GOODBYE, JOOST!

‘n Lewendige gesprek is op my Facebookblad aan die gang oor die bloedmin Afrikaans by Joost van der Westhuizen se begrafnisdiens – of liewer “memorial ceremony” –  op Loftus.

Die aanleiding was die opmerking:  “Miskien is dit net nodig om party mense daaraan te herinner dat Joost Afrikaans was, en – wil ek waag om te beweer – waarskynlik ook 75% of meer van die mense wat na Loftus gekom het om die laaste eer te bewys.”  ‘n Deelnemer aan die gesprek het my beskuldig: “Jy is nou net onnodig moeilik”. ‘n (Jonger) vriend van my het hom dadelik daarby geskaar: “Wragtag, ek  kon dit nie beter gestel het nie.”

Albei daardie saamgeselsers is, terloops, Van Rensburgs!  My antwoord was: “Oor my taal is ek onbeskaamd moeilik.”

Heelwat steun is darem ook uitgespreek vir die waarneming dat  Afrikaans afgeskeep is,  tot uit Hong Kong deur ‘n Suid-Afrikaner wat al jare daar woon en met ‘n Chinese vrou getroud is.  Die verdelingslyne tussen ondersteuners en kritici loop plek-plek nogal vreemd.

Vir die doeleindes van die blog bepaal ek my hier net by die kritiek.  Die kern van die standpunte/ verskonings van die kritici is die volgende:

  • Joost was ‘n “internasionale legende” met bewonderaars oral in die wêreld;
  • Britse en Australiese gaste was op Loftus teenwoordig;
  • Dit was ook ‘n “amptelike staatsbyeenkoms” met “amptelike eerbewys”;
  • Dit was ‘n “amptelike provinsiale huldeblyk” – die vriende en familie het reeds ‘n eie troosdiens gehou;
  • Die meeste van die mense wat aan hom hulde gebring het, was nie Afrikaans nie;
  • Die familie se eie pastoor was ene Neville wat ook maar net in Engels gepraat het;
  • Dis seker die TV regte wat so bepaal het vir internasionale uitsendings;
  • Suid-Afrika is ‘n “inklusiewe land”;
  • Joost het die wêreld vol gereis en sy steun is nie tot Pretoria-Wes of Orania beperk nie.

Die geldigheid van verskeie van die opmerkings kan nie ontken word nie.  Dit sou mos gek gewees het om te verwag mnr. Billy Beaumont moet sy hulde deels in Afrikaans betuig!

My opinie is elk geval nie dat die “amptelikheid” van die geleentheid, die omvang van die heldeverering vir Joost of die teenwoordigheid van internasionale gaste in die wind geslaan moes gewees het nie.  Maar werklik so oorheersend Engels?

‘n Mens kan maar net hardop wonder wat die geval sou wees as Joost ‘n Fransman sou gewees het en die “amptelike” diens in Parys in die Stadion d’ France gehou is. Sou al die Franse ter wille van die gaste net Engels gepraat het? Nie soos ek hulle ken nie.

Kan ons nie dit liewer ons uitgangspunt maak om hoflik en bedagsaam teenoor ons gaste en buitelandse bewonderaars te wees maar terselfdertyd ook die behoeftes en verwagtinge van die plaaslike (Afrikaanse) ondersteunersbasis in aanmerking te neem nie?

In die Afrikaanse pers word berig ‘n gejuig het van die paviljoen opgegaan toe Francois Pienaar in Afrikaans verklaar het: “Joost was ‘n Bul, ‘n onverskrokke Blou Bul.” Sou die spontane gejuig dieselfde gewees het as hy in Engels sou gese het: “Joost was a Bull, a fearless Blue Bull”?  Dalk wel. Ek twyfel.  Na my oordeel was in die toejuiging ook ‘n duidelike taalboodskap.

Op die argument dat dit ‘n “amptelike staatsgeleentheid” en “amptelike provinsiale huldeblyk” was,  is die weervraag: Is die staat en die provinsie Gauteng dan eentalig Engels?

Wat die buitelandse gaste betref: sou hulle nie volledig begryp het as aan hulle verduidelik is dat ‘n deel van die diens ter wille van sy herkoms en die karakter van Blou Bul-land in Afrikaans behoort te wees nie?  Of sou die trots op en sensitiwiteit teenoor die eie hulle aanstoot gegee het?  Dit sou my verbaas het.

As die opdrag van Supersport2 of wie ook al dan was dat alles moet Engels wees, waarom het Francois Pienaar (en glo ook Amor Vittone)  kans gesien om ook Afrikaans te praat?  Natuurlik omdat die behoefte in hul eie hart was en hulle (korrek) die behoefte in ander harte raakgesien het, glo ek.

Windskewe argumente wat ‘n mens die meeste laat rooi sien, is  oor  Suid-Afrika as “ïnklusiewe land”, asook “Pretoria-Wes en Orania”.

Volgens die sensus van 2011 is isiZulu die moedertaal van 22.7% van SA se bevolking, gevolg deur isiXhosa op 16%, Afrikaans op 13.5%, Engels op 9,6%, Setswana op 8% en Sesotho op 7.6%.

Op grond waarvan beteken “ïnklusief” in daardie heer se oë dan die uitsluiting van Afrikaans? Hoe “inklusief” is die land  dan?

Ten slotte: die verwysing na Pretoria-Wes en Orania is in dieselfde klas die etikettering van Afrikaans voorheen as “kombuistaal”.  Dis beledigend en weerspieëlend van ‘n taalsnobisme wat, helaas, lewendiger is as wat baie mense dink.  Jammer, ek vir een weier botweg om voor sulke “superieure” Engels-aanbidders kniebuigings te doen.

Diesulkes verdien nie eens die hoflikheid en bedagsaamheid wat ek op Facebook en hierbo teenoor gaste en ‘n internasionale gehoor bepleit het nie.

VRIEND VAN AFRIKAANS

bill2

Ambassadeur Bill Swing in geselskap van regter Theunie Steyn en administrateur Louis Botha.

More uit Melkbos

In ons besoekersboek het William Lacy Swing op 3 Januarie 1991 – ‘n hele 25 jaar gelede – die volgende in pront Afrikaans geskryf: “Veels geluk met jou verjaardag. Mag daar nog vele wees.” Niks merkwaardig daaraan nie, lyk dit. Totdat jy byvoeg: Hy was die Amerikaanse ambassadeur.

William Swing, of Bill Swing, soos ek hom geken het, is die lewende bewys van waar ‘n wil is, is ‘n weg. Hy was twee maande in die land toe hy met vertroue kon opstaan en kortliks iets van betekenis in dié vreemde taal kwytraak. Selfs die “g’s” had hy taamlik goed onder die knie.

Bill was ‘n ware vriend van Afrikaans. Sy filosofie was dat hy respek wil betoon aan die sterk Afrikaanse komponent in die land (en daardie tyd natuurlik in die Regering), maar ook dat hy nie onbegrypend en met ‘n mond vol tande in Afrikaanse geselskap wil beland nie. Hy het eenvoudig vasgebyt, Afrikaans-klas geloop en nie gehuiwer om oefen-oefen in die openbaar sy weg te vind nie.

Hy het in Bloemfontein opgedaag met ‘n pikante Afrikaanse toesprakie in sy binnesak vir die wis en die onwis. Ek het later eers daarvan gehoor en sy notas aangevra. Wou daardie notas vir hierdie blog uitkrap – dit is iewers tussen my dokumente – maar Tokkie het gewaarsku: “O gonna, dit sal klink of jakkals sy eie stert prys.” Glo my dus maar – sy Afrikaans was “pikant”.

Die ambasssadeur is nooit aan die woord gestel nie. Daar sou geen toesprake wees nie. Die sowat 70 gaste was versprei in die huis, op die lang stoep – van een hoek tot die ander – langs die swembad en op ons motorpad. Waarmee nie rekening gehou is nie, is dat regter M.T. (Theunie) Steyn ook teenwoordig was. Hy kon praat (lank praat ook) en het hom nie twee keer laat nooi nie.

Toe ek weer hoor, toe’s dit heildronktyd. Die liewe Oom Theunie, wat altyd in die besoekersboek sy adres aangegee het as Onze Rust (die Steyn-familieplaas), het op eie inisiatief die pligpleginkie behartig. Wonder of ‘n derde van die gaste ‘n woord van sy rede gehoor het. Buiten in sy onmiddellike omgewing is lustig voortgekuier terwyl hy praat … en praat.

Maar Bill: ons paaie het gekruis toe ek in 1977 in Amerika was. Hy was ‘n Kennedy Fellow aan Harvard en ek ‘n Nieman Fellow. Toe ek sy naam in die koerante sien as nuwe ambassadeur het ‘n pennie geval. Ek het spreekwoordelik die ambassade se voordeurklokkie gaan lui. “Goeie more, Hennie,” het hy my gegroet, nog skeef en krom maar sonder skroom.

1-IMG

Van die gaste se name in die boek – onder wie Bill Swing en Theunie Steyn.
>

Hy was in Suid-Afrika van 1989 tot 1992. In daardie tyd is hy met die oulike Chinese buksie Yuen getroud – op ‘n wonderskone herfsoggend in die tuine van die ambassade in Bishopscourt – en ek en Tokkie was gelukkig genoeg om genooi te word.

Nadat Bill en Yuen uit Suid-Afrika weg is, het Yuen ons lank met ketting-briefies op die hoogte gehou. Die briefies het later drupsgewyse begin kom en toe opgedroog. Maar ek het Bill nog van tyd tot tyd op TV gesien – net so ‘n afgeronde heer soos daardie oggend voor die buitelug-kansel in Bishopscourt. Al bars die bomme (soos in Tahiti) kon jy hom deur ‘n ring trek, die rustigheid vanself en ‘n formuleerder van formaat.

Die nostalgie sit op loop as ek so deur die besoekersboek blaai. Daardie aand was dit buurman Johann Strauss se taak om die boek rond te neem. Dit was immers hy wat dit vir Kersfees 1987 vir ons present gegee het. Johann het die verantwoordelikheid met groot sorg uitgevoer. Elke liewe gas het geteken. Drie bladsye vol.

Bill se voorganger, Ed Perkins, ‘n groot Afro-Amerikaner, en sy vrou, ook ‘n Chinese buksie wie se naam my skandelik ontgaan het, was ‘n aand in 1987 ons etegaste in Van Schoorstraat. Dit was voordat ek en Tokkie die besitters van ons besoekersboek geword het. Niks is derhalwe opgeteken nie.

Van daardie aand het ek veral twee herinneringe. Die eerste is hoe seer die smaak van ‘n KWV-muskadel die amabassadeur geval het. Hy is met my laaste bottel daar weg. Verder onthou ek hoe ontsteld ‘n LV was dat hy nie die aand genooi was nie. Hy was betrokke by buitelandse sake en het gemeen protokol is by die venster uitgegooi. Onvergeeflik. Die antwoord was maklik: ‘n koerantman is genadiglik geen slaaf van protokol nie. Hy nooi wie hy wil. (hvd)

U.S. SE SEIN

Middag uit Melkbos

Soveel verduidelikings, motiverings, vertolkings en kommentare later het ek oor die Stellenbosse Afrikaansdebakel een vraag:

As Stellenbosch met sy geskiedenis, tradisie, kultuur en verweefdheid met die taal en sy praters oor soveel generasies heen dan geen verantwoordelikheid meer voel om dit as kosbare kleinood te bewaar nie, watter boodskap sein dit aan die staat, allerlei ander instellings en private maatskappye wat in die naam van aandeelhouersbelang maar alte gretig op die transformasiepad saam galop? Waar gaan ons nog vrymoediglik kan Afrikaans praat sonder om ons teen ‘n muur van vyandigheid, afsydigheid of op sy minste argeloosheid vas te loop? (hvd)

SKOTE PETOORS, JOU RAMKAT-TAAL!

More uit Melkbos

Of Superkok Sarel boerewors braai, vetkoek bak, souskluitjies optower of biltong maak, hy het altyd die een of ander spesiale doepa byderhand. Mapstieks man, sy padkos is iets uit ‘n ander wêreld. Selfs sy slaptjips is superieur.

Nee, hierdie blog gaan nie oor kos nie, wel oor Afrikaans, soos belowe. Die uitdaging wat ek wil stel, is vertaal daardie liplekker-inleiding in idiomatiese praat-Engels. Nie so maklik nie, né!

Al daardie woorde kom uit ‘n lysie van oud-kollega Tom Ferreira van Afrikaanse woorde en uitdrukkings wat hulle nie sommer so woerts-warts in Engels laat omsit nie. Dit, in reaksie op ‘n e-pos van ‘n stuk wat Irene de Bruyn vir die SA Klub in Perth geskryf het.

Irene skryf: “ Although I am now living in Australia, where English is the prevalent language, I still find myself using Afrikaans words and expressions, either because there are just no equivalents in English, or the Afrikaans version is so much more pithy. Often the Australians I speak to are intrigued by the words and find them expressive, even when I give them a censored translation of their meaning. (It depends on the company).”

Sy gee dan voorbeelde soos gril (nie ‘n “mixed gril”l se gril nie!) , sommer, bakkie (in die kombuis en op die pad), voetstoots, dwaal, gogga, moffie, gatvol, gat sien, donder, jol, muti en kak en betaal.

Ek het daardie stuk rondgestuur met die opskrif “Hoera vir Afrikaans!”

Tom se reaksie: Pragtig! ‘n Mens kan byvoeg ….. dan noem hy al die woorde in die inleiding asook onderonsie, dit gaan klopdisselboom, kierang, luilekker, ondeund, niksnut, bossie, fundi, eish, taboe, kweperlat, en aangrypend (“gripping” is nie naastenby so aangrypend nie). Hy voeg ook die klassieke strikvraag by: Hoe vertaal ‘n mens “die hond kruip onderdeur die tafel”?

Ferdie Preller, ou skoolmaat, dra uit Pretoria die volgende by: skuins (dalk “slanted”, “at an angle from”, ens.) drafstap/draffie (nie dieselfde as ”jog” jnie), slenter (werkwoord en naamwoord) , bont/ rooibont (“red speckled”?), randjie (“ridge”, “hill”?) en vaal (beslis nie “grey” nie, nie dieselfde as “drab” nie, dalk iets tussenin.)

Eric Wiese, ook ‘n oud-kollega noem die woord vaak. “Lekker woord. ‘n Kind is vaak. Dis nie “tired” nie, dis nie “sleepy” nie. Dis vaak.” Aldus Eric.

Suné Greeff, mede-Sabiepark-eienaar, se bydrae is die woord bolangs, soos in bolangs skoonmaak.

Verdienstelike pogings die hele lot, meen ek. Ek beveel almal graag aan vir die lys wat iemand iewers skynbaar besig is om op die internet saam te stel en waarop tot dusver o.m. die volgende verskyn:

Van Irene de Bruyn self: jou bliksem, wag ‘n bietjie, nie so haastig nie, sakkie-sakkie, ou swaer, ja-nee, doedoe en doeks.

Van ene Rosie: naar (letterlik “bilious” maar ook “horrible”, “nasty”, “terrible” ens.), tjoepstil, moerse, morsdood en vrot.

Van ene Gavin: drol (“turd”, soos in daar’s ‘n drol in die drinkwater – “a turd in the drinking water”)!

Die uwe gooi graag ook ‘n paar in die pot. Sommer in die bondel is my kandidate: bleeksiel, wasbleek, wiktgeskrik, doodmoeg, potblou, hemelsblou. muisvaal, skreeulelik, spiertier, penorent, koekerig, rot en kaal, oumeide met knopkieries, op die koffie en pimpel en pers, plus ‘n paar uit die natuur: duiker, wildebees, klipspringer, kruidjie-roer-my nie, haak-en-steek en piet-my-vrou.

Kan nie al wees nie, kan dit? Lekker speel met jul eie lysies! (HvD)

ET TU, PUKKE?

More uit Melkbos

Tukkies was die regte plek vir my ingevolge my destydse waardebepaling van universiteite, wat in my Volkiedae op Potch gevestig is deur maats met ouer broers wat trotse draers was van die rooi, blou en goud en by intervarsties, ingehaak by mooi meisies, wiegend heen-en-weer gesing het:” Laat elke ou Tukkie sy glasie volmaak …”

Van Kollegetehuis en sy “berugte” tradisies het ek genoeg gehoor om ‘n brandende ambisie te ontwikkel om een van Sarge Bourke (ons gelukbringter) se kudde te word, en niks anders nie.

Die verre Maties, waarheen my vriend Willem Hartzenberg, op die nippertjie sy skrede gewend het op aandrang van ons Geskiedenisonderwyser, Chris van der Walt, was ook aantreklik (veral Wilgehof!) , maar buite bereik van ‘n arm outjie. Puk, in die bodorp van van Potch was nooit ‘n opsie nie.

Kan nie eens sê “I’ve considered and I’ve reconsidered” soos George Bernbard Shaw (meen ek) van die huwelik nie. Die gedagte om Puk te word, het nie by my opgekom nie. Van die Kovsies was ek, vergewe my Vrystaatse vriende, in daardie stadium salig onbewus.

Nou-ja, nooit was ek spyt ek vyf jaar lank ‘n Tukkie en ‘n Kollegeman was nie. Tot vandag toe is ek in murg en been ‘n Tukkie. A-ra-ra-ratio! Goue jare gewees.

By ASB-kongresse was die dra van ‘n Tukkiebaadjie altyd vir my iets soos ‘n onderskeidingsteken. By die Puk-afvaardiging by ‘n kongres op Stellenbosch was ‘n bordjie met die amptelike universiteitsnaam P.U. vir C.H.O. Ons Tukkies het by ons eie U.P. gevoeg “vir K.W.V.”, en gedink ons is darem veel wêreldwyser.

Vir die Puk het mettertyd ‘n solieder respek begin groei as wat ek in my melkbaarddae gehad het. Goeie produkte het uit die CHO-omgewing gekom – leiers op elke terrein. Soos universiteite toenemend “getransformeer is”, het die Puk onder die verbeeldingryke leierskap van Theuns Eloff op my respektelys bly klim. Tukkievriende het hul kinders selfs van Pretoria af daarheen begin stuur.

Ons het vir mekaar begin sê: “Die Puk is nou wat Tukkies was toe ons universiteit toe is.” Dis die plek waar ‘n mens nog tuis kan wees in jou eie taal en tradisies.

Pas gister, eergister hoor ek van ‘n Tukkietydgenoot wie se kleindogter in matriek ook Mooirivier se kant toe mik. Sy was enkele dae gelede soontoe vir ‘n onderhoud.

Maar nou sit ek met ‘n persepsieprobleem. Die “goeie ou Puk” is op ‘n wyse aan daardie oulike meisiekind openbaar wat my laat wonder of ou waardes aan’t verander is.

Sy het in trane uit die onderhoud gekom en gerapporteer dat sy veral oor twee goed gedril is: die standaard-Afrikaans wat sy praat en haar besadigde kleredrag. Sy moes verduidelik hoekom praat sy so konserwatief-ortodoks en hoekom trek sy so behoudend aan.

Vir haar reaksie gee ek haar 10 uit 10. Sy kom uit ‘n huis wat Afrikaans so praat en wat so aantrek, was haar pronte antwoord.

Dalk was dit die antwoorde wat die Pukmense inderdaad wou gehad het, want sy is gekeur vir die kursus. Wat my hinder: sê nou net sy is gekeur nie as gevolg van nie, maar ondanks haar antwoord.

Gaan ons binnekort ook van die Puk moet sing (soos van die Maties, die Tukklies en in ‘n sekere sin ook die Kovsies (Jonathan Jansen ten spyt): “The old grey mare, she ain’t what she used to be?”
(HvD)