Oct 3, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die MSC Musica in die hawe van die Seychelle.
“Na verre hawens” – Hennie van Deventer (kort opsomming van die boek wat binnekort op die rakke sal wees):
Die boek bied ‘n nostalgiese terugblik op eie seevaarte oor 50 jaar, van die posboot-era (die Union Castle-redery se spogskip Pendennis Castle) tot die blink MSC-vakansieskepe Sinfonia, Opera en Musica). Vaartuie was o.m. die manjifieke lynboot Queen Mary 2; die gedoemde Oceanos; die Staten Island, wệreld se besigste veerboot met ‘n grootse uitsig op Manhattan; ‘n veerbootjie wat met net drie motors die 160 meter tussen Martha’s Vineyard en Chappaquiddick-eiland in Amerika oorsteek (ook Ted Kennedy se Oldsmobile voor die politieke skandaal wat Amerika in 1969 geruk het.)
Elke skip het haar storie: die Oceanos is in ‘n ramp leer ken (Tsjernobil) en in ‘n ramp gegroet (Wildekus). Die Pendennis en Constellation is vir skroot verkoop. Die Sinfonia en Opera is in Parlermo, Sicilië, middeldeur gesaag en elk met ‘n nuwe middelstuk, so groot soos ‘n woonstelblok, “gerek”. Die QM2 bied elke dag ‘n gesofistikeerde “afternoon tea” wat herinner aan die “changing of the guards” in Londen.
Elke bestemming bied sy bekoring: skone Sydney, klassieke Malta, die wit Griekse Eilande, verruklike Venesië… Goliat tussen die gondels (die Opera op die Canal Grande) was ‘n belewenis; Kobe, Japan, se verrysenis uit die as ná ‘n verpletterende aardbewing was asemrowend; Dubrovnik se ou stadsmuur met sy 1 080 steil trappies het ‘n enorme uitdaging gestel.
Elke vaart lewer anekdotes: onmin oor ‘n groot verdwaal op die QM2; stuitigheid by die oorsteek van die ewenaar saam met “koning Neptunus”; ‘n “Comrades”-marathon vir ‘n ou man met ‘n keps en ‘n kierie na Napoleon se graf op St. Helena; die verlies van ‘n baba se stootwa by Disneyworld se duikbote, die kratte vol vars rooi rose vir ‘n onvergeetlike Valentynsdag ter see; les bes, die frustrasie van ‘n vaart wat nie kon wees nie weens die natuur se nukke.
Oct 1, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dit gaan maar skud-skud die bult uit as moederaarde oral om jou skielik onbeheersd begin bibber en beef, rukkings kry en rondomtalie swaai.
’n Jonkman van Ceres het ’n Kaapse vriendin oorgenooi om met sy pa-hulle te kom kennis maak juis toe die Richterskaal in daardie kontrei presies 50 jaar gelede woes op loop geraak het.
Die eerste aand van haar kuier sit sy ontspanne in ’n warm skuimbad. Sy werskaf met haar groottoon aan die kraan om die watertemperatuur nog ’n bietjie hoër op te jaag.
Skielik kry sy die sensasie dat ’n onsigbare reusehand die bad probeer omkeer. Die aarde sidder. Diep skeure verskyn in die mure. Buite dreun dit soos donderweer. “Die oordeelsdag het aangebreek!” Dié skrikgedagte flits deur haar brein.
En waar bevind sy haar op hierdie uur van waarheid? Stoksielalleen en poedelkaal in ’n vreemde bad in ’n vreemde huis op ’n vreemde dorp!
’n Paar oomblikke is sy verlam van vrees. Sy klem angsbevange aan die bad se rande. Dan vlieg sy vervaard uit die water, tas in ’n stoom- en stofwolk vergeefs na die handdoek en ruk die deur amper uit sy kosyn.
In blinde paniek storm sy met haar kaal, nat lyf gang-af – net ’n skamele waslappie soos ’n wapperende vlaggie voor haar. Waarheen, weet sy nie.
Haar gasheer, ’n bekende politikus van daardie era, het skaars besef wat aangaan, toe tref ’n tweede skok hom: die mooi jong meisiegas wat te midde van ’n stofwolk onbedek inbars by die vertrek waar hy hom bevind – ’n toneel wat hy later telkens op populêre versoek oor en oor moes beskryf.
“Was sy darem mooi gebou, Oom Jasper?”
Op dié gereelde vraag was die antwoord altyd ridderlik en stoïsyns: “Gits, man, ek wou nog kyk toe gaan die ligte af!”
Die verlore kans het hom verleërig laat grynslag.
Ek vertel die storie in Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel, 2010). Wonder waar is daardie dame nou, en of sy onthou – met afgryse of met ‘n stoute glimlag om haar mond?
Sep 23, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Oor die MSC Opera-moles in Venesie, die Oceanosramp, die seerower-aanval op die Melody aan die Ooskus van Afrika … oor elkeen het ek my eie persoonlike storie; ook oor hope ander onvergeetlike vaarte sedert die Union Castle-dae – romanties, avontuurlik, klassiek en nostalgies.
Seevaarte en hawens wat ‘n spesiale plek in my hart het, is die kerntema van “Na Verre Hawens” wat enige dag nou by Naledi gaan verskyn.
Ekskuus as dit onbeskeie klink. Ek dink regtig dis ‘n boek vir elkeen wat lief is vir die oop see, vir elkeen wat al gevaar het of droom van ‘n vaart, Dis ‘n ideale geskenkboek vir vriende wat gaan of wil gaan vaar.
Die boek, met relevante illustrasies, kos R200. Dis reeds by die drukkers.
ir vooraf-bestellings, hier is die adresse: http://naledi.online/product/na-verre-hawens , tertiaswart@naledi.online of Tertia Swart by 0786488616.
Aug 22, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
En Die Vlaglied nou wat ons as kinders so uit volle bors gesing het? Mag dit seker nie meer sing nie. Sal hopelik darem as versagtende omstandighede gereken word by vonnisoplegging as jy betrap word dat jy die wysie net neurie?
——————–
Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?
Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg
vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;
die pand van ons erf’nis, geslag op geslag,
om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
die vlag van ons eie Suid-Afrika.
Aug 18, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Hoogtepunt.
Een van die raaisels van Sabiepark het verdiep. Hoekom, wonder ek, verkies die diere om uit die klein voëlbadjie neffens die watergat te drink? Is die watergat dalk nie so aanloklik en gerieflik soos ons dink nie?
Die water is in elk geval presies dieselfde. Tokkie kan kwalik voorbly om emmers uit die watergat te skep en oor te karwei. Vier tot vyf emmers op ‘n slag. Die jongste gebruikers van die voëlbad vir drinkdoeleindes is die njalas, veral die ooitjies. Hulle volg in die spore van o.m. die koedoes, sebras, bosbokkies, bobbejane en blou-apies.
Die njalabul drink tot sy krediet ook onverstoord en sonder fiemies uit die watergat. Die watervlak verklap dat hy nie die enigste is nie. Die ander dorstiges drink blykbaar in die donker of wanneer ons ons rûe draai.
Die voëllewe was lewendiger as ooit. Spreeus is dreunend soos ‘n vliegtuig in swart swerms hier oor. Tokkie moet eintlik daarvan vertel. Gekroonde neushorings het lang tye hier rondgesit en in die Honda se vensters hul profiele bewonder. Sysies, blou en rooi, het gebad dat die water spat. Bloukuifloeries was aanvanklik volop. Seker kos aan later weggeraak?
Ons pak op. Dat die vervroegde oppakkery so netjies saamgeval het met volmaan was natuurlik onbepland. Was nietemin genoeglik om in die helder maanlig die laaste aand of twee op die agterstoep te braai. Die bos skitter op sy mooiste as die maan ‘n ronde bal bokant die knoppiesdorings hang.
Laasgenoemde blom reeds vir ‘n vale. Ek sit op die agterstoep en skryf. As ek opkyk, sien ek die huilboerboon. Wens ek kon vertel die statige boom is ook al oortrek met sy rooi wasagtige lentedrag. Maar ek is darem ‘n bietjie haastig. Dis nog maar middel Augustus.
Die kameelperde het bly kom en kom om aan die beendere van die ontslape voorvader te kom kou. As jy maar weer sien, knak een sy knieë asof hy op die droë motorpad wil drink – soos die ambisieuse hengelaars in die spreekwoord hul stokperdjie beoefen om op droë grond vis te vang. Twee jong bulle het mekaar misverstaan oor eiendomsreg op ‘n been. Die tradisionele stadige nekgeveg het gevolg. As die twee my met die kamera gewaar, is alle vyandelikhede eers gestaak om die koddige indringer uit die hoogte te betrag. Dan woed die stryd ernstig voort.
Christo, Dalene en Marcus Malan van Pretoria was twee dae hier – ons enigste oorslaapgaste die vakansie, buiten die Claassens-seuns. Hou ons vriende nie meer van ons nie? Kom ons beskou dit liewer maar as nog ‘n teken van oud word. Die 80ste-verjaardae om ons raak al hoe volopper.
Hoogtepunt van die vakansie? Ongetwyfeld die twee luiperds op pad kerk toe.
Aug 6, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Konfrontasie!
van die vreugdes van ‘n vakansie in die bos is die Sondagbesoeke aan die karaktervolle kerkie in die personeeldorp met sy duursame inheemse hout oral, gewyde atmosfeer en natuurlike omgewing met ‘n reuse-reuse koorsboom by die een ingang.
Aanbidding saam met die intieme klein gemeente is ‘n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word. Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie. Dienste is om 08:30 winter en somer. Almal is welkom.
Die een diens wat vir die uwe uitstaan, was die van Sondag 4 Augustus 2019. Die preek van die leraar, ds. Carl Louwrens, was ‘n boeiende kragtoer, soos altyd – sonder ‘n enkele nota en met ‘n goeie skeut humor. Maar jammer, ds. Louwrens, dis nie jou preek waaroor ek dit hier het nie. Ek wil vertel van die rit van 15 kilometer van Sabiepark tot by die kerk.
Skaars twee kilometer gery, kry ons ons eerste luiperd van die dag in die Sabierivier skuins voor die Protea Hotel tussen die riete. Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid. As hy maak of hy mik, retireer die ou lot met ‘n spoed. Staan hy stil, skuif die bobbejane arrogant nader met die hoofman oor honderd handeviervoet op die voorpunt. Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend.

Die sprong.
Die luiperd vererg hom, en gee van die klip waarop hy staan ‘n elegante sprong in die sekelsterte se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor. Die granietbeeld van Pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid. Op sy kop sit die naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.
Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby. Die toonbeel van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug.
Nou moet ons aanstoot. Net agt kilometer verder, by die afdraai na die Lake Panic-voëlskuiling , gaan die remligte van die bakkie voor ons skielik aan. Ek volg sy voorbeeld en bring die Honda ook vinnig tot stilstand. “Leeu!” Die bestuurder van die bakkie vorm die woord met sy lippe. Maar toe is dit nie ‘n leeu nie, wel luiperd nommer twee. Weer ‘n mannetjie.
Hy kom uit die bos en gaan maak ‘n draai oorkant die grondpad. Deurentyd merk hy sy gebied af. Toe maak hy ‘n regsomkeer. Reg van voor kom hy op ons afgestap. Jy sou aan hom kon vat. Die laaste foto is net ‘n blerts. Hy was eenvoudig te naby.

Nommer twee.
Die laaste sien is toe hy so tussen die motors deur oor die H11-teerpad vleg. Oorkant verloor ons hom in die langerige wintergras.
Gelukkig is ons betyds by die kerk – net toe die klok aan ‘n hardekool-stellasie sy eerste en laaste lui lui. So betyds dat ons nog vinnig kan vertel en foto’s wys om ander kerkgangers jaloers te maak.
Voorheen het ons in seker ver meer as honderd ritte kerk toe al ‘n luiperd in die pad gekry. Ons het al leeus gesien, ‘n renoster en selfs een keer wildehonde. Olifante is gereelde kalante op die roete. Maar twee luiperds – boonop so na aan mekaar en sulke oop teikens vir die kamera se oog! Dit teken die Van Deventers aan as ‘n een- keer- in- ‘n- leeftyd-belewenis.
Party vriende trek ‘n verband tussen die wonderlike waarnemings en getroue kerkbesoek. So asof dit ‘n beloning kon wees. Hoe teologies korrek die teorie is, weet ek nie. Ander kla dat dit darem nie regverdig is nie. Hoe gelukkig kan party mense nou nie wees nie!
Vir hulle is my antwoord: gaan kontroleer ‘n bietjie hoeveel keer per jaar ry die Van Deventers daardie paadjie. Twintig jaar al. Dikwels sien ons tussen Sabiepark en Skukuza enkele rooibokkies en nie veel meer nie. Maar dit is mos nou maar een maal so soos Gary Player graag opgemerk het: “Hoe meer jy oefen des te gelukkiger raak jy.”