiste daar vind. Hulle ry vanaf hulle huis in Melkbos daarheen.

“Die kerk is ’n waardige huis van die Here. Dit het ’n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en ’n outydse preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop — ongeskend deur allerlei ‘orkesverhoë’ en ander nuwerwetsighede. Jy voel die gewydheid aan as jy instap. Dis die soort kerk waar ek tuis voel.” ( Ek sekondeer.)

Laatoes: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman deur Hennie van Deventer word uitgegee deur Naledi.

 

MNR. Z SKRYF ‘N BRIEF

Die Bird Island-histerie het ‘n stille dood gesterf.  Die land kan weer asemhaal, dankie tog.  Maar wat gebeur t.o.v. al die valse bewerings en gerugte wat as’t ware op die markplein verkondig is?  Word die skromelike onreg wat mense aangedoen is, eenvoudig maar begrawe en vergeet?

Enkele vrae verdien beslis antwoorde voordat afsluiting (“closure”) moontlik is, meen ek.  Voorheen het ek al twee briewe oor die onderwerp vir koerante geskryf, en ‘n derde sal  een te veel wees.  As ek tog ‘n derde sou aanbied, sou ek graag ‘n klompie vrae aan die orde wou stel. Hier is net tien, wat tog ‘n goeie toets behoort te wees vir elkeen wat nog die Bird Islandstories glo of half glo:

  1. Watter ander krieseltjie getuienis verbind die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n pedofielnetwerk buiten dat hy – met die medewete van sy kantoor en gesin, let wel – op ‘n militệre helikopter na Bird Island gevlieg is vir die opening van ‘n  ghwanokaai?
  2. Waarom dan te bang wees om die “derde minister” se naam te noem as jy so seker van jou saak is? Laat hom dan maar kom met ‘n lasteraksie!
  3. Waar is die “nog onthullings” (ook oor Minnie se selfdood) wat telkemale uit soveel monde belowe is?
  4. Waar is al die slagoffers van Bird Island heen dat geeneen in drie dekades na vore gekom het nie, selfs nou wanneer hulle so gesmeek en oral gesoek is?
  5. Waarom is geen saak by die polisie aanhangig gemaak nie en is hierdie verskriklike dade nie by die WVK geopper nie? Is ‘n mens nie moreel en regtens verplig om sulke ernstige misdrywe teen kinders aan te meld nie? Is versuim om dit te doen nie ‘n ernstige misdryf wat strafbaar is nie – vrae wat sekerlik ook geld t.o.v. Minnie se beweerde aanranders (die tweelingbroers wat by name genoem word?
  6. Watter bewyse/bronne het Chris Steyn vir haar jongste aanspraak dat Mark Minnie “gedwing” is om die weg van selfdood te kies? Wie het hom “gedwing” en hoe?
  7. Hoekom het Chris Steyn nie in haar 2006-boek, Publish and be damned reeds na die betrokkenheid van Magnus Malan en Barend du Plessis verwys as sy self nou loop en vertel  dat sy in die jare 80 al daaroor ingelig is?
  8. Kan iemand die Babelse verwarring opklaar oor die seuntjie wat na bewering in sy agterlyf geskiet is? Tussen die medeskrywer van die boek, die skrywer van die voorwoord en ‘n kritiese resensent heers oor die nare insident en die identiteit van die slagoffer maar grote onklaarheid.  In elk geval: hoe sou selfs Superman so ‘n skoot kon oorleef?
  9. Hoekom loop ‘n geneesheer wat dan so ‘n ernstige misdryf teenoor ‘n kind sou toegesmeer het, skotvry tussen sy druiweboorde, en word ‘n matrone wat dan omkoopgeld sou ontvang het om haar mond te hou, nie geskraap nie?
  10. Hoekom stel Chris Steyn haar nie eenvoudig net, soos genl. Johan van der Merwe, beskikbaar vir ‘n leunverklikkertoets ten einde haar geloofwaardigheid te beskerm nie, in plaas daarvan om uittartend te vra dat sy verkeerd bewys moet word?

As ek nie vir myself ‘n plafon gestel het, sou daar beslis ook ‘n vraag of wat  aan die adres van die uitgewery Tafelberg en die media gewees het. As die nuwe etiek is om eers gerugte te publiseer en dan getuienis te loop  soek, is elke mens  mos weerloos.

Ten slotte: omdat in die onheuglike sage soveel naamloses gefigureer het, sou ek my brief onder die skuilnaam “Mnr. Z” wou skryf!

FOTO WAT ROER

OU BOKKE

‘n Foto wat my diep roer, is gister deur matriekmaat Van Aardt du Preez van Potchefstroom op Facebook geplaas.

Johan Claassen, oud-Springbokkaptein, is in ‘n versorgingsoord in Pretoria opgeneem. Van sy ou spanmaats het hom kom ondersteun.

Hennie van Zyl, oud-Springbokvleuel, staan links. Regs langs Claassen is Avril Malan, ook ‘n oud-Bok-kaptein. Dan die ikoniese Frik du Preez. Hennie en Avril hou die ou grote uit Potchefstroom se hande vas.  Die oord se katelsteile is duidelik sigbaar; ook die feit dat Johan Claassen pantoffels aan het. .

Claassen was my onderwyser op Volkies: ‘n bloedjong Oom Clasie. By hom het ek pak gekry, tot in matriek. Vir Hennie van Zyl het ek pragdriee sien druk in toetse, o.m. teen die All Blacks op Ellispark. . Avril Malan was ‘n rots. Vir Frik du Preez het ek op Loftus gesien “place, score en drop”.

Teen vanoggend was daar 370 “Likes” op my Facebookblad en kommentaar wat getuig van deernis en bewondering.

Dankie Van Aardt du Preez vir ‘n kosbare foto – al vee ek ‘n traan uit die oog.

BY VLIEG AL 80 JAAR

By-redakteur, 1961

By-redakteur, 1961

Die Perdeby, studentekoerant van Tukkies, vlieg vanjaar al 80 jaar lank, swaai by geleentheid die heuningkwas of deel by ander geleenthede sy goedgemikte stekies uit op die kampus. Zoem voort, liewe By – my eerste “koerant” waarvan ek in 1961 bevoorreg was om redakteur te wees.

Wat ‘n jaar was 1961 nie – Suid-Afrika word ‘n Republiek. dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond, kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk ….Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. Verwoerd kom kuier twee keer. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen. Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering”. N. P. van Wyk Louw praat op gradedag. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”

Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het. tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.(G’n fout met die redakteur se smaak nie!)

Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”

Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”

Die Perdeby is vanjaar 80. Dat 57 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig

MEDALJE-TROTS

 

 

 

 

 

 

 

 

In 1984 is die Phil Webermedalje, die Nasionale Pers (nou Naspers) se hoogste bekroning, die eerste keer toegeken: aan adv. Lang Dawid de Villiers, besturende direkteur. Gisteraand op ‘n deftige dinee in die nuwe KIKS2, langs die Perssentrum, is die rgsadviseur David Tudor, wat ek nie geken het nie, met die eer beloon vir sy bydraes oor twee dekades.

In 1997, kort voor my aftrede, het die voorreg my te beurt geval. By ‘n middagete in die destydse Cape Sun se balsaal het Ton Vosloo, voorsitter, die medalje (en wat daarmee saamgaan) aan my ooorhandig. Met gisteraand se spyskaart voor my, en die name van al die wenners tot dusver op die agterblad, het ek opnuut genoegdoening oor my Weberprys van 21 jaar gelede ervaar. Verskoon my asseblief maar die openhartige onbeskeidenheid.

In die commendation is o.m. verklaar: “Vandat hy in Januarie 1963 die eerste keer by Die Volksblad in Bloemfontein as verslaggewer begin werk het, tot en met die bereiking van die hoogste bestuurspos by Nasionale Koerante in 1992, het hy in elke fase van sy loopbaan ‘n nalatenskap gelos waarop hy trots kan wees.”

Daar is gewag gemaak van die geesdrif waarmee ek dinge aanpak; ook dat ek soms “geesdriftig negatief” kon wees oor swak werk of ander frustrasies. Ek meen dit is steeds ‘n eienskap. Van my briewe aan die pers, blogs en inskrywings op Facebook getuig van daardie “negatiewe geesdrif”.

Wat ek nooit sal vergeet nie, is hoe die nuu soor my medalje aan my oorgedra is. Ton Vosloo het my in Londen gebel en oor ditjies en datjies gesels. Ek het geweet die direksie sou die vorige dag oor die Weberprys besluit en dat my naam in die hoed is. Later kon ek dik nie meer hou nie.

“Wie wen die Weberprys?” het ek die voorsitter in die rede geval.

“O aarde,: was sy antwoord. “Dit is eintlik hoekom ek jou gebel het. Geluk, jy is die wenner.”

Gelukkig was ek (en Tokkie wat saam met my was) op daardie oomblik voor ‘n “pub” naby Piccadilly Circus. Ons het dadelik die nuus gaan vier met ‘n pint of twee.

By David se bekroning was die wyn van Weltevreden. Ek het ‘n glasie chardonnay op hom en die Weberprys geklink, en salig weltevrede gevoel.

(Wenners voor my op die lys sluit ook in : Piet Cillié, Willem Wepener, Wiets Beukes en Koos Human. Ná my op die lys is Naspersers soos Ton Vosloo, Jonathan Ball, Ebbe Dommisse en Salie de Swardt. Ook kollega Herman le Roux is op die lys. Dit is vir my lekker dat hy my telkens nog die eer gee dat dit ek was wat die deurslaggewende lansie vir hom gebreek het.)

Foto’s: Ton oorhandig die Phil Webermedalje aan my; die volledige lys wenners op gisteraand se spyskaart.