O SOETSTE TAAL
“FYN BESKAAF” MAAR TOG
Hoe lank al ly Afrikaans onder die aanslag van die taalverminkers wat jy oral – maar nêrens so geil nie as in die geledere van die “glansmense” en in voorportale (“foyers”) van sekere moderne “kuns”-verskynsels – aantref?VUURVONKE OOR “MODERNE AFRIKAANS”
In sy afskeidsrubriek in Rapport roer Waldimar Pelser ‘n sekere geesgenootskap tussen Rapport en NP van Wyk Louw aan. Op Sondag 29 November 1970 is Rapport se eerste hoofartikel byvoorbeeld ingelui met Louw se woorde: “Die vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie.”
Meer voorbeelde van sulke vrugbare wisselwerking van denke bestaan – ook met Rapport se een voorganger, Die Beeld. Die verhouding tussen Louw en Schalk Pienaar, eerste redakteur van Die Beeld, het in die 40’s egter bra suur begin.
Oor die rede sou ‘n mens vandag dalk kan glimlag – maar dit was ernstige sake. Pienaar, toe nog by Die Burger, het die betekenis van ‘n Louw-gedig bevraagteken. Die opskrif: “Voortreflike onbegryplikheid”. Louw het hom opgeruk . Hy het “die artikeltjie van die heer Pienaar” as “dom en oningelig” beskou.
Pienaar het in Huisgenoot betoog dat in Afrikaans al hoe meer dinge geskryf word wat hy – wat darem kan oor die weg kom met die Psalms, Shakespeare en Goethe – nie kan verstaan. Hy haal dan Louw se gedig “Spieël en venster in die nag” aan: “Sal ek die klare dodes noem /In hierdie blink en bitter nag /En aan die dun galg van die roem / Ook dié gesig sien lag.”
Hy kon daar “geen woord van wys word nie,” kla hy. “ Die digter – hy is een van ons heel bekendste – was so vriendelik om in die opskrif te verduidelik dat die vers met ‘n spieël, ‘n venster en die nag te doen het. Maar wat, kon ek tot op hede nie agterkom nie.”
Diegene wat “hierdie moderne Afrikaans “ prys, is of vriende van die skrywer of mense “wat alle onbegryplike dinge kuns noem” of wie se “status as kunsindoenas” daarvan afhang dat daar ‘n “standhoudende voorraad onverstaanbare dinge” sal wees waaroor hulle “onverstaanbare menings” kan uitspreek.
Dan vervolg hy: “Ek sou hierdie mense hul vermaak gun as dit onskuldige vermaak was, maar die saak gaan verder.” Dan volg, waarteen Louw die ergste eksepsie geneem het: Dat mense die idee propageer dat “sulke dinge aanprysenswaardig is” en daardeur “‘n mark vir hulleself verwerf”; terselfdertyd dat dinge wat nie so is nie, verwerplik is – en daardeur word “andere se mark bederf.”
Louw het hierdie uitspraak vertolk as sou dit “oneerlike motiewe aan sy literêre werksaamheid toeskryf”.
Huisgenoot het teruggekrabbel: Hy moet erken dat die woorde vatbaar is vir hierdie uitleg, maar dit was nie die bedoeling nie. Die tydskrif betuig ook names Pienaar sy spyt en publiseer ‘n apologie en ‘n kwaai brief van Louw.
Louw skryf: Wanneer Pienaar beweer dat sy optrede geen “onskuldige vermakie” is nie, en insinueer dat dit is om ‘n mark te verseker en “ander se mark te bederf”, word dit “persoonlike bekladding”. (En as hy – Pienaar – nie meen dat dit in die bedoeling van sy woorde lê nie, “begryp hy sy eie Afrikaans net so min as dié van die jonger digters.”)
In ‘n naskrif skryf hy: “Die heer Pienaar se verklaring dat hy alles in die Psalms, Shakespeare en Goethe begryp, was seker glippens – ‘n stukkie optimisme wat hy sal verloor as hy dié werk en dié skrywers ‘n bietjie meer gaan lees.”
Lesersbriewe het ingestroom – en die meeste was dit met Pienaar eens.
Daar was ook ‘n geval dat Pienaar ‘n vroeë digbundel van Louw – watter een het my ontgaan – in ‘n resensie in Die Burger taamlik afgekam het. In literêre kringe is dit as ‘n erge mistasting bejeën.
Tog het wedersydse begrip gegroei, soos Pelser aantoon. Wat bygevoeg kan word, is dat Die Beeld se tweede hoofartikel verskyn het onder die opskrif “Oop gesprek” – natuurlik een van Louw se groot temas.
Van sy kant het Louw – moedeloos oor die peil van noordelike Afrikaanse koerante – voor die verskyning al gemeen die koms van die koerant is “ soos suurstof vir ‘n mens wat in ‘n moeras vasgevang is”. Tussen digter en redateur het mettertyd ‘n kameraderie ontwikkel wat tot oor en weer kuiers oor ‘n glas goeie brandwyn gelei het.
- ‘n Melkbosse vriend, wyle Danie Krynauw, het vertel dat hy Louw ‘n keer gevra het na die betekenis van ‘n gedig wat vir hom duister was. Louw se antwoord: “Mnr. Krynauw, toe ek die gedig geskryf het, het net twee geweet wat dit beteken – die liewe Here en ekself. Nou weet net die liewe Here.”
OM “KLIPPIES” TE KOU

Spesiale prys!
Prysenswaardig hoe “Suid-Afrikaans” die MSC Musica in sy eerste (en enigste) seisoen hier te lande vinnig geword het. Die sprankelende Maria Tabada van Kroasië groet vriendelik in Afrikaans by die navraagtoonbank: “Goeie môre. Hoe gaan dit?” In die informele eetplek Il Giardino bemark ‘n Italiaanse kelner geesdrigtig sy ware: “Lekker, lekker. Ons gaan nou braai. Baie lekker sangria.“
Op die wynlys was (totdat die bekostigbaarstes teen 15 Mei opgeraak het) J.C. le Roux, Roodeberg, Zonnebloem, Spier, Durbanville Hills, Zevenwacht, Douglas Green en andere; selfs die ou staatmaker Drostdyhof se Claret Select – teen $9 ‘n bottel loshande die goedkoopste wyn op die skip! Bierdrinkers kon kies tusen Castle, Amstel, Windhoek en Heineken, later teen 20% afslag. Klipdrift was, as spesiale aanbieding, teen $37,95 ‘n bottel beskikbaar – seker nie te erg as jy met Euro’s reis – of soos hulle dit noem: oi-rous – nie, maar wat ‘n rand-en-sent-man nogal laar klippe kou!
Ook die Coca-Cola, Sprite en ander bygooigoedjies is in Suid-Afrika verpak.
In die informele eetplekke was produkte van Huletts, Clover, Heinz, Nescafè en dies meer. Op die spyskaart in die formle eetsale, die L’Oleandre en die Belle Epoque, was een aand onder meer “Frikkadels”, “Cape-Malay spiced salmon”, “Old Cape denningvleis” en “melktert”. Die denningvleis was nie soos ek dit by “Geelbek” in die Nasionale Weskuspark leer ken het nie, en die melktert wat ek vol bravade by my tafelgenote aanbeveel het, is aanvanklik met ‘n ander nagereg verwar. Gelukkig was daar Suid-Afrikaners …
Daardie tafel bied ‘n tema op sy eie. Voor die die vaart het ek taamlik wyd op Facebook en elders Afrikaanse tafelmaats probeer werf. Sonder welslae. Uiteindelik was aan tafel 549 die volgende agt: Darren en Liesl Scraggs van Queensland, Australië; Russ en Pat Mason van Freeville, New York; Chris en Catherine Wakefield van Wiltshire, Engeland, en die Van Deventers van Melkbosstrand – die Verenigde Nasies in aksie. Ons kelner was boonop Henri, ‘n raakvatter uit Madagaskar.
Darren en Liesl was voordansers. Hulle het elke liewe dansles bygewoon: mambo, bachato, cha-cha-cha, tarantella, tango, polka – noem maar op. Vir een les – wat werklik deur impi’s uit Suid-Afrika aangebied is – het hulle neus opgetrek : die Zoeloedans.
Pat wat presies soos die rooikop-aktrise Carol Burnett lyk en praat, het my verseker sy en Russ is nie verwant aan een van my Amerikaanse gunsteling-speurders, Perry Mason, nie. Ai tog, ‘n mens moet darem ook nie te veel verwag nie.
Ons was ‘n vrolike, joviale tafel. Om 25 aande net Engels te praat – in soveel variasies en aksente – kan egter veeleisend raak. Soms moes jy maar net dom saam glimlag. Watter verligting was dit dan nie as ek en Tokkie later ons onderlinge verskilletjies in kajuit 8102 in Afrikaans kon besleg nie!