SALOMON JOUBERT SE WILDTUINBOEKE – VERLORE RESENSIE

Grootse boeke oor die grote Krugerwildtuin – dit is Salomon Joubert se ensiklopediese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History” beslis.  In my boekery is hierdie liefdestaak van die waardevolste skatte; Africana van die eerste water.

Joubert se boekestel is in 2007 deur ‘n klein uitgewery, High Branching, in deftige hardeband met goue beslag gepubliseer.  ‘n Bygewerkte tweede uitgawe het op 3 Maart 2013 sy buiging gemaak, die keer in sagteband. Dit was my uitnemende voorreg om hierdie boeke van nasionale betekenis by die verskyning van die tweede uitgawe vir die Afrikaanse dagblaaie te resenseer. Ek was werklik verheug oor die geleentheid.

Tot my teleurstelling het digitale weergawe van die resensie verlore geraak.  By die skakel http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303 waar dit destyds te vinde was, kry ‘n mens net die onheilspellende boodskap dat “this site can’t be reached”. Ek herhaal dit graag hier, soos dit in my boek Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017  ) verskyn:

Soos die Sabie, Krokodil, Olifants of Luvuvhu in vloed, só vloei die nostalgie breed en onstuitbaar wanneer ’n wildtuinliefhebber in Salomon Joubert se pragtrilogie The Kruger National Park – A History verdiep raak.

Salige episodes spoel soos dryfhout verby in die vloedwater van eie herinneringe; beelde word opgetower van kampvuurtjies in ’n gesellige kring, koolstowe met reuseketels kookwater en gloeiende hardekoolstompe waar jy met langsteelgrawe kole kon skep.

Die romantiek van vanmelee word met sjarmante foto’s uit argiewe en private versamelings verbeeld. In primitiewe rondawels was daar nog kamerpotte onder die bed. Riviere is per pont oorgesteek.

Die reuse-arbeid van dié “Mnr. Wildtuin” in sy era as parkhoof (1987-94) is verstommend. Op vele en verre spore word teruggeloop – soos die duisternis spore elke oggend in riviersand. Die register omvat oneindig baie brandhout vir die onthou.

Die ensiklopediese boekestel behels derduisende feite oor alles onder die Kruger-son; van diere tot strukture. Vra sowat enige vraag oor die geskiedenis tot 1994; die antwoord is in hierdie plus-minus 1 500 bladsye se boeiende teks, kaarte, tabelle en grafieke, wil ek waagJoubert het in 1981 van sy mentor, Tol Pienaar, opdrag gekry om ’n omvattende toekomsplan vir die park saam te stel. Dit word ’n meesleurende liefdestaak. Al die navorsingsresultate, nadenke, kundigheid en kreatiwiteit wat ingestort is, vind in sy boeke neerslag, ook in heelwat voorheen ongepubliseerde stof. Prof. Fritz Eloff, vorige baas van die Parkeraad (nou Sanparke), het dit as Joubert se uitmuntendste bydrae tot natuurbewaring beskou: ’n gewigtige pluimpie.

Die skrywer het daarna nie agteroor gaan sit soos van ’n gewone sterfling verwag sou kon word nie. Dadelik het hy dieper begin dolwe, varser feite versamel, insigte verbreed en die ryke oes aan illustrasies uitgebou. Die resultaat is hierdie hersiene uitgawe wat, soos hy dit beskeie stel, die geleentheid gebied het om ’n “paar regstellings te maak, asook hier en daar nuwe inligting en illustrasies by te voeg”.

Die kollektiewe Kruger-dinamiek lewe op die omslae, nou sagteband. Ai, daardie swartwitpense op Volume I darem – die bladsye wemel van sulke natuurlike, onopgesmukte wildtuintonele.

History is die fassinerende verhaal van dié kroonjuweel se verrysenis. Met passie, visie, idealisme en ferm bestuur is die Kruger-wildtuin van ’n nederige begin, soms sukkelende, soms met vaartversnellings, soms deur turbulensies, uitgebou tot ’n park wat in omvang, verskeidenheid en karakter uniek ter wêreld is.

’n Chronologiese safari neem die leser deur vyf tydvakke met ’n verskeidenheid kulture, style, voorkeure en filosofieë. Veranderende beleide, byvoorbeeld oor kunsmatige watergate, beheerde brande en die uitdunning van olifante, kom aan die bod. Strydpunte word openhartig uitgelig.Die pioniers wat Paul Kruger se ideaal moes vergestalt, is prominent: die legendes, karakters en helde (ook anti-helde). In ’n uitgebreide galery maak onbekendes soos Boorman Bosch (die boorman Pieter Bosch) en hoofman Chocwane (Tshokwane) hul buiging.

Die ware hartklop is die ryke natuurlewe: die olifante, leeus en luiperds; die bobbejane en vlakvarke; die kremetarte, maroelas en mopanies; die gompoue, arende en bromvoëls; die krokodille en adders.

Die fokus is, tereg, sterk op hierdie magnete wat derduisende besoekers uit elke windrigting telkens teruglok.

’n Glimlagbrokkie uit ’n ou brosjure is dié wenk: Moenie vir leeus skrik nie. Hulle staar eintlik na julle motors, vreemde goed wat hulle stom verbaas. Hul neuse vertel dit is nie lekker kos nie en stink na petrol!

Niks aan die Kruger is klein nie. Ook niks aan Salomon Joubert se boeke nie. Dis grootse werke oor ’n grootse plek waarvoor die geskiedenis die outeur sal eer. ’n Ruiker tarentaalvere vir die klein uitgewery High Branching.

  • Uit die pen van Joubert se mentor, Tol Pienaar, het ook twee gedugte Wildtuinboeke verskyn, Neem uit die Verlede (Protea Boekhuis, 2007) en ‘n selfpublikasie in 2010,   Goue jare – die verhaal van die nasionale Krugerwildtuin (1947 tot 1991).  Pienaar se boeke en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ’n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” Eersgenoemde is ook deur my geresenseer. Daaroor skryf ek in ‘n volgende blog.

 

RIDDERS VAN DIE MIELIEBLAAR

Volkies se eie span ridders.

Elke Saterdagaand om agtuur het dit uit die Bloemfonteinse ateljee van die SAUK bra valserig opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar, die wêreld woes, leeg en naar sal ons hervorm; met ‘n towerslag die leed verban en die traan versag.”

Daarna was Oom Mêrten, Doorsie en trawante – afwisselende karakters soos Oom Gabriël (dalk Gawerjal of Gabrilêl), Hennerik en Paal – ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord om “oplossings” te vind vir kwellinge wat die volksgemoed beroer. Altesaam 600 episodes op agtereenvolgende Saterdagaande in die jare 50 het luisteraars voor die radio vasgenael laat sit om die ridders van die klub se pittige wyshede aan te hoor.

Die Mielieblaarklub van AM Burger was ‘n moet-luister-program en die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” het deel van die spreektaal geword. Die skrywer, Burger, en veral die twee sentrale karakters, die kwasterige Oom Mêrten met sy ryk basstem (pure outydse dominee) en die stamelende, senuagtige Doorsie, was huishoudelike name.  Al drie was Bloemfonteiners. Oom Mêrten en Doorsie was albei onderwysers in Afrikaans – die een aan die Greykollege en die ander aan die Hoërskool Sentraal.

AM (Apie) Burger self was ‘n dosent aan die Strijdom-opleidingskollege vir swart onderwysers, ten suide van Bloemfontein. Die kollege is bedryf deur die Vrystaatse NG Kerk, wat ook sendingstasies in Noord-Rhodesiê en Njassaland onderhou het (die huidige Malawi). Apie was getroud met die aktrise Anna Richter Visser, bekend om haar gevleuelde bril. Hy word onthou as ‘n “vriendelike oom”, maar nie altyd so stiptelik met sy tekste nie.

Die “ridders” moes soms self inspring en woorde opmaak wanneer Burger se teks nie opgedaag het nie of onvolledig was. Dinge was so informeel dat Burger een keer gesorg het dat Oom Mêrten groete stuur vir ‘n kollega in die sendingveld in die destydse Noord-Rhodesië. Die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” was syne.

Die rol van die kwasterige Oom Mêrtin is vertolk deur Jaap Rousseau, kleurryke veteraan-onderwyser aan die Grey-kollege in Bloemfontein vir amper 40 jaar, van 1926 tot 1965. Hy het Afrikaans en Latyn gegee, rugby en atletiek afgerig (met sy “plankie” altyd byderhand) en was lank huisvader van Leith-huis. Met sy DKW-motortjie, bokbaard, pyp en pet, asook sy grys sokkies en sandale as klasdrag was hy ‘n geliefde stukkie Grey-tradisie.

Doorsie, JJ van Rensburg, was Afrikaans-onderwyser op Sentraal in Bloemfontein. Voorheen was hy lid van die Hanekom Toneelskool met rolle in sowat 15 produksies in Bloemfontein tussen 1930 tot 1934.  Doorsie se stem het glo glad nie die seunsagtige stemmetjieklank gehad wanneer hy voor ‘n klas staan nie,  en het verklap hoe ‘n goeie toneelspeler hy was.

Oom Gabriël, Gawerjal of Gabrilêl was ‘n taamlik gereelde ridder.  Maar wie het die rol vertolk? Dit lyk na ‘n vergete stukkie SAUK-geskiedenis.  Ook oor ander randfigure soos Paal en ‘n vlugtige vroulike lid ontbreek inligting.

Ekself was ‘n gereelde luisteraar na die program en het graag, waar moontik, aan die wyse lippe van die vier volksredders gehang. Op my voorstel is in 1957 uit ons matriekklas van Volkies (die Hoër Volkskool, Potchefstroom) ‘n kloon gebore. Die rolverdeling was soos volg: Oom Mêrtin (Carel Weeber), Oom Gawerjal (Koos van Niekerk), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe).

Die viermanskap se funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus.  Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien om verliefde paartjies te beteuel.   Op 28 September 2002 is ‘n matriekreünie ná 45 jaar op Potchefstroom gehou. Een van die soeweniers van daardie verhewe geleentheid is ‘n foto van Oom Mêrtin, Oom Gawerjal,  Doorsie en Hennerik, ietwat voller van postuur, blesser, gryser – seker ook ‘n kerfie wyser!  – besig net ‘n kamma-program.

NASKRIF:  In die Wikipedia op Google van dr. OPM Burgers, een van die eerste heeltydse omroepers van die SAUK,  word beweer dat hy die skrywer van en ook ‘n deelnemer aan die program was. Dit is nie korrek nie. Die skrywer was beslis AM Burger. Die baanbreker-omroeper Olivier Burgers was egter uit eie reg ‘n radioman wat in die beginjare van radio in Suid-Afrika ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het. In sy latere loopbaan was hy Wes-Kaapse streekbestuurder van die SAUK. Hy was ‘n geleerde wat ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden in Nederland verwerf het met ’n proefskrif oor C Louis Leipold, asook ‘n kenner van Langenhoven, skrywer, akteur, resensent en beoordelaar by drama-  en kunswedstryde. Hy tree onder meer op in ‘n Afrikaanse opvoering van Hamlet van William Shakespeare in 1947.  Die radiorubriek Knap u Engels op is jare lank deur hom aangebied.   Hy was, les bes, die broer van Frederik Burgers, akteur en komediant, wat vele rolprente saam met sanger-komediant  Al Debbo gemaak het.

KWARTEEU VAN MELK(BOS) EN HEUNING


Op Melkbos se destydse stoep. Ons poseer vir die tydskrif Sarie 25 jaar gelede.

“Van die stoep, oor my grasperk, oor die sand, in die see. En dit ‘n skrale 30 km van die hartjie van Kaapstad. Ek het nooit geweet ‘n doodgewone mens kan soveel plesier hê nie.”

So het ek die tydskrif Sarie geantwoord toe dié vir my vir ‘n artikel in sy uitgawe van 31 Desember 1997 oor Melkbos se bekoring vra. Ons het ‘n rukkie tevore uit Welgemoed na die mooi kusdorp getrek as ‘n “proeflopie” vir my aftrede. Daardie “proeflopie” het ‘n kwarteeu geword. In hierdie dae vier die Van Deventers hul 25 jaar van Melkbos-verbondenheid – verreweg die langste skof in ons lewe

Penguin Place 11 – dis ons plek van melk(bos) en heuning met Tafelberg in sy vele stemming en skakerings aan die suidekant en die atlantiese oseaan wydgestrek voor ons met saans die skilderagtigste sonsondergange. Dan Robbeneiland. Op ‘n helder dag sien ons van ons stoep af motors op die eiland ry. Saans bekoor sy liggies en sy vuurtoring.

Van ons eerste gaste 25 jaar gelede. Van die spannetjie kollegas is meer as 50% al heen.

Baie water het al in die Atlantiese oseaan voor ons geloop. Van die stoep tot in die see is nie meer so ‘n maklike storie nie. In die twee en ‘n half dekades het ek en Tokkie egter al liewer vir ons aftreeplek geraak. Ons is verknog aan die plek, of gek na ons plek, om ‘n uitdrukking by my oud-kollega Herman le Roux te leen.

Wat bied Melkbos ‘n mens nie alles nie? Buiten die goue skemers en die skilderkwas-sonsondergange, ook ‘n salige  kleindorp-rustigheid en ‘n blouvlag-strand waar altyd iets roer, hetsy die gereelde wandelaars, die vlieër-entoesiaste met hul kleurryke tuie, die bedrewe seilplankryers (veral as die suidooster opsteek) en  die vroegoggend-perderuiters (of selfs ‘n ry pelikane wat verby marsjeer).

Haai, sal Tokkie hier wil ingryp: die beste is dat alles so binne bereik is.  Binne vyf minute kan jy by die supermark, die dokter, die kerk of ‘n lekker restaurant wees.  Binne 10 minute is jy by ‘n moderne reuse-winkelsentrum met elke moontlike diens waaraan jy kan droom. Vir die hospitaal ry jy ‘n klein entjie verder.

Ja, dit alles maak Melkbos vir ons die beste plek vir ons herfsjare.  Maar oos, wes, tuis, bes.  Op die keper beskou, bly die allerbeste tog net een ding: jou eie huis en die plek waar hy staan. Dit is wat jou die voorreg gee om 24 uur van die dag van die see bewus te wees.  Om die branders te sien aanrol; om die oseaan te sien, te hoor en te ruik; om soms walvisse baldadig uit die water te sien spring.

Tentfees op die gras voor ons huis sewe jaar gelede.

Op die gras voor die huis is al ‘n markiestent opgeslaan en groot fees gevier: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste  troudag met 100 aansit-gaste en lekker kos uit buurman Dale Schreuder se restaurant. Die VOG-groep  (Volksblad-omgeegroep)  het kom braai vir ‘n jaar-afsluiting: ‘n saamtrek van oud-kollegas soos min. Kuiergaste – tot uit Portland en Seattle – het bladsye vol in die gasteboek geskryf.

Uit hierdie huis is kinders getroud en kleinkinders gedoop. Hier het Ouma Marietjie haar 90ste gevier. Teen ons mure hang gesinsfoto’s wat op die stoeptrappies geneem is met klein kinders wat al hoe meer en oupa en ouma wat al hoe ouer word.  Kleinkinders wat eers as babas op die sandduine rondgekruip het, het later as jong manne op die gras gholfstokke kom swaai. Die goue herinneringe is talryk.

Ouer word of nie, die lekkerte bly om sommer net hier rond te peuter, te kuier of te lees – of om laatmiddag met ‘n wyntjie op ons bankie teenaan die strand te gaan sit en die skoene uit te skop.  Dit sou ons sonder teenstribbeling vir nog 25 jaar kon doen.

MY LIEWE SKOOLBUS – ENIGSTE FOTO!

Met die rondstuurdery van studentefoto’s tussen Kollegemanne van doer rondom die 60’s beland op my skerm na my wete die enigste bestaande foto van my Fiat 500-stasiewa, bekend as die “Grassnyer” of die  “Skoolbus” – albei my Tukkiemaat  Pierre le Roux se kreatiewe skeppings. Ek is uit  my vel van opgewondenheid.

Die foto kom uit Pierre se album. Hy was, terloops, ‘n bedrewe naamgewer; het  ‘n lykwa ‘n “beentuintaxi” genoem en ‘n ambulans ‘n “aspirant-beentuintaxi”.  Maar dis natuurlik nie nou hier ter sake nie.

Die “Grassnyer”/”Skoolbus” was ’n splinternuwe 62-model, uit die boks,  – ’n donkerbloue.  Die beroemde Cinquecento met sy 500 c.c.-enjin.  Die Taljanertjie het in 1957 in stram ekonomiese tye sy buiging gemaak  en was vinnig ‘n treffer danksy sy kompakte afmetings en ougat voorkoms– die rede vir verkope van 3,5 miljoen.

Vir my was die stasiewaentjie se voorkoms inderdaad te ougat vir woorde.  Die pikante stasiewa-lyfie en seilsondakkie het getuig van Italiaanse pizzazz.  Die sondakkie was ideaal as jy iets langerigs soos ‘n besem wou inlaai. Of die windjie deur ‘n aster se hare wou laat speel.  Sy suinigheid met brandstof was boonop eksieperfeksie vir ‘n studentebegroting.

In die boek, Tutte le Fiat (Al die Fiats, as ek reg uit Italiaans vertaal) kry ek die Fiat 500-stasiewa op bladsy 308. Die Italianers noem hom ewe vernaam die Giardiniera, wat nogal aan die naam “Grassnyer” ‘n sekere geldigheid verleen.

Die grootste dryfveer vir my keuse was egter niks van bostaande nie.  Dit was, om 100 persent eerlik te wees, die enigste nuwe sakpas-motortjie op die vloer op Klerksdorp. Vir die goedkoopste model Mini (wat die alternatief was) sou ons Johannesburg toe moes piekel vir ons aankope. Daarvoor was die gier te onmiddellik.

My nuwe kar had piepklein wieletjies wat gelyk het of dit enige oomblik onder hom kon invou. Toe ek die eerste keer by Kollegetehuis met hom stilhou wou ‘n ander vriend, Cas Jacobs, doodernstig by my weet: “Het jy regtig met die karretjie van Klerksdorp af gery?”

Buiten vir die plesier om die Fiat spottend name te noem, het my vriende nimmereindigende plesier daaruit geput om my motor weg te dra. Dan moes ek plan maak om die kar uit die koshuis se eetsaal te kry, dan was dit ’n hele soektog om ’n geheime wegsteekplek agter digte struike te ontdek. Vir die Van Deventer-ego was dit telkens ’n knou, veral as dit op ’n eerste sleepaand gebeur, of soos die Sondag toe 1962 se joolprinsesse by ons koshuis kom eet het.  Ek sou die mooiste enetjie (in my boekie) huis toe vat, maar moes toe eers vrywilligers opvorder om my kar uit die gesellie te karwei.

Die Fiat was betroubaar. In daardie opsig het hy aan sy doel beantwoord.  Van een ding kon jy hom nie beskuldig nie: krag.  Die toere het vinnig knorrend opgeskiet as jy die 500 c.c.-enjintjie wou aanjaag.  Opdraandes was ‘n “uitdaging”, soos die politici deesdae sware beproewings graag noem.  Om vragmotors op die grootpad verby te steek, moes jy tande kners en vasbyt.

Een dodelike rit met die Fiat Kaap toe vir my eerste skof as parlementêre verslaggewer in 1964 was my laaste.  Die eerste skof het my net gebring van Bloemfontein tot Beaufort-Wes, waar ek in die Wagon Weels-motel oornag het.  Die eindelose trek deur die Karoo van Beaufort-Wes na Laingsburg was met die stadige Fiatjie eenvoudig te veel vir vlees en bloed.

Pas in die Kaap aangeland, het ek by my matriekmaat (wyle) Carel Weeber by Trust-bank in Kaapstad om ’n lening gaan aanklop en ’n gebruikte (blou!) 1964-Cortina gekoop – later my en Tokkie se vrykar.

 

REDDING ROOI MERC

Ja, dis vroulief Tokkie se granaatrooi Merc daardie. Hoe haar 14-jaar-oue staatmaker op die nippertjie ’n rol in die matriekafskeid van die Hoërskool Stellenberg, Bellville/Durbanville, verwerf het, is ‘n lang, pynlike storie.

Laat ons die detail maar verswyg. Genoeg om te meld dat daar ‘n noodoproep was. Ouma is soos ‘n vetgesmeerde blits hier op Melkbos weg om te gaan red. In die vloot sierlike voertuie het die jarige Merc toe nie afgesteek nie (dink ek). Kyk hoe staan hy daar sy plek vol terwyl kleinseun Jacob Claassens vir sy metgesel, Mia Smuts, na die balsaal begelei. Gelukkig mooi skoon gewees.

Anschen, Thomas, Jacob en Mia.

 

Buiten vir die impak van die indrukwekkende wiele waarmee die matrieks aangekom het – adellike veterane tot hipermodernes – was die ervaring van twee uur voor die rekenaarskerm vir ‘n YouTube-stroming van elke spoggerige paartjie se verskyning op die rooi tapyt om verskeie ander redes gedenkwaardig.

Oor matriekmodes het ek veel dieper (sic) insigte as tevore. Wonder net of ontwerpers met ‘n skynbare spleet-obsessie vergeet hoe moedswillig ‘n suidoostewindjie kan dreig om te onthul wat nie onthul behoort te word nie, ‘n Milde aanbod van jeugdige boesems het hierdie ou man ook meermale oor swaartekragwette laat wonder. (Thomas en Anschen Truter het in ‘n Alfa-Romeo opgedaag.)

HEILDRONK MET ‘N LIED EN ‘N TRAAN

Tokkie en Ben geniet ‘n grappie.

Vir die enigmatiese Ben Smit (86) het ons gegroet op ‘n onortodokse wyse wat hy met ‘n spitsvondige opmerking as presies net reg sou bestempel het. Ongetwyfeld die informeelste totsiens-diens wat ek in my 82 jaar bygewoon het.

Aan die einde was ons almal op die voete, vonkelwynglasie voor die lippe, terwyl Louis Armstrong (Satchmo) “What a wonderful world” met sy growwe rasperstem uitgalm. Die wyn, die lied en die traan in die oog!

Dr. Carel Stander van die Paarl, ‘n vriend vir 72 jaar uit hul Tweelingdae in die Oos-Vrystaat, het in sy huldeblyk reg laat geskied aan hierdie “man van 100 ambagte en meester van almal”. ‘n Internasionaal gerekende onkoloog was hy, maar hy kon ook ‘n Volvo se enjin uitmekaarhaal soos wafferse meganiese ingenieur. Hy was ‘n wyse, spitsvondige en diepsinnige man met ‘n verkennende gees en kundighede wat skynbaar aan die grenslose gegrens het.

Koerantlesers behoort die naam te herken: Ben Smit, Melkbosstrand. Sedert sy aftrede het dosyne der dosyne briewe aan koerante uit sy pen verskyn: in die Argus en Cape Times in foutlose Engels en in die laaste jare al hoe meer in Die Burger in sy moedertaal.

Sy nederigheid het van sy skooldae op Tweeling saam met hom gekom, al was hy een van daardie spesiale soort nederige mense wat werklik geen rede gehad het om nederig te wees nie.

Hy was ook ‘n man sonder pretensie, afkerig van opgesmuktheid en grootdoenerigheid; iemand wat andere nie aan hul rang of status beoordeel het nie maar aan inherente kwaliteite. Sy vriende sal die rustige, aardse Ben se waardevolle bydraes tot gesprekke en die periodieke intellektuele ekskursies saam met hom ten seerste mis.

Uit die besadige dr. Carel se mond het die stoutste grappie gekom wat ek nog by so ‘n geleentheid gehoor het. Die een van “vvv” en “vvvvvvv” – julle ken hom mos. Was glo een van Ben se bydraes tot Tweeling se eeufeesblad. Ek kan sien hoe Ben se oog  vonkel.

My bydrae was ‘n ekstra versie vir “What a wonderful world” : “I see human beings like Ben Smit, I see the value that they have added to the lives of so many people, and Ithink to myself What a wonderful world. Yes, I think to myself what a wonderful world. Oh yeah.”