Jul 31, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die Honda gelaai soos nog nooit. Van links is Christopher, Thomas en Jacob Claassens. Jacob was die laaimeester.
Seker so ‘n stuk of 60/70 keer in ‘n tydperk van twee dekades het die Honda (‘n 1999-model CR-V) die 500 km tussen OR Tambolughawe en Sabiepark heen en weer kafgedraf. Johannesburg was sy basis vir die Van D’s se bosvakansies. Sy staanplek was by Klipkop Car Care (in jare her bekend as Kempton Car Care).
Die reëling met Klipkop het gewerk. Altyd. Die oomblik as ons ons bagasie in die hande het, het ek op die selfoon laat weet. “Hier’s ons”. Die antwoord was altyd dieselfde: “Reg, Ons stuur hom om”. Dan gaan wag ons buite voor die aankomssaal vir binnelandse vlugte. Enkele minute later sou jy die Honda se neus in die aankomende lughaweverkeer herken.
Daarop kon jy reken. Soos klokslag was hy daar. Betroubare diens op sy beste.
Soos elke ding ‘n einde het, eindig ook daardie era nou. Gister met ‘n effense swaarmoedigheid vir Klipkop laat weet: “CY 7755 kom nie terug nie.” Sy nuwe basis is Nelspruit.
Darem makliker vir ‘n oumens om die 100 kilometer tussen die Kruger-Mpumalanga en Sabiepark af te zirts as om vyf uur lank in kwaai verkeer al die pad via Witbank, Middelburg, “Millies” (waar meermale brandstof laat intap is) Nelspruit, Witrivier en Hazyview agter die stuurwiel te sit – al kos dit ook meer.
Tot dusver kon ons Kulula of Mango vlieg op die hoofroete tussen die Kaap en Johannesburg. Vorentoe raak dit Link op ‘n streeksroete. Nogal ‘n aardige prysverskilletjie!
Vir Klipkop kan ek met vrymoedigheid aanbeveel aan enigiemand wat sy motor in Johannsburg wil laat berg. As jy gemoedrus soek, is hier is jou antwoord.
Was ook altyd bereid om die spreekwoordelike “ekstra myl” te stap. ‘n Keer was daar ‘n krisis met ‘n skietding. Die betrokke lugdiens het ‘n absolute verbod. Klipkop is gebel en het vinnig opgedaag om te kom help. Presies hoe, gaan ek nie verklap nie. Netnou lees die Openbare Vervolger my blogs. Haar vinger is juis so op die sneller ….
‘n Keer wou Tokkie Klipkop bel. Sy druk toe die verkeerde nommer. Toe die man sy foon antwoord, vra sy: “Is dit Klipkop?” Die vreemde se spitsvondige antwoord: “Dalk – maar niemand het my nog so genoem ie!”
Die laaste koebaai-reis van OR Tambo af op 20 Junie was gedenkwaardig, soos dit by so ‘n spesiale geleentheid hoort. By ons was die drie Claassen-kleinkinders. Hul bagasie was nie wat ek as beskeie sou beskryf nie. Net Jacob se rugsak met kamerakatoeters het 28 kg geweeg. Elkeen se groot tas was ‘n meneer – so groot soos ‘n doodskis.
“Nooit sal ons daardie spul goed alles in die Honda kry nie. ” Die gedagte het die hele vlug in my kop bly maal.
Tokkie het reeds ‘n Plan B uitgwerk. Sy sou iewers op die lughawe ‘n koerier opspoor.
Maar eer aan Jacob. Hy het nooit getwyfel nie. En, waaragtig, alles is in.
Op Hazyview kon ons nog by Checkers proviand aanskaf. Nog net-net plek gevind vir Tokkie se boks wyn. Maar toe was my kar vol, glo my.
Nietemin, wat ‘n klimaks vir die Klipkop-era.
(Naskrif: Die Honda staan op 235 00 km. Behoort nog lank in diens te wees.)
Jul 29, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Roep hardop: “swartmamba” of sommer net “imamba” in een van die ander landstale. Kyk hoe skrik mense hulle oor ‘n mik.
Gewaar jy die vreesaanjaende dierasie al-op-eens hier vlakvoor jou, is die skrik dalk nog groter. Met sy hoekige kop soos ‘n doodkis, vurige kykers en pikswarte verhemelte is hy gebou om vrees in te boesem. Party mense raak yskoud as hulle hom sien, ander weer wasbleek. Party raak aan’t rittel of verstyf soos ‘n soutpilaar.
Uit die wakker kêrel se pad bly jy liewer so ver as moontlik. Slangkenner Johan Marais noem die dendroaspis polylepis nie verniet in sy gesaghebbende Volledige gids tot die slange van Suider-Afrika “ongetwyfeld Afrika se grootste giftifste slang- en die gevaarlikste” nie.
Groot is hy – tot 4,5 meter lank. Gevaarlik? Wel, van ses tot 15 uur ná die toediening van sy oorvloedige, kragtige gif in ‘n reeks blitsige pikke kan die slagoffer aan versmoring beswyk tensy hope teengif sommer gou beskikbaar is. Sy giftande kan tot borshoogte bykom.
Geen tyd is ‘n goeie tyd om deur ‘n swartmamba gekonfronteer te word, en geen plek is ‘n goeie plek om onverwags op een af te kom nie. Skemer in Sabiepark se piekniekplek is ‘n slegte tyd op ‘n slegte plek.
Die opskudding in die piekpknekplek het ek ‘n ent van my waargeneem sonder om dadelik te snap wat gebeur het. Maar ‘n groepie mense – Sabieparkers van Bethal en hul gaste – op die lang plankiebrug na die uitkykplekke tussen die takke van ‘n enorme Natalse mahonie deur is eers eendragtig in hul spore gestuit. Botstil. Toe spat armswaaiend in alle rigtings uitmekaar.
Harwar het geheers. Ná ‘n ruk was almal op die grond langs die brug. Terwyl sy gaste hul asems herwin en opgewonde boontoe beduie, het die gasheer met lang treë die deurlugtige opsigter, Organ Ongeni, by sy kwartiere gaan haal om te kom help.
Dalk was dit nie heeltemal so nie, maar soos ek verstaan. het die slang, ‘n knewel, blykbaar, op ‘n Sondagmiddag-uitstappie van sy eie, sy permanente tuiste iewers in die takke van die yslike mahonie verlaat en hom behaaglik op die bruggie gaan uitstrek. Moontlik was hy op ‘n jagtog. Swartmambas maak aktief jag op kleiner knaagdiertjies van die regte grootte vir ‘n smulhappie – asook op voëltjies en kleiner slange, waarvan dit in daardie kontrei wemel.
Nietemin, die groepie was ná ‘n rustige laatmiddag-kuiertjie in een van die gawe uitkykhokkies langs die rivier niksvermoedend met hul koelhouer en dies meer op pad na hul motor toe ‘n vrou in die voorhoede die dik olyfkleurige slanglyf voor haar raaksien.
Blitsvinnig het sy haar opsies opgesom. Terug kon sy nie, want die brug was geblokkeer deur ‘n muur mense agter haar. Van die brug spring was geen sprake nie. Dit is geen hierjy-bruggie nie. Op sy hoogste kan ‘n volgroeide olifant slurp in die lug onder hom deur hardloop sonder om kontak te maak.
Al wat die dame kon doen, was om haar bene te rek, bo-oor die gevaar te tree en te maak dat sy wegkom. Dat die aksie met ‘n geskokte uitroep of twee gepaard gegaan het, spreek amper vanself.
Die ander in die spannetjie het haar dapper voorbeeld gevolg. Slang se kind het in die opgewondenheid gelukkig vir hulle nie, soos swartmambas meesal doen, die ongewone aktiwiteit gesien as ‘n uitlokking om tot aanval oor te gaan nie. Hy het hom eerder uit die voete gemaak – as “uit die voete maak” ‘n uitdrukking is wat in verband met die beweging van slange enige geldigheid het. Daaroor wonder ek skielik.
Organ het intussen op die toneel verskyn. Weet nie of dit die lang dun kop in die vorm van ‘n ‘n doodkis, die smal bakkop, die swart verhemelte, die ronde pupil, die kleur lyf van die slang of wat was wat tot sy oombliklike identifikasie gelei het nie. “Imamba!” Met die een woord het hy dadelik enige twyfel wat by iemand kon bestaan het, uit die weg geruim.
Daarna het Organ ‘n koeldrankblikkie gaan haal. Die inhoud is langs die mamba uitgegiet. Dit was die laaste sien van die blikkantien. Slange hou nie van die reuk nie, weet Organ uit ‘n kennis van die bos wat oor jare opgedoen is.
Dalk hou hy sulke blikkies byderhand!
Wat my nogal pla, is dat die Van Deventers graag namiddae daardie brug oorsteek. Wat het van daardie swartmamba geword? Die slang is ewe tuis in bome of op die grond, skryf Johan Marais. En dit jag gewoonlik van ‘n vaste lêplek af waarheen dit gereeld terugkeer.
“Tokkie, het jy vir ons ‘n leë koeldrankblikkie – en koop vir ons ‘n bietjie van Organ se slangmedisyne?”
Jul 20, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kameelperd eet kameelperd!
Op ‘n galop is die eerste maand van ons wintervakansie van 2019 verby. Ons begin al vliegtuigroosters kyk. Wil nou weer Nelspruit ons basis maak. Maar darem eers die Laeveldse winterweer vir nog ‘n maand of wat geniet.
Natuurlik was die eerste twee weke die lekkerste met Jacob, Thomas en Christopher se flukse bydraes met die hout kap, vuur maak, tafels dek en braai ‘n groot bederf. Sal ek vergeet hoe hulle die eerste dag sy aan sy met Patson gehark, ge-“slash”, gevee en gedoen het. Met so ‘n span kan jy oorlog toe gaan.
Die seuns se bydrae tot die algemene bonhomie van Sabiepark is geweldig. Geen wonder nie dat die komplimente so bly instroom het. Selfs appèlregter Gustav Hoexter (nou al 96 maar spingslewendig!) het met sy gewone spitsvondigheid ‘n heildronk op hulle ingestel.
Met die aankoms het die nare ontdekking op ons gewag dat die sonkragstelsel deur weerlig getref is. Kos uiteindelik ‘n ronde R35 000 – gelukkig deur Santam se “geel sambreel” gedek! Danksy Martin Matthee en veral die weetgierige Jacob weet ek nou heelwat meer (maar nog amper niks) van “watts”, “amperes”, “volts” en daardie klas ding.
Aan die dierefront was dit veral die kameelperde se vreemde besoeke wat uitstaan. Die span het die beendere van ‘n voorvader (-moeder?) op 154 ontdek, en gereeld nader gestaan vir ‘n dosis kalsium. Hulle knak behoorlik hul knieë soos by ‘n watergat, tel die bene op en kou dan lustig. Daarna moet Tokkie loop en bene in die motorpad optel.
Onder die waterdrinkers was die njalabul en sy gevolg – ook blou-apies. Die nagapies het ná ‘n geheimsinnige afwesigheid weer gereeld saans begin opdaag vir hul skyfies piesang. Die bobbejane is minder – en minder lastig. Twee hiënas het gekom en gegaan.
Tokkie se aalwyn by die drinkgat het goudgeel geblom. Die voëllewe was op sy hoogtepunt soos in ‘n voëlpark. Die getjirp was nooit stil nie. Waar was die ornitoloë? Iets nuut was die swerms glansspreeus (weet nie presies watter een van die spulletjie nie) wat soos pers komberse op die bome by die water toegesak het.
Die tradisionele slanginsident het nie uitgebly nie. ‘n Bruin huisslangetjie het by die skuifdeur van die hoofslaapkamer vir ons geloer, en toe in die skag verdwyn. Thomas (nie ons s’n nie maar die kantoor s’n) en sy span moes die raam – baie “versigtig” – verwyder om by ta te kom.
By die piekniekplek was olifante weer eens die sterre. ‘n Yslike trop het een middag uit die bosse wes van Sabiepark gepeul, reg voor die voëlskuiling water gedrink en toe in gelid onder die brug deur koers gevat. Een het hom vir Tokkie se teenwoordigheid op die brug nogal opgeruk. Ore geflap, en trompetter en stof geskop, en toe met ‘n wye draai rivierlangs by haar verby. Wat ‘n vertoning!

Dan loop ons so onder deur die brug.
Dieselfde middag het twee luiperds in die gras oorkant die water vir opwinding gesorg. Fyn kyk geverg om hulle en hul kirpatse waar te neem. Net ‘n dag of wat later is ‘n jong luiperd in die driffie in Apiesdoringlaan gewaar. Ons was nie by die aksie nie.
Met die besoek van ‘n trop buffels het Sabieparkers van die Krugerbrug af gesien hoe twee krokodille ‘n buffelkalfie beetpak, een aan sy neus en een aan sy boude, vir ‘n vroeë aandete.
Ons was die naweek Ermelo toe vir die Vosfees: die 80ste verjaardag van studentemaat Vos Grey met 200 gaste en ‘n tydsduur wat die stedeling verstom. Teen 10:30 is die eerste tee geskink. Teen 17:00 was almal se middagete nog nie verby nie. Waarskynlik was die Vosfees die grootste fees wat in ons 20 jaar se verbintenis met Sabiepark van hier af bygewoon is (waarskynlik die grootste in my 78 jaar!). Net om die omvang te sien, het al die reis van 750 km (heen en weer) die moeite werd gemaak. Die Greys se gasvryheid en mededeelsaamheid was eweseer ‘n belewenis. Maar mens, dit vat aan ‘n amper 80-jarige om so gees te vang.
In elk geval toe ons Sondagmiddag oor die brug kom, het ons die plaat swart buffels in die Sabie mooi gesien. Ek was te moeg om te bodder met foto’s.
NASKRIF: Die jaarvergadering sal ek om twee uiteenlopende redes onthou. Vereers was dit die eerste keer dat die voorsitter van voor tot agter net Engels praat. Tekens van die tye. Ten tweede was ‘n “noodrit” Nelspruit nodig na my soveelste verstikking – die keer aan pap en wors. By die hospitaal het ‘n wonder lebeur. Weet nie of dit van skrik, ontsteltenis of kwaadgeid was nie, maar die omgesukkelde pasiënt het sommer toej-tjaf vanself reggekom! Ander storie daai.
Jul 19, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die media is, tereg, opnuut gaande oor die maanlanding 50 jaar gelede. Op 18 Julie 1969 het ’n totaal onverwante insident op Chappaquiddick-eiland die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag op ’n ander koers gestuur. So meen historici. Ek skerp graag die geheue daaroor op.
Op daardie dag het ’n Amerikaanse lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, naamlik in skande tot ’n val gekom. Hy was die broer van o.a. die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) en die jonger Bobby wat skynbaar ook onstuitbaar op pad Withuis toe was voordat hy op 6 Junie 1968, soos sy oudste broer, deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is.
Die jong senator (37) het met ’n mooi verpleegster, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty op Chappaquiddick weggery en met sy spogmotor, ’n deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons. Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink. Die Kennedy-dinastie van Boston was in sy hart gewond.
Die Kennedy-storie was sensasioneel. Aansienlike uitdagings is aan koerante se goeie oordeel en kreatiwiteit gestel deurdat die politieke skandaal met sy sappige detail saamgeval het met die lansering van Apollo II op 16 Julie 1969 van Cape Kennedy af met kommandeur Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin “Buzz” Aldrin aan boord. Die Apollo-driemanskap se taak was die voorheen ondenkbare: ’n bemande maanlanding; ’n epogmakende wệreldstorie. So ’n super-“sepie” met ’n voorste senator in die skurkerol beland darem ook nie aldag in ’n joernalis se skoot nie!
Suid-Afrikaanse dagblaaie het, tot hul eer, deurgaans Apollo II prominenter hanteer. Selfs die respektabele Boston Globe van Kennedy se tuisstad in Massachusetts het egter – seker ná pynlike kopkrap – op Sondag 20 Julie Kennedy hoofberig gemaak en Apollo II onder die voulyn op die onderste helfte van die blad aangebied. Sy opskrif was: “Ted Kennedy escapes, woman dies as car plunges into Vineyard pond”. Die populệre Amerikaanse ponieblad Sunday News het niks teruggehou nie. Kennedy was sy voorblad vol onder die groot opskrif: “Teddy escapes, blonde drowns”. Die Maandag was die New York Times se aardskuddende banier, tereg, anders gefokus: “Men walk on moon”.
Vandag word net laasgenoemde onthou, Teddy en Mary Jo se dinge is vergete.
Jun 12, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die Musica in die baai van Kotor.
Vreemde woorde in vreemde tale – “magnifico” in Italiaans, “imposant” in Frans, “wunderschön” in Duits en allerlei verwante uitdrukkings van verwondering in ander tale – het skielik vir my betekenis gekry waar ek, op die dek van die MSC Musica die intog in die Baai van Kotor – Boka Kotorska – meegevoer indrink.
Ek was seker dat vreemdelinge wat Afrikaans nie ken nie, sou verstaan as ek die ontvouende natuurskouspel in my taal as “verruklik” of “aangrypend” sou beskryf. Of selfs sou verstaan wat ‘n Engelse dame bedoel het met haar luide uitroep van “supercalifragilisticexpialidocious”, ‘n speelse skepping uit die musiekfilm Mary Poppins waarin Julie Andrews in 1964 haar rolprentdebuut gemaak het – ‘n woord wat jy in ‘n woordeboek vergeefs sal soek.
Vir baie van die 3 200 passasiers op die groot weeldeskip – tonnemaat 92, lengte 293 meter, hoogte 59 meter, bemanning 950 – op sy noordwaartse terugtog ná ‘n somerseisoen van vier maande in Suid-Afrika was die mirakel van Ferdinand de Lesseps se Suezkanaal (vorige blog) waarskynlik die verwagte hoogtepunt. Ander het gebrand om die ruïnes van die antieke Arabiese stad Petra in die teenswoordige Suidwes-Jordanië te gaan verken. Dit word as een van die sewe moderne wonders van die wệreld gereken.
Nou is almal se asems skoon weggeslaan deur hierdie onverwagte Noorweegse “Bergen” in die suide van Europa waar fjords en die Middellandse See mekaar as ‘t ware ontmoet: vier baaie van inkblou Mediterreense see, omring deur ruwe swart rotswande wat soos ‘n reuseskoenlapper sy vlerke oopvou voor die steeds groter besoekende plesierbote wat toenemend derduisende besoekers op die ou Balkanstaat Montenegro kom verlief maak.
Teen O8:00 het die plaaslike piloot aan boord gekom. Van toe af kruie ons twee uur lank langsaam en versigtig deur ‘n reuse-S wat deur die vier skone komme, omring deur dramatiese swart pieke (monte negro), gevorm word. Eers daarna kon die MSC Musica anker gooi en die vrag passasiers met kragtige landingsvaartuie aan wal kom vir ‘n dag in een van die wệreld se mooiste ou historiese hawestadjies. Vir hierdie liefhebber van skeepvaarte bied die omgewing van die onvergeetlikste taferele wat hy in sy lewe van ‘n boot af aanskou het. Dit is groots. Glo my.
Toe ons in Durban aan boord kom op 26 April 2019 is ons verras met dieselfde geskenk van die redery MSC as vir ons goue bruilof twee jaar gelede op ‘n vaart na Walvisbaai: ‘n ysemmer met ‘n bottel Moët et Chandon-sjampanje uit Frankryk (prys op skip: $75) en twee elegante glase met die MSC-logo daarop het in die kajuit gewag. Alle lede van die MSC se “Seniorsklub” is so bederf. Vele proppe het dalk sommer die eerste aand al tussen Durban en Mauritius geklap. Ons goue voggies het ons vir ‘n spesiale goue oomblik gebệre.
Ons goue oomblik het daardie aand aangebreek. Kan Moët et Chandom die kieskeurigste palaat (en die gees) ooit heerliker verkwik te midde van die beeldskoonste berg-en-see-tonele; om op dek 13 op die agterstewe van die Musica suinig-suinig daaraan te teug terwyl die huise van Perast en ander afgesonderde gemeenskappies in die verte al hoe kleiner word? .
Jun 11, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

HvD by die Musica – veilig deur seerowerkontrei.
Om van die suide af by die Suezkanaal uit te kom, verg versigtige deurgang van seerowerkontrei aan die Somalilandse kus. Dit is waar hedendaagse seerowers steeds skuil en veral in die jare 2007 tot 2012 onheilspellend aktief was.
Van tyd tot tyd roer die seerowers steeds. Trouens, minder as ‘n week voor die Musicavaart, is twee vissersbote, die FV Adria en die FV Txori Argi aangeval. Met die hulp van parate private veiligheidspanne is die aanslag afgeweer.
‘n Reuse-passasierskip is natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur as ‘n relatiewe klein vissersboot. Sulke insidente dien tog om versigtigheid op te skerp by skeepsrederye, asook die internasionale vlootmagte wat skeepvaart in die geweste beheer en beskerm. Spesiale veiligheidsentrums is in o.m. Londen en Durban vir die doel ingerig.
Soos elke ander skip, moes die Musica sy teenwoordigheid dus amptelik aan die militệre owerhede bekend maak, en is sy roete noukeurig gemonitor. Waarskynlik was ‘n goed gewapende fregat of wat op ons skip se stert, nie te ver agter die verste punt van sy kielsog nie!
Op die Musica self, soos op ander passasierskepe, is allerlei gevorderde toerusting soos waterkanonne en veiligheidskameras wat “oral buiten in die kajuite (en genadiglik ook stortbaddens!) kan loer”. ‘n Span opgeleide veiligheidspersoneel met gevaarlike skietgoed was, soos altyd, aan boord. Het nogal gewonder of een nie in ‘n kajuit op dek agt was nie. Een deur was konstant op ‘n skrefie oop. Wat na ‘n weermagstewel met heelwat myle op gelyk het, is as stopper gebruik. (Dalk was die inwoner net ongeneë om ingehok te voel en lief vir vars lug!)
Gordyne in die eetsale is vyf aande lank op die lang skof tussen Port Louis en Aqaba in die Rooisee diskreet laat sak en skerp buiteligte is afgeskakel – o.m. een reg oor my en Tokkie se patryspoort wat ‘n reddingsboot buite verlig. Passasiers is op Woensdag 1 Mei oor die luidsprekerstelsel en met spesiale kennisgewings oor internasionale veiligheidsprosedures ingelig. Party oningeligtes was nogal uit die veld geslaan. Seerowery? Hiervan het hulle niks geweet of verstaan nie.
‘n Kleurkode is op die boot in werking gestel. ‘n Blou kode beteken dat ‘n verdagte skip opgemerk is en dat begin sal word om buitedekke te ontruim. ‘n Oranje kode beteken dat die gevaar wesenlik is en dat passasiers “genooi” sal word om dadelik na binne te kom. ‘n Rooi kode beteken: ‘n noodtoestand. In so ‘n geval sou daar streng bevele van die bemanning wees wat stiptelik uitgevoer moes word.
Gelukkig het ons sulke ongemaklike aksies vrygespring. Die jollifikasie by die swembaddens op dek 13, in die San Remo-casino en in die duisternis klubs en kuierplekkies op dek sewe en elders kon elke aand tot die vroeë ure onbelemmerd voortgaan. Hoe onbesorgde passasiers in ‘n krisis sou onthou watter kode watter betekenis het, en hoe hulle sou reageeer, sou hierdie siniese waarnemer boonop graag wou sien!
Uit die vertellings van ’n passasier op die MSC Melody wat in 2009 deurgeloop het, mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai, blyk dit dat so ’n aanval vir hulle geen grap was nie. Die kawalt het losgebars terwyl die meeste passasiers op ‘n binnedek na operasangers sit en luister het. Die volgende oomblik onderbreek geweerskote die applous en sien hulle net vuurvonke. Bemanning hardloop rond.
Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gebeur is, vertel sy. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down down. “ Alle passasiers is daarop kajuite toe gestuur en beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ‘n bottel water Jamaikagemmer vir die naarheid as vlug in reddingsbote hul voorland sou wees.
Die nag was sonder voorval. Die volgende oggend loer Koos versigtig by die deur uit. ‘n Lïd van die kajuitpersoneel stel hom gerus. “Gaan eet gerus ontbyt”. Die aanslag was afgeweer. Die volgende middag het ‘n Spaanse oorlogskip en ‘n helikopter gekom en die skip tot by Suez vergesel. Daarna is saam met ‘n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend” maar sy sou graag weer wou gaan.
Dat die bedreiging van seerowery aan hulle vat en vir hulle spanning inhou kon ‘n mens ook agterkom aan die bemannning, veral aan die senior offisiere in hul kraakwit uniforms. My eie direkte ervaring was as lid van die sogenaamde “MSC Voyagers Club” (passasiers wat voorheen al op ‘n MSC- skip gevaar het). Ons is deur kaptein Ciro Ponti genooi vir ‘n formele welkom-terug-skemerkelkpartytjie op Donderdag 9 Mei in die deftige Crystal Lounge. Ons gasheer daag toe nie op nie, omdat ons in ‘n “sensitiewe area” is en “belangrike sake” op die brug sy aandag vereis. So het seremoniemeester Maddalena (Mandy) Bucconi ons lughartig ingelig. Die dosyn offisiere wat wel opgedaag het, het met die enkele heildronk egter opvallend elkeen net een slukkie sjampanje geniet, hul feitlik vol glasies op ‘n skinkbord in ‘n klaarblyklik getaakte kelner se hand neergesit en laat vat.
Twee dae later, op Saterdag 11 Mei, het kaptein Ponti self die sluier oor sy geheimsinnige afwesigheid gelig. Op ‘n vrae-sessie in die Teatro la Scala het hy nie doekies omgedraai nie. Hy was die vorige paar dae nie juis sigbaar nie, omdat sy skip hom in ‘n gebied met die “risiko van seerowery” bevind het, het hy opgemerk, en sy hoogste prioriteit is die veiligheid van sy skip, die passasiers en die bemanning. Maar “die gevaar is nou verby”. Die kaptein het gemoedelik en ontspanne gelyk.
In die eetsale is daardie aand gordyne gelig. Buiteligte het ook weer helder gebrand.
(Naskrif. Kaptein Ponti was ook in 2009 gesagvoerder van die MSC Melody met die aanval ten noorde van die Seychelles.)