KATKISASIE OOR OKKASIE

In my vorige blog en ander plasings verwys ek na Naledi se 20ste verjaardagviering as ‘n okkasie. Dadelik word ek uit die Suid-Kaap gekapittel dat ek kwansuis ‘n Anglisisme inspan terwyl die Afrikaanse woord geleentheid homself aanbied.
Nou kyk, ek is in die algemeen geduldig met katkiseerders – maar nie oor my taal nie. Daaroor is my vel dun. Ek wys toe dadelik, die beterweter op die woord se Latynse oorsprong: occassio. Ek meld ook dat ek dit gebruik as rymwoord: ek lig ‘n glasie op die okkasie. Verder haal ek Breyten Breytenbach aan uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal: “Die troue van die burgemeester was ‘n hele okkasie. Daar staan ek …. / angelier in die baadjie / nuwe Italiaanse skoene vir die okkasie.” Maar die kêrel hou voet by stuk.
My knap kollega wyle Ollie Olwagen had ook op sy dag ‘n stryd met ‘n briefskrywer wat oral anglisismes in sy suiwer Afrikaanse taalgebruik in blokraaie bespeur het. Hy skryf toe vir Die Burger ‘n brief oor die onderwerp waaruit ek graag ruim wil aanhaal.
Ollie skryf: Baie mense besef nie dat talle Afrikaanse woorde wat hulle as “Engels” beskou eintlik internasionale leenwoorde is wat Engels en ander tale uit bv. Frans gekry het nie. Die stemme gaan gedurig op oor die hordes “Anglisismes” wat ons taal sou binnedring, terwyl die ware Anglisismes, bv. idiome soos perd van ‘n ander kleur, ons taal heimlik binnegesluip en reeds feitlik oorgeneem het.
Van die woorde wat die beswaarde briefskrywer so hinder, is miskien nie Germaanse erfenisse nie, maar Romaanse of Latynse, wat nogtans nuttige sinonieme bied wat die taal verryk. Ek sal miskien vyf keer geestesvervoering in ‘n geskrif gebruik, maar dan bly wees vir ‘n sinoniem soos eksaltasie waarmee ek die styl kan opkikker en die geskrif minder eentonig kan maak. Eksaltasie kry ons, net soos die Engelse hul exaltation, immers uit Latyn, ex sulto, wat opspring beteken. Dit is dus geen “Engelse woord” nie.
Of daardie sosys (gekruide worsie), wat eenmaal miskien veel bekender was as tans, maar nietemin. Dit kom nie van die Engelse sausage af nie, maar van Frans saucisse, uit Latyn solsicium.
Of renegaat, wat ‘n goeie, mooi sinoniem vir verraaier is. Ook dié woord asook die Engelse renegade kom van Latyn, renegare, wat ontken beteken.
Hoef ‘n mens voort te gaan? Daar is vandag heeltemal te veel “kenners” wat nie die nodige kennis het om grondige uitsprake oor taalsake te maak nie, maar die forum gegun word om hul menings as “beoordelaars” te verkondig. Die probleem is dat hul uitsprake deur ander onkundiges geglo word en onkunde oor die “Anglisisme” al hoe breër uitkring. Daarmee word Afrikaans die reg ontsê om, soos ander Europese tale, met ‘n sinoniemryke woordeskat te spog.
Want alles wat “Engels klink” se herkoms lê doodeenvoudig nie in Engeland nie. Dankie, Ollie. Ek sekondeer. Mag sulke verbete Anglismejagters krampe op onnoembare plekke kry elke keer as hulle so mistas.

O SOETSTE TAAL

Op Moedertaaldag onthou ek ver-ver terug die eerste aand, iewers in 1959, toe ek ‘n nog jong Mimi Coertse in die Aula op die Tukkiekampus O boereplaas hoor sing het:
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
Al dwaal ek heel die wêreld rond,
waar so gelukkig, so gesond?
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
Die wêreld, rykdom, prag en praal
kan jou verlies my nooit betaal.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.

“FYN BESKAAF” MAAR TOG

Hoe lank al ly Afrikaans onder die aanslag van die taalverminkers wat jy oral – maar nêrens so geil nie as in die geledere van die “glansmense” en in voorportale (“foyers”) van sekere moderne “kuns”-verskynsels – aantref?
Dat die wortels veel dieper lê as wat ekself en vele ander vermoed, lees ek raak in die volgende AG Visser-versie uit die middel-20’s, dus amper 100 jaar gelede:
‘N JONGE DAME (WESTELIKE PROVINSIE) NÁ 1803
Natuurlik is sy fyn beskaaf
Natuurlik is sy baie gaaf.
Die yarns wat ons ge-spun het!
“Onlangs het ons ‘n play ge-stage,”
Vertel sy: “Dit was so die rage
Dat dit three nights ge-run het.”
En dis regte, egte AG Visser hierdie (naspeurbaar in een van sy bundels), anders as ‘n onsmaaklike kamma-AG Visser vol toilet-“humor” wat op sosiale media in omloop is – skreeusnaaks vir sommige van ons broeders en susters.
Die brabbeltaal van daardie “fyn beskaafde dame” laat my besef hoe sleg ek misgetas het toe ek in 2003 in In Kamera (Protea) “ontdek” het: “Alle is mos nou (my kurivering) cool of stunning of gross. Ons woon shows by. Ons gaan gym toe. Ons het personal trainers. Ons gaan op ‘n diet. Ek freak sommer uit.”
Illustrasie: ‘n TT Cloete-vers waarmee ek my volmondig vereenselwig.

VUURVONKE OOR “MODERNE AFRIKAANS”

In sy afskeidsrubriek in  Rapport  roer Waldimar Pelser  ‘n sekere geesgenootskap  tussen Rapport en NP van Wyk Louw aan. Op Sondag 29 November 1970 is Rapport se eerste hoofartikel byvoorbeeld ingelui met Louw se woorde:  “Die vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie.”

Meer voorbeelde van sulke vrugbare wisselwerking van denke bestaan – ook met  Rapport se een voorganger, Die Beeld.  Die verhouding tussen Louw en Schalk Pienaar, eerste redakteur van Die Beeld, het in die 40’s egter bra suur begin.

Oor die rede sou ‘n mens vandag dalk kan glimlag – maar dit was ernstige sake. Pienaar, toe nog by Die Burger, het die betekenis van ‘n Louw-gedig bevraagteken. Die opskrif: “Voortreflike onbegryplikheid”.  Louw het hom opgeruk . Hy het “die artikeltjie van die heer Pienaar” as “dom en oningelig” beskou.

Pienaar het in Huisgenoot betoog dat in Afrikaans al hoe meer dinge geskryf word wat hy – wat darem kan oor die weg kom met die Psalms, Shakespeare en Goethe – nie kan verstaan.  Hy haal dan Louw se gedig “Spieël en venster in die nag” aan: “Sal ek die klare dodes noem /In hierdie blink en bitter nag /En aan die dun galg van die roem / Ook dié gesig sien lag.”

Hy kon daar “geen woord van wys word nie,” kla hy. “ Die digter – hy is een van ons heel bekendste – was so vriendelik om in die opskrif te verduidelik dat die vers met ‘n spieël, ‘n venster en die nag te doen het.  Maar wat, kon ek tot op hede nie agterkom nie.”

Diegene wat “hierdie moderne Afrikaans “ prys,  is of vriende van die skrywer of mense “wat alle onbegryplike dinge kuns noem” of wie se “status as kunsindoenas” daarvan afhang dat daar ‘n “standhoudende voorraad onverstaanbare dinge” sal wees waaroor hulle “onverstaanbare menings” kan uitspreek.

Dan vervolg hy: “Ek sou hierdie mense hul vermaak gun as dit onskuldige vermaak was, maar die saak gaan verder.” Dan volg, waarteen Louw die ergste eksepsie geneem het:  Dat mense die idee propageer dat “sulke dinge aanprysenswaardig is” en daardeur “‘n mark vir hulleself verwerf”; terselfdertyd dat dinge wat nie so is nie, verwerplik is – en daardeur word “andere se mark bederf.”

Louw het hierdie uitspraak vertolk as sou dit “oneerlike motiewe aan sy literêre werksaamheid toeskryf”.

Huisgenoot het teruggekrabbel: Hy moet erken dat die woorde vatbaar is vir hierdie uitleg, maar dit was nie die bedoeling nie. Die tydskrif betuig ook names Pienaar sy spyt en publiseer ‘n apologie en ‘n kwaai brief van Louw.

Louw skryf: Wanneer Pienaar beweer dat sy optrede geen “onskuldige vermakie” is nie, en insinueer dat dit is om ‘n mark te verseker en “ander se mark te bederf”, word dit “persoonlike bekladding”.  (En as hy  – Pienaar – nie meen dat dit in die bedoeling van sy woorde lê nie, “begryp hy sy eie Afrikaans net so min as dié van die jonger digters.”)

In ‘n naskrif skryf hy: “Die heer Pienaar se verklaring dat hy alles in die Psalms, Shakespeare en Goethe begryp, was seker glippens – ‘n stukkie optimisme wat hy sal verloor as hy dié werk en dié skrywers ‘n bietjie meer gaan lees.”

Lesersbriewe het ingestroom – en die meeste was dit met Pienaar eens.

Daar was ook ‘n geval dat Pienaar ‘n vroeë digbundel van Louw – watter een het my ontgaan – in ‘n resensie in Die Burger taamlik afgekam het.  In literêre kringe is dit as ‘n erge mistasting bejeën.

Tog het wedersydse begrip gegroei, soos Pelser aantoon. Wat bygevoeg kan word, is dat  Die Beeld se tweede hoofartikel verskyn het onder die opskrif “Oop gesprek”  – natuurlik een van Louw se groot temas.

Betekenisvol is dat Schalk Pienaar hom in 1966 bankvas agter Louw ingewerp het in die storm oor sy omstrede toneelstuk “Die Pluimsaad waai ver”. Louw het opdrag gekry om n stuk te skryf vir die vyfde herdenking van die Republiek op 31 Mei 1966. Dr. Verwoerd het die stuk in sy feesrede heftig gekritiseer omdat daarin nie net hulde aan helde betuig is nie, maar in Afrikanergeledere in die Anglo-Boereoorlog ook verraad en ander swakhede raakgesien is. In die agteropskop, gretig ondersteun uit regse politieke kringe, was Die Transvaler en Die Vaderland op die voorpunt, lees ek in Alex Mouton se biografie oor Schalk Pienaar, Voorloper. In ‘n latere hoofartikel het Pienaar die digter onder sy vlerk geneem en verklaar dat hy verhewe is bo die kleinlike kritiek van verkramptes. Sommige het dit as “boetedoening” vir sy Huisgenoot-artikel beskou.

 

Van sy kant het Louw – moedeloos oor die peil van noordelike Afrikaanse koerante – voor die verskyning al gemeen die koms van die koerant is “ soos suurstof vir ‘n mens wat in ‘n moeras vasgevang is”. Tussen digter en redateur het mettertyd ‘n kameraderie ontwikkel wat tot oor en weer kuiers oor ‘n glas goeie brandwyn gelei het.

  • ‘n Melkbosse vriend, wyle Danie Krynauw, het vertel dat hy Louw ‘n keer gevra het na die betekenis van ‘n gedig wat vir hom duister was. Louw se antwoord: “Mnr. Krynauw, toe ek die gedig geskryf het, het net twee geweet wat dit beteken – die liewe Here en ekself.  Nou weet net die liewe Here.”

OM “KLIPPIES” TE KOU

Spesiale prys!

Spesiale prys!

Prysenswaardig hoe “Suid-Afrikaans” die MSC Musica in sy eerste (en enigste) seisoen hier te lande vinnig geword het.   Die sprankelende Maria Tabada van Kroasië groet vriendelik in Afrikaans by die navraagtoonbank: “Goeie môre. Hoe gaan dit?”  In die informele eetplek Il Giardino bemark ‘n Italiaanse kelner geesdrigtig sy ware: “Lekker, lekker.  Ons gaan nou braai.  Baie lekker sangria.“

Op die wynlys was (totdat die bekostigbaarstes teen 15 Mei opgeraak het) J.C. le Roux, Roodeberg, Zonnebloem, Spier, Durbanville Hills, Zevenwacht, Douglas Green en andere; selfs die ou staatmaker Drostdyhof se Claret Select – teen $9 ‘n bottel loshande die goedkoopste wyn op die skip!  Bierdrinkers kon kies tusen Castle, Amstel, Windhoek en Heineken, later teen 20% afslag.  Klipdrift was, as spesiale aanbieding, teen $37,95 ‘n bottel beskikbaar – seker nie te erg as jy met Euro’s reis  – of soos hulle dit noem: oi-rous – nie, maar wat ‘n rand-en-sent-man nogal laar klippe kou!

Ook die Coca-Cola, Sprite en ander bygooigoedjies is in Suid-Afrika verpak.

In die informele eetplekke was produkte van Huletts, Clover, Heinz, Nescafè en dies meer. Op die spyskaart in die formle eetsale, die L’Oleandre en die Belle Epoque, was een aand onder meer “Frikkadels”, “Cape-Malay spiced salmon”, “Old Cape denningvleis” en “melktert”. Die denningvleis was nie soos ek dit by “Geelbek” in die Nasionale Weskuspark leer ken het nie, en die melktert wat ek vol bravade by my tafelgenote aanbeveel het, is aanvanklik met ‘n ander nagereg verwar.  Gelukkig was daar Suid-Afrikaners …

Daardie tafel bied ‘n tema op sy eie. Voor die die vaart het ek taamlik wyd op Facebook en elders Afrikaanse tafelmaats probeer werf. Sonder welslae. Uiteindelik was aan tafel 549 die volgende agt: Darren en Liesl Scraggs van Queensland, Australië; Russ en Pat Mason van Freeville, New York; Chris en Catherine Wakefield van Wiltshire, Engeland, en die Van Deventers van Melkbosstrand – die Verenigde Nasies in aksie.  Ons kelner was boonop Henri, ‘n raakvatter uit Madagaskar.

Darren en Liesl was voordansers. Hulle het elke liewe dansles bygewoon: mambo, bachato, cha-cha-cha, tarantella, tango, polka  – noem maar op. Vir een les – wat werklik deur impi’s uit Suid-Afrika aangebied is – het hulle neus opgetrek :  die Zoeloedans.

Pat wat presies soos die rooikop-aktrise Carol Burnett lyk en praat, het my verseker sy en Russ is nie verwant aan een van my Amerikaanse gunsteling-speurders, Perry Mason, nie. Ai tog, ‘n mens moet darem ook nie te veel verwag nie.

Ons was ‘n vrolike, joviale tafel. Om 25 aande net Engels te praat – in soveel variasies en aksente – kan egter veeleisend raak. Soms moes jy maar net dom saam glimlag. Watter verligting was dit dan nie as ek en Tokkie later ons onderlinge verskilletjies in kajuit 8102 in Afrikaans kon besleg nie!