BEELDSKONE BAAI

Die Musica in die baai van Kotor.

Die Musica in die baai van Kotor.

Vreemde woorde in vreemde tale – “magnifico” in Italiaans, “imposant” in Frans, “wunderschön” in Duits en allerlei verwante uitdrukkings van verwondering  in ander tale –  het skielik vir my betekenis gekry waar ek, op die dek van die MSC Musica die intog in die Baai van Kotor – Boka Kotorska – meegevoer indrink.

Ek was seker dat vreemdelinge wat Afrikaans nie ken nie, sou verstaan as ek die ontvouende natuurskouspel in my taal as “verruklik” of “aangrypend” sou beskryf. Of selfs sou verstaan wat ‘n Engelse dame bedoel het met haar luide uitroep van “supercalifragilisticexpialidocious”, ‘n speelse skepping uit die musiekfilm Mary Poppins waarin Julie Andrews in 1964 haar rolprentdebuut gemaak het – ‘n woord wat jy in ‘n woordeboek vergeefs sal soek.

Vir baie van die 3 200 passasiers op die groot weeldeskip –  tonnemaat 92, lengte 293 meter, hoogte 59 meter, bemanning 950 – op sy noordwaartse terugtog ná ‘n somerseisoen van vier maande in Suid-Afrika was die mirakel van Ferdinand de Lesseps se Suezkanaal (vorige blog) waarskynlik die verwagte hoogtepunt.  Ander het gebrand om die ruïnes van die antieke Arabiese stad Petra in die teenswoordige Suidwes-Jordanië te gaan verken. Dit word as een van die sewe moderne wonders van die wệreld gereken.

Nou is almal se asems skoon weggeslaan deur hierdie onverwagte Noorweegse “Bergen” in die suide van Europa waar fjords en die Middellandse See mekaar as ‘t ware ontmoet: vier baaie van inkblou Mediterreense see, omring deur ruwe swart rotswande wat soos ‘n reuseskoenlapper sy vlerke oopvou voor die steeds groter besoekende plesierbote wat toenemend derduisende besoekers op die ou Balkanstaat Montenegro kom verlief maak.

Teen O8:00 het die plaaslike piloot aan boord gekom.  Van toe af kruie ons twee uur lank langsaam en versigtig deur ‘n reuse-S wat deur die vier skone komme, omring deur dramatiese swart pieke (monte negro), gevorm word. Eers daarna kon die MSC Musica anker gooi en die vrag passasiers met kragtige landingsvaartuie aan wal kom vir ‘n dag in een van die wệreld se mooiste ou historiese hawestadjies. Vir hierdie liefhebber van skeepvaarte bied die omgewing van die onvergeetlikste taferele wat hy in sy lewe van ‘n boot af aanskou het.  Dit is groots. Glo my.

Toe ons in Durban aan boord kom op 26 April 2019 is ons verras met dieselfde geskenk van die redery MSC as vir ons goue bruilof twee jaar gelede op ‘n vaart na Walvisbaai: ‘n ysemmer met ‘n bottel Moët et Chandon-sjampanje uit Frankryk (prys op skip: $75) en twee elegante glase met die MSC-logo daarop het in die kajuit gewag.  Alle lede van die MSC se “Seniorsklub” is so bederf. Vele proppe het dalk sommer die eerste aand al tussen Durban en Mauritius geklap. Ons goue voggies het ons vir ‘n spesiale goue oomblik gebệre.

Ons goue oomblik het daardie aand aangebreek.  Kan Moët et Chandom die kieskeurigste palaat (en die gees) ooit heerliker verkwik te midde van die beeldskoonste berg-en-see-tonele; om op dek 13 op die agterstewe van die Musica suinig-suinig daaraan te teug terwyl die huise van Perast en ander afgesonderde gemeenskappies in die verte al hoe kleiner word?  .

OM “KLIPPIES” TE KOU

Spesiale prys!

Spesiale prys!

Prysenswaardig hoe “Suid-Afrikaans” die MSC Musica in sy eerste (en enigste) seisoen hier te lande vinnig geword het.   Die sprankelende Maria Tabada van Kroasië groet vriendelik in Afrikaans by die navraagtoonbank: “Goeie môre. Hoe gaan dit?”  In die informele eetplek Il Giardino bemark ‘n Italiaanse kelner geesdrigtig sy ware: “Lekker, lekker.  Ons gaan nou braai.  Baie lekker sangria.“

Op die wynlys was (totdat die bekostigbaarstes teen 15 Mei opgeraak het) J.C. le Roux, Roodeberg, Zonnebloem, Spier, Durbanville Hills, Zevenwacht, Douglas Green en andere; selfs die ou staatmaker Drostdyhof se Claret Select – teen $9 ‘n bottel loshande die goedkoopste wyn op die skip!  Bierdrinkers kon kies tusen Castle, Amstel, Windhoek en Heineken, later teen 20% afslag.  Klipdrift was, as spesiale aanbieding, teen $37,95 ‘n bottel beskikbaar – seker nie te erg as jy met Euro’s reis  – of soos hulle dit noem: oi-rous – nie, maar wat ‘n rand-en-sent-man nogal laar klippe kou!

Ook die Coca-Cola, Sprite en ander bygooigoedjies is in Suid-Afrika verpak.

In die informele eetplekke was produkte van Huletts, Clover, Heinz, Nescafè en dies meer. Op die spyskaart in die formle eetsale, die L’Oleandre en die Belle Epoque, was een aand onder meer “Frikkadels”, “Cape-Malay spiced salmon”, “Old Cape denningvleis” en “melktert”. Die denningvleis was nie soos ek dit by “Geelbek” in die Nasionale Weskuspark leer ken het nie, en die melktert wat ek vol bravade by my tafelgenote aanbeveel het, is aanvanklik met ‘n ander nagereg verwar.  Gelukkig was daar Suid-Afrikaners …

Daardie tafel bied ‘n tema op sy eie. Voor die die vaart het ek taamlik wyd op Facebook en elders Afrikaanse tafelmaats probeer werf. Sonder welslae. Uiteindelik was aan tafel 549 die volgende agt: Darren en Liesl Scraggs van Queensland, Australië; Russ en Pat Mason van Freeville, New York; Chris en Catherine Wakefield van Wiltshire, Engeland, en die Van Deventers van Melkbosstrand – die Verenigde Nasies in aksie.  Ons kelner was boonop Henri, ‘n raakvatter uit Madagaskar.

Darren en Liesl was voordansers. Hulle het elke liewe dansles bygewoon: mambo, bachato, cha-cha-cha, tarantella, tango, polka  – noem maar op. Vir een les – wat werklik deur impi’s uit Suid-Afrika aangebied is – het hulle neus opgetrek :  die Zoeloedans.

Pat wat presies soos die rooikop-aktrise Carol Burnett lyk en praat, het my verseker sy en Russ is nie verwant aan een van my Amerikaanse gunsteling-speurders, Perry Mason, nie. Ai tog, ‘n mens moet darem ook nie te veel verwag nie.

Ons was ‘n vrolike, joviale tafel. Om 25 aande net Engels te praat – in soveel variasies en aksente – kan egter veeleisend raak. Soms moes jy maar net dom saam glimlag. Watter verligting was dit dan nie as ek en Tokkie later ons onderlinge verskilletjies in kajuit 8102 in Afrikaans kon besleg nie!

RAPPORT SIEN DIE LIG

Die Sondagkoerant “Rapport” se “mea culpa” aan sy lesers wat mislei is, die familie van die ontslape oud-minister Magnus Malan en oud-minister Barend du Plessis oor sy hantering van die beklaenswaardige Bird Island-boek en die nare versinsels oor ‘n georganiseerde gevroetel met bruin seuntjies, verteenwoordig ‘n waterskeidingsoomblik sonder weerga in die treurige sage tot dusver.  In die mediageskiedenis is so ‘n openbare boetedoening in ‘n koerant se hoofartikel uiters seldsaam.

Na agt maande is die Groot Leuen wat die oud-polisieman wat misdadiger geword het, Mark Minnie, en die oud-joernalis  Chris Steyn deur daardie skuldbelydenis en onvoorwaardelike apologie nou grootliks ter ruste gelê. Omtrent net die uitgewer, Tafelberg, en die oorlewende skrywer, Chris Steyn,  volhard in hul verdediging van die onverdedigbare boek.   Die waarheid haal hulle egter vinnig in.

Uit my binnekennis as koerantredakteur van die mense, die stelsels en die waardes van my era was die aansprake in die boek vir my oombliklik verregaande, absurd en verwerplik. Daarby het ek waarde geheg aan betekenisvolle verklarings soos dié van genl. Constand Viljoen namens die generaals – ‘n stuk getuienis wat deur dese en gene se oorhaastigheid om ou “apartheidsministers” by te kom, tot hul eie nadeel nie na waarde geskat is nie.  So is vingers sleg verbrand.

Rapport het op Sondag 4 Augustus 2018 verskyn met die banier-opskrif op sy voorblad: “Magnus Malan was ‘n pedofiel”.  Op Vrydag 10 Augustus was my eerste brief oor die onderwerp in die drie Afrikaanse dagblaaie onder die opskrif: “Sulke beswaddering is betreurenswaardig.”  Daarna het verskeie briewe uit my pen gevolg, o.m.  “Mnr. X het heelwat vrae om te beantwoord”,   “Waar staan die Bird Island-ondersoek nou?” ,   “Vyf spykers in ‘Bird Island’ se doodkis”,  en “O gits, kyk nou wat gebeur met Bird Island”.

Uit die geweldige reaksie sedert Sondag van mense oor die hele spektrum – veral van die betrokkenes en hul naastes, uit Weermag-geledere en uit die geledere van ‘n vorige geslag Naspersers – blyk waardering vir daardie briewe en hul rol  – hoe klein of groot ookal – in die finale diskreditering van Minnie en Steyn se boek. Vir my as oud-redakteur wat op die nastrewing van die waarheid en geregtigheid ‘n hoë premie plaas, was dit ‘n gewetensaak.  My eie reaksie is dat ek goed voel oor wat bereik is.

‘n Diepe dankbaarheid word ervaar dat ek op 78 nog gegun is om my beskeie deeltjie by te dra. Rapport verdien darem ook ‘n kloppie op die skouer vir sy eerlikheid en grootmoedigheid.

Ondanks al die onvriendelike, beledigende en selfs verguisende opmerkings wat oor die afgelope agt maande uit oningeligte oorde teen my opgestapel is, weerhou ek my daarvan om te kraai.  Soos Winston Churchill, volstaan ek maar met die woorde: “I have not always been wrong”.

Baie van die reaksie was in die vorm van private telefoonoproepe en e-posse. Ek beskou dit as persoonlik en vertroulik.  Ander was in die ope op Facebook en ander webbladsye. Daaruit herhaal ek graag ‘n verteenwoordigende seleksie omdat dit lig werp op wat eerbare mense dink.   Die kommentare word geredigeer om embarasserende persoonlike opmerkings ietwat te verdoesel of liefs weg te laat.

As lesers van die blog die versameling nietemin negatief as teken van ‘n gebrek aan nederigheid beoordeel, sal dit my spyt. Vir diegene vra ek by voorbaat om verskoning.

Klaar gepraat. Van hier af stel ek dan ‘n paar ander mense aan die woord:

Barend du Plessis: Ek beleef dit as een van die mooiste dinge wat ek in my lewe kon ervaar. Baie dankie.

Genl. Gert Opperman:  Jy was deurgaans ‘n steunpilaar; ek salueer jou, persoonlik en namens die Malan-familie!

Frans du Randt: Van meet af het jy sterk standpunt teen die gewraakte boek ingeneem. Talle van my ex-militêre kollegas en ek het groot waardering vir jou volgehoue standpunt teen die besoedeling van ‘n persoon se nalatenskap vir wie ons baie respek gehad het.

Inus Aucamp Hennie ook n warm klop op die skouer van my. Omdat ek Magnus goed geken en steeds in noue kontak met Barend is, het die sage my ook erg ontstel.Min dinge kan so vernietigend vir iemand se beeld wees. Dankie vir jou vreeslose optrede.Dalk n onredelike gedagte – moes die redakteur nie oorweeg het om te bedank nie ?

Guy Robertson: Baie geluk oud-persman Hennie van Deventer vir jou volgehoue druk en aandrang op op die waarheid en verantwoordelike joernalistieke beriggewing oor Bird-eiland. Hou aan met skryf, Hennie – solank jy kan sien. Tula Bula.

Tom Moodie: Dankie vir wat jy gedoen het en geluk met n netjiese brief Sondag in Rapport. Maar wat nou van Tafelberg Uitgewers? Gaan hulle skotvry kom.? In die finale instansie staan hulle tog Pa vir die korrektheid van die feite in die boek. Gaan hulle die ‘ lastereise’ optel?

Faan Hancke: Ware koerantmant in murg en been. Help om die pilare van die demokrasie regop te hou. Welgedaan!

Theresa Papenfus:  Wonderlike brief. Baie dankie Hennie! Wat jy gedoen het, was inderdaad dapper. En reg, uiteraard. Mens is skoon verlig.

Marius Britz:  Amper lus om te sê: Oom Hennie was toe al die tyd reg, al het sommiges hom verguis! Dit wys mens dat daar geen plaasvervanger vir ervaring en joernalistieke vernuf is nie!

Erdee van Huyssteen: Ja Hennie daar is nie n plaasvervanger vir deurdagte insig nie. Komplimente aan jou.

Kammie Strydom:  Mooi Hennie, ek glo aan die Nederlandse gesegde: ” die leuen hardloop snel , maar die waarheid agterhaal hom wel.”

Peet Simonis: Mense wat geregtigheid en waarheid wil verhef is jou baie dank verskuldig dat jy die lig bly fokus het op die beswaddering wat met Bird Island gepleeg is. Iemand moes die groter wordende hoop getuienis oor die drie manne se onskuld aan die groot klok bly hang en jy het daardie taak op jou geneem. As een van jou oud kollegas bedank ek jou daarvoor – jy laat ons skoner voel oor ons beroep wat deur die publikasie laagtepunt van Bird Island bevuil is.

Ollie Olwagen: Jy het mos van die begin af al die pot akkies ‘n myl ver geruik, Hennie, maar daar was ‘n paar baie slimmes op jou Facebook-blad wat erg “kwaad” was dat ‘n mens die boek kritiseer “sonder om dit eers te lees” (asof dit ‘n mens sou oortuig om die duidelik herkenbare stuk drek te glo). Ek wonder wat sê hulle nou.

Ten slotte: Soos Ollie kan ek ook maar net wonder.  Deur sekere mense word sedert Sondag in alle tale geswyg.

HEEL VOOR DIE BERG OP

Op die foto is prof. De Lange saam met lede van 'n AB-afvaardiging voor Fort Namutoni in die ou Suidwes, voor onafhanklikheid. Van links is Chris Fismer, Piet Steyn, Peter de Lange en Johan Steenkamp. Die foto is in 1989 geneem. Die uwe was die fotograaf.

Op die foto is prof. De Lange saam met lede van ‘n AB-afvaardiging voor Fort Namutoni in die ou Suidwes, voor onafhanklikheid. Van links is Chris Fismer, Piet Steyn, Peter de Lange en Johan Steenkamp. Die foto is in 1989 geneem. Die uwe was die fotograaf.

Groot van postuur was hy nie; maar ruim van gees en met ‘n geniale verstand. Sy nalatenskap was enorm. In die soeke na ‘n nuwe lotsbestemming vir die Afrikaner was hy in die jare 80 die voorklimmer teen ‘n steil berg wat plek-plek amper onbegaanbaar wou lyk. Met idealisme, dodelike logika en onwrikbaarheid het hy sy mede-Afrikaners in daardie invloedryke organisasie  saam boontoe getrek.

Ek bring hulde aan prof. Pieter de Lange,oud-voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, wat op 93 oorlede is.  Hy was in die algemeen ‘n oopkop-Afrikaner; ‘n toegewyde onderwysman; ‘n uiters toeganklike akademikus en ‘n minsame mens, soos Gustaf Pienaar op my FB-blad tereg uitwys.

Van die RAU was hy ‘n skitterende rektor.   Ek onthou hom ook as direksielid van die Nasionale Pers, altyd beredeneerd met fyn formulerings. Vergeet nie sy rol as voorsitter van die De Lange-kommissie van ondersoek na die onderwys nie.

Dit is egter as voorsitter van die AB wat ek hom die beste leer ken het danksy my voorreg om twee termyne onder sy uitnemende en besielende voorsitterskap in die uitvoerende raad van die AB te dien.

Sy woorde kom by my op: “Die grootste risiko (vir die Afrikaner) is om geen risiko te neem nie.”  Die betekenisvolle woorde is meermale geuiter by vergaderings van die uitvoerende raad,  waar uitdagender, prikkelender en stimulerender oor die Afrikaner se toekomsbestemming gedink, gepraat en geredeneer is as op enige ander plek.

Ek onthou ook sy woorde: “Die AB tree uit die skadu in die lig”. Dit was in Desember 1993 toe die invloedryke organisasie onder sy leiding die ou kleed van vertroulikheid laat vaar het om verder in die ope te opereer. Dit was ‘n onvermydelike stap.  Die ou vertroulikheidsaard van die AB was in ‘n nuwe era van deursigtheid ‘n anachronisme.

Met verkneukeling onthou ek die beroering in ver-regse geledere in 1989 nadat berig is dat prof. de Lange  ‘n konferensie in Sussex saam met ‘n hoë Russiese amptenaar, Joeri Joekalof, bygewoon het. Chester Crocker van die VSA was o.a. ook daar. Ek was as koerantredakteur na daardie konferensie genooi, en in sommige berigte is my teenwoordigheid ook vermeld.

Hoe sensitief sake toe was, blyk uit die briewe wat ontvang is. Wat was ons mandaat? Waaroor is onderhandel?

Ek kon in volslae eerlikheid antwoord dat van “onderhandelings” geen sprake bestaan het nie. Namens wie sou ons in elk geval kon “onderhandel” en waaroor? Dit was eenvoudig ‘n ope gesprek om ‘n ronde tafel, waarin die deelnemers niemand anders verteenwoordig het as hulleself nie. Ons was daar in ons professionele hoedanighede. Die nut van sulke byeenkomste is dat ‘n mens eerstehands verneem wat ander rolspelers dink, en dat jy jou eie standpunte teenoor hulle kan verdedig. Die Rooi spook het gelukkig gou rus gevind!

In Oktober 1989 is ‘n AB-groep onder leiding van prof. De Lange na Suidwes (nou Namibie) gestuur vir ‘n insiggewende inligtingsbesoek. Ons het vergaderings bygewoon onder meer in Oshakati en Khomasdal. Ons was by die Administrateur-generaal, by die Gebiedsmag, by Swapol, ons is toegespreek deur politici, leraars en kultuurleiers.

Wat van daardie klandestiene besoekie nie openbare kennis geword het nie, genadiglik, is dat die groepie, wat prominente jong Nasionale LV’s ingesluit het, met hul aankoms deur hul gashere op die lughawetjie by Namutoni vergeet is. Hulle moes toe maar voetslaan kamp toe – leeuwệreld ofte nie. Gelukkig was die leeus daardie middag elders geokkupeerd, verveeld of aan die slaap, en was dit nie nodig om agterna ‘n veruideliking vir die avontuurtjie vir enigiemand uit te dink nie!

Ai, die land raak vinnig armer aan die groot geeste van die era waarin ek bevoorreg was om te lewe.

(Ek het hom as Peter de Lange geken. Wikipedia gee egter sy name aan as Jan Pieter.) 

 

 

 

 

LIEWE SNOW GOOSE

download In matriek op Volkies in 1957 was Paul Gallico se klassieke werk “The Snow Goose” ‘n geliefde voorgeskrewe boek. Dit was ‘n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf.

In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The Snow Goose in your own words.’ Onderskeiding gekry.

Vanoggend daaraan herinner toe ek in Die Burger lees ‘n dramatise verwerking van   “The Snow Goose” kom in die herfs in die Fugard-teater in Kaapstad op die planke. Ek het dadelik ‘n almanak nadergetrek om na moontlike datums te kyk.

My gedig oor “The Snow Goose” het ongelukkig heelparty gebreke. Ek sou nie ‘n “poet  laureate” kon word nie, maar vir wat dit werd is, hier’s hy:

 

White were the sails in the moonlight
Of the small boat afloat in the bay,
And furious flames licked to heaven
And smoke clouds wandered away.

But a white bird came flying and honking
Through the darkening mist in the sky,
On the brink of destruction it hovered
With a queer sense of fear in its cry.

The boat had a ghostly appearance:
Its sails were withered and torn,
And the man at the tiller was shouting,
And the white bird was blowing its horn.

The man was a hunchback and ugly;
His hands bent at the wrist, like a claw;
But his face had a glow of excitement
As only love for the hunted could draw.

He saved several hundreds of soldiers
And sailed, with the snow goose above,
Back to the lighthouse at Aelder
And to Fritha, the girl of his love.

An officer found him abandoned,
A bird was perching the rail;
The hunchback was badly machine gunned,
To return to his love he did fail.

Gaan lees gerus The Snow Goose – of lees dit weer ‘n keer. Dis net 55 bladsye. Gaan woon ook die opvoering in die Fugard by.  Ek wed jou dit gaan jou laat goed voel.