Mar 22, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Eskom se ellendes is geen grap nie. Hoe af dan vir diegene wat met ‘n slim stukkie spot, ‘n kwinkslag of humoristiese kommentaartjie die gemoed ietwat verlig.
Dit sluit die spotprenttekenaars in, soos Zapiro en Beeld se Niel van Vuuren.
Beurtkrag Fase 4 (en die gevaar van nog erger aanslae van die duisternis) herinner die uwe aan ‘n storie van vele jaar gelede oor wat die Engelse as “hel op aarde” beskou. Dis glo ’n plek waar:
Italianers die soldate is;
Duitsers die polisie;
Belge die popsangers;
Swede die komediante;
Grieke die regering vorm;
Spanjaarde die spoorwee bedryf;
Skotte die kroegmanne is;
Die spraaksame Iere die politici is,
En Nederlands die amptelike taal is.
Daardie storie is natuurlik lankal verlede tyd. Meen, die Spaanse spoorwee loop darem stukke beter as Prasa se gesukkel, of hoe?
Nou met Eskom se dinge kan ons by die ou grappie seke rook sonder skroom ‘n nuwe kategorie van “hel op aarde” voeg: ‘n Plek waar die Suid-Afrikaners (lees ANC-kaders) die elektrisiteit moet verskaf.
Ek glo ook nie dat die berugte Grieke juis by die nimlike kaders kan kers vashou om ‘n land ferplie op te foeter nie!
Mar 20, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die drukkersink het soos lanklaas in my are gebruis toe ek en Tokkie die Claassens-kleinseuns, Jacob, Thomas en Christopher, gister met die binnewerkinge van ‘n reuse-drukkery laat kennis maak het.
Ons was by Paarl Coldset in Paardeneiland – ou tuiste, in my koerantedae, van Die Burger se fabriek. Ons is deur Irette de Waal, ‘n produksiebestuurder, stap vir stap deur die proses geneem tot die hoogtepunt: toe die pers begin rol om die TygerBurger teen 40 000 eksemplare per uur uit te spoeg.
Die kinders was in verwondering oor die enorme inktenks, die massiewe bale papier, die monstermasjiene en die fyn rekenaartegnologie agter hul volkleur-oggendkoerant. Vir my alte heerlik gewees om – al was dit met ‘n kierie – deur bekende hoekies en gangetjies te loop, trappies op en trappies af, en al die reuke en geluide te herken.
‘n Verrassing gewees om deur een van die jonger garde van destyds, Jerome Gurley, in die plaatmaak-afdeling herken te word. Nog ‘n verrassing: die Mondipapier waarop Die Burger gedruk word, word deesdae uit Rusland ingevoer!
daardie slim Ferag-masjien wat die koerant met ‘n ingewikkelde lugbrug van die pers na die invoegers en ander bestemmings bring – ek het soos ‘n peetpa gevoel. Die stelsel dateer uit my tyd. Het ‘n mooi foto in my album van my, Ton Vosloo en Jean le Roux, destyds hoofbestuurder van Die Burger, by die inwyding van die Ferag (al drie sowaar nog in donker pakke!).
Op die foto’s is die kinders met en sonder Irette de Waal op ons boeiende toertjie. Dankie, Irette.
Mar 14, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op die storie van die hond – ‘n Engelse bulhond, maaindjoe, nie ‘n boerboel nie – wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad op ‘n denbeeldige pad tussen Johannesburg en Kaapstad “in die omgewing van Richmond” gebyt het, kan ek na ‘n diepte-ondersoek meer lig werp. Terselfdertyd kan ek spog met nuutverworwe regskennis oor die wetlike gevolge van honde-aggressie, ongeag die anatomiese geografie van die bytplek.
Die Richmond-storie kom oorspronklik van ‘n vriendin van Tokkie, Una Beukman, Ek het dit op Facebook gedeel, en dit het heelwat reaksie uitgelok, veral ander plekname vir die bytplek, soos Noupoort, en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers liefs verswyg word.
Die skerpsinnige verduideliking van die naam Richmond vir die plek waar die bulhond sy tande ingeslaan het, word toegeskryf aan buurman, adv. Kosie Olivier. Die agtergrond van die 1989-hofsaak kry ek van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in die humorboekie “Corresponding” met die “law” deur oud-landdros Wessel Marais.
Die feite van die saak is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het later versuur. Op ‘n dag los Daisy, die bulhond van die inwoner van die dakwoonstel, ‘n onwelkome visitekaartjie reg voor die deur van die buurvrou in die woonstel onder haar. Die dame stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word.
Na ‘n halfuur le die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak voor haar deur. Sy stoom nog meer verwoed as tevore weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi “af”. Haar hond wat rustig voor die katel le en snork het, word gewek en gryp die aggressor, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie.
Buiten dat dit vrek seer was en sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak – en verloor dit in die Kaapse siviele hof. Hier kom my nuutverworwe regskennis in.
Dit bly skadevergoeding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan wel in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Die verweerder sal aanspreeklik wees vir skadevergoeding indien die klaer suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; die dier ‘n huisdier is; die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het ( die naturem sui generis); en die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.
Die landdros het in hierdie geval bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.
Die lnddros spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis daar so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak. Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oop was vir verkeer!
Mar 9, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die egpaar Diesderichs, Nic en Marga, by ‘n huisdinee van my Tukkiekoshuis, Kollegetehuis, in 1961. Hy he tdie aand ‘n borsbeeld van pres. CR Swart onthul.
Tant Sina Roux, my skoonma se suster, was die robuuste lid van die familie – onder andere die eerste vrou wat op Bultfontein gewaag het om ‘n langbroek (nogal ene met ‘n gulp!) aan te trek en ‘n “rooilissie” wat in die Tweede Wereldoorlog weermagvragmotors bestuur het.
Sy het in ‘n stadium man-alleen geboer en in ander stadiums “perde gespeel” of as heeltydse hengelaar by Umkomaas ‘n lewendige vishandel bedryf. As tronkbewaarder het sy van Suid-Afrika se gevaarlikste vroulike misdadigers opgepas, soos die gifmoordenares Daisy de Melker. Sy was ook aan die stuur van die Sentrale Gevangenis in Pretoria se wasafdeling.
Dit is in laasgenoemde hoedanigheid dat sy my die wasdag-geheimpie van presidentsvrou Marga Diederichs se delikate tee-doilies in die oor gefluister het.
Dr. Nic Diederichs, voorheen minister van finansies, ook bekend as “Mnr. Goud”, was staatspresident van 19 April 1975 tot met sy dood op 21 Augustus 1978. Mev. Marga was bekend as ‘n buitengewoon formidabele, soms taamlik omgekrapte, teenwoordigheid aan die president se sy. Oor haar fyntjiese tee-doilies wat vir vername tee gaste by die staatspresidentwoning, Libertas in Bryntirion, uitgehaal is, was sy uiters begaan.
Die doilies is saam met ander ministeriële wasgoed uit Bryntirion deur vroue in tronkuniforms se hande. Wat die edele dame ontstel het, is haar periodieke verliese aan van die spoggerige lappies. Ondersoek bring toe aan die lig dat dit, helaas. by geleentheid in die dik afvoerpype van die tronk se yslike wastrôe beland. Tant Sina moes dit dan namens haar span ontgeld. Ná vele berispings en roskamme kry Tant Sina ‘n blink ingewing. “Bring julle piepiepotte saam,” word die vroue opdrag gegee.
Van toe af is die doilies apart gewas in die kose van onder die beddens in die tronkselle, sonder verdere risiko – en mev. Marga was tevrede gestel, totaal onbewus van die roete wat die spierwitte, silwerskoon doilies gevolg het tot in die pierings van haar waarderende gaste .
Die doiliestorie kom by my op by die lees van ‘n resensie in die dagblad Die Burger oor die boek “Die eggenotes agter die Afrikaner politieke leiers” deur Ockert Geyser, voorheen geskiedenisprofessor en hoof van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis aan die Vrystaatse Universiteit. Die boek het by Naledi verskyn. (Ek sien prof. Ockie skryf van Margo Diederichs maar ek het haar as Marga geken.)
Mev. Maria Malan, tweede eggenote, van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword (en 31 jaar jonger as wat hy was) kon ook omgekrap raak. Ockie Geyser noem haar, amper eufemisties, “nie ‘n maklik mens nie”. Seker die dat Die Burger ‘n motor vol senior redakteurs so vinnig Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ‘n”ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.
Oorsese reise was in die jare 40 nog ver van doodgewoon en die gebruik van koerante was om na elke reis van ‘n bekende oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer. Ook mev. Malan is om ‘n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die modehoofstad Parys gedink het. Mev, Malan se antwoord was saaklik: sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.
‘n Oorywerige subredakteur verander die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”. Volgens koerantoorleweringe was die premiersvrou nie geamuseerd nie. Sy het wel darem eindelik die verskoning (plus ‘n duur ruiker) aanvaar.
Die dagblad Die Volksblad, Bloemfonteinse susterskoerant van Die Burger, het op sy beurt ‘n potjie met mev. Mabel Jansen , eggenote van die laaste goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen geloop. Sy had ‘n hekel aan koerantfotograwe wat taks om taks daarin geslaag het om haar met toe oe af te neem. Volgens haar was hulle “onbeholpe”.
Hugo Dreyer, my eerste baas, was nog nuusredakteur, toe op ‘n ampsbesoek aan Bloemfontein na die een of ander swierige sosiale geleentheid weer so ‘n gewraakte foto op sy lessenaar beland. Die stomme man was moedeloos en ongeneë om weer onder die die vlymskerpe tong van die G-G se gade deur te loop.
Hy gee toe die fotograaf opdrag om die foto met sy retoesjeerkwassies te toor. Die koerant verskyn en op die foto is mev. Mabel se oë so groot oop soos diè van ‘n lappop. Maar o wee. Nie lank daarnie nie, hier daag sy onder motorfietsbegeleide in Voortrekkerstraat op. Sy wil ses van daardie pragtige foto’s bestel en sommer die knap fotograaf ook ‘n kloppie op die skouer gee.
Die nuusredakteur het die omvang van sy penarie nie onderskat nie. Hy speel toe vir tyd. “Alte seker, mevrou, laat ek net gou gaan seker maak of die negatief nog beskikbaar is.” Sy was verpletterd toe hy boetvaardig moes rapporteer: “Jammer, mevrou, spyt my om die nus or te dra maar daardie negatief is skoonveld”!
Een van die formidabele vroue van oudsher, mev. Christa van Rensburg, eggenote van Oom Basie van Rensburg. Vrystaatse leier van die NP ‘n paar dekades gelede, het onlangs haar 95ste verjaardag gevier. Wat ‘n dame! Van haar vele bates is ‘n helder verstand, ‘n vonkelende humorsin en ‘n sak vol kostelike anekdotes.
By ‘n Nasionale Party-feesgeleentheid het sy ‘n keer vertel van die grapjas-minister van landbou Hendrik Schoeman wat ná ‘n besoek aan Orania oor sy indrukke uitgevra is. “Daar gaan ook maar bokkerol aan,” was sy antwoord; “die enigste prostituut daar is nog ‘n ‘virgin'”.
Feb 28, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Om jou toonnaels te laat knip, is een van daardie sleurwerkies waaraan min mense seker erg het. Diè roetintakie kan ‘n openbarende studie in geriatriese gedragspatrone word as jy, soos ek, vir daardie doel die plaaslike oord vir bejaardes besoek.
Jy wag jou beurt by die voetdokter op ‘n bamboesstoel in die voorportaal af. Regs van jou is die Alzheimer-vleuel, links woon die ander oumense. Langs jou is die deur na die eetsaal. Aan die arm van ‘n verpleegster in ‘n kraaknetjiese blou uniform, in rolstoele of met looprame daag inwoners wat nie meer so mobiel is nie, vir ontbyt aan groot ronde tafels op.
Van hulle kyk met die verbygaan stip grond toe, ander groet vriendelik of knoop selfs met die vreemdelinge in die voorportaal ‘n geselsie aan. ‘n Skraal man met ‘n groot, ouderwetse bril stap op die blonde vrou af wat langs my in die ry sit en wag. Sy herinner hom aan iemand. Hy probeer vir haar verduidelik maar dit kom bra skeef en krom uit sy mond. Sy kommentaartjie klink amper onvleiend. Sy glimlag net ongemaklik.
Hy kom staan voor my en kyk my vierkant in die oë. “Lekker,” sệ hy. “Lekker,” antwoord ek. Toe stap hy doelgerig af op die eetsaal van waar ‘n geroesemoes van hoofsaaklik vrouestemme opklink. Jy hoor ook slaapsale en kamer radio’s speel. Die volume is hoog gestel, seker om beter te kan hoor. Uit die sitkamer klink die temalied van ‘n laataand-TV-sepie wat ter wille van vroegslapers soggens herhaal word.
Dit tref hoe inwoners, hoofsaaklik pasiënte uit die Alzheimervleuel, graag aan iemand raak; aan die elmboë of skouers van die kantoordames, verpleegsters of mede-pasiënte. Dit is asof ‘n vlugtige aanraking rustigheid, vrede en kalmte bring.
Op pad terug na haar kamer ná ete kom ‘n grys dame aan die arm van ‘n verpleegster verby. ‘n Glimlag (van “herkenning?) verhelder die gelaat. Woerts kielie sy my eers aan die linker- en toe aan die regterknie. My beurt om ongemaklik te glimlag. Nietemin, dadelik ontstaan tussen die twee wildvreemdes ‘n band.
Voor die hoofdeur by die ingang is tralies. Die deur bly gesluit. Jy moet ‘n knoppie druk as jy wil in. Die ontvangs moet weer ‘n knoppie druk om jou uit te laat. Terwyl ek sit en wag – net 15 minute of so – stap twee inwoners kort ná mekaar na die deur en tuur geruime tyd deur die tralies na buite.
Die oord lệ op ‘n hoogtetjie. Deur die hekke sien jy ‘n strepie see, ‘n blerts spierwit wolke en, oorheersend, die helderblou laatsomerlug van ‘n sjampanjedag in die Kaap. Sou daar ‘n smagting in die binneste heers om weer deel van die lewe daarbuite te wees?
Een van die twee gaan staan later voor ‘n groot muurspieël. Hy kyk lank en deurdringend na die beeld wat dit na hom terugkaats. Oor sy gewaarwordinge kan ek maar net wonder. ‘n Mens is mos maar geneig om te romantiseer.
Van hoe bevoorreg jy jouself moet ag om na die naelknip-prosedure in jou motor te klim en volkome onafhanklik van ander mense weg te ry, raak jy opnuut intens bewus. Jy is verreweg nie dankbaar genoeg nie, betig jy jouself. Sodra jy weer onvergenoegd en morrig wil raak, laat net jou toonnaels knip, boeta! Dit is die boodskap vanoggend.
Dan druk die matrone die klokkie en maak haar gedugte verskyning by die voordeur. Ons groet oor en weer. Sy weet van onlangse operasies, verneem na my welstand en merk vriendelik op: “Jy lyk goed”. Hoe troos jy immers ‘n oumens anders?
Voel goed, antwoord ek. “Maar soos jy ouer word, gee die onderdele mos maar in.” Dadelik kan ek my tong afbyt oor die simpel, voorspelbare stelling, so sprankelend soos ‘n verwelkte sonneblom. Asof sy daardie onvermydelike waarheid nie elke liewe dag rondom haar sien en beleef nie.