Oct 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Bill Swing in geselskap van Theunie Steyn en Louis Botha by my 50ste
More uit Melkbos
Waar in die wye wêreld bevind William Lacy Swing hom?
As diplomaat het hierdie oud-ambassadeur van die VSA in Suid-Afrika heelwat stof op sy skoene versamel. Ek het aanvanklik kontak gehou danksy kettingbriefies van hom en sy Oosterse vrou, Yuen, en ook sy periodieke TV-verskynings. Hy het sy land nogal op ‘n paar brandpunte verteenwoordig.
Toe word hy direkteur-generaal van die internasionale immigrasie-organisasie of so iets … en weg is hy.
William Swing, of Bill Swing, soos ek hom geken het, is op my agenda nadat Tokkie my gister herinner het hoe vinnig hy ‘n Afrikaanse toesprakie leer afsteek het. Hy was twee maande in die land toe kon hy met vertroue opstaan en kortliks iets van betekenis in dié vreemde taal kwytraak. Selfs die “g’s” had hy taamlik goed onder die knie.
Bill is die lewende bewys van as jy wil, kan jy – of as daar ‘n wil is, is ‘n weg. Hy het eenvoudig vasgebyt, Afrikaans-klas geloop en nie gehuiwer om oefen-oefen in die openbaar sy weg te vind nie. By my 50ste verjaardag op 3 Januarie 1991 in Bloemfontein het hy opgedaag met ‘n pikante Afrikaanse toesprakie in sy binnesak.

Bill Swing en HvD (kyk, ma – geen gryshare!)
Ek wou daardie notas uitkrap – moet iewers tussen my dokumente wees – en hier publiseer, maar Tokkie sê: “O gonna, sal klink soos jakkals prys sy eie stert” Glo my dus maar dat sy Afrikaans “pikant” was.
Dat die WIL die goot voorvereiste is om ‘n taalstruikelblok te oorkom, bewys ook verskeie ander mense. Een wat ek ook met waardering onthou, is my NG dominee, Tienie Zeeman, in Berg-en-Dal, Bloemfontein. Toe ‘n Engelse Andrew Murray-gemeente uit Berg-en-Dal tot stand kom, het hy hom hart en siel daarin gewerp om ‘n behoorlike preek in Engels te kan lewer. Hy’t gou geklink soos ‘n gebore Engelsman wat die Woord bring!
Maar vandag skryf ek oor die Bill Swing wat ek graag as voorbeeld voorhou vir me Lindiwe Mazibuko, aspirant-DA-leier in die Parlement, in wie se politieke repertoire my taal, Afrikaans, in sy afwesigheid skitter, en vir diegene wat reken: “Solank sy ‘n goeie ‘job’ doen, is dit ook maar ‘orraait’”.
Bill Swing se filosofie was dat hy respek wil betoon aan die sterk Afrikaanse komponent in die land (en daardie tyd natuurlik in die Regering), maar ook dat hy nie onbegrypend en met ‘n mond vol tande in Afrikaanse geselskap wil beland nie. Daarmee het hy my ewige respek verower.
Lindiwe behoort daardie respek-behoefte aan te voel. Politici wat wil suksesvolle stemwerwers wees, moet sensitief wees oor die harte van die mense wat hulle onder andere wil lei. (Hoor maar vir Desmond Tutu!) Lindiwe sal my bedenkinge onder die stof loop as sy sou opstaan en rondborstig verklaar (al is dit voorlopig in Engels): “Ek wil ook Afrikaanse mense se DA-leier in die Parlement wees, en ek gaan my inspan om die taal te praat. Gee my drie maande, ses maande …” Dit sou vir my haar staal toon.
Maar Bill: ons paaie het gekruis toe ek in 1977 in Amerika was. Hy was ‘n Kennedy Fellow aan Harvard en ek ‘n Nieman Fellow. Toe ek sy naam in die koerante sien as nuwe ambassadeur van Amerika het dit by my ‘n klokkie gelui. Ek het spreekwoordelik die ambassade se voordeurklokkie gaan lui. “Goeie more, Hennie,” het hy my gegroet, nog skeef en krom maar sonder skroom.
Hy was in Suid-Afrika van 1989 tot 1992. In daardie tyd is hy met die oulike Chinese buksie Yuen getroud – op ‘n wonderskone herfsoggend in die tuine van die ambassade in Bishopscourt – en ek en Tokkie was gelukkig genoeg om genooi te word.
Soos gesê, het hy met my 50ste in sy motor geklim en van Pretoria Bloemfontein toe gery. Ons twee het ge-“kliek”, soos hulle sê.
Daarna is hy na Nigerië (1992-93), Haiti (1993-98), and Kongo-Kinshasa (1998-2001). Hy was ook die VN se spesiale verteenwoordiger in die westelike Sahara en Kongo-Kinshasa. Die ketting-briefies (uit Yuen se pen hoofsaaklik) het later drupsgewyse begin kom en toe opgedroog. Maar ek het Bill nog van tyd tot tyd op TV gesien – net so ‘n afgeronde heer soos daardie oggend voor die buitelug-kansel in Bishopscourt. Al bars die bomme, kon jy hom deur ‘n ring trek, die rustigheid vanself en ‘n formuleerder van formaat.
Ek mis Bill skielik sommer baie. Sal dit nie wonderlik wees as hierdie onverwags op sy lessenaar beland waar hy ook al gesetel is nie (as hy diep in die sewentig nog agter ‘n lessenaar iewers is). Dan moet hy tog maar liefdegroete vir Yuen sê asseblief, en – as dit moontlik is, ‘n briefie van aanmoediging vir Lindiwe in die pos gooi. Sê vir haar sy moet skouer aan die wiel sit met die taal, toe Bill!
May 25, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Om “Roepman” van Jan van Tonder te lees, is iets waarby ek met sy verskyning om die een of ander rede nooit uitgekom het nie. Die ophef oor die rolprent het die lus aangewakker. Die naweek op Kleinmond haal my vriend Chris van Rensburg, wat self uit ‘n spoorweg-agtergrond kom, “Roepman” uit sy boekrak. Ek lees en lees, elke los minuutjie, en net voor ons ry, is ek deur die boek.
Dinsdag is ek en Tokkie toe fliek toe – ‘n dagreis te perd, want “Roepman” wys mos nie oral nie. Ster-Kinekor skeep Afrikaans maar sleg af, tensy dit Leon Schuster is wie se aardse humor teaters vol pak.
Nietemin, nou het ek “Roepman” die boek en “Roepman” die fliek albei agter die belt. Baie mense raak opgewonde oor die fliek, selfs Leon van Nierop wie se oordeel ek respekteer. Ek verkies verreweg die boek.
Aan die een kant wonder ek of ek die fliek sou verstaan het as ek nie die boek gelees het nie. Aan die ander kant het die fliek in meer as een opsig nie aan my verwagtinge voldoen nie.
Versigtig nou, Van Deventer. Nadat ek laas my onbehae oor “Liefling” uitgespreek het, moes ek kwaai koes. Ek is verwyt dat ek niks goeds in ‘n Afrikaanse produk wil sien nie. Nou’s ek alweer disrespekvol. Maar dis regtig nie omdat “Roepman” ‘n Afrikaanse fliek is nie; dis omdat “Roepman” nie konsekwent ‘n uitstekende rolprent is, soos sommige aansprake lui nie.
Die verwikkelde dinamiek van kruisverhoudinge in daardie kleurryke gemeenskappie in die spoorwegbuurt van Durban se Bluff val in die boek boeiend oop. Op die skerm gaan veel daarvan verlore. Ek kry die indruk van iemand wat met die boek gaan sit en insidente met ‘n viltpen gemerk het. Toe word die los fragmentjies gelas – ‘n tipiese “copy and paste”-oefening van die rekenaar-era.
Maar o wee, uiteindelik bly toe te veel insidente oor vir een fliek. Die skêr kom uit. Wat snippermandjie toe gaan, is plek-plek uiters wesenlike hegtingselemente, en die gevolg is ‘n sware verlies aan strukturele eenheid … en geloofwaardigheid. Sekere oorgange raak eenvoudig net te kunsmatig en stokkerig. Meermale kry jy die indruk: nou word ek net te erg met die lepel gevoer.
Toneeltjies wat vir effek ingevoeg word – byvoorbeeld Ouma agter op die motorfiets op pad kerk toe – is pure plastiek. Trouens, die hele Ouma-karakter word ‘n karikatuur, wat groot ongemak vir die kyker veroorsaak. Timus se pa, Abraham, word daarteenoor in al sy rigiditeit as mens van vlees en bloed uitgebeeld. Ook die karakter Joon, die “Roepman”, word beter raakgevat. Punte vir die draaiboekskrywers!
Met oordrewe melodramaties musiek en te veel, te veel “mooi” stemmingstonele trap die vervaardigers en regisseur in ‘n ou-ou slaggat – Emil Nofal gereïnkarneer! Die uitbundige danstoneel in die die water van die gebarste pyp onder die teerstraat is in die boek geloofwaardig, in die rolprent ‘n ongelukkige stuk choreografie wat aan die absurde grens.
Genoeg. Liewe mense, ek wil beklemtoon dis nie omdat “Roepman” ‘n Afrikaanse prent is dat die uwe krities is nie. Dis omdat die weergawe op die groot skerm nie reg laat geskied aan die boek nie. In elke taal is so iets ‘n teleurstelling. Al is “Roepman” stukke beter as “Liefling”, is die aanspraak op internasionale standaard ietwat ooroptmisties, vrees ek.
Naskrif: Dis seker maar ‘n kleinigheid, maar synde uit die koerantwêreld kan die uwe nie van sy irritasie ontkom as met koerante allerhande vermybare foute insluip nie. Dr. H.F. Verwoerd is op Dinsdag 6 September 1966 in die Volksraad vermoor. “Roepman” gebruik die Sondagkoerant Dagbreek om die moord in sy hoofberig aan te kondig. Ai tog, teen Sondag was die moord self ou nuus. Weet die vervaardigers nie dat nuus ‘n bederfbaarder produk as ‘n ryp piesang is nie? Ek weet in Durban was geen eie Afrikaanse dagblad nie, maar hulle kon maar liewer die Verwoerdmoord op die voorblad geplaas het van ‘n fiktiewe dagblad soos “Die Basuin” of so iets. (HvD)
May 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog


Naand uit Melkbos
Sondag is die bekroonde motorskrywer en my gewese woonstelmaat in Bloemfontein Ben van Rensburg ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.
Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub van Die Volksblad in Bloemfontein was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder om hulle vir ‘n skrobbering aan te meld.
Van ons ander aan daardie subtafel het met die jare sag en minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.
Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk hemelhoog op met hul slordige taal; ook met ‘n argelose onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemener as in die ou dae voorkom.
Ben het vele passies, waarvan suiwer Afrikaans net een is. Hy het onder meer ook ‘n passie vir motors. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap dat sy liefde vir wiele ‘n lang pad kom. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, was nie om dowe neute nie. Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.
Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy sterke aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Vandat sitplekgordels op die toneel verskyn het, het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Aikona, ou maat, vergeet dit. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie.
La-a-a-ng ente het hom nooit afgeskrik nie. Doerie tyd het hy dikwels op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy Kewer weggespring om in die Kaap vir ‘n meisie te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.
Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende …. Goeie aarde, die man se passies hou eenvoudig nie op nie.
Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben wat hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van Wilgenhoffers saam te stel.
Praat hy van Namibië kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.
Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in Villa Cortona, Durbanville, getrek. Dit is Mei en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, is nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang!
As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hy is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.
Toe ons in La Gratitude in Bloemfontein woonstelmaats was – 1965 rond – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van Stukvat in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.
Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwes-dae, SAUK-dae, Volksblad-dae, Beeld-dae, Rapport-dae, Burger-dae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie of wat op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. Soos ek by sy geskenkie geskryf het, is dit my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit.
Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans! (HvD)
Naskrif: Ben ry ‘n Honda CR-V soos die uwe. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige deskundige gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.