IN BAD BETRAP DEUR AARDBEWING

Dit gaan maar skud-skud die bult uit as moederaarde oral om jou skielik onbeheersd begin bibber en beef, rukkings kry en rondomtalie swaai.

’n Jonkman van Ceres het ’n Kaapse vriendin oorgenooi om met sy pa-hulle te kom kennis maak juis toe die Richterskaal in daardie kontrei presies 50 jaar gelede woes op loop geraak het.

Die eerste aand van haar kuier sit sy ontspanne in ’n warm skuimbad. Sy werskaf met haar groottoon aan die kraan om die watertemperatuur nog ’n bietjie hoër op te jaag.

Skielik kry sy die sensasie dat ’n onsigbare reusehand die bad probeer omkeer. Die aarde sidder. Diep skeure verskyn in die mure. Buite dreun dit soos donderweer. “Die oordeelsdag het aangebreek!” Dié skrikgedagte flits deur haar brein.

En waar bevind sy haar op hierdie uur van waarheid? Stoksielalleen en poedelkaal in ’n vreemde bad in ’n vreemde huis op ’n vreemde dorp!

’n Paar oomblikke is sy verlam van vrees. Sy klem angsbevange aan die bad se rande. Dan vlieg sy vervaard uit die water, tas in ’n stoom- en stofwolk vergeefs na die handdoek en ruk die deur amper uit sy kosyn.

In blinde paniek storm sy met haar kaal, nat lyf gang-af – net ’n skamele waslappie soos ’n wapperende vlaggie voor haar. Waarheen, weet sy nie.

Haar gasheer, ’n bekende politikus van daardie era, het skaars besef wat aangaan, toe tref ’n tweede skok hom: die mooi jong meisiegas wat te midde van ’n stofwolk onbedek inbars by die vertrek waar hy hom bevind – ’n toneel wat hy later telkens op populêre versoek oor en oor moes beskryf.

“Was sy darem mooi gebou, Oom Jasper?”

Op dié gereelde vraag was die antwoord altyd ridderlik en stoïsyns: “Gits, man, ek wou nog kyk toe gaan die ligte af!”
Die verlore kans het hom verleërig laat grynslag.

Ek vertel die storie in Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel, 2010).  Wonder waar is daardie dame nou, en of sy onthou – met afgryse of met ‘n stoute glimlag om haar mond?

RAAISEL VAN GEVEERDES SE BADJIE

Hoogtepunt.

Hoogtepunt.

Een van die raaisels van Sabiepark het verdiep.  Hoekom, wonder ek, verkies die diere om uit die klein voëlbadjie neffens die watergat te drink? Is die watergat dalk nie so aanloklik en gerieflik soos ons dink nie?

Die water is in elk geval presies dieselfde. Tokkie kan kwalik voorbly om emmers uit die watergat te skep en oor te karwei.  Vier tot vyf emmers op ‘n slag.  Die jongste gebruikers van die voëlbad vir drinkdoeleindes  is die njalas, veral die ooitjies.  Hulle volg in die spore van o.m. die koedoes, sebras, bosbokkies, bobbejane en blou-apies.

Die njalabul drink tot sy krediet ook onverstoord en sonder fiemies uit die watergat.  Die watervlak verklap dat hy nie die enigste is nie.  Die ander dorstiges drink blykbaar in die donker of wanneer ons ons rûe draai.

Die voëllewe was lewendiger as ooit.  Spreeus is dreunend soos ‘n vliegtuig in swart swerms hier oor. Tokkie moet eintlik daarvan vertel. Gekroonde neushorings het lang tye hier rondgesit en in die Honda se vensters hul profiele bewonder.  Sysies, blou en rooi, het gebad dat die water spat.  Bloukuifloeries was aanvanklik volop.  Seker kos aan later weggeraak?

Ons pak op.  Dat die vervroegde oppakkery so netjies  saamgeval het met volmaan was natuurlik onbepland. Was nietemin genoeglik om in die helder maanlig die laaste aand of twee op die agterstoep te braai.  Die bos skitter op sy mooiste as die maan ‘n ronde bal bokant die knoppiesdorings hang.

Laasgenoemde blom reeds vir ‘n vale.  Ek sit op die agterstoep en skryf.  As ek opkyk, sien ek die huilboerboon. Wens ek kon vertel die statige boom is ook al oortrek met sy rooi wasagtige  lentedrag. Maar ek is darem ‘n bietjie haastig.  Dis nog maar middel Augustus.

Die kameelperde het bly kom en kom om aan die beendere van die ontslape voorvader te kom kou.   As jy maar weer sien, knak een sy knieë asof hy op die droë motorpad wil drink – soos die ambisieuse hengelaars in die spreekwoord hul stokperdjie beoefen om op droë grond vis te vang.  Twee jong bulle het mekaar misverstaan oor eiendomsreg op ‘n been. Die tradisionele stadige nekgeveg het gevolg. As die twee my met die kamera gewaar, is alle vyandelikhede eers gestaak om die koddige indringer uit die hoogte te betrag. Dan woed die stryd ernstig voort.

Christo, Dalene en Marcus Malan van Pretoria was twee dae hier – ons enigste oorslaapgaste die vakansie, buiten die Claassens-seuns. Hou ons vriende nie meer van ons nie? Kom ons beskou dit liewer maar as nog ‘n teken van oud word.  Die 80ste-verjaardae om ons raak al hoe volopper.

Hoogtepunt van die vakansie?  Ongetwyfeld die twee luiperds op pad kerk toe.

KOL-KOL KERK TOE

Konfrontasie!

Konfrontasie!

van die vreugdes van ‘n vakansie in die bos is die Sondagbesoeke aan die karaktervolle kerkie in die personeeldorp met sy duursame inheemse hout oral, gewyde atmosfeer en natuurlike omgewing met ‘n reuse-reuse koorsboom by die een ingang.

Aanbidding saam met die intieme klein gemeente is ‘n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word.  Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie.  Dienste is om 08:30 winter en somer. Almal is welkom.

Die een diens wat vir die uwe uitstaan, was die van Sondag 4 Augustus 2019.  Die preek van die  leraar, ds. Carl Louwrens, was ‘n boeiende kragtoer, soos altyd – sonder ‘n enkele nota en met ‘n goeie skeut humor.  Maar jammer, ds. Louwrens, dis nie jou preek waaroor ek dit hier het  nie.  Ek wil vertel van die rit van 15 kilometer van Sabiepark tot by die kerk.

Skaars twee kilometer gery, kry ons ons eerste luiperd van die dag in die Sabierivier skuins voor die Protea Hotel tussen die riete.  Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid.  As hy maak of hy mik, retireer die ou lot met ‘n spoed.  Staan hy stil, skuif die bobbejane arrogant nader met die hoofman oor honderd  handeviervoet op die voorpunt.  Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend.

Die sprong.

Die sprong.

Die luiperd vererg hom, en gee van die klip waarop hy staan ‘n elegante sprong in die sekelsterte se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor.  Die granietbeeld van Pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid.  Op sy kop sit die naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop  sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.

Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby.  Die toonbeel van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug.

Nou moet ons aanstoot.  Net agt kilometer verder, by die afdraai na die Lake Panic-voëlskuiling , gaan die remligte van die bakkie voor ons skielik aan.  Ek volg sy voorbeeld  en bring die Honda ook vinnig tot stilstand.  “Leeu!”   Die bestuurder van die bakkie vorm die woord met sy lippe. Maar toe is dit nie ‘n leeu nie, wel luiperd nommer twee. Weer ‘n mannetjie.

Hy kom uit die bos en gaan maak ‘n draai oorkant die grondpad.  Deurentyd merk hy sy gebied af. Toe maak hy ‘n regsomkeer. Reg van voor kom hy op ons afgestap.   Jy sou aan hom kon vat.  Die laaste foto is net ‘n blerts.  Hy was eenvoudig te naby.

Nommer twee.

Nommer twee.

Die laaste sien is toe hy so tussen die motors deur oor die H11-teerpad vleg.   Oorkant  verloor ons hom in die langerige wintergras.

Gelukkig is ons betyds by die kerk – net toe die klok aan ‘n hardekool-stellasie  sy eerste en laaste lui lui. So betyds dat ons nog vinnig kan vertel en foto’s wys om ander kerkgangers jaloers te maak.

Voorheen het ons in seker ver meer as honderd ritte  kerk toe al ‘n luiperd in die pad gekry.  Ons het al leeus gesien, ‘n renoster en selfs een keer wildehonde. Olifante is gereelde kalante op die roete.  Maar twee luiperds  – boonop so na aan mekaar en sulke oop teikens vir die kamera se oog!  Dit teken die Van Deventers aan as ‘n een- keer- in- ‘n- leeftyd-belewenis.

 

Party vriende trek ‘n verband tussen die wonderlike waarnemings en getroue kerkbesoek.  So asof dit ‘n beloning kon wees.  Hoe teologies korrek die teorie is, weet ek nie.  Ander kla dat dit darem nie regverdig is nie.  Hoe gelukkig kan party mense nou nie wees nie!

Vir hulle is my antwoord:   gaan kontroleer ‘n bietjie hoeveel keer per jaar ry die Van Deventers daardie paadjie.  Twintig jaar al. Dikwels sien ons tussen Sabiepark en Skukuza enkele rooibokkies en nie veel meer nie.  Maar dit is mos nou maar een maal so soos Gary Player graag opgemerk het: “Hoe meer jy oefen des te gelukkiger raak jy.”

KLIPKOP, KOEBAAI

Die Honda gelaai soos nog nooit. Van links is Christopher, Thomas en Jacob Claassens.  Jacob was die laaimeester.

Die Honda gelaai soos nog nooit. Van links is Christopher, Thomas en Jacob Claassens. Jacob was die laaimeester.

Seker so ‘n stuk of 60/70 keer in ‘n tydperk van twee dekades het die Honda (‘n 1999-model CR-V) die 500 km tussen OR Tambolughawe en Sabiepark heen en weer kafgedraf. Johannesburg was sy basis vir die Van D’s se bosvakansies. Sy staanplek was by Klipkop Car Care (in jare her bekend as Kempton Car Care).

Die reëling met Klipkop het gewerk. Altyd. Die oomblik as ons ons bagasie in die hande  het, het ek op die selfoon laat weet. “Hier’s ons”. Die antwoord was altyd dieselfde: “Reg, Ons stuur hom om”. Dan gaan wag ons buite voor die aankomssaal vir binnelandse vlugte.  Enkele minute later sou jy die Honda se neus in die aankomende lughaweverkeer herken.

Daarop kon jy reken. Soos klokslag was hy daar. Betroubare diens op sy beste.

Soos elke ding ‘n einde het, eindig ook daardie era nou.  Gister met ‘n effense swaarmoedigheid vir Klipkop laat weet: “CY 7755 kom nie terug nie.”  Sy nuwe basis is Nelspruit.

Darem makliker vir ‘n oumens om die 100 kilometer tussen die Kruger-Mpumalanga en Sabiepark af te zirts as om vyf uur lank in kwaai verkeer al die pad via Witbank, Middelburg, “Millies” (waar meermale brandstof laat intap is) Nelspruit, Witrivier en Hazyview agter die stuurwiel te sit – al kos dit ook meer.

Tot dusver kon ons Kulula of Mango vlieg op die hoofroete tussen die Kaap en Johannesburg. Vorentoe raak dit Link op ‘n streeksroete. Nogal ‘n aardige prysverskilletjie!

Vir Klipkop kan ek met vrymoedigheid aanbeveel aan enigiemand wat sy motor in Johannsburg wil laat berg. As jy gemoedrus soek, is hier is jou antwoord.

Was ook altyd bereid om die spreekwoordelike “ekstra myl” te stap. ‘n Keer was daar ‘n krisis met ‘n skietding. Die betrokke lugdiens het ‘n absolute verbod.  Klipkop is gebel en het vinnig opgedaag om te kom help. Presies hoe, gaan ek nie verklap nie. Netnou lees die Openbare Vervolger my blogs. Haar vinger is juis so op die sneller ….

‘n Keer wou Tokkie Klipkop bel. Sy druk toe die verkeerde nommer.  Toe die man sy foon antwoord, vra sy: “Is dit Klipkop?” Die vreemde se spitsvondige antwoord: “Dalk – maar niemand het my nog so genoem ie!”

Die laaste koebaai-reis van OR Tambo af op 20 Junie was gedenkwaardig, soos dit by so ‘n spesiale geleentheid  hoort. By ons was die drie Claassen-kleinkinders. Hul bagasie was nie wat ek as beskeie sou beskryf nie. Net Jacob se  rugsak met kamerakatoeters het 28 kg geweeg. Elkeen se groot tas was ‘n meneer – so groot soos ‘n doodskis.

“Nooit sal ons daardie spul goed alles in die Honda kry nie. ”  Die gedagte het die hele vlug in my kop bly maal.

Tokkie het reeds ‘n Plan B uitgwerk. Sy sou iewers op die lughawe ‘n koerier opspoor.

Maar eer aan Jacob. Hy het nooit getwyfel nie. En, waaragtig, alles is in.

Op Hazyview kon ons nog by Checkers proviand aanskaf. Nog net-net plek gevind vir Tokkie se boks wyn. Maar toe was my kar vol, glo my.

Nietemin, wat ‘n klimaks vir die Klipkop-era.

(Naskrif: Die Honda staan op 235 00 km. Behoort nog lank in diens te wees.)

EEN AAND 50 JAAR GELEDE …

Die media is, tereg, opnuut gaande oor die maanlanding 50 jaar gelede. Op 18 Julie 1969 het ’n totaal onverwante insident op Chappaquiddick-eiland die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag op ’n ander koers gestuur. So meen historici. Ek skerp graag die geheue daaroor op.

Op daardie dag het ’n Amerikaanse lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, naamlik in skande tot ’n val gekom. Hy was die broer van o.a. die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) en die jonger Bobby wat skynbaar ook onstuitbaar op pad Withuis toe was voordat hy op 6 Junie 1968, soos sy oudste broer, deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is.

Die jong senator (37) het met ’n mooi verpleegster, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty op Chappaquiddick weggery en met sy spogmotor, ’n deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons. Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink. Die Kennedy-dinastie van Boston was in sy hart gewond.

Die Kennedy-storie was sensasioneel. Aansienlike uitdagings is aan koerante se goeie oordeel en kreatiwiteit gestel deurdat die politieke skandaal met sy sappige detail saamgeval het met die lansering van Apollo II op 16 Julie 1969 van Cape Kennedy af met kommandeur Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin “Buzz” Aldrin aan boord. Die Apollo-driemanskap se taak was die voorheen ondenkbare: ’n bemande maanlanding; ’n epogmakende wệreldstorie. So ’n super-“sepie” met ’n voorste senator in die skurkerol beland darem ook nie aldag in ’n joernalis se skoot nie!

Suid-Afrikaanse dagblaaie het, tot hul eer, deurgaans Apollo II prominenter hanteer. Selfs die respektabele Boston Globe van Kennedy se tuisstad in Massachusetts het egter – seker ná pynlike kopkrap – op Sondag 20 Julie Kennedy hoofberig gemaak en Apollo II onder die voulyn op die onderste helfte van die blad aangebied. Sy opskrif was: “Ted Kennedy escapes, woman dies as car plunges into Vineyard pond”. Die populệre Amerikaanse ponieblad Sunday News het niks teruggehou nie. Kennedy was sy voorblad vol onder die groot opskrif: “Teddy escapes, blonde drowns”. Die Maandag was die New York Times se aardskuddende banier, tereg, anders gefokus: “Men walk on moon”.

Vandag word net laasgenoemde onthou, Teddy en Mary Jo se dinge is vergete.